Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 104

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Seënbede voor die maaltyd. Oor Swedenborg. Seëninge van die Habsburgse huis. Invloed van geeste en engele op mense. Grondwet van die vrye wil “

254 Die offisier doen, wat Ek hom aangeraai het, maar bring Mathilde-Eljah weer na My toe en sê: “O Vader, hier is sy, wat U, netsoos ek, bo alles liefhet. U het haar weliswaar deur U heilige Woord aan my gegee en ek sou haar ook dadelik aan my bors kon druk, maar my hart sê vir my, dat ek U eers om U seën moet vra en eers dan kan ek Mathilde-Eljah volkome as myne beskou, soos wat ek haar uit U hand ontvang het.

[2] As voedsel vir my hart het U, o liewe Vader, haar aan my geskenk. So skenk U ook alle mense op aarde spys en drank. Hulle, wat voor die ete van voedsel in hulle hart tot U kom, U dank en om U besondere seën bid, word ook werklik deur die voedsel gevoed. Hulle, wat egter meen dat so-iets gladnie nodig is nie, dien dit nie tot seën nie, nóg liggaamlik nóg geestelik. Daarom kan mens U nooit genoeg liefhê en dank vir die oorvloed van U seën nie. Seën ons daarom nog eenmaal, o heilige Vader!” 

[3] Ek sê: “My seun, wat jy vra, het al gebeur. "Wees daarom maar heeltemal gerus, want by jou is alles nou in orde. Daar is nog enkeles in ons geselskap wat weliswaar nog nie heeltemal in orde is nie, maar hulle het liefde in hulle hart en dit is goed. Daar is nie meer baie nodig om hulle ook heeltemal in die korrekte orde te bring nie.

[4] Die lees van die boeke van die wyse Emanuel Swedenborg was baie nuttig vir jou gewees, omdat jy dit wat jy gelees het, ook dadelik in praktyk gebring het, maar hulle wat hier is, het nóg My Woord gelees, nóg wat Ek aan Swedenborg oor My Woord geopenbaar het, en staan daarom as volslae nuwelinge hier. Maar soos gesê, ons sal hulle onderweg nog op die korrekte pad bring. 

[5] Ons sal ons hier in hierdie stad nog wel enige tyd kon ophou, ook die regerende vorstehuis besoek en dit seën vir alle tye, maar niemand vra ons daarvoor nie. Dus is hulle maar eenvoudig geseën deur ons aanwesigheid in hierdie stad, waardeur hulle tog nog beter daaraan toe is, as alle ander vorstehuise van die hele wêreld. Dié huis sal weliswaar nog `n proef kry om te deurstaan, maar dan sal dit tot seën van Europa verhef word! Ons is klaar hier en begewe ons nou op weg vir die voorgenome verdere reis na die suide.” 

[6] Nou kom die keisers Josef, Leopold en Frans na My toe en smeek My om die besondere seën vir die vorstehuis van Oostenryk en vir alle volkere van hierdie staat. Op die wyse versoek van hierdie drie voormalige vorste gee Ek hulle die seën en sê:

[7] “Jy vergrysde Huis, bly! Jou banier is liefde, sagmoedigheid en geduld! Word en bly standvastig in die ware geloof en verafsku nie die lig van die gees nie, want die lig sal jou verhef bo alle vorste van Europa! Laat jou nooit deur Rome mislei en verkneg nie, want jou benoem en seën Ek tot regent en bo jou staan slegs Ek en verder niemand op aarde nie. Ek erken geen bevelende, alle konings op sleeptou nemende en bo alles heerssugtige, duistere Rome nie. Nie met drie krone gekroonde Rome nie, maar slegs `n deemoedige Rome wat hom aan My Woord hou, sou Ek erken. `n Rome wat die vernietiging verlang van alle broeders wat hulle nooit die las van die drie krone op hulle hoof laat welgeval nie, maar wel helderder dink as die vors van die duisternis in Rome, is vir My `n gruwel van verwoesting op die heilige plek van alle lewe uit My. - My Huis! Jy het nou al soveel gedoen; doen alles, dan sal jou mag groei soos `n seder op die Libanon! My seën en My krag sy met jou! Laat dit so wees!”

[8] Hierop val die drie vorste voor My neer, sê amen en loof en prys My uit die diepste van hulle hart.

