Die binnetree van die geselskap in die verskyningsvorm van die stad Wenen. Platvloerse taferele by die tolboom
199 Robert sê: “O Heer, wil U my nie iets vertel oor wat ons eintlik in die ewebeeld van Wenen gaan doen en wat ons daar sal teëkom nie? "Want as ek so onvoorbereid aan U sy in hierdie stad kom en die hele groot geselskap met ons... dan weet ek werklik nie hoe ons daar ontvang sal word of hoe ek my moet gedra om nie, ten opsigte van U, in verleentheid te raak nie.”
[2] Ek sê: “Daaroor hoef jy nie besorg te wees as Ek naby jou is nie. Trouens, die hele geselskap gaan nie saam nie, maar net Ek, die drie apostels, jy en Helena. Al die ander bly hier totdat ons terugkom.
[3] Maar kyk egter nou na Wenen en merk op dat dit beslis nie leeg is nie, maar heeltemal bewoon word soos op aarde, en wel deur dieselfde mense, wat sedert die aardse jaar 1848 tot aan die teenwoordige jaar 1850 in hierdie stad gewoon het en nog woon, wel as gees of nog as materie-mens. Laat ons daarom maar daarheen gaan, sodat jy jou “smal poortjie” spoedig deurgemaak sal hê. Daar voor julle voete lê donker boklere; gooi dit eers oor julle hemelse klere!”
[4] Robert en Helena doen dadelik wat hulle aangeraai is en lyk nou soos bedevaartgangers. So ook die apostels, wat heeltemal lyk soos pelgrims uit Jerusalem. My kleding lyk egter soos die van `n eenvoudige Jood. So verkleed, begin ons ons kort reis na Wenen wat voor ons lê.
[5] Nadat ons aangekom het by die tolhuis en die paspoortkontrole, wat in die omgewing van die sogenaamde “Spinnerin am Kreuz” is, vra Robert, wat langs My loop: “Heer, sien slegs ons die verskillende waghoudende manskappe, of sien hulle ons dalk ook? Dan sal dit met ons sleg gaan, want ons het immers geen paspoorte nie!” Ek sê: “Ja hulle sien ons ook; maar nie almal nie, slegs diegene wat hulle ook al in die geesteswêreld bevind. Hulle sal egter, deur bepaalde ingewings, die aardse bewoners op ons opmerksaam maak en dan sal daar inderdaad `n klein opskudding ontstaan. Laat Petrus, wat die beste weet hoe mens met sulke doeanebeambtes en ontvangers moet omgaan, nou eerste gaan.”
[6] Petrus gaan dadelik na die doeanebeampte toe en sê: “Vriend, ons is reisigers van ver, maar het geen paspoorte nie, want in ons hemelse ryk is mens vir ewig vry om te gaan waarheen mens wil; ons kan jou daarom geen paspoorte toon nie. Ons is egter doodeerlike wesens en het ons nêrens aan iets skuldig gemaak nie en het nog oral sonder probleme deurgekom. Daarom dink ek dat mense ons ook hier niks in die weg sal lê nie.”
[7] Die doeanebeampte sê: “Vriend, waarskynlik uit China, as julle niks het om aan te gee nie, kan julle, wat my aanbetref, dadelik verder gaan. Daar vooraan is nog `n kontrolepos waar die paspoorte ingeneem en gekontroleer word. Is julle werklik Chinese?”
[8] Petrus sê: “Ja, ja, is die paspoortkontrole dus daar voor? Ons is u redelik erkentlik vir u informasie.” Daarop sê die doeanebeampte: “Nou nog mooier, die hawelose bedelaarsvolk wil hulle ook nog groot voordoen.”
[9] Petrus sê: “Vriend, beoordeel die mens nooit na hulle kleding nie! Jy kan nooit weet wat daar so nou en dan agter eenvoudige klere skuil nie.” Die doeanebeampte sê: “Selde iets anders as gepeupel en vabonde, wat mens moet oppak en per omgaande terugstuur na waar hulle tuishoort en wetlik ingeskrywe is! Begryp, meneer?”
[10] “Ja seker”, sê Petrus, “hierdie taal is teenwoordig maar al te gebruiklik, sodat dit nie moontlik is dat die arme volksklasse haar nie sou verstaan nie. Met hulle wat hier verby ry in `n pragtige koets met bediendes in uniform, praat jy seker baie anders, maar met ons, wat kaalvoet gaan, praat jy asof ons net `n soort dier is. Kyk, dit is prysenswaardig van jou! Laat ons nou maar verder gaan, miskien sal die doeanebeamptes op die volgende pos nie so streng wees soos jy nie.” Die doeanebeampte sê: “Daar sal hulle sekerlik korte mette met julle maak! Maak nou maar dat jy wegkom, anders laat ek julle nog arresteer!”
[11] Robert sê vir My: “So is hulle, en hy is nog een van die beter soort. As mens met so iemand te make kry, sou mens werklik uit sy vel kon spring van woede en ergernis! O mens. O aarde. Ook Helena sê: “As hy ons nog langer sou lastig geval het met sy geringskattende gepraat, dan het ek hom ietwat anders vertel! Ek ken hierdie kêrel taamlik goed. Goed, dat ons verder gaan, anders het ek hom wel in die hare gevlieg. Nou, hy sou raar opgekyk het!”
