Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 32

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Minerva se nuwe uitvlug. Cado se antwoord. Oor boete en bekering. Belangrike feite betreffende die verlossing

182 Miklosch vertel verder: “Minerva sê: “Maar die Godheid het `n soort boete voorgeskryf by die vergewing van die sonde, waarsonder geen mens, en dus nog baie minder `n duiwel, salig kan word. Kyk, ek was en is nog steeds die oorsaak van alle sonde en `n pilaar van oordeel en dood. Hoe kan ek dan sonder boete vry en ten slotte selfs salig word? Dan sou oor my tog die grootste boete moet kom as ek werklik vry en salig sou moet word. Hoe sou ek egter boete kon doen in dié liggewaad? Daartoe behoort `n harige boetekleed en sak en as! Besorg my so `n boetekleed en ek sal opreg boete begin te doen!”

[2] Cado sê: “Wel ja, jy en boete doen, dit pas mooi by mekaar! Begryp jy dan wat ware boetedoening beteken? Dink jy dat boete bestaan uit `n harige kleed en sak en as? Of glo jy volgens Roomse gebruik om iets te moet doen om die ware sondevergewing te verkry? Hoewel ek, netsoos jy, vergeleke met die Godheid, duiwels is, dink ek tog dat egte boete doen beteken dat mens die slegte, wat teen God se ordening indruis, vrywillig verlaat en sy wil vas en onwrikbaar, onder die banier van God se ewige ordening, plaas en vervolgens self standvastig dit wil, waarvan mens erken dat dit ooreenstem met die goddelike ordening. Wanneer jy so sal handel, vanuit jou nuwe geordende wil, sal jy ook die korrekte boete doen, maar `n harige kleed, sak en as, algemene bieg, kommune en vir my part `n miljoen misse, behoort tot die grootste menslike dwaashede, omdat hulle die mens maar net slegter maak. Slegs deur my wil alleen kan ek beter word. Al die ander het geen waarde nie, nóg vir die beter geeste nóg vir God.

[3] Jy weet ook wat elke gees noukeurig deur sy hoër wysheid kan deurgrond. Wil daarom niks vanuit jouself nie, maar slegs vanuit my wil, dan sal jy spoedig verlos wees van dit jou gevange hou. Solank jy egter nog na my toe sal aankom met die restante van jou eie starre wil, sal dit nog lank nie met jou beter gaan nie. Kyk, aan wysheid en gedugte insig het dit jou nooit ontbreek nie, maar wel aan goeie wil; daarom het jy by die bron gekom van alles wat sleg en boos is! Wanneer `n wese egter goed en edel wil word, moet hy met sy oorspronklike, ongekultiveerde wil, dieselfde eksperiment uitvoer as wat `n tuinier op aarde doen met `n wilde boom: Hy sny die kruin daarvan af, splyt die romp en plaas `n edel takkie daarin. Dan groei `n nuwe, edele en goeie vrugteboom daaruit. Dit moet jy ook doen met die ou, wilde boom van jou wil! Ook al mag dit jou `n tydjie verdriet aandoen, omdat jy die ou kruin moes laat verwyder, trek jou dan tog nie te veel daarvan aan nie, want in plaas daarvan sal jy `n mooier, beter en edeler kroon ontvang.”

[4] Minerva sê: “Cado, jy is weliswaar so eiesinnig soos `n duiwel, maar tegelykertyd ook so wys soos `n God!” Cado sê weer: “Wat het ek aan my wysheid as niemand behalwe ekself haar ter harte neem nie! Ek preek vir dowe mans ore en aan blindes vertoon ek my kunste! Ek het, by God die Almagtige, tot nou toe meer as genoeg gepraat, maar wat baat dit alles? Ek wys jou waarom jy jou wil heeltemal aan my wil ondergeskik moet maak, maar jy het duisend uitvlugte en as jy iets moet doen, dan doen jy dit nooit dadelik nie en ook nooit heeltemal soos dit moet wees en soos ek dit wil hê nie. As jy my nou wys vind soos `n god, waarom doen jy dan nie dadelik wat ek van jou verlang nie? Die pragtigste gewaad lê voor jou en werp sy magtige straleglans soos `n sentraalson in die verre oneindigheid, maar sy magtige lig, wat daartoe bestem is om haar strale tot jou innerlike wese te laat deurdring, doen daartoe nog steeds vergeefse moeite. Waarom dan? Gee my net `n rede daarvoor!”

[5] Minerva sê: “Ek het al die rede vir jou gegee, maar jy het haar weerlê met jou skerpsinnige wysheid. Desondanks bly ek tog daarby dat ek my veels te onwaardig voel om die goddelike gewaad as een of ander gewone vod aan te trek. `n Ander rede kan ek jou onmoontlik opgee, al sou jy jou hoe daaroor vererg. Trek jy dit aan as jy die moed daarvoor het, dan sal ek jou voorbeeld volg. Trouens nog iets: Hoe sou dit dan op aarde en op alle ander wêrelde lyk as ek die gewaad sou aantrek? Sal dit met die geeste wat nog in die grofste materie gehul is, wat nuwe vorms moet aanneem, beter of miskien nog slegter gaan? Gee my `n begryplike uitleg, dan sal ek alles onmiddellik doen wat en soos jy dit wens.” 

[6] Cado sê: “Ek het wel gedink dat jy inderdaad nog weer `n uitvlug sou vind om die saak te vertraag! O, jou totaal hopelose wese! Wat gaan die aarde en alle ander tallose wêrelde ons nou tog aan? Die Godheid sal wel baie goed weet wat Hy daarmee gaan doen. Hoe die mens op die aarde of op die son van nou af aan met mekaar sal lewe, het met ons niks te make nie. Ons lewe en handel slegs vir onsself. Ek het jou al vooraf duidelik gesê dat elke invloed op die hemelliggaam jou ontneem is, en wel sedert die menswording van die Godheid, waarby `n tweede Adam uit God die hele skepping met al haar boosheid op Sy eie skouers geneem het en nou alles lei soos Sy ewige ordening dit verlang. Daarom hoef jy van nou af aan vir niks anders meer te sorg nie as net vir jouself. Trek die gewaad aan, dan sal wel duidelik word wat daar verder moet gebeur!”

[7] Minerva sê: “O jou lewende boek, jy spreek werklik asof jy `n leerling van Salomo was, maar ek sien nou in dat jy enersyds tog gelyk het. En dus sal ek my dan voor jou in `n pronkerige pou verander en `n egte dom hoogmoedig en ydel persoon speel omdat jy so `n groot plesier daarin het. Sal jy dan beter voel as jy my van suiwer glans nie sal kan aankyk nie? Ek trek dit nou aan, maar kom nie dadelik weer met `n ander wens aangesit nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205