Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 87

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die diepste verlange van die offisier. Die Vader openbaar Hom aan hulle wat Hom liefhet

237 Robert bring die offisier na My toe en sê vir hom: “Dit is Hy, van wie die groot skeppings, alle profete en Sy eie heilige Woord, die groot Woord van die Vader, van die ewige, suiwerste liefde, getuig!” 

[2] Die offisier sê: “Dus sou hierdie man dit wees? Dit is tog dieselfde wat nou net die soldatevolk met redelike lowende woorde in beskerming geneem het! Aha, die man geval my baie goed, ook al hoef hy geen God daarvoor te wees nie. Wanneer die hart van `n man deur woord en daad blyke gee van geregtigheid, goeie gesindheid, liefde vir orde en reg en opregte liefde vir sy naaste, dan is hy, ook al is hy nie dadelik `n god nie, tog seker vervul met `n sterk gees uit God. Daarvoor verdien hy die hoogste agting en liefde van elke opregte denkende mens, en dit betuig ek uit al my kragte ook aan hierdie man, in wie ek sulke eienskappe met vreugde ontdek het.

[3] Haai, soldate, gee ag! Presenteer die geweer vir hierdie man! Hy dra weliswaar geen goue sabelkwas aan sy sy nie, maar in plaas daarvan `n tienvoudige in sy hart. Sulke manne het teenswoordig seldsaam geword. Kom hier, opregte man van eer! Die bors van `n krygsman voel weliswaar ru, hy is `n ware wetsmasjien, maar agter die masjien klop dikwels `n baie warm hart vir God, keiser, vaderland, reg en orde. En aan so `n hart in my bors druk ek ook vir jou, edelste van die edeles!”

[4] Nou sluit hy My in sy arms, kus My en sê daarop: “Werklik, daar is baie moois wat die hart dikwels met vreugde vervul, maar die heerlikste is tog die eerste vriendskapskus van twee opregte manne! Laat jou daarom ook so warm moontlik deur my begroet! Jou woorde wat jy nou net tot Robert gerig het, het my duidelik gemaak dat jy `n man is wat die hoof en hart op die korrekte plek dra. Haai soldate, nog eenmaal: Drie keer met die geweer!, grenadiersmars en presenteer!” 

[5] Deur hierdie nogal luidrugtige aangeleentheid word verskeie mense uit hulle huise gelok en die nuuskierigheid bring hulle daartoe om te kyk wat daar gaande is. Toe ons omring is deur `n bont versameling toeskouers, wil die offisier die bevel gee om die nuuskierige mense te verwyder, maar Ek sê vir hom: “Vriend, laat dit so! Ook hierdie klaplopers sal sien hoe die heil van die wêreld daaruit sien! Hulle is halfdooie wesens, wat vir niemand nut is nie, nóg iemand kan skaad. Daarom laat ons hulle maar kyk!”

[6] Die offisier volg My raad en sê: “Allerbeste vriend, dit spyt my dat ek jou moet verlaat, maar jy weet dat die tyd van `n krygsman tot op die minuut vasgelê is en ek daarom met my troepe verder moet trek na die plek van ons militêre bestemming. Daarom vaarwel! Dit sal vir my `n groot vreugde wees om jou so spoedig moontlik weer êrens te ontmoet!” Nou omarm die offisier My nogmaals, kus My met trane in die oë en wil daarop met `n sigbaar beswaarde hart weggaan.

[7] Met wyd oop arms sê Ek egter vir hom: “My seun, jy bly hier! Jy het nie verniet so `n liefde, wat My aan jou hart gedruk het, vir My gevoel nie. Ek is immers jou waaragtige Vader in alle ewigheid. Die blinddoek wat jou oë belet om My dadelik te herken, is vir ewig van jou weggeneem! Nou verheug die Vader Hom dat Hy so `n liewe seun aan Sy hart kan druk! Die seun moet vry wees, anders kan hy nie die almag van die Vader verdra nie. Jy het nou vry geraak, kom daarom hier aan die langverwagte hart van jou ewige, almagtige, enig ware Vader!”

[8] Nou herken die offisier My, slaak `n kreet van diepe vreugde, val voor My neer en sê: “O my groot God! Ek is immers `n sondaar, hoe kan ek aan U heilige hart kom?”

[9] Maar Ek sê: “Staan op, My seun! As Ek jou “seun” noem, is jy sonder sonde, want wie soos jy liefde dra in sy hart, het geen sonde meer nie! En al sou hy sonde hê, soveel as wat daar sand in die see en gras op die aarde is, dan is dit hom alles vergewe, omdat hy liefde in sy hart het!”

[10] Na hierdie woorde staan die offisier op, kyk My wasig aan en sê met groot geesdrif: “Waarom sou ek vir U bang wees, noudat ek U herken? U is tog my liewe, goeie, heilige Vader!” nou val hy weer in My arms en roep: “O, wat `n geluk, wat `n saligheid om die ware Vader te gevind het! O vaderliefde, o heilig en grootste Woord, wat berg U in U ondeurgrondelike, heilige dieptes?!” Daarop ween hy van liefde, maar Ek versterk hom, sodat hy My liefde kan verdra.

[11] Na `n rukkie laat die offisier My weer los en sê met betraande oë: “O liefste Vader! die heilige, ewige goedheid! Kyk, ek is nou weliswaar so salig as wat `n wese maar kan wees, maar kyk ook genadig na my redelike opregte troepe! Neem hulle ook aan en dink nie aan hulle gebreke nie! Wees hulle ook genadig en barmhartig!”

[12] Ek sê: “Geliefde seun, jou versoek kom al te laat, want Ek het hulle almal reeds aangeneem, maar jy sal ook in My ryk `n leier en leraar wees en jy sal vir ewig baie vreugde belewe aan jou wapenbroeders. Hulle dra baie skatte in hulle, wat jy eers sal leer ken as jy hulle stap vir stap omhoog sal verhef. Ek sê vir jou: “Een van hulle het reeds meer in hom as alles wat jou aardse oog ooit aanskou het!”

[13] Die offisier merk ook hoe die toegesnelde menigte hierdie skouspel tussen seun en teruggevonde Vader met ontroering gadeslaan, want die menigte dink dat hierdie offisier sy natuurlike vader, wat hy lankal nie meer gesien het nie, teruggevind het. Daarom sê die offisier vir My: “Vader, kyk daar! Die halfdooies lyk om lewendiger te word! "Wat dink U daarvan, sou hulle ook by ons mag bly? Ek het van ganser harte medelye met hulle en ek sou hulle dadelik almal by my wil hou. Mag daar een of ander skurwerige skapie tussenin wees, dan sal ek hom wel met die korrekte middele laat reinig.”

[14] Ek sê: “Liefste seun, ook dit het al gebeur, jy sal hulle almal in jou regiment opneem en hulle leier en leraar wees! Daarom het Ek hulle ook nie deur jou laat verjaag nie. Gaan na hulle toe en sê vir hulle wat jy nou ervaar het en hulle sal jou volg.” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205