Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 113

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Drie biskoppe van Graz op die wolke. `n Jesuïet as afgesant. Die heerssugtige Sebastiaan en sy twee beter kollegas. Oordeel oor die hoogmoedige bende

263 Nou sê keiser Josef: “O God! Drie biskoppe tegelyk en bowendien ook nog uit Graz! Arme heuwel! Hierdie las kan die angssweet van jou hoof laat drup. O Heer, dink aan die spektakel in die katakombes van die katedraal te Wenen; hulle was, op my Migatzi na, nog suiwer eensgesind, maar by die biskoppe van Graz is dit van oudsher `n gebruik dat `n opvolger steeds `n uitgesproke vyand van sy voorganger moes wees. Nou kry ons drie sulke, soos kant-en-hond lewende biskoppe, met hulle lyfwagte tegelyk! O Heer en Vader, tas nou maar vinnig diep in U skatkis van genade en erbarming! Dit sal ons almal in hoë mate nodig hê.”

[2] Ek sê: “Ja, my beste vriend, jy het weliswaar nie heeltemal ongelyk nie, maar slegs een van die drie is `n egte rebel; die ander twee is baie goeie geeste. Daar kom hulle al aan in `n wolk wat ook vir natuurlike oë sigbaar is, waarvan die besondere donker kleur duidelik aangee van welke ingesteldheid haar passasiers is. Die beste twee het slegs `n klein lyfwag, wat egter baie paraat is.

[3] Maar die een op die agtergrond van die nagtelike duister het `n sterk lyfwag by hom, wat net so voel, dink en wil soos hyself. Kyk maar net hoe trots hy hom op sy donker wolk laat dryf, asof hy oor hemel en aarde te beveel sou hê! Hy is nou ongeveer drie jaar `n bewoner van hierdie wêreld en hy weet dit, anders sou hy hom nie op die wolke laat dryf nie. Maar hy het nog geen duimbreedte van sy ultra montaanse gesindheid (oordrewe pousgesindheid) afgewyk nie. Hy is nog steeds `n prelaat (biskopstitel) van die pouslike hof en hierdie waardigheid neem niemand hom maklik af nie, en met `n dergelike gevoel van hoogwaardigheid kom hy nou langsaam op ons af en verwag `n hoogs eerbiedige ontvangs van ons. Hoe geval hierdie gees jou?”

[4] Josef sê: “Die is werklik `n pragtige voorbeeld van bekrompe domheid! So `n kêrel sou `n besienswaardige besienswaardigheid in `n museum kan wees. Nee, dit is vir my `n kostelike heerskap!”

[5] Ook Robert sê: “Ek het selfs tot in Sakse (dweper) die vreemdste verhale oor hierdie seloot gehoor en vind dit jammer vir hierdie stad en die mooi land dat sy deur so `n duisterling in kerklike opsig bestuur was en nog dommer gemaak word as wat hy al was. Hierdie geslepe kêrel weet om met vleiery in die guns te kom by die vroulike volk aan die hof, hy dryf langs hierdie weg al sy planne deur en ontpop hom geleidelik aan tot `n ware kerktiran. Om sy hofhouding te vergroot, voer hy in die land reeds baie lank opgehefte kloosterordes weer in. Hy het nie weinig bygedra aan die opstand van die jaar 1848 nie en dit is `n doodsonde dat hy nie die revolusie op aarde in sy volle omvang met ons meegemaak het nie, want `n paar raak klappe sou hom volstrek geen kwaad gedoen het nie.

[6] Nou sweef hy reeds bokant ons en maak asof hy ons glad nie sien nie. Wat wil hy dan bereik met die voortdurende kruisies slaan? En wat se sin het sy rooi kouse, sy wit biskopmus, sy goue koorkap en sy silwer herderstaf voor? Op aarde vorm dit weliswaar `n dekmantel teenoor blinde mense, maar wie wil hy dan hier in die geesteryk daarmee oortuig?”

[7] Ek sê: “Wees nou maar ewe rustig, liewe kinders, vriende en broeders! Ons sal hom gou hier hê en `n appeltjie met hom te skil hê. Kyk, hy stuur al `n dienaar; uit sy vraag sal julle maklik kan agterkom wat die, hoog bo die aarde swewende, biskop oor ons dink. Hy is hier, daarom moet julle nou oplet!”

[8] Die dienaar, onmiskenbaar `n Jesuïet en nog `n handlanger kom brutaal voor ons staan, en die eerste vra: “Wat se ellendige sigeuner voertuig is julle nie, wat nie eers sy hoed afhaal en op sy vervloekte knieë sink soos voor `n kerkvors nie, wat deur God met alle mag toegerus is, en wat seënend op `n hemelwolk verbykom?”

