|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 69
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Die ware aard van aartsbiskop Migatzi. Gesprek tussen hom en Josef. `n Blik in die duisternis van die priesterdom
219 Josef sê: “Ja, ek herken hom aan sy manier van loop; dit is hy! O Heer, hoe lyk hy nie, `n waarlike skrikaanjaende gestalte! Oor `n volkome geraamte hang `n ou sogenaamde vespermantel (aanddiensmantel) en op sy doodskop klapper `n biskopmus vol vuilgoed en drek. So strompel hierdie gestalte met langsame en duidelik wankelende treë op ons af. Nou is ek tog benoud wat die monster gaan doen!”
[2] Ek sê: “Jy sal genoeg ondersteun word. Jy moet jou net vir niks vererg nie, want al hierdie wesens kan min of meer as waansinnig beskou word.”
[3] Josef sê: “Wat my van hierdie man verwonder, is dat hy op aarde een van die helderste koppe was en wat meer met my eens was, as alle ander biskoppe uit my aardse ryk. Die aartsbiskoppe van Salzburg, Praag, Olmutz, Erlau, Zagreb, Triest, Venesië, Trent en Milaan het my ietwat baie meer probleme besorg as hierdie Wener. Ja, ek moet eerlik beken dat hy my in my hervormingswerksaamhede in menige opsig baie goeie dienste bewys het. Juis daarom kan ek moeilik begryp hoe hierdie man in so `n jammerlike situasie beland het.”
[4] Ek sê: “My beste broeder, hierdie aartsbiskop Migatzi was iemand, wat die kuns die beste verstaan het om sy mantel na die wind te hang. Hy het eers goed bekyk hoe dik die latte was en noulettend beoordeel of hy hulle oor die knie kon breek of nie. As dit vir hom te massief en te sterk was, dan het hy dit nie oor die knie gelê nie, maar laat dit heeltemal vergoud, sodat iedereen by die aanblik van so `n vergulde knuppel, die nuwe mag in sy hande sou erken. Want vir diegene wat op aarde hand in hand gaan met `n magtige keiser, het elkeen byna net soveel respek as vir die keiser self.
[5] Aartsbiskop Migatzi het baie goed ingesien dat mens hom onder jou bestuur slegs belaglik sou maak as mens met die pous, wat toentertyd redelik afhanklik was van Oostenryk, te veel gemene dinge sou maak. Daarom het hy hom eerder by jou aangesluit en in die geheim wetgewer van die pous geword. Hy korrespondeer naamlik vlytig met die “hoof” en vertel hom wat hy moes doen om hom teenoor jou mag en kennis staande te hou. Omdat die pous hom daarvolgens moes rig, was dit die grootste triomf van aartsbiskop Migatzi dat hy in `n sekere sin `n pous bo die pous was.
[6] Kyk, dit was die beweegrede waarom die aartsbiskop Migatzi van Wenen hom met jou opgehou het, maar as jy sou dink dat hy ook innerlik so gesind was, dan sou jy jou deeglik vergis. Want in die opsig was hy meer pous as die pous self en verreweg meer Rooms as al sy kollegas. Ek sê vir jou dat hy jou in die geheim meer gehaat het as die dood, maar omdat hy deur jou, om so te sê, `n wetgewer van die pous geword het, het hy hom met jou opgehou en het jou ondersteun in alles wat jy onderneem het. Ken jy nou die man, wat met jou op aarde hand aan hand gegaan het?”
[7] Josef sê: “O, jou geslepe kêrel! Nee, ek het my alles behalwe so-iets van hierdie man kon voorstel! Ja, ja, wie politiek wil leer en daarin `n meester wil word, kan eerder na die swart, die skarlakenrooi en purper manteldraers gaan; daar sal hy sekerlik politiek aantref op `n vlak wat nouliks in die kop van Satan te vinde is. Wag maar, jou swart politikus, aan my sal jy `n harde neut te kraak hê!”
