|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 80
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Die koster gee meer opheldering. Bitter waarhede vir Rome se Eminensie
230 `n Priester, wat vlak naas die kardinaal staan, sê: “Ellendeling, slegs aan die eindelose sagmoedigheid en die geduld van die heilige en alleensaligmakende kerk, wat in stilte vir jou, verlore skaap, bid tot God, het jy alles te danke, terwyl jy besig was om haar dodelike steke toe te bring! Maar hou nou op om die geestelik getooide bruid van God swart te maak, anders sal die kerk jou in haar gebede vir jou sieleheil laat val! Dan sal die aardbodem hom onder jou voete open en jou vir ewig verslind!”
[2] Nou begin die koster hard te lag en sê baie lakoniek: “O jou sagmoedige moedertjie! Wel ja, as daar met helse wreedheid en daarna met domheid niks te bereik is nie, word die wolf weer in die lamsvel gestop en moet hy `n vriendelike gesig trek; daar is tog niks bo sulke sagmoedigheid en geduld nie.
[3] Hoe goedig was die kerk nie tydens die beroemde kruistogte nie! Hoe vreugdevol het hulle die agtergeblewe weduwees en wese, wie se mans hulleself in die Môreland deur die Sarasene laat ombring het, in haar kloosters opgeneem nadat hulle eers hulle goedere en skatte vir hulle laat skenk het. O goddelike sagmoedigheid, waaraan het die heilige kerk terwille van haar geld nog nooit ontbreek het nie. Toe ek nog op aarde geleef het (want die Heer sal hopelik tog weet dat ons onsself lankal nie meer in die vlees op die materiële aarde bevind nie)...”
[4] `n Priester val hom in die rede en sê: “Dit is `n leuen! Ons lewe nog almal op aarde, anders sou ons onsself óf wel in die hel, in die vagevuur óf selfs in die hemel bevind het.”
[5] Die koster sê: “Ons is nou eenmaal in die geesteswêreld, of julle dit glo of nie! Daarom sê ek: Toe ek nog op aarde was, heg ek ook baie geloof aan die kerk, maar toe daar berigte oor die heilige Spaanse inkwisisie (vervolging) gekom het, waaruit mens kon agterkom hoe lief en sagmoedig hulle daar met haar verlore lammetjies omgegaan het, het ek baie ander opvattings gekry. Wat het die honderdduisende dan misdryf, dat hulle tot groter eer en glorie van God so gruwelik verbrand moes word?, vra ek stomverbaas, en die antwoord lui botweg: “Omdat hulle die Bybel gelees het en sodoende verwerplike ketters geword het!” “O Heer!”, roep ek by myself uit, “is dit moontlik, dat `n mens, waar dit oor U heilige Woord gaan, so `n beloning van Roomse moordenaars moes kry? Heer, het U dan geen bliksem en geen sondvloed meer om Spanje en Rome vir ewig uit te roei nie?”
[6] Die antwoord van God het langsaam maar seker, vanuit die hoë hemele gekom. Ek het dit weliswaar nie meer op aarde gekry nie, maar eerder duideliker in hierdie geesteswêreld. Waar is die trotse en oormoedige Rome hier? Wat is die pous nou? Op enkele steekblinde esels na, wat hom, die trotse plekbekleër van God, nog aanhang, lag `n mens hom hier in sy gesig uit en word hy oral gehaat en verag.
[7] Selfs in Italië begin mense al die een aartsbiskop na die ander agter slot en grendel te sit en dit met die volste reg! Hierdie maghebbers verdien nie anders nie, want hulle was steeds die grootste vyande van die mensdom, maar baie groter vriende van goud en silwer.
[8] Petrus, vir wie se opvolger elke pous hom alom uitgee, het eens vir `n arme drommel, wat hom om `n aalmoes vra het, gesê: “Goud en silwer het ek nie, maar wat ek het gee ek jou!” Sou `n pous dit ook vir `n arme sê? Die gegoede opvolgers van Petrus sou maar net kon sê: “Ek het wel goud en silwer in oorvloed, maar dit gee ek jou nie; wel my apostoliese seën, wat my niks kos nie!” En dan: “Gaan in vrede! Mag jy onderweg van honger omkom, dan sal jou siel tog na drie dae in die vagevuur, dadelik in die paradys kom, waar dit dan goed genoeg met haar sal gaan!”
[9] Het die groot Paulus dan nie vol vuur geywer teen opgesmukte gewade, netsoos teen elke waardigheid, wat die mens hom maar al te graag aanmatig nie? Wanneer het Christus, wat Self gesê het: “God is gees en moet daarom in die gees en in waarheid aanbid word...”, aanbeveel om vir baie geld tempels en gebedshuise te bou, en daardeur duisende armes te laat verhonger? "Welke apostel het die Latyn eintlik tot goddelike taal verhef? Asof God die Heer, wat sekerlik elke taal verstaan, slegs aan die Latynse grootste welgevalle sou hê! Bewys dit vir my uit die Skrif, dan sal ek julle glo! Kan julle dit egter nie, dan is julle anti-christene by uitstek!”
