Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 147

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

`n Blik deur die tweede deur van die westelike wand. `n Middelson van `n hoër orde. Prag van stede en bouwerke. Skeppings van die instink of van ware wysheid?

297 Almal gaan nou deur hierdie tweede deur in die avondlike wand en sien daar `n tweede middelson van `n hoër orde, waar hele songebiede in enorme groot bane omheen sirkel, soos die planete rondom hulle planetêre son.

[2] Nou hef almal hulle hande omhoog en roep: “O Heer, o Heer, terug met ons! Dit is nie meer te verdra nie! Dit is tog `n lig, wat die van die vorige middelson triljoenvoudig moet oortref. Ons sien hier geen einde nie en kan ook geen vorms meer onderskei nie. O God, almagtige Heer van die oneindigheid! Wat `n enorme hoeveelheid lig! Wat `n ligintensiteit!”

[3] Ek sê: “Kyk maar `n rukkie daarin, dan sal julle jong oë wel daaraan gewoond word en julle sal dan ook vorms ontdek.” Robert sê: “Alles goed en wel, as ons dit maar kan uithou! Dit is immers so `n intense ligsterkte dat hy die aarde in `n minimum van tyd tot `n volkome niks sou moet oplos. Ons oë is tog al taamlik aan lig van die sterkste kaliber gewoond, maar hier is dit vir my totaal onmoontlik om ook maar `n sekonde lank daarin te kyk. As U ons oë nie sal afskerm nie, sal ons nie in staat wees om die verskriklike sterk lig ooit te aanskou nie.”

[4] Ek sê: “Wel, wel, dat jy tog elke keer alles beter wil begryp as Ek! Kyk maar net enkele sekondes lank in die lig, dan kan jy jou daarvan oortuig of dit dan nie te verdra is nie. Want kyk, julle moet hieraan gewoond raak om ook die sterkste lig te kan aanskou. Af en toe kom dit voor, dat Ek Self in die lig van die Godheid in My verskyn, waarby al die lig, vergeleke die reinste, nag is. Hoe sou jy My dan in so `n lig kon aanskou, as die geringe jou reeds so hinder? Daarom maar dapper daarin kyk, dan sal alles wel goed raak!”

[5] Na hierdie woorde begin Robert, aanvanklik vinnig knippend met sy oë, na hierdie groot middelson te kyk en sê na `n rukkie: “Vader, ek dank U vir so `n groot genade! Nou sien ek al vorms, maar dit is nog nie blywend nie, want die krag van die lig wis hulle nog van tyd tot tyd uit. Tog kom hulle steeds weer as dieselfde te voorskyn. O, dit moet `n buitengewoon wonderbaarlike wêreld wees! Werklik, so `n wêreld is ook al `n hemel, want daar moet dit baie heerlik te lewe wees, as mens eenmaal aan die lig gewoond is. 

[6] Aha, nou ontdek ek `n enorme groot stad met spoggerige, pragtige bouwerke. Sy lyk soos U heilige stad wat verhewe is bo alle stede van die hele oneindigheid. Merkwaardig! Sover my oog reik, sien ek tuine en die pragtigste paleise in `n boustyl wat vir my volkome vreemd is. Enorme arkades strek hulle na alle rigtings uit; daarop staan die pragtigste pilare, waarop paleise van onbeskryflike skoonheid pryk. O, o, hoe skitterend is dit nie!”

[7] Nou begin ook al die ander meer konstant in die lig van hierdie tweede middelson te kyk en ontdek geleidelik ook dit wat Robert gesien het. Ja, enkeles sien nog meer. Daar word `n pragtige plantewêreld gewaar, `n hele spul merkwaardige diere van allerlei soorte en in die tuine wandel baie onbeskryflik mooi gevormde mense. Uit hulle vrolike bewegings is op te maak dat hulle uitermatig gelukkig en tevrede moet wees.

[8] Veral Mathilde-Eljah merk dit op en sê: “O God, wat `n onvergelyklike verskil tussen so `n wêreld en ons aarde! Daar is alles `n volmaakte hemel, maar op aarde is alles vergeleke met hierdie wêreld, die suiwerste hel. O, dit moet besondere goeie en wyse mense wees! Op hierdie wêreld sal sekerlik geen dood bestaan nie. Ook lyk dit of hulle niks ouer word daar nie. Oral straal ewige lente en elke gestalte blaak van blymoedige jeugdigheid. O God, o Vader, wat `n wêreld! Ook die diere lyk buitengewoon goedmoedig en loop saam soos mak lammers. 

[9] O Heer, dit moet vir elk van U kinders tog `n groot genoegdoening wees om bestuurder van so `n wêreld te word. Ja, vir Uself moet dit `n groot vreugde wees om hierdie oorvloedige land te betree. Nee, daarna mag ek nie lank kyk nie. Dit sou my so swak maak, dat ek hierdie wêreld sou wil betree en met hierdie wondermooie mense nader kennis sou wil maak.”

[10] Peter sê: “Jy kan dit wel probeer, maar dit sal jou wel sleg bekom. Hierdie wesens kan jou as gees uit die boonste hemel weliswaar gladnie sien nie, omdat hulle tog nog min of meer deur die materie van hulle wêreld omvang is. Ek het die sterk vermoede dat hierdie mense heeltemal geen dood, dit wil sê geen verandering ken nie. Hulle sal wel, soos jy nou sien, al vanaf hulle eerste ontstaan in hulle welgevallige, ewige lewe begin het. Hulle werk toon weliswaar dat daar `n baie groot wysheid onder hulle aanwesig is, maar as reël sou ek dit nou ook nie durf aanneem nie. Daar is op aarde immers ook allerlei diere, wat dinge tot stand kan bring wat `n wyse kunstenaar hulle nooit sal nadoen nie. Sou dit egter korrek wees as mens aan sulke diere `n Salomoniese wysheid toeskrywe? Eweneens kan dit ook by hierdie mense die geval wees. Hulle kan miskien meer instinkmatig ingestelde, as wyse mense wees en in die geval sou ons dan by hulle nou juis nie iets baie aantreklik vind nie. Wat sê jy daarvan?”

[11] Eljah sê: “Ja, jy het miskien nie heeltemal ongelyk nie. Maar te oordeel aan die groot verskeidenheid van wat hier te siene is, lyk dit tog of hierdie mense eerder egte wysheid besit, as om so `n hoë ontwikkelde instink te hê. Sulke bouwerke in so `n sierlike boustyl en hierdie pragtig aangelegde tuine, lewer die duidelikste bewys, dat in hierdie mense wat deur die sterkste lig omgewe is, meer as suiwer instink aanwesig is!” Peter sê: “Ja in dié opsig sou jy ook wel eens gelyk kon hê, maar ek bly tog meer by my mening.”

[12] Ek sê: “Julle het in `n sekere sin beide gelyk! Maar omdat Ek al die derde deur geopen het, verlaat ons nou hierdie tweede en gaan dadelik deur die reeds geopende.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205