[8] Ek sê: “Let wel goed op, dat hy nie baie harder word vir jou as jy vir hom nie, want Ek sê vir jou dat hy met alle salwe gesalf is en dat dit vir elke nog so verligte gees werklik geen geringe opgawe is om so `n gesalfde op die goeie weg te bring nie. Wees nou maar rustig, hy kom al baie naby. So, dadelik sal hy jou en ook ons in die oog kry.”
[9] Aartsbiskop Migatzi sien hom nou, kom vinniger na hom toe en sê met `n sterk krysende stem: “Gegroet, broeder Josef! Maar hoe het jy hier in die ellendige hool beland?” Josef sê: “Om jou te besoek, broeder!” Aartsbiskop Migatzi sê: “Dit is baie mooi van jou, maar as jy nog so `n aartsketter is, soos wat jy op aarde was, sal jy hier vervloeks sleg ontvang word!”
[10] Josef sê: “Dit maak nie saak nie, want jy weet tog dat `n Josef weet om hom oral `n goeie ontvangs te gee. Jy kan my sê wat jy wil en ek sal jou steeds dieselfde antwoord gee wat ek die patriarg van Venesië gegee het, toe hy my `n skildery getoon het waarop die pous oor die nek van `n swigtende keiser sy muildier bestyg en die keiser met `n trotse gesig veragtelik aankyk.” Aartsbiskop Migatzi vra: “En hoe lui die antwoord?” Josef sê: “Tempi passati! Dit beteken: Die tye is verby! Nou redeneer mens anders!” En so `n antwoord sal jy ook van my kry as jy met iets sou aankom wat my nie geval nie, want weet jy, teenoor jou het ek nog nie opgehou om keiser te wees nie. Sê my egter nou net hoe dit hier met jou gaan en wat jy hier doen.”
[11] Aartsbiskop Migatzi sê: “`n Dom vraag! Kyk net na my gesig, vermaer tot op die been, en jy sal die antwoord vanself vind! Wat ek hier doen, kan jy sien aan my kleding! Die wêreld wil bedrieg word, dus laat ons haar bedrieg! Dit was altyd ons werk gewees en dit is dit ook nou nog. Die mensdom wil van die grootste wonder in haar, die goddelike rede en die daarmee gelykstaande goddelike verstand, geen gebruik maak nie. Hulle wil `n met wonders aan mekaar geflanste geloof hê, sodat hulle daarby die moeisame denke kan mis. Bygevolg is dit duidelik dat hulle bedrieg wil word; om dié rede word hulle ook bedrieg!
[12] Elke stukkie wonder is bedrog, maar dit maak nie saak vir die dom mens nie; as hulle maar net iets, wat soos `n wonder lyk, kan aangaap. Die ware werk van God maak egter byna heeltemal geen indruk op hulle nie. Son, maan, sterre en die pragtige aarde met haar tallose en grootse wonders, dit interesseer die dom mens nie die minste nie, maar om `n knikker (albaster) in `n oënskynlike leë beker te werp en daar daarna met `n “hokus-pokus” drie uit te haal... dit is `n wonder bo wonder! So was die mensdom, so is hulle nou en so sal hulle bly, solank daar mense op aarde bestaan. Daarom is die beginsels van die Jesuïete die beste wat die menslike verstand ooit uitgevind het, want dit het aan die mees wesenlike natuur van die mensdom ontspring.
[13] Die wyse Egiptenare het een van die beste religieë (godsdienste) opgestel, wat suiwer gebaseer was op misteries en alle moontlike towerkunste. Sy het daarom ook meer as tweeduisend jaar standgehou. Toe sekere vriende van die volk egter opstaan en die volk begin in te lig oor die bedrog van hulle as heilig beskoude religie, was daar maar al te gou massas vyande van die priesters en hulle religie. Die tempels was verniel en die priesters meestal gedood of uit die land verdrywe. Maar wat het die volk daarby gewen? Niks anders as nood, ellende, troosteloosheid en ten slotte die totale verval van sy nasionaliteit en sy oeroue, byna goddelike beroemdheid nie! Sou dit nie beter gewees het as hierdie onryp weldoeners van die volk, met hulle skerp verstand, nooit onder die Egiptiese volk opgestaan het nie? Die volk sou in sy onwetendheid gelukkig gebly het, en die priesterstand, wat as enigste weet dat die mens niks is en nooit as te nimmer iets te verwagte het nie, sou van sy inkomste kon geniet vir die feit dat hulle hulle onvermoeibaar beywer om by die blinde volk die geloof in God en in die onsterflikheid orent te hou en hulle daardeur van `n hoopvolle bestaan te verseker, met as loon dat hulle die grootste las van die volk op hulle eie skouers neem, en hulle self elke minuut die ewige vernietiging tegemoet kan sien.