[10] Daarop sê `n baie ou aartsbiskop, siedend van ingehoue woede: “Het Christus, die Heer voor Sy opstanding nie uitsluitlik Sy kerk, dit wil sê Petrus en die se opvolgers, die mag gegee om te bind en te ontbind nie?! Hy het Sy asem oor Sy apostels geblaas en gespreek: “Ontvang die Heilige Gees! Wie julle die sonde vergewe, vir hulle is dit vergewe. Wie julle hulle sonde nie vergewe nie, bly dit behou!” En `n ander keer het Jesus eweneens aan Sy apostels gesê: “Wat julle op aarde sal ontbind of bind, sal ook in die hemel ontbonde of gebonde wees!” Ek dink dat daar voldoende bewys daarin lê, dat dit van Godsweë toegestaan is aan die ware kerk, om nuwe wette te gee as hulle dit nodig sou vind en ander, selfs wette wat deur God, die Heer gegee is, op te hef, as hulle sien dat dit onder bepaalde omstandighede nie gunstig is vir die heil van die siele nie.
[11] Dat die kerk hom egter tydens haar godsdienstige rites van die Latynse taal bedien het, het twee baie wyse redes. Ten eerste is hierdie beskaafde taal die waardigste waarmee mens God kan eer en aanbid; ten tweede word die Latynse taal gebruik as beskerming van die besondere heilige, kragtige geheime van God se woorde vir die gewone volk, sodat dit nie ontheilig kan word nie. Dit is die twee kardinale redes! `n Derde rede is die mag van die kerk- dientengevolge kan hulle die Latynse taal ook wetlik tot `n onveranderlike, algemene rituele taal bestem. Ek dink dat dit uit die Heilige Skrif genoeg bewys is, hooggeleerde meneer die koster!”
[12] Die koster sê: “Beide die aangehaalde tekste was inderdaad uit die Heilige Skrif, hulle het slegs alles bewys, behalwe dit wat u, Eminensie, graag daarmee wou bewys het. As Christus, die Heer, op die wyse waarop u dit uitgelê het, aan die kerk `n volmag wou gegee het, dan was dit nie nodig gewees om die apostels, en nog baie ander leerlinge, drie volle jare lank die groot gebod van die liefde, die wet van die lewe en die groot geheime van die hemelryk te leer nie. In plaas daarvan sou Hy Sy apostels sonder voorafgaande onderrig die mag gegee het om dan deur Hom as aangeneemde leerlinge voortaan te kan doen wat hulle wil, terwyl die Vader in die hemel alles volledig sal goedkeur.
[13] Soos wat te siene is by die Roomse kerk, is juis in hierdie kerk, behalwe dan die Naam van die Heer en Sy leerlinge, niks meer van Sy leer te vinde nie: geen deemoed, geen sagmoedigheid, geen greintjie geduld en nog minder liefde tot die naaste nie! Oor geloof praat ons maar glad nie meer nie. Die geloof in die mag van goud en silwer, ja, dit staan nog stewig! Wat sou daar alles moet gebeur om `n pous ooit tot die geloof te bring dat mens die ryk van God nie in die groot skatte van die wêreld sal vind nie, maar slegs in `n suiwer, deemoedig en van liefde vervulde hart!
[14] Die bevoegdheid wat die Heer Sy leerlinge oënskynlik gegee het, was en is slegs die van die Heilige Gees van God in die mens. Wie leef volgens God se Woord, waardeur alles ontstaan het, ontvang ook God se Gees, want God se Woord is naamlik die Heilige Gees uit die mond van God, die binnevloei in die harte van alle mense wat die God se woord daadwerklik in hulle opneem. Eenmaal in die besit van God se Gees, wat my hart maak tot `n tempel van die diepste wysheid uit God, kan ek dan ook tot `n sondige broeder, wat blyke gee van berou en verbetering, sê: “Jou sonde is jou vergewe”. Is hy egter hardnekkig en wil hy nie sy valsheid en slegtigheid opgee nie, dan kan die van God se Gees vervulde ook sê: “Vriend, omdat jy volhard in die kwaad, kan jou sonde jou nie vergewe word nie!” As mens egter glo dat mens die Heilige Gees ontvang deur bepaalde sakramentele seremonies, soos die (kerk se) niksseggende waterdoop, (besprenkeling) die toediening van die vormsel en selfs die sogenaamde priesterwyding, het dit niks anders tot gevolg as die vorming van `n onverdraaglike kastestelsel, waar die Heilige Gees verder van verwyder is as die hemel van die aarde.
[15] Die Heer sê: “Wees nie slegs hoorders van My leer nie, maar handel daarvolgens; dan eers sal julle in haar die krag van God se Gees leer ken!” Maar hoe sal so `n eens ingewyde leerling ooit aan hierdie kennis kom, as die lees van die Bybel hom verbied word? So kan hy nie eers `n hoorder, laat staan nog `n uitvoerder van God se Woord word. Wanneer hy egter geen gevolg kan gee aan die dringende versoek van Christus nie, sê dan net, hoe moet hy dan die magtige Gees van God deelagtig word?
[16] Dierbare Eminensie, dink net na oor hoe sleg die tekste by die heidense kaste-kerk van Rome intree en sê: “Ek was jammer genoeg ook so `n steekvaste oorweldiger van die Heilige Gees gewees! Heer, vergeef my dit, want ek was steekblind deur allerlei verlokkinge van die wêreld en die duiwel en weet nie wat ek gedoen het nie!” Miskien erbarm die Heer Hom oor jou armsalige menswees, maar nooit oor jou eminente kardinaalskap nie, want Eminensies het Christus, die Heer nooit benoem nie, en Petrus en Paulus ewe min!”
|
|
|
|
|