Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 118

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die twee bodes na die nuwe Maria. Gelykenis van die klein gewasse en die eik. Oor die geestelike toestand van die aarde. Voltooiing deur genade

268 Ek gaan nou na haar toe en sê: “Maria, kyk, die bode het al weer teruggekom, ween daarom nie meer nie! Die bode is weliswaar nougeset, maar hardvogtig is hy nie.” Nou neem die aangesprokene vinnig haar hande van haar gesig af, staan van die grond af op en kyk ons beide ietwat verward aan. Na `n rukkie sê sy (Maria) skugter: “Nou is daar twee bodes; watter een bring my nou nuus oor Hom, die enige wat ek liefhet? Waar is Hy, wie die liefde Self is? "Wanneer mag my oë Sy heilige aangesig aanskou?”

[2] Ek sê: “Nog net `n bietjie geduld, geliefde dogter. Kyk, die Heer is soos `n verstandige tuinman: Hy bring eers die nie so mooi gevormde vrugte binne en lê hulle in sy voorraadkamer, sodat hulle daar volkome ryp kan word. Die mooi vrugte laat hy egter aan die boom hang, sodat die gehalte aan vrugtesuikers toeneem en gees en lewe volkome kan rypword in die kiem, wat die saadkorrel in hom dra. So word ook die kleinste grassie van die aarde binne `n kort tydjie ryp, maar dit is daarom ook maar `n kort tydjie. As daar dan in die winter ryp en storms kom, sterf dit vinnig af en behou slegs `n swak vorm van lewe in die wortels.

[3] Die eik het egter baie jare nodig voordat hy in staat is om vrug te dra, maar as hy eenmaal tot volle wasdom gekom het, dan kan hy maar vries en kan storms uit alle mag tekere gaan, maar hy sal dit dan met `n ysterharnas trotseer. En sien, so het jy nou ook deur die lang wag `n geheel ryp vrug geword en sal dit maklik vir jou wees om die nabyheid van God te verdra. Niemand kan dit verdra, as hy nie eers sy eie gees op die deur God Self aangewese weg, in alles volkome na Hom laat lyk het nie. Jy het egter sterk uitgekom in die liefde en daardeur nou geheel uitgeryp in die gees. Daarom het ons beide haastig na jou toe gekom om jou as `n aangename vrug binne te bring vir die voorraadkamer van die Heer. Maar nou sal ons eers nog na jou leerlinge op die berg gaan en die blye boodskap vir hulle bring!”

[4] Maria sê: “O liewe vriend, jou stem klink lieflik en jou wysheid deurstraal al my verwarde gedagtes soos `n son. Werklik, hemelse vriend, jy alleen sou in staat wees om dit vir my draagliker te maak, as ek nog langer moet wag op die aanskouing van my Heer Jesus Christus. Sterker en opwekkender kan die Heer Self eintlik onmoontlik nie spreek nie. Jy lyk so hemels goed, sagmoedig en liefdevol; wil jy my nie toestaan om jou aan te raak nie? Iets in my spoor my geweldig aan daartoe!”

[5] Ek sê: “"Wel, kom dan maar na My toe en laat jou deur My na die berg lei. By hierdie geleentheid sal jy My wel kan aanraak. Dink jy dalk dat jy My minder liefhet as Ek vir jou? Dink dit veral nie, want lank voordat jy My liefgehad het, het Ek jou liefgehad met alle lewensgloed van My hart! Maar dit is hier nie die plek om alle fasette van My liefde aan jou uiteen te sit nie. Eers wanneer ons eenmaal op die berg sal wees, sal ons mekaar beter leer ken en ons wedersydse liefde heeltemal teenoor mekaar beken.”

[6] Maria kom nou na My toe, sonder om te weet dat sy al die korrekte persoon voor haar het. Wanneer sy My arm aanraak, kan sy van geluksaligheid haarself byna nie meer staande hou nie en sê: “Vriend, los my maar; ek is veels te swak om jou liefde te weerstaan. Jy sou my nog alle liefde vir Jesus, die Heer kon ontneem en my na jouself toe trek.” Ek sê: “Dit maak nie saak nie, Ek en die Heer sal dit, wat jou betref, die beste met mekaar eens word.”

