Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 117

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Wie armes opneem, neem My op. Genesing en troos vir behoeftige siele. Die liefhebbende maagd

267 Robert sê: “Heer en Vader, hoe meer gaste hulle intrek neem in my huis, soveel groter word my vreugde en saligheid. Ek sou net wou geweet het in hoeverre hierdie siele aan my verwant is. Was dit miskien ook bewoners van Uranus gewees?” Ek sê: “O nee, dit is hulle nie en hulle hoef dit ook nie te wees nie. Dit is armes en as sodanig staan hulle die naaste aan jou. Ook hier geld die grondbeginsel- “Wie `n arme opneem in My Naam, die neem My op.” Ek meen broeder Robert, dat dit wel die belangrikste rede is waarom Ek dit toelaat dat ook sulke arm siele in jou groot huis opgeneem word.

[2] Robert sê: “O Heer en Vader, dan moet almal wat arm op aarde is maar in my huis kom. Wanneer daar in `n huis plek is vir son, maan en sterre en die hele aarde, sal daar ook wel plek wees vir baie armes. Waar U, o Heer, Self reeds so lank aanwesig is, is plek genoeg vir die hele oneindigheid.”

[3] Na hierdie goeie opmerking van Robert kom daar verskeie duisende arm siele aan, neem in lang rye rondom die heuwel plaas en vra om hulp en genesing van velerlei kwale, wat nog van die ydele wêreld aan die huid van hulle siel bly hang. Die bede word verhoor en oombliklik begin hierdie siele baie goed daaruit sien; hulle word geklee in wit gewade, waarvan die manlike met groen en die vroulike met rooi omboorsels afgerond is.

[4] Nadat die armes almal sover opgeknap is, word daar `n bode deur ons na hulle toe gestuur met die opdrag om hulle almal na die bergweiding van die Plabutschberg te lei waar hulle melk, brood en wyn sal vind; want swak geeste moet immers eers met geestelike melk versadig word, sodat hulle voldoende krag uit hierdie kos kan put om daarna brood en wyn te kan verdra. Die bode is een van die ontvangers, wat ons eerste in Wenen gevolg het. Hy bring hulle almal vinnig na die bergweiding van die genoemde berg, waar die armes, alles wat hulle nodig het, in oorvloed aantref.

[5] Nadat hulle vir die eerste keer in die geestelike lewe versadig is, weet hulle nie hoe hulle ons voldoende moet dank en welke bewys van liefde hulle die bode moet gee nie. Hy verwys hulle egter vriendelik na My, die enige gewer van alle goeie gawes. Hy verkondig aan hulle dat Ek hulle weldra Self sal besoek en hulle dan vir die eerste keer God die Heer, hulle Skepper en Vader, sal sien en deur Homself vir ewig geseën sal word. Toe hulle dit hoor, is hulle heeltemal buite hulleself van vreugde.

[6] `n Wese met `n buitengewone skoonheid, `n maagd, word egter redelik swaarmoedig toe sy die berig verneem. Haar hart, wat alreeds op hierdie aarde na My gekeer was, raak in vuur en vlam en haar liefde vir My word steeds hewiger. Op uiters sagte toon sê sy vir die bode: “Edele vriend van my bo alles geliefde Jesus, ek smeek jou, bring my na Hom toe! Ek het slegs vir Hom geleef. Hy alleen is my alles, my God, my Vader, my liefde!”

[7] Die bode sê: “Mooi, dierbare suster, kyk, ek is maar `n kneg van die Heer en mag slegs doen wat my deur die Heer opgedra word, maar ek keer nou na die Heer terug en sal jou versoek met klem aan Hom oorbring. Wees daarvan verseker dat ek jou nie sal vergeet nie. Jy het jou ook in my hart genestel en ek weet eintlik nie of jy ooit weer daaruit sal verdwyn nie. Laat dit met jou goed gaan, miskien sien ons mekaar weer binne enkele oomblikke.” 

[8] Hierop verlaat die bode die swaarmoedige skoonheid en gaan terug. As hy maar amper halfpad is, kyk hy om en sien dat die swaarmoedige hom op die hakke volg. Daarom bly hy staan en sê: “Maar my hemelse skoonheid, wat doen jy nou? Jy weet tog dat ek nie meer mag doen as wat aan my opgedra word nie; waarom volg jy my dan?” Die maagd sê: “O vriend, het jy dan ook opdrag om my op my weg teen te hou?” Die bode sê: “Nee, dit bepaald nie!” Die maagd: “Nou, laat my dan die verlangende weg van my hart gaan!”

