|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 26
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Cado kry nog meer beskerming van die engele. Minerva, se teenvoorstelle. Die hel toon nuwe skrikbeelde
176 Miklosch vertel verder: Nou begewe ook ons vriend Robert-Uraniël en sy metgesel Sahariël hulle onopgemerk na Cado op die heuwel, wat hulle egter nie sien nie.
[2] Ook lyk dit asof die denkbeeldige Minerva nie die plekverandering van albei merk nie. Sy kyk ondersoekend na links en na regs, maar Cado is op sy hoede en staan daar soos `n rots. Dit lyk asof dit Minerva nie geval nie, daarom staar sy nou voortdurend na benede en dink na oor wat haar nou te doen staan. Sy trek allerlei gesigte, nou eers ernstig, dan weer vriendelik, nou eers wys, dan weer heerssugtig, maar deur alles heen is die ou, heimlike sondares te sien.
[3] Die gebeurtenisse begin Cado blykbaar te verveel. Hy skraap sy keel hardop en vra aan Minerva: “Wel liefste, ek het `n hele rukkie gewag, maar daar kom van jou kant geen beslissing nie, nóg een of ander stap in my gewenste rigting. Ek gee jou nog `n kort dinktydjie; loop dit egter op niks uit nie, dan sal jy my vaardigheid in die gebruik van die vangriem kan bewonder! In jou hele bestaan het jy onder die miljarde geeste wat deur jou verlei is, nog geeneen gevind wat jou baas was nie. Geeneen van hulle was teen jou sluheid opgewasse nie, maar met my sal jy jou lelik misgis. Ek sê jou nogeens: Vir my vang jy nie! `n Cado trek hom niks aan van God, dood en duiwel nie, en hemel en hel is vir hom om`t ewe! Cado staan onder geen enkele bevel nie! Wat hy wil doen, sal hy ook doen, omdat hy dit kan doen! Neem daarom dadelik `n beslissing, anders vlieg die vangriem om jou mooi hals.”
[4] Minerva sê: “Maar beste Cado, wees tog `n bietjie meer beleefd! Ek kan tog nie met een sprong afstand doen van my oeroue, slegte gewoontes nie. Ek dink dat dit jou ook nie sou skaad as jy ietwat meer geduld sal toevoeg aan jou heldedom nie. Dat ek skynbaar nie onmiddellik op jou verlange ingaan nie, het sy rede, want ook ek moet die reg hê om die een te beproef aan wie ek, die mees verhewe skoonheid van die oneindigheid, my sou wil bind. As ek geen behae in jou sou geskep het nie, het ek lankal van jou weggegaan, maar jou hoogs sonderlinge wese boei my met `n betowerende krag. Ook laat ek my deur jou dinge sê, wat ek my selfs van die Godheid nog nooit laat welgeval het nie. Is jy nog nie daarmee tevrede nie?”
[5] Cado sê: “Skoonste van God se skeppings, ek het jou oneindig lief. Om nie onaardig teen jou te wees nie, wil ek nog enkele oomblikke wag, maar langer mag jy my geduld nie op die proef stel nie!
[6] Minerva glimlag nou en werp haar gebroke lans in die rustig geraakte vuursee, waarop nog steeds tallose getemde geeste lê om die golwe in bedwang te hou.
[7] Wanneer die lans deur die see verteer word, wat Cado skyn as `n gunstige teken te beskou, staan daar skielik `n hele spul vreeslik lykende gestaltes uit die vuurpoel op en beleër hulleself rondom Minerva. Een van hulle, wat die gedaante van alle drake en die vreeslikste diere in hom verenig, donder met tiergebrul teen Minerva:
[8] “Ellendige kreatuur! Is dit jou dank vir die triljoene dienste wat ons jou deur die eeue heen bewys het? Terwille van jou weier ons geen offer nie, geen moeite en selfs nie die mees ongehoorde pyne en kwellings, om ons ten slotte te verseker van jou liefde, wat jy ons so dikwels beloof het. Is dit jou dank, dat jy ons uit liefde vir `n nuwe duiwel, wat nog maar nouliks sy neus in die hel gesteek het, smadelik wil verlaat? Nee, dit sal jy ons nooit aandoen nie! Eerder vernietig ons jou, die hel en alle hemele, as dat ons jou een tree van hierdie plek sal laat gaan! Kyk, ons dienare hou hierdie see in bedwang en ly verskriklike pyne, sodat jy as heerseres rustig daaroorheen kan loop; en jy wil ons verlaat en nooit die genoegdoening skenk, wat jy ons so dikwels beloof het nie? O waag dit maar net, ellendige hoer, jy sal `n beloning daarvoor kry waarvan die ryk fantasie van die Godheid nog nooit gedroom het nie! Spreek nou, wat sal jy doen? Kyk maar net hoe jou held daarbo sy moed laat sak en na alle kante kyk of daar nie êrens `n gat is om deur te ontsnap nie! O, roep hom tot hulp, roep hom! Waarom roep jy hom nie, jou uitverkorene?”