[7] Maria sê: “Jy sal dit sekerlik kan doen, maar dit kan my hart nie onverskillig laat of ek die Heer Self of slegs een van Sy baie, groot vriende liefhet nie. Tog kom dit my voor dat ek byna geen wese meer sou kon liefhê as vir jou nie. Ek dwing my hart na God toe en vind tog nêrens houvas nie. Ek wil jou immers nie liefhê nie; ek moet slegs vir God wil en liefhê. Hoe meer ek egter my bes doen om jou nie lief te hê nie, soveel te meer brand my hart vir jou; mag God met my doen wat Hy wil. O hemelse vriend, sê my tog hoe dit is dat ek jou so moet liefhê? Waarop sal so `n liefde uitdraai?”

[8] Ek sê: “Wees maar gerus en wees nie besorg daaroor nie - oor hoe of wie jy nou liefhet nie. Volstaan daarby dat jou liefde suiwer en goed is. Elke liefde wat dan so suiwer is, kan nie anders as maar net goed wees nie. Die liefde is egter suiwer, as sy geen eieliefde in haarself dra nie. Maar kom daar by die suiwer liefde ook maar `n klein bietjie eieliefde, dan versuur dit maar al te gou die suiwer liefde uit en maak van haar dan `n redelik slegte lewensbasis.

[9] En kyk, My geliefde Maria, die hele aarde is nou vol van so `n suurmengsel. Daaruit ontstaan suiwer kwaadaardige geswelle en swere en uit hulle etter vorm daar niks anders as skandelike, vraatsugtige wurms, dikwels poliepe met duisend suigtentakels nie. Daarom sal jy triljoene vuurgeeste ontdek, wat slegs met die grootste moontlike inspanning daarvan weerhou kan word om hierdie aarde met, al wat in haar, op haar en bokant haar is, in hulle onbillike woede in stof en as te verander.  

[10] Daar is geen bestendigheid meer by die mens nie. Hulle harte het koud en donker geword, omdat hulle uit die gistende suurmengsel in hulle harte `n bose lig ontwikkel het, wat al die waaragtige lewe in God dooddruk. Maar Ek sê vir jou, nou sal ook die geduld van God, die Heer Self weldra opraak.

[11] Die aarde dra maar baie min mense meer, terwille van wie God die totale vernietiging van hierdie aarde nog vir enige tyd wil afwend. Sodra hulle egter, oftewel in vriendskap met God hierdie aarde verlaat, of ten slotte self `n suurmengsel word - wat God gladnie vooruit wil sien nie - word die aarde aan die vuurgeeste oorgelewer. Hulle mag dan met hierdie draagster van sonde doen wat hulle maar wil.

[12] Uit die stof van hierdie moeder van sonde sal dan nooit meer `n medevernietigende gees tot die lewe opstaan nie. Die woeker en die belastings het nou op byna die hele aarde so `n hoogte bereik, dat dit byna onmoontlik geword het dat die arme mensdom, wat tot nou toe steeds `n waaragtige plaasvervangster van God en die eintlike volk van God op aarde was, nog langer kan bestaan. God het die aarde goeie jare gegee, maar die rykes het dit sleg gemaak deur hulle woekermentaliteit, en bedryf skandelike woeker met die lewensmiddele.

[13] Ek sal nou egter maer tye oor die aarde laat kom, sodat die armes sal sterf. God sal dan wel merk wat die rykes sal doen. As hulle hulle sal bekommer oor die armoede en met die woeker stop, dan sal die oordele ook ophou en sal daar weer goeie tye aan die aarde gegee word. In die teenoorgestelde geval sal alles egter in die verderf gestort word, want ook die aarde self het al tot `n suurmengsel geword.

[14] Waarlik, Ek bevind My reeds enkele weke, werkend op buitengewone weë, op hierdie aarde en kry van dag tot dag meer afkeer van haar vleesmense en van hierdie aarde self. Vandag is dit op aarde Donderdag; tot Saterdagnag sal Ek My nog op hierdie sondige bodem ophou en nog genees en aanneem wat genesing nodig het. Na My vertrek dra Ek die duister gebied egter oor aan My magtige vredesgeeste en hulle sal daarop handel volgens eie goeddunke.

[15] Nou sal jy goed insien welke verskil daar bestaan tussen suiwer, goeie liefde en onsuiwer, slegte liefde. Ek sê jou opnuut dat jou liefde vir My suiwer en goed is, omdat jy my liefhet terwille van Myself. Daarom is jou liefde vir God buitengewoon welgevallig, want so moet elke opregte liefde van nature wees en sy moet nie lyk soos die suurmengsel van die fariseërs nie.

[16] Ons het nou op die bergweiding aangekom, en kyk, daar vooraan onder die bome bevind jou leerlinge hulle. Gaan na hulle toe en sê vir hulle dat Ek en die vorige bode daar is om hulle deur die genade van die Heer volkome tot die ewige lewe te verhef.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205