Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Minerva se voorwaardes vir haar oorgawe. Cado se antwoord

175 Miklosch vertel verder: “Na `n rukkie wend Minerva haar gesig weer na Cado en sê: “Vriend, ek moet eerlik aan jou beken dat ek ten seerste in jou geïnteresseerd is. Daar sit in jou mooi gestalte, netsoos in jou woorde, meer gees en waarheid as wat jy self nog vermoed, maar ek kan nie gehoor gee aan jou woorde alvorens die aartshoer van die nuwe Babel wat deur my geskape is, volkome tot `n val gebring is nie. Ek het haar gestig as vuurproef vir almal wat gedoop word in die Naam wat vir my mees weersinwekkende is, en wil die Godheid maar net daarmee bewys dat Sy leer ook omvorm kan word tot `n geraffineerde, kranksinnige heidendom.  Blykbaar is my werk geslaagd en die nuwe Babiloniërs weet nou in die middel van die nag geen raad meer nie. Hulle het alle geesteskrag verloor. Van die Christendom is daar geen spoor meer te siene nie. Hulle het slegs nog `n vermufde geraamte en wurg mekaar terwille van die dooie huid, waarin hulle al ruim duisend jaar geen liggaam en nog minder `n siel met haar gees meer bevind nie. Maar dit moet so gebeur. My gruwels moet vernietig word deur die uit hulle voortkomende nuwe gruwels en die mensdom moet nou in `n nuwe leerskool geplaas word. As dit ten uitvoer gebring is, mag jy my uit my ellende help en dan sal ons saam vir altyd eensgesind wees!”

[2] Cado sê: “Lieftalligste en mooiste vrou van God se hele skepping, stel nie sulke moeilike voorwaardes aan my nie, waarvan die gevolge werklik nie te oorsien is nie. Laat die beroerde nuwe Babel maar! Laat die Godheid alleen heers; vir Hom sal dit `n kleinigheid wees om al die deur jou aangelegde krom weë gelyk te maak. Volg jy my maar en word voortaan gelukkig! Dink nie meer aan dit wat jy was nie, maar veeleer hoe gelukkig jy weer kan word en hoe gelukkig ek sal wees aan jou sy, en saam met ons nog tallose miljardes met die aanblik van jou oneindige skoonheid! Dink net aan my verdriet as ek jou sou moet verag vanweë jou dwase hardkoppigheid. Ek smeek jou, onbeskryflike skoonheid, volg my raad op. By die almag van die Godheid sweer ek jou, dat jy nie deur my bedroë sal word nie. Jou sentrale son van alle lig, verlaat jou wa, werp septer en lans weg en trek die heerlike skild van die liefde aan! Kom aan my hart en al die ongerief wat jy ooit oorgekom het, sal jou ryklik vergoed word. Met jou skynmag sal jy my nooit oorwin nie, maar met die liefde sal jy my tot slaaf van jou hart maak!”

[3] Minerva sê: “Cado, Cado! Jy speel `n gevaarlike spel met my. Wat sal jy doen as die jaloerse hemel vir jou, om my ontwil, ten strengste sal vervolg? Kyk omhoog en jy sal sien hoe ek gedurende my gesprek met jou, deur tallose miljarde afgeluister word. My skoonheid, wat met niks vergelyk kan word nie, is nou juis my ewige ongeluk. Ek mag slegs Een liefhê, maar vir Hom is daar geen liefde in my hart nie. Wil ek egter my liefde aan iemand anders gee, dan keer die hele hemel homself vol toorn en wraaksug teen my en vir hom na wie my hart uitgaan. Moontlik slaag jy, maar wee jou en my as jy nie sou slaag nie!”

[4] Cado sê: “Jy het, wat die miljarde hemelse bespieders betref, wel gelyk. Ek sien hulle nou ook, maar ek herken in hulle vriende en geen vyande nie. Kyk, hulle betuig my almal hulle instemming! Maar sou hulle vriendelikheid `n krygslis wees, dan sal hulle met my te doene kry. Om kort te wees, ek sal jou nooit meer opgee nie! Jy is van my en geen bose mag sal jou van my afneem nie, want ook ek is onverwoesbaar en magtig uit God - en nie uit `n duiwel, soos ek daar self een is nie!”