[9] Ek sê: “Staan op, vriende! Elkeen doen wat hy kan. Ek weet die beste hoe die dinge nou lyk, maar dit sal nie lank meer bly soos wat dit tot nou toe was nie. Ek sal julle drie egter die mag gee om volgens die vrye orde, die vrye reg en die korrekte redelikheid te kan inwerk op julle vorstehuis op aarde, sonder om afbreuk te doen aan die vrye wil van die regent wat op die oomblik heers.

[10] Dit kan net gebeur, wanneer `n mens maar net op `n mens se vermoë tot insig inwerk, maar nooit wanneer mens, al is dit hoe weinig, sy wil remmend of stimulerend beïnvloed nie, want `n gestimuleerde wil is, netsoos `n teengehoue wil, as `n oordeel te beskou. Die hel gryp die mense by hulle wil en sleur hulle in die oordeel en in die dood in, maar deur ons moet die volledige vryheid van die wil tot die uiterste eerbiedig word. Daarom moet julle ook daar, waar aan julle mag verleen is, nooit op die wil nie, maar slegs op die insig van die mens inwerk. Die mens kan sy insig hoe hoog ontwikkel, tog sal sy wil steeds bly soos hy is en was. En so moet dit wees, omdat My ewige orde dit so wil hê.

[11] Wanneer `n mens egter tot `n korrekte insig gekom het, dan sal dit sy wil sonder meer lei soos `n goeie ruiter sy perd. Die wil sal dan steeds meer dit doen deur te wil wat sy insig reg, goed en dus doelmatig vind. Daardeur kom wil en insig steeds nader aan mekaar, totdat hulle uiteindelik volkome een word, wat dan lei tot die voltooiing van die mens. Die wil is die lewe van die siel, die insig daarenteen lê in die ewige vrye gees. Word gees en siel één, dan is deur hierdie geestelike wedergeboorte, vir die ewige lewe die vereiste vryheid ook aanwesig en leef die mens reeds in My ryk, wat bestaan uit die waarheid en die ewige lewe.

[12] Daar is drie dinge wat hiervan getuig: Die Woord, die Insig en die Wil. Hierdie drie moet een word, soos Ekself één is as Vader, Seun en Gees. Die Vader is die ewige, wesenlike Woord. Die Seun is die opname van die Woord en daardeur die ewige Wysheid Self. Die Gees of Wil of Krag kom dan egter uit beide voort en is eweneens volmaak een met die Vader en die Seun, en dit alles is die Een Wese, wat in My voor julle staan en julle onderrig.

[13] Daarom moet julle dit goed ter harte neem en My onveranderlike orde goed begryp. Anders sou julle, as julle op `n mens wat nog op aarde lewe, invloed uitoefen, baie meer by hom bederf as goed doen. Elke slegs deur `n uiterlike - laat staan deur `n innerlike - dwang aan bande gelegde wil, is nutteloos. Rome het hom, netsoos die heidendom, van allerlei dwangmiddels bedien om die wil van die mens aan bande te lê. Wat het hy egter daarmee bereik? Die op hande synde uiteenval en `n algemene, diep veragting. Wat hulle ookal mag doen, dit sal hulle tog nooit meer kan herstel en oprig nie.

[14] Daarom moet dit, by name vanuit ons suiwer geestelike, innerlike magsfeer buitengewoon in ag geneem word. Innerlik mag ons nooit enige dwang aan iemand oplê nie, maar wel, as dit nodig is, die hel `n halt toeroep, en wel uiterlik: Deur allerlei kwale vir die sinlike vlees, deur oorlog, hongersnood en epidemies, of deur misoeste van een of ander gewas. Dit is weliswaar ook al `n oordeel en sy vrugte is maar net sleg, maar van twee booshede kies mens altyd die beste. `n Uiterlike oordeel laat hulle weer herstel, maar `n innerlike slegs baie moeilik of vir die ware vryheid van My hemele dikwels gladnie.

[15] Ontvang daarom dan ook, met inagneming van My woorde, die mag om die goeie geeste van julle vorstehuis op te wek en gebruik hulle volgens aan julle gegewe aanwysings! Laat dit so wees!”

[16] Die drie dank My vir die gegewe leer en mag en belowe in die teenwoordigheid van alle aanwesiges dat hulle van so `n genade steeds so wys moontlik gebruik sal maak.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205