[12] Ek sê: “Praat nie so hard nie, My dogtertjie, want hierdie doeanebeampte het skerp ore! As hy dit sou hoor, sal jy moeilikheid met hom kry.” Helena sê: “Maar Heer, slegter as Satana self sal hy tog nie wees nie?” Ek sê: “Dit hang daarvan af; as wagters is die honde, volgens hulle aard, dikwels baie kwaadaardiger as hulle meesters. Meesters praat slegs, maar die honde byt! Maar ons kom nou al naby die tweede kontrolepos. Petrus begin al met die polisie te praat; ons sal sien wat dit oplewer!”
[13] Helena sê: “O, ons word opgesluit as U, o Heer, geen gebruik maak van U mag nie!” Ek sê: “My liewe dogter, wees onbesorg: Die minste suggie uit My mond en die hele aarde met al haar kerkers bestaan nie meer nie! Daarom hoef ons vir geen kerker bang te wees nie. Maar nou luister ons na Petrus, aan wie nou net gevra word: “Waar kom julle vandaan? "Waar is die paspoorte? Vorendag daarmee!”
[14] Petrus sê: “Geduld, ek het slegs `n kort vraag: Sê net, kan niemand dan, ook geen inwoner, eers die stad in daarsonder nie?” Die sersant van die wag sê: “Bekende inwoners wel, maar vreemdelinge nooit! As julle geen burgers van hierdie stad is nie, dan moet julle wel een hê, anders sal julle nie daarin kom nie. Hoort julle egter in hierdie stad tuis, dan moet julle antwoorde gee, sodat ek kan sien welke gesindheid julle het.”
[15] Petrus sê: “Wel nou, ek sal jou alles presies opgee!” Daarop vra die sersant: “Hoe heet jy?” Petrus sê: “Simon Juda, seun van Jona, genaamd Petrus.” Die sersant: “Dit klink vreemd! Maar wie is jy dan, wat se beroep het jy?” Petrus sê: “Oorspronklik was ek `n visser, maar ek gaan nou daarop uit om mense te vang, reeds sedert byna 2000 jaar.”
[16] Die sersant sê vir `n assistent: “Bewaak hom, want hy hoort in die malhuis! Die kêrel verbeel hom dat hy Petrus, die beroemde apostel is! Nee, wat jy nie alles by `n kontrolepunt kan meemaak nie!”
[17] Hierop wend die sersant hom tot Paulus: “Wie is u dan en hoe heet u?” Paulus sê: “Ek was `n tapytwewer, later `n apostel van die heidene. My eerste naam was Saulus en die latere was en is nog Paulus.” Die sersant sê vir `n tweede assistent: “Bewaak hom ook, want hy is ook ryp vir die malhuis!” Hy wend hom daarop tot Johannes en hy vra ook hierdie apostel: “Wie is u dan? Dalk ook so `n apostel van Christus?”
[18] Johannes sê: “Ek is die evangelis Johannes en tewens ook apostel van die Heer Jesus, die Christus!” Die sersant sê vir `n derde assistent: “Hoort ook tuis in `n kranksinnige gestig! Bewaak hulle goed! Daar is nog drie, die sal wel netso wees!”
[19] Op die oomblik kom Helena vol ergernis na vore en sê op egte Lerchenfeldse wyse vir die sersant: “Jou sukkelaar van `n Boheemse opperwagmeester, pas maar goed op dat die drie nie weer ontsnap nie!” Vererg oor hierdie manier van aanspreek sê die sersant: “Wat sê jy daar? Wag jy maar net! Ons sal jou wel die growwe toon afleer!” Daarop skiet Helena op die agent af en sê: “Nou, nou, jou ou swawelpot uit die helse apteek! Pas maar op dat jou Boheemse fyngevoeligheid nie gekrenk word nie! Kyk, kyk, ook nog eersugtig! Laat my heer sy boosheid maar gou vaar, anders sê ek iets vir u wat u nie goed sal geval nie!”
[20] Die sersant sê: “Uit welke land kom jy, jou onbeskaafde mens?” Helena sê: “Nou, dink eens na! Kan u u nog die herberg herinner, waar u drie keer uitgegooi is vanweë ontug en twissoekery? Kyk, daar kom ek vandaan!” Die sersant sê: “Wat klets jy daar? Is jy dan `n kind uit Lerchenfeld?” Helena sê: “Ja, Leentjie van swart Max! Ken u my nie meer nie?”
[21] Die sersant sê: “Ja, maar vertel my net, hoe het jy dan in die gekke geselskap beland? Dit is goed! Leentjie van swart Max! Sê my tog net, waar was jy gewees sedert die revolusie? `n Mens het glad niks meer van jou gehoor of gesien nie!” Helena sê: “Wel, ek het eenvoudig gesterwe, maar nou is ek weer hier, lewend en gesond, en gaan saam met my goeie vriende om my geboortestreek te besoek... as u niks daarop teen het nie! Dat hulle daar egter nie mal is nie, daarvoor staan ek in.” Ietwat gekalmeer sê die sersant: “Ag my liefie, hierdie drie is volslae mal en moet dus na die malhuis gaan! By die twee laastes, sal egter eers uit `n verhoor blyk welke vlees ek in die kuipe het. Ek sal hulle daarom dadelik onder hande neem.”