[5] Minerva sê: “Cado, Cado! Terg nie die gode nie, want jy is maar `n swak mens. Kyk, die wat daar bo is, sal my weldra met `n lelike kleed omhul, wat sal jy dan sê?” 

[6] Cado sê: “Nee, nee, kyk omhoog! Almal verseker my dat hulle nie tot so `n daad in staat is nie! Dit is vir almal `n vreugde dat jy jou oorspronklike ware gestalte solank behou, dat hulle die geleentheid kry om die eerste “oerskoonheid”, die eerste “oergedagte van alle bestaan uit God te bewonder. O “ligdraagster” van alles wat `n geskape gees mooi kan noem, stel geen voorwaardes meer nie en kom! My diepste wese sê vir my dat alle hemele al `n ewigheid tevergeefs wag op jou terugkeer en daarna verlang om jou as die kroon op die uiteindelike voltooiing van alle dinge en wesens, hulle s`n te kan noem. Laat jou hart vermurwe en geniet die hoogste salighede aan my sy! Ervaar ook net die verrukking waarvoor jy dan die eerste, grootste en mees volkome idee uit God bestem was en nog is!” 

[7] Minerva kyk Cado nou eg vriendelik, maar tog nog met heersersoë aan en sê: “Cado, het jy jou ernstig voorgeneem om my oor te haal? O, laat jou hoop maar nie te voorbarig wees nie, want magtige, groot geeste het dit met my geprobeer en het ten slotte met spot en skande onverrigte sake vertrek. Hoe kom jy daarby om my te wil wen vir jou hart en ten slotte selfs vir die deur my bokant alles gehate hemele, wat ek beter ken as jy, arme blinde duiwel! Elke wese moet trou bly aan homself. Dit moet of `n volmaakte sterk duiwel wees, of inteendeel `n dom hemelbode. Wanneer `n duiwel soos jy tewens ook `n soort engel wil wees, moet hy my teenstaan, ofskoon hy ander eienskappe besit, waarvoor ek geregtelike agting het. My beste Cado, as jy my hart wil wen, moet jy haar anders benader! Werklik, ek is nie afkerig van jou nie. Wil jy my egter wen, dan moet jy my volg en na my toe kom, maar nie verlang dat ek dit doen nie!”

[8] Cado sê: “Maar liefste, ek wil jou immers net vir myself wen! Of die hemele hulle daaroor verheug of daaroor vererg, is vir my om `t ewe. Ek wil maar net vir jou hê en nie die deur jou gehate hemel nie, en sal vir ewig daarna verlang; maar om die magtige hemele te trotseer, dit sal ek ook nie doen terwille van jou nie, alhoewel ek jou meer liefhet as alle skatte van die oneindigheid!

[9] Kyk, ek beskou elke wese, jou nie uitgesonder nie, wat meer wil doen as wat hy kan vermag, as baie dom; maar bomatig dom is `n wese wat selfs deur oneindig baie bitter ervarings nie verstandiger wil word nie. Wat het jy eintlik met jou onbuigsame koppigheid gewen? Het jy daardeur magtiger, ryker of mooier geword, was die miljoenvoudige tugtigings wat jou ten deel geval het, `n lus vir jou? Jy lyk soos die eselagtige maghebbers, wat in hulle domheid liewer hulle hele ryk ten gronde sal rig as om die raad van `n nederige wyse aan te neem. 

[10] As ek jou, weliswaar mooiste, maar tewens ook allerdomste vrou, sou wil oorwin, dan sou ek geen woord aan jou hoef te verspil nie, want dan sou hierdie klippe voldoende wees. En siedaar, `n nuwe wapen! Dit is `n vangriem waarmee ek weet wat om te doen. Ek hoef dit maar net na jou te gooi en geen duiwel en god van jou kaliber sal jou meer uit my mag kan bevry nie! Maar ekself wil jou nie vang en dwing nie, maar alles aan jouself oorlaat, sodat die oorwinning oor jou nie myne, maar enkel jou eie vrye, keuse sal wees! 

