Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die versoek van die vorstelike geeste. Hulle verhaal oor `n vurige ruiter en die voorspellings oor die einde van die wêreld en die wederkoms. Die vorste vra om aardse hulp. Paulus beloof geestelike hulp

207 Paulus rig hom op en sê vir die bewoners van die grafkelder: “Julle het ons, om so te sê, om dringende redes ontbied om julle hierheen te volg. Wat wil julle dan hê dat ons hier vir julle doen? Tot welke dade ag julle ons in staat en waardeur was julle dan genoodsaak om na ons toe te kom? Spreek, sodat ons julle kan help volgens julle behoeftes en volgens die drang van julle gemoedere!”

[2] Een van hulle tree na vore en sê: “Ek is `n Roomse Duitser* en is hier in naam en rang die eerste en heet Rudolf. Ek het laas keer `n groot beroering in die lig gesien en daar het `n vurige ruiter na my toe gekom wat sê: “Julle huis sal woes agtergelaat word en daar sal geen klip op die ander bly staan nie! Die aarde sal deur vuur en bloed gereinig word! `n Luide weeklag sal klink uit die mond van die grotes; vuur en pes sal die armes by miljoene wegruk, en die einde van die wêreld sal kom!” Dit was die skrikaanjaende woorde van die vurige ruiter. Toe hy uitgepraat was, was ons deur `n groot vrees bevang, sodat ons baie angstig begin skreeu het. (*Die Duitse keisers van die Habsburg huis noem hulleself “Rooms-Duitse keisers. Opmerking: By persone wat op aarde hooggeplaas was, word die rang in die geesteryk nie gou genoem nie en soms ook nie hulle name nie)

[3] Daarop sê die vurige ruiter vir ons: “Maar God die Heer sal eers nog almal oproep, ook die mees verworpenes. Die Heer sal Self na die geesteryk kom en sal hom kenbaar maak aan almal, wat deur hulle nag gevange gehou word. Hulle wat hulle tot Hom sal wend, sal Hy ook behou. Maar Sy knegte Petrus, Paulus en Johannes sal Hom voorgaan en sal aan die gevangenes die lig verkondig wat uit die Naam van die almagtige God kom. Hulle wat hierdie Naam in hulle hart sal opneem, sal self `n nuwe naam kry en die Heer sal hulle halfvergane vestings en hulle vervalle kastele weer oprig.

[4] So sal die Heer ook op aarde kom, weliswaar eers net deur die Woord uit harte en monde van wyses wat Hy opgewek het en waarvan Hy nog verskeie sal opwek. Maar dan, as die aarde gereinig sal wees, sal Hy ook in Sy allerheiligste persoon kom na al diegene wat Hom liefhet en in hulle hart rein en barmhartig is! Daarop verlaat die vurige ruiter ons en ry soos `n bliksemstraal weg, waarna ons hom nie meer gesien het nie.

[5] Nou het ons egter die gerug verneem, dat daar in ons ou residensiestad Wenen by die “Spinnerin am Kreuz” mense aangekom het wat hulle as bodes van God uitgee en ook wonderdade verrig om vir die blindes die waaragtigheid van hulle sending te bevestig. Met die berig het ons dadelik ons hoogadellike paleis verlaat en het in goeie orde vinnig na buite gegaan om sulke bodes, as dit moontlik was, self te ontmoet. Ons het hulle werklik ontmoet en het hulle hierheen gelei. U is onteenseglik self sulke bodes!

[6] Ons vorste lê ons versoek aan u voete - wat hierop neerkom dat u ons ou vestings en kastele weer sal oprig en so versterk dat hulle nooit meer deur een of ander vyand verower en verwoes kan word nie. Ook ons hoogadellike paleis hier mag u dermate versterk dat niemand dit ooit meer sal kan verwoes nie. Dit is nou ons hele versoek en die rede waarom ons u tegemoet gekom het en u hierheen gebring het. Want sou die hoogadellike paleis ooit iets boos aangedoen kan word, dan sou dit ook sowel terug- as vooruitwerkend `n groot ramp wees vir die hoë dinastie van Habsburg-Lotharinge en haar voortbestaan sou baie spoedig op die spel wees.

[7] In die jaar 1848 het `n enkele klip in ons hoogadellike paleis ietwat losgeraak, en kyk, die dinastie het moeite gehad om haar eeuoue aansien te handhaaf Sy het dit nou weer herstel en het die redelike bedoeling om haar onderdane na die beste van haar vermoë te bestuur en te lei, die goeie te beloon en die bose onverbiddelik te straf volgens die erns van hulle misdryf. Dit is seker volkome in ooreenstemming met God se wil, omdat Hyself so handel en dit so wil hê. Dit sou daarom werklik `n onvoorstelbare boosheid wees vir alle ondergeskikte volkere, as die dinastie ook maar in enigerlei opsig gevaar kon loop of ten slotte selfs haar ou troon sou kwytraak!”

[8] Paulus sê: “Vriende, die profesie van die vurige ruiter is wel korrek, maar nog nie verwesenlik nie. Maar julle versoek en julle besorgdheid, wat julle genoodsaak het om `n versoek aan ons te maak, is ydel en baie dwaas! Wat het julle nog aan al die ou vestings en kastele op aarde, waarvan daar al baie duisende deur die tand van die tyd in puin verander is? Die vurige ruiter het wel gespreek oor die oprig van julle vestings en kastele, maar daaronder moet nie julle ou aardse vestings en kastele verstaan word nie, maar julle geloof en julle hoop deur die mag van die liefde tot Jesus, God die Heer! Dit is die vesting en die kasteel wat die Heer na julle, wat hier ten gevolge van julle eie wil in `n diep geestesnag smag, al sedert `n lang tyd wil oprig en tot nuwe lewe wil wek. As julle dit wil doen, sê ek julle in die Naam van die Heer, wat ook hier is, maar wat julle nie herken en nog nooit geken het nie: dit sal die Heer ook vir julle doen as julle Hom daarvoor sal vra!

[9] Ook die aardse dinastie sal Hy behou solank Hy dit nodig ag en solank dit so sal handel dat die volkere deur haar toedoen nie in te groot nood raak nie. Sou die volkere egter in hulle harte luid begin te kla, dan sal die Heer ook weet om spoedig `n volledige einde te maak aan die dinastie. Want die dinastie is vir God niks en haar troon is ook niks en hulle is daar, nie terwille van haar troon en die troon nie terwille van die dinastie nie, maar hulle is daar vir God se kinders as `n herder, wat wys behoort te wees. As hulle God se kudde nie kan of wil behoed teen allerlei kwaad en God nooit gee wat Hom toekom nie, dan is hulle verder onbruikbaar. Die Heer sal dan ook vir eens en vir altyd `n einde maak aan `n hooghartige dinastie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205