[22] Nou tree Robert uit homself na vore en sê: “Vriend, jy wil my en my heilige groot vriend ondervra om te kyk of ons miskien nie goed by ons sinne is nie? O, jou blinde drommel! Dit moes jy lankal met jouself gedoen het, sodat jy tot insig sou gekom het, dat jy lankal nie meer met jou liggaam in die eintlike Wenen leef nie, maar slegs in die geestelike verskyningsvorm van die aarde! Dink jy dan dat jy hier die egte grensbewaker is? Jy is net in jou verbeelding en nie meer nie. Glo jy dat jy hier een of ander gesag of reg het om ons te ondervra? Ek sê dit vir jou: Jy het geen ander reg as die reg van `n dwaas nie, wat bowendien tegelykertyd nog blind en doof is!
[23] Jy het immers lankal gesterwe en wel aan die cholera in die jaar 1849 volgens aardse tydrekening! Bodes uit die hemele het jou al gesê dat jy liggaamlik gesterwe het, maar jy het hulle uitgelag en gesê: “Julle dwase kêrels, sien julle dan nie hoe flink ek nog as eerste sersant is nie? As julle dit nie wil glo nie, stop ek julle in die selle en dan sal julle dadelik sien of ek gesterwe het of nog leef!” Met so `n teenantwoord het die bodes uit die hemele jou weer verlaat en laat jou in jou dwaasheid, waarin jy nou al meer as `n aardse jaar volhard en ander hulpvaardige geeste as dom verklaar. Dink jy nou werklik nog dat jy in lewende lywe `n polisie-agent in die stad Wenen is? Kyk net daar na die slagboom! Merk jy nie hoe hy nou steeds deursigtiger en nietiger voor ons word nie?”
[24] Die sersant sê: “Dit is alles `n los geswets waarna `n amptenaar nie luister nie. Hy oefen sy hoë amp uit, soos die streng instruksies van hom eis! Hoe heet jy dan? Het jy `n pas of een of ander regmatige bewys?” “Nee!” bulder Robert hom in sy ore, waarop die agent heeltemal duiselig word en om hulp begin te skree. Weer bulder Robert hom in sy oor: “Wat wil jy dat ek met jou sal doen? Wil jy lewe of vir ewig sterwe? Want `n tydelike dood bestaan hier in geen geval nie. Wie hier sterf, sterf vir ewig!”
[25] Nou skree die sersant verskriklik om hulp. Daarop kom daar drie gewone assistente uit `n wagtelokaal en wil Robert aan die kraag gryp. Hy bulder teen hulle egter so `n geweldige “Halt!” toe, dat almal daarop soos deur die bliksem getref inmekaar sak. Wanneer hulle oënskynlik bewusteloos op die grond lê, sê Robert: “Heer, as dit U wil is, kan ons ongehinderd verder gaan. Die drie daar, wat Petrus, Paulus en Johannes bewaak, blaas ons weg en dan het ons `n vrye aftog van hier.”
[26] Ek sê: “Dit sou wel goed wees, maar eers moet hierdie sersant My ook nog verhoor! As dit gebeur het, sal ons verder gaan, sonder dat hulle ons ook maar die geringste hindernis in die weg kan lê “ Robert sê hierop: “Dit is goed, o Heer, slegs U wil is heilig.”
[27] Nou staan die sersant weer op en sê baie grimmig: “Wie is hier `n heer en wie se wil is hier heilig? Hier regeer alleen die keiser! Verder het niemand iets hier te sê nie! Haai manne, let op! Neem al die gespuis in hegtenis, bring hulle voor die gereg en vertel daar hoe die sosialistiese gepeupel hulle hier gedra het! Hierdie skreeuer moet egter hier in die wagtelokaal eers nog ekstra vir sy geskree beloon word, met vyf-en-twintig stokslae! Gryp hom en sleep hom na die wagtelokaal!”
[28] Drie manne sluit Robert in en wil hom onderwerp, maar dan skiet Helena vorentoe en sê: “Wie dit waag om `n hand na Robert uit te steek, is as `n dooie opgeskryf!” Toe een Robert egter tog aan die kraag pak, kry hy op dieselfde oomblik so `n oorveeg van Helena dat hy onmiddellik dood op die grond blyk te val. Nou wil die ander twee vir Helena aanvat, maar hulle kry dit so van haar van die kant af, dat beide ylings vinnig op die vlug slaan. Ook die drie wat die apostels bewaak, het gevlug. Die sersant roep hulle agterna, dreigend met galg en doodslag, maar tevergeefs. Niemand keer terug nie, want hulle begin langsaam te vermoed dat daar met ons geselskap iets besonders aan die gang moet wees.