[9] Ek sê: “Jy sê dat hierdie biskop deur God met alle mag toegerus is? As dit so was, sou Ek tog iets daarvan moes geweet het! En of die wolk waarop hy sweef, nou eintlik `n hemelwolk is, ook dit sou Ek dan eerste moes geweet het.”

[10] Die Jesuïet sê: “Waarom juis jy, sigeunerseun? Asof die groot God dit uitgereken het om aan jou neus te hang, dom sigeuner! Weet jy dan nie dat alle sigeuners al op aarde vir ewig deur God verdoem is nie?” Ek sê: “Nee, my beste, ook daarvan weet Ek niks, terwyl Ek dit tog in die eerste plek sou moes geweet het. Merkwaardig wat jy tog alles weet en Ek nie! Sê my net, was jy dan daarby toe God hierdie biskop so `n onbegrensde mag oor die aarde verleen het?

[11] Die Jesuïet sê: “God verstrek so `n mag steeds op `n onsigbare manier. Mense moet haar aanwesigheid aan haar diverse uitwerkinge herken. God woon egter in ontoeganklike lig en behalwe die heilige, eerste engele, wat steeds rondom Sy troon op Sy bevele wag, mag niemand Hom nader nie. Begryp jy die diepte van hierdie wysheid?”

[12] Ek sê: “Sy lyk juis vir My asof sy nie baie diep is nie, hierdie wysheid van jou! En Ek moet weer aan jou beken dat Ek niks van alles weet nie. Merkwaardig! Maar Ek weet wel, dat jou biskop Sebastiaan `n os is en dat jy `n esel is! Diere, nie bepaald van `n slegte soort nie, maar uitermate dom. Vir ons almal, soos ons hier is, is God baie sigbaar en woon Hy beslis in redelik toeganklike lig. Slegs vir die mens wat op aarde nog sterk in die vlees lewe, moet God, terwille van die vryheid van hulle wil, onsigbaar bly, solank hulle nog nie die volledige wedergeboorte van die gees verkry het nie. Hy bly egter ook onsigbaar vir geeste van julle soort, omdat julle nie suiwer en wedergebore is nie, en Hy sal dit nog aardig lank bly.” 

[13] Die Jesuïet sê: “Waar sien julle God dan?” Ek sê: “Juis daar waar julle Hom nie sien en nog vir `n lang tyd nie sal sien nie, en al sit Hy op julle neus, dan sou julle Hom nog nie herken nie. Gaan na jou blinde biskop en sê vir hom: Hier woon die heil van die mense! As hy ook `n mens is, laat hom dan hier kom, God die eer gee en deelneem aan die heil, anders kan aan hom, saam met julle almal, wel net die dood ten deel val! Sê vir hom: God die Heer het geen wêreldseënaar nodig wat Sy mag uitvoer nie; Hy seën die wêreld Self. Die biskop kan eerder net sy eie hart met deemoed seën en nie hooghartig op `n wolk ronddrywe nie. Sê vir hom, dat God, die Heer nou Self op aarde rondwandel en dat dit daarom ongepas is, dat `n slegte kneg van die wolke gebruik maak!” 

[14] Die Jesuïet sê: “Wie is jy dan wel, sigeuneragtige wese, dat jy dit waag om jou teenoor my, `n godsdienaar, en teenoor `n kerkvorstelike outoriteit so brutaal te gedra, asof jy self die kerk gestig het? Ek vra jou, ongure sigeuner, wie is jy en wat se geselskap is dit die?”

[15] Josef sê heimlik teenoor My: “O Heer, liewe Vader, my geduld word nou al so dun soos `n draadjie van `n spinnekop, wat oombliklik sal breek as hierdie, vyand van die liefde in U, hom nie spoedig uit die voete maak nie.”

[16] Ek sê: “Beste vriend, wees maar rustig en vererg jou nie. Kan jy iets anders van `n esel verlang, as dit wat uit sy gedagtewêreld voortkom? Hy het nou gehoor wat hy moet doen. As hy dit wil doen, dan is dit goed, wil hy dit nie, dan sal daar wel `n nog middel wees om die lasdier kwyt te raak.” 

[17] Die Jesuïet sê: “Kry ek `n antwoord of nie?”

[18] Ek sê nogal kragtig vir hom: “Nee, gaan weer na bo, anders word jy na bo gelig!” 