[14] Laat by die volk duidelik die insig ontstaan, dat daar na die dood geen meer lewe is nie, en dan sal julle dit dadelik tot alle denkbare ontaarding sien oorgaan! Die priesterstand neem dit alles op sy skouers. Hulle alleen sien die ewige vernietiging moedig onder oë, omdat hulle alleen duidelik die voordeel van die nie-bestaan, ten opsigte van die bestaan, insien. Sodoende is dit dan ook die grootste ondank teenoor hierdie groot weldoeners van die mensdom as hulle voor die volk as bedrieërs aangekla word. Hulle is dit wel, maar nie ten nadeel nie, maar tot welsyn van die volkere!
[15] Waarom is die Chinese en die Japanners nagenoeg die gelukkigste volkere van die aarde? Omdat hulle nog nooit in hulle domheid gesteur was nie, omdat hulle verstandige vorste daarvoor sorg dat hulle volkere nooit tot een of ander verligting kom nie. Enkeles wat dit waag om by hierdie volkere `n sogenaamde liggie te laat opgaan, word swaar gestraf. Daarom het ander nie so maklik daarmee saam aangekom nie.
[16] Jyself, my anders redelik agtenswaardige vriend, het egter as vors, in plaas van om met die priesters hand in hand te gaan, hulle `n diepe wond toegebring, wat die tyd moeilik sal heel. Hoe moet `n waaragtige aartsbiskop oor jou oordeel? Ja, welke oordeel moet die hele verstandige mensdom oor jou vel? Jy het haar ontneem van die een en het haar niks beter in die plek daarvan gegee nie!
[17] As `n mens in sy domheid gelukkig is, waarom hom dan wakker maak, sodat hy ongelukkig word? Alle mense is aan die dood blootgestelde oortreders. As die oortreder slaap, is hy gelukkig in sy droom, maar word hy wakker, wat dan? Dan gryp die doodsgedagte hom aan en hy word onuitspreeklik ongelukkig! Sê nou self: Het hy wat die oortreder uit sy slaap wakker skud, hom `n weldaad bewys?
[18] Nie verniet noem die kerk haarself `n “moeder” nie, want sy is vir die volkere werklik wat `n moeder is vir haar kinders. Teer gee sy die volkere slaapverwekkende spys en drank, sodat hulle die vreeslike ellende van die wêreld nooit sal smaak nie. Wie dan ook stewig vashou aan die kerk en haar middele gebruik, sal ook werklik nooit die pyn van die dood voel nie. Wat dink jy nou? Sal jy my nou nog met jou dwase teenwerpings teenstaan?”
[19] Josef sê kort en lakoniek: “Vriend, deur jou inhoudslose woorde het jy eintlik niks anders gesê nie as dat juis die priesterstand hulle steeds in die grootste onwetendheid bevind en ook nog probeer om alle volkere vir duur geld daarmee op te saal. Ek en duisende wat dink soos ek, het nooit aan die onsterflikheid van ons siele getwyfel nie, omdat ons, God sy dank, baie verlig was, want ons geloof was geen blinde nie, maar `n baie duidelike siende geloof. Ons het egter die gevoel gehad dat alle mense dit kon insien as hulle maar nie deur die blinde geestelikheid daar vanaf gehou word nie. En dit, vriend, was die rede van ons verset!”
|
|
|
|
|