Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 10

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Vader Cypriaan neem aanstoot aan Helena se stormagtige liefdesuiting. Geweldige donderwoorde vir die aanmatiging van priesters

160 Toe Helena `n hele rukkie liefdesdronk aan My bors gelê het, kom vader Cypriaan nader en sê: “Sy wil U, glo ek, wel heeltemal alleen in beslag neem! Wat sal daar hierna dan nog vir ons oorbly? Hierdie gemalin van Robert is heeltemal smoorverlief op U, o Heer, en dit lyk my tog wel of dit ietwat te ver gegaan het! Kyk, die allersaligste maagd en nog baie ander vroue, hier teenwoordig, bemin U sekerlik ook bo alles, maar hulle gee tog nie op so `n heftige manier uiting daaraan nie. U is weliswaar die Heer en ek wil U nooit as te nimmer iets voorskryf nie, maar hierdie gedoente kom my wel `n bietjie eienaardig voor, want sy byt haar letterlik in U vas! Nee, so `n verliefde ding het ek tog nog nooit in my hele lewe gesien nie! Sy hou maar nie op nie!” 

[2] Ek sê: “Ja, ja, dit verbaas jou! En tegelykertyd kom daar ietwat ergernis in jou na bo. Ek sê egter vir jou: Dit is nie goed dat iemand hom vir My vererg nie. Wie My nie liefhet soos hierdie Helena nie, waarlik, hy sal maar `n geringe aandeel hê aan My ryk!

[3] As jy ook van My gehou het soos sy, dan sou haar liefde jou nie vererg het en nie oordrewe voorgekom het nie, maar omdat jy baie armer is aan waaragtige liefde as hierdie vrou, is haar groot rykdom vir jou `n doring in die vlees. Wat Myself egter betref, sê Ek jou, dat haar groot liefde vir My nie in die minste hinderlik is nie, maar jou opmerkings begin My werklik `n bietjie te irriteer!

[4] Die rede dat moeder Maria en nog baie, baie ander vroue hulle hartstogtelike liefde vir My, hier in die paradys, nie op so `n opvallende manier uiter nie, is daarin geleë, dat hulle as reeds lank suiwer hemelse wesens dieselfde liefde, waarvan hierdie Helena nou uiterlik blyke gee, innerlik in hulle dra. Nou weet jy genoeg! Gaan nou na die agtergrond, omdat sy andersins, deur My, nie haar hart die gewenste vrye loop kan laat gaan nie!”

[5] Die Fransiskaan sê nog ietwat aarselend: “Heer, maar as my hart ook so heftig sou ontbrand in alle liefde vir U, moet ek dan ook nog op die agtergrond bly?”

[6] Ek sê: “Die waaragtige liefde is hier die enigste geldende maatstaf waaraan bepaal word hoe naby iemand hom aan My kan bevind! Het jy `n opregte liefde, vry van alle eiebelang, dan is jy ook die naaste aan My. Hoe meer vonkies eiebelang uit jou hart omhoog skiet, soveel verder kom jy van My af te staan. 

[7] Kyk, die Roomse biskoppe hou vergaderings op aarde oor hulle kerklike dinge, soos geld, aansien en konsessies vir die nog verdere dom hou van die mens. Eiebelang dryf hulle daartoe. Hulle staan daardeur ontsaglik ver van My af en hulle vergaderings sal vrugteloos, en hulle raad sal nutteloos bly. Omdat hulle hulleself aanmatig om by My in die guns te staan, sê Ek vir jou: Hierdie is die allerlaastes!

[8] Wie beweer dat hy My liefhet, maar daarby jaloers is op andermansliefde vir My, is nie My vriend en My liefde nimmer werd nie! En wie sê: “Slegs op hierdie of op `n boetvaardige manier kan jy jou verseker van God se liefde en die ewige lewe in die hemel”, hy is `n leuenaar en hoort by sy gelyke in die hel! Want Ek is die Heer en bemin wie Ek wil en is genadig vir wie Ek wil en maak salig wie Ek wil! Ek is nooit gebonde aan `n manier van doen, wat deur heers-, eer- en selfsugtige, vetgemeste profete uitgevind is nie, en die swak mensdom in swaar knegskap hou. Wee diegene wat die stoutmoedigheid het om My liefde aan die mensdom uit te deel, asof hulle alleen die reg daartoe sou hê. Hulle sal spoedig baie drasties in hulle “reg” gestuit word!

[9] Kyk, vriend Cypriaan, netsoos die Roomse biskoppe op aarde nou beraadslaag, hoe hulle hulle ou posisie van mag en aansien tog in stand kan hou, terwyl hulle minder geleë is aan die werklike heil van My volkere, so is daar in jou ook nog so-iets eg Rooms-Katoliek, wat hierdie dogter van My om My liefde beny en jou hart daardeur met verborge ergernis vervul. Daarom sê Ek vir jou dat jy jou om die rede moet terugtrek na die agtergrond, omdat jou afguns en jou ergernis My liewe dogter in haar liefde tot My van haar bedoeling afbring. Ek wil jou egter nie gebied nie, omdat jy teenoor My ook al enkele bewyse van `n ietwat gelouterde liefde gegee het. Wil jy bly, bly dan! Maar as jou verborge afguns en ergernis jou nie toelaat om te bly nie, gaan dan!”

[10] Die Fransiskaan trek na hierdie woorde `n bedroefde gesig en sê vir homself: “Nee, so streng het ek my Hom nooit voorgestel nie! My God en my Heer, wat sal daar van my word as Hy my die deur wil wys? Ja, Hy het ewig gelyk; ons pousgesindes deug ook vir niks, maar wat gebeur daar met ons as Hy ons gelas om weg te gaan? Maar ek kan ook bly, sê Hy ook. Is ek egter ook in staat om te bly, vry van afguns en ergernis? Helaas nie, maar dit sal en moet anders word! Ja, die Heer het vroeër eens gesê, dat die mens na siel en liggaam uit die gevalle en veroordeelde Satan stam, ooreenkomend met een of ander deel van die vors van die leuen. Ek sal sekerlik uit sy horings stam, omdat my hart niks anders as afstootlike rommel te siene gee nie, en nog ander dele sal wel uit Satan se slegte hart stam, omdat dit uit niks anders as nyd, gierigheid, heerssug, hoogmoed en `n groot aantal soortgelyke duiwelse eienskappe blyk te bestaan nie. O Heer, dryf ook by my die Satan uit!”

[11] Ek sê: Nou kan jy wel weer hier by Ludwig en sy vriend bly. Bespreek dit egter intussen met jou ampsgenoot Thomas en sy vriend Dismas; hulle sal wel vir jou die duiwelse oorblyfsels uitdryf.”

[12] Die Cypriaan doen dit met `n verligte gesig. Ek laat nou vir Robert na My toe kom.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205