[11] Dink jy dan dat ek vreugde daaraan sou belewe as jy myne sou word deur my mag oor jou? As jy egter my goedbedoelde woorde ter harte sal neem, jouself oorwin en jou dan aan my gee as ewige troue lewensgesellin, is jy vir my `n oneindige saligheid! Wat gaan jy nou doen? Ligdraagster, terwille van jou eindelose skoonheid smeek ek jou, vermaan jou en laat jou koppigheid vaar! Jy sal my nooit as te nimmer ontkom nie, want bereik ek na jou niks deur my liefde nie, dan sal ek geweld gebruik en jou so aan my bind!”

[12] Minerva sê: “Maar beste vriend, waarom moet ek nou juis myself oorwin en my aan jou oorgee? Wil jy nie dieselfde doen nie, want ek sal vir jou tog wel meer aantreklikheid hê as jy vir my? Bowendien sou dit meer volgens die goeie orde wees dat die bruidegom na die bruid toe gaan as die bruid na hom!”

[13] Cado sê: “Ongetwyfeld! Ek sou ook lankal aan jou sy gewees het, as die grond waarop jy staan, `n ander soort was. Ek sou nie weet hoe ek op so `n bodem moet loop nie, maar elke bodem dra jou en daarom kan jy eers na my toe kom, as ek na jou!”

[14] Minerva sê: “Maar wat sal jy met my doen wanneer ek na jou toe sal kom?” Cado sê: “Dom vraag! Liefhê en gelukkig maak en hierdie heuwel tot `n nuwe paradys omvorm by die ere van die Godheid, wat my van krag voorsien!”

[15] Minerva sê: “In `n paradys was ek al eens skandelik bedrieg. My Adam, eersteling van jou aarde, het my bedrieg op `n manier, wat my vir die hele ewigheid sal bybly! Op geen enkele hemelliggaam het die Godheid nog geslaag om my so om die bos te lei, as juis op hierdie aarde nie en dit was die skuld van die smadelike paradys. Ek was daar vir die eerste keer deur die Godheid gegryp en pluk nou al meer as 6,000 jaar lank die ellendigste vrugte daarvan! Kom daarom nie met `n paradys na my toe nie, as jy my in alle erns by jou wil inneem. Ek maak jou egter `n voorstel; as jy dit aanneem, is ek vir ewig joune. 

[16] Die voorstel lui: Beloof my om die naam Jesus, wat my byna laat stik, nooit uit te spreek nie! En gooi alle klippe weg, ook die vangriem, dan sal jy my hart as beloning daarvoor kry. Doen dit en ek is vir ewig joune en sal slegs vir jou lewe!” 

[17] Cado sê: “Bekoorlike Minerva! Jesus of geen Jesus nie, dit is vir my om te ewe, en sonder die klippe en hierdie godevangriem sou ek ook jou heer en meester kan wees. Aangesien jy egter te alle tye die grootste kunstenares in die leuens en die “in-die-steek-laat” was en verseker nog is, kan ek geen voorstel van jou aanneem nie, voordat jy nie die gestelde voorstel sal aanvaar wat deur my gemaak is nie. Maar dink `n bietjie vinnig, want ek merk dat die hemelse getuies onrustig oor ons word. Neem vinnig `n besluit, want my geduld raak nou ook op!”

[18] Miklosch gaan verder: “Minerva se gesig word nou somberder en heerssugtiger. Sy soek na `n teenwoord, maar dit lyk asof daar niks passend haar te binne wil skiet nie. Sy sou van heimlike woede op haar lippe wou byt, as sy haar nie teenoor Cado sou verneder nie. Dit is werklik komies om te siene hoe die uitvindster van hoogmoed en leuens alle moontlike moeite doen om teenoor Cado geen blyke te gee van swakheid nie, maar hy verloor haar nou geen oomblik uit die oog nie en hou al die vangriem gereed. Nee, ek is werklik benoud wat Satana nou as `n taktiese set sal uitvoer!” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205