[19] Na hierdie woorde trek hy `n suur gesig en gaan weer terug na sy biskop. Terwyl hy byna tot sy tone buig, deel hy hom alles mee wat hy tot sy afkeer gesien en gehoor het. Kyk nou egter net na die biskop; wat se geleerde gesig sit hy op, asof hy met homself oorleg pleeg: “Sal ek die aarde nog laat lewe of nie? Is daar geen bliksems meer, wat ek tussen hierdie goddelose menigte kan inslinger nie?” Daar skiet hom niks bruikbaar te binne, wat hy as wraak sou kon gebruik nie, en daarom maak hy aanstaltes om onverrigter sake verder te trek.

[20] Maar nou gaan die twee ander biskoppe, saam met hulle hele agtenswaardige gevolg, om hom heen staan. Die grootste, Waldstein geheet, sê vir hom: “Vriend, kollega, wat is dit dan met jou? Wat gaan jy doen? Herken jy dan nie die verligte menigte, wat daar benede deur Sy aanwesigheid die top van die heuwel met seën bedek nie? Sien jy dan nie duidelik, soos `n son tydens die middag, dat dit Christus, die Heer, drie van Sy eerste apostels, alle keisers van die huis Habsburg, die beroemde aartsbiskop Migatzi en nog `n groot menigte volmaakte geeste is nie?”

[21] Nou word biskop Sebastiaan vlammend van woede en sê: “Ek ken beide van julle ketters! Die kerklike verval wat julle in die land aangerig het, sal ek in geen twintig jaar uitroei nie, en julle wil Christus vir my leer ken?! Ek, wat vervul is van Sy heilige gees en die sleutels van hemel en hel in my hande dra! Wie sou Christus nou beter ken as ek?”

[22] Waldstein sê: Vriend, ek sê jou, as jy so praat, dan het jy Christus nooit geken nie, want die gees van die Heer gaan nooit saam met soveel hoogmoed nie. Jy is niks anders as `n heerssugtige, trotse Roomse en jy laat jou dan ook deur `n pikswart Roomse bende vergesel, om jou doel met behulp van die groep te bereik; die Heer trek egter `n geweldige streep deur dié rekening. So het jy met al jou inspanning, juis die teendeel bereik van wat jy wil, naamlik `n absolute Roomse heerskappy oor die hele aarde! En jy beweer dat slegs jy in die besit sou wees van die Heilige Gees! O jou ellendige skurk. Jy is wel die enigste besitter van die hel se gees, wat leuen en hoogmoed heet, maar die gees van Christus het jy nog nooit herken nie, want jy is immers `n uitgesproke vyand van hierdie gees!”

[23] Na hierdie kragdadige woorde van Waldstein word Sebastiaan steeds kwaaier en sy talryke gevolg eweneens. Waldstein en Arko* daal nou egter af na die aarde. Wanneer hulle haar aanraak, stuur Ek dadelik vir Robert na hulle toe om hulle na My toe te bring. Hulle gehoorsaam onmiddellik en begewe hulle vol eerbied na My toe. Ek gaan hulle halfpad tegemoet en lei hulle Self na die top van die heuwel. *( Graaf Arko, biskop te Graz vóór Sebastiaan Zängerle en Waldstein.)

[24] Daar aangekom, wil Waldstein en Arko neerkniel op hulle aangesig, maar Ek verhinder dit en sê: “Vriende, doen dit `n ander keer, nou het ons baie belangriker dinge te doen! Hierdie Sebastiaan het ronduit slegte bedoelings en wil die aarde kwaad berokken. Dit is nou Donderdagaand; Woensdag rus hy en ons ook. Vandag nog wil hy vanweë die belediging wat hom aangedoen is, alles vernietig wat hy op aarde teëkom. Maar Ek het die sterk vredesgeeste reeds `n wenk gegee: Nog hierdie nag sal hy saam met sy groot aanhang geknel word, op aarde neergewerp en daar danig afgekoel.” 

[25] Waldstein sê: “O heilige Vader, hoe sal dit dan gebeur en hoe sal ons dit herken? Ons het immers nog baie blindheid in ons.”

[26] Ek sê: “Rig jou blik maar na bo en sien hoe die wit geeste van vrede, wat van alle kante aankom, hulle in die beste orde opstel! Bliksemsnel sal die woestelinge, waaronder Sebastiaan, geknel op die grond gewerp word. As julle môre die hoë berge rondom met sneeu bedek sien, weet dan: Daar lê Sebastiaan in sy triomf onder die beste woede-afkoelingsapparaat, naamlik onder die deken wat die vredesgeeste van die noorde as nuttige geskenk vir hom saamgebring het.”

[27] Waldstein sê: “Dus het die sneeu ook `n geestelike betekenis?”

[28] Ek sê: “Alles wat op aarde sigbaar word, het gewoonlik aller­eers `n geestelike betekenis, vervolgens ook `n natuurlike. Maar let nou op, die wilde jag sal dadelik begin!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205