[9] Minerva lyk wel om van skande, verontwaardiging en woede te wil vergaan. Sy bewe oor haar hele liggaam en van suiwer woede kan sy geen woord uitbring nie. Cado gedra hom egter nog grimmiger en lyk of hy met homself beraad hou oor wat hy sal doen. Hierdie uiterste afskuwelike reuse boesem hom dan tog respek in en tewens verneem hy `n getuienis oor Minerva, wat hom, wat betref haar trou en liefde, baie bang maak. Daardeur is hy ook besluiteloos oor wat hy sal doen, maar Minerva werp hom sulke verlangende blikke toe, dat hy hom tog nie van haar kan losmaak nie. Daarom begin hy sy klippe te inspekteer en te rangskik.
[10] Na `n rukkie rig Cado hom op en sê tot die vreeslike demone: “Julle mag en bedrewenheid in die bedrogkuns ken ek; dit is nie julle werk nie! Julle is self net leë skimme en suiwer fantasiebeelde van hierdie een, vir wie julle so `n nuttelose, bedrieglike skynvertoning opvoer. Was julle egte wesens, dan sou ek julle selfs beloon vir `n diens wat julle my bewys het, want deur julle gedrag en julle woorde het ek meer vertroud geraak met haar karakter, en dit is vir my van die grootste belang. Verskeur haar dan as julle kan! Ek sou dit kan doen, maar dit wil ek nie, omdat sy gladnie so `n inspanning van my kant werd is nie.
[11] Satana, as dit vir jou moontlik is om nog `n staaltjie van die aard uit te voer, doen dit dan maar! Daardeur kry ek soveel meer geleentheid om jou deur en deur te leer ken. Met julle skimme, sal ek egter in die Naam van God, Jesus die Gekruisigde, dadelik afreken. Bekyk hierdie klip; hy is beskrywe met die Godnaam Jesus, asook met drie kruise. Hierdie klip sal aantoon uit wie se gees julle voortgekom het!”
[12] Nou raap Cado `n klip van die grond af op en maak aanstaltes vir `n kragtige werp, maar Minerva roep angstig uit: “Cado, by alles wat vir jou heilig is, doen dit nie! Die oomblik wanneer die klip uit jou vuis vlieg, sal jy vir ewig verlore wees. Die mag van hierdie geeste, wat jy ten onregte as produkte van my fantasie beskou, is onbedwingbaar. Wat hulle vasgryp, kan geen goddelike mag hulle meer ontneem nie. Bly rustig! Miskien slaag ek om hulle tot bedaring te bring en dan my bevryding met jou te bewerkstellig!”
[13] Cado, wat nou meer en meer onder die geheime invloed van die twee beskermgeeste wat agter hom staan, kom, sê ernstig: “Jou woorde is soos seepbelle; daar skuil geen waarheid in nie. Jy was van oudsher `n leuenares gewees, maar het daardeur niemand meer geskaad as juis jouself nie. Wees daarvan verseker dat ek slegs dit sal doen, wat jy my die sterkste sal afraai! Daarom, in die Naam van my God, van my Heiland Jesus!”
[14] Nou werp Cado die klip na die drakekop van die eerste en die beste demoon. Wanneer die klip die kop van die demoon raak, klink daar `n vreeslike knal soos uit duisend kannonne. Alles verdwyn, behalwe Minerva, wat nou bewend en heeltemal naak op `n sandhoop staan en haar vir Cado probeer verberg, waarmee sy egter nie slaag nie.
[15] Cado vra haar egter: “Wel lieffie, hoe lyk jy nou, waar is die gevaar nou waarmee jy dreig, en waar is die dreigende, magtige geeste, wat daar nou net hemel, hel, God en alle aardes wou vernietig en jou wou tugtig vanweë jou ontrou? Waar is hulle nou? Kyk, jou kunste behaal niks nie! Jy ontkom my nie meer nie! `n Ander een sou jou na behore tugtig, maar ek vergewe jou alles. Jy moet my maar net volg, anders gebruik ek `n soort geweld, waarteen jy geen weerstand sal kan bied nie. Kyk, jy is verlaat deur alles wat jou ooit een of ander skyn van mag verleen het. Niks het jy oor nie, behalwe my en jou onbeskryflike, uiterlike skoonheid. Steun daarom vrywillig op my en ek sal jou op die regte pad lei, op die pad van die ware liefde. Maar jy moet my uit vrye wil volg!”
[16] Die diep beskaamde skyn-Minerva sê: “Ja, ja, ek wil, ek moet jou volg, maar gee nou een tree na my toe, as jy werklik liefde in jou hart vir my koester. Aangesien ek my nou al meer as duisend treë na jou toe begewe het, kan jy nou tog een tree na my toe waag!”
[17] Cado sê: “Jy weet immers dat ek iemand is wat geen haarbreedte toegee en nooit gevolg sal gee aan jