Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 90

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Nog enkele lewensgeskiedenisse. Die geduld van die offisier word weer op die proef gestel

240 Daar kom nou `n derde vrouepersoon op die offisier af en sê. “Meneer die offisier!” - Die offisier: “Wat is daar in godsnaam nou weer verkeerd?”

[2] Die vrou sê: “Sien u, ek het op aarde op my sewe-en-twintigste lewensjaar gesterf en wel in die kraambed, maar ek was nie getroud nie, ek was maar net kookster en kamermeisie by `n ou wewenaar. En snags moes ek die wewenaar ook tot vrou dien. Ek het egter ook `n ander, jong minnaar gehad en het met hom gedoen wat hy graag wou gehad het. Daarna het ek swanger geword en het toe die skuld op die ou man geskuif, sodat hy met my sou trou. Die ou sukkelaar het dit ook nog geglo, maar Onse-Liewe-Heer het `n geweldige streep deur die rekening getrek. Ek het in die kraambed gesterf en die ou man het naderhand `n ander een geneem. 

[3] Toe ek egter in hierdie wêreld kom, het iemand dadelik vir my gesê: “Pas op jy! Jy het gesterf op aarde, waar jy tot nou toe in elke opsig taamlik sleg geleef het. Besef dat jy nou vir alle ewigheid `n arme siel is, vol sonde, groot en klein! Wat moet jy nou maak?” Na hierdie verskriklike vraag het ek in `n beswyming geval, maar na `n rukkie het ek weer tot my bewussyn gekom. Die persoon wat my hierdie boodskap gegee het, het verdwyn en ek het my weer op aarde bevind en wel in Wenen, soos nou. Ek vind dit net dom dat ek my woonwyk en my werkgewer nog tot op hede nie kon gevind het nie. Ek weet nog steeds nie waaraan ek toe is nie. Ek weet dat ek in die geesteswêreld is, en tog weet ek dit weer nie, want steeds kom baie dinge vreemd vir my voor; ander dinge is daarenteen weer baie natuurlik. Maar beste meneer die offisier, nou kom dit eers!”    

[4] Die offisier sê: “Wat is dit nie nog alles nie? Nou, vertel dan maar verder!” Sy sê: “Sien u, ek het `n groot sondares geword en het nou die hel verdien en die hemel verspeel, want ek was al op my dertiende jaar heimlik met die bedryf van die slegte liefde gemoeid, en wel met `n soldaat van die artillerie. Toe ek gesterf het, het dit alles so vinnig gegaan, dat ek nie eens die sakrament van die sterwendes kon ontvang nie. Hier in hierdie wêreld het ek alle kerke al deurgeloop en wou bieg en Nagmaal doen, maar daar was nêrens `n geestelike te vinde nie. Daarom staan ek hier nog vol sonde en durf nie na Onse-Liewe-Heer gaan nie. Ek het al wel dikwels intens berou en verdriet gevoel, maar wat help dit as mens nie gebieg en Nagmaal gedoen het en ook nie die laaste salwing gekry het nie? O my God, wat sal nou van my word?!”

[5] Dit beswaar my nog die meeste dat ek my goeie minnaar agterbaks bedrieg het met die ou sukkelaar! Sien u, meneer die offisier, `n arme meisie is en bly nou eenmaal `n dom dier tot aan haar einde! Og, ek arme siel, wie sal my nou help? Laat Onse-Liewe-Heer aan sulke ou, gewetenlose vieslikes op aarde `n geregtelike straf stuur, want hulle maak heeltemal geen gewetenssaak daarvan as hulle `n arm meisie met hulle vervloekte geld ongelukkig maak nie. 

[6] Kon die ou vark dan nie met my getrou het nie, sonder dat hy vooraf `n doodsonde as voorwaarde moes stel nie? Toe ek later swanger was, het hy geen woord meer oor trou met my gepraat nie. Wanneer ek hom daaraan herinner het, het hy steeds allerlei uitvlugkanse gesoek - vanweë die buitewêreld, vanweë sy posisie, vanweë sy familie, en dan was daar `n regsaak wat hy nog eers moes wen. Maar toe het ek gesterf, voordat die sogenaamde regsitting plaasgevind het. 

[7] Ek sê vir u, meneer die offisier, dit was eerder my ergernis oor hierdie ou skurk wat my omgebring het op die kraambed! En dink u dat hy enige verdriet oor my gehad het? Hy was baie bly dat hy op so `n onskuldige manier van my ontslae geraak het! Nou, ek is nog so kwaad vir hom, dat ek hom sou kon verskeur as ek hom in die hande kon kry. As ek saam met hom na die hel kon gaan, dan sou ek my van die hele hel niks meer aantrek nie!”

[8] Reeds brandend van ongeduld en tewens vol ergernis oor die ou man wat die meisie so misbruik het, sê die offisier: “Ek smeek jou om godswil, hou tog net op! Dat `n onreg aan jou gedoen is, is wel duidelik, maar heeltemal onskuldig aan hierdie voorval is jy tog nie. Vir jou slegte aandeel is jy reeds onder God se toelating getugtig en hy, die ou man, sal die Heer ook nie die geringste skuldig bly nie. Vergewe hom daarom van ganser harte en kom dan met my saam na God, die Heer; Hy sal alles weer in orde bring! Maar jy mag geen woede in jou hart koester nie, maar liefde, selfs nie vir die grootste vyande nie! Dan sal jy ook volop liefde by God vind.”

[9] Die meisie sê: “Ja, ja, meneer die offisier, u is werklik `n goeie en verstandige heer. Dit is tog goed dat ek my net waarlik by u kon uitgepraat het, want nou is dit vir my baie ligter om die hart en ek is gladnie meer kwaad vir die dom ou man nie. Onse-Liewe-Heer sal wel weet wat Hy met hom moet doen. Ek dank u nederig vir die mooi les wat u my gegee het!” Die offisier sê: “Baie goed, baie goed! Laat ons nou maar sorg dat ons by die Heer kom! As julle almal bereid is, gaan ons, want ek kook al van ongeduld!”

[10] Daar kom egter nog `n vierde oumens na die offisier toe. Sy sê: “Monsieur, je vous prie!” - Die offisier sê: “Slegs Duits, en geen woord Frans meer nie! Ons is in Wenen en nie in Parys nie!” 

[11] Die oumens sê: “Ja, meneer die offisier, so is dit my gewoonte! Ek spreek verder tog geen woord Frans meer nie. Sien u, meneer die offisier, toe ek nog op aarde was, het ek `n hondjie gehad en was ek baie lief vir hom. In die winter het ek hom selfs by my in die bed laat slaap. Dit het nooit by my opgekom dat so-iets `n sonde sou wees nie. Maar daar het eens `n vader na my toe gekom en hy het die hondjie in die bed sien lê. Nou, toe het dit gebeur! Ek moes die hondjie dadelik wegmaak, bieg en kommunie doen en tien duur misse betaal. Ek het dit alles gedoen en het my sonde berou, maar dalk het ek tog verdriet gehad oor die hondjie. En nou dink ek dat die verdriet sondig is. Sê u net vir my, wat moet ek doen om `n rustige gewete te kry?”

[12] Nou spring die offisier ongeduldig op en sê: “O Heer, U het werklik vreemde kosgangers! Nee, dit is vir `n eerlike mens te veel van die goeie! Daar is al `n Hondekomedie, straks kry ons ook nog `n kattekonsert! Ek loop! Doen julle, ou wywe, maar wat julle wil! Wat `n hopelose gedoente! Nou het sy gewetenswroeging omdat sy verdriet het oor haar hondjie, hoewel sy gebieg, kommunie gedoen en minstens `n half miljoen rosekranse afgerammel het. Aan die vrou: “Gaan na die maan met u hondjiegewete en word verstandiger, anders kry `n mens nog `n hekel aan u! Nou gaan ons, anders kry ons werklik nog `n katteverhaal te hoor, want daar anderkant staan alweer `n oumens wat vir my loer. Wie my wil volg, die volg, want van nou af aan wag ek geen sekonde meer nie!” [13] Die offisier maak hom gereed om te vertrek, maar `n vyfde oumens sny hom net af en vra hom om nog haar tog net welwillend aan te hoor; sy sal iets baie belangrik aan hom toevertrou.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205