[9] Die bode weet nie wat om verder daarop te antwoord nie en volg gewoon sy weg. Maar nouliks `n paar honderd treë verder kom Ekself, hierdie keer heeltemal alleen, die bode tegemoet. Hy herken My en bekla hom by My oor die swaarmoedige wat hom volg.

[10] Maar Ek sê: “Het sy jou dan nie gesê dat sy jou agterna loop oor die verlangende weg van haar hart nie? Sy het My bo alles lief en wil graag so vinnig moontlik daar aankom waar Ek, as die enigste voorwerp van haar liefde, My bevind. Dit moet jy in die vervolg goed onthou: Waar jy so `n liefde vind, mag jy haar nooit die weg na My versper nie! Waar so `n liefde in `n hart woon, daar woon ook al die voltooiing van die gees. Wanneer `n gees egter die voltooiing in hom dra, dan dra hy My ook al in hom en kan hy sonder angs of beskeidenheid My vrye wesenskern nader. Wie self tot vuur geword het, hoef die vuur nooit te vrees nie. Waar is die geliefde van My hart nou?”

[11] Die bode sê ietwat onthuts: “O Heer, `n paar honderd treë agter my sit sy nou waarskynlik en kla en te ween, omdat sy my tog nie verder durf volg het nie, hoewel ek dit later nie meer vir haar afgeraai het nie. Ek sê: “Wel, My beste vriend, dit mag jy nie meer doen nie! Kyk, die ongelukkige ly nou erg; bring My daarom oombliklik na haar toe.”

[12] Die bode sê: “O Heer, U weet baie goed waar die ongelukkige wag en U het nog nooit `n gids nodig gehad nie, maar U het my nou beveel en daarom sal ek dit ook doen.”

[13] Die bode gaan voorop en Ek volg hom. Binne enkele sekondes is ons beide op die plek van bestemming. Daar vind ons die geliefde op haar knieë, haar gesig omhooggehewe, en snikkend bid sy met gevoude hande: “O my enige, ewige liefde, my Jesus, my God en my Heer, hoe lank smag my hart reeds na U en nog steeds kan ek nie die genade verkry om U heilige aangesig te aanskou nie. Ek moet weliswaar toegee dat dit my aan niks ontbreek het tydens my, seker al baie jare verblyf, in hierdie geesteswêreld nie. Ek het baie vreugde beleef aan die goeie siele wat hulle deur my oor U en oor U heilige Woord laat onderrig het. Al my geliefde leerlinge het my nou gevolg en wag in `n skare van enkele duisende op hierdie berg ongeduldig op die Heer. Ons het alles gedoen waardeur ons volgens U Woord U aangesig te siene sou kon kry. Ten einde raad het ons selfs begin om uit suiwer liefde en verlange na U, te vas en ons letterlik te kasty, maar dit was tot nou toe alles tevergeefs. O Vader, toon ons tog in U groot genade welke sonde nog aan ons, en in die besonder aan my, kleef!

[14] Op aarde was ek `n vooraanstaande vrou, was van die adel, aangesien my ou eggenoot van die adel was, en het menige onder­skeidings verkry. Ek het my daardeur egter nooit iets ingebeeld nie. Wel het ek `n leraar van my dogter onreg aangedoen. Dit was baie ondankbaar van my, want hy was immers deur U as `n lig uit die hemel na my huis gestuur en het my geleer deur middel van gesprekke en uitgelese boeke om U in alle waarheid as die heilige Vader te erken. Hoe het ek nie hierdie fout betreur nie; nog op aarde, sowél ook hier!

[15] Die ewigheid is lank, o Heer. Stel my in die geleentheid daartoe en ek sal al my aardse foute in U heilige Naam goedmaak. Ek was helaas geen maagd op aarde nie, hier is ek dit egter wel, want tot nou toe het nog geen manlike gees my mag aanraak nie. My liefde vir U, o Vader, het steeds my magtige beskerming gevorm! O jy, hardvogtige bode van die hemel, wat my nie toegestaan het om jou te volg nie, wanneer sal jy terugkom en my berig oor Hom, die enige wat ek bo alles liefhet?” Na hierdie woorde begin sy weer te ween en bedek die gesig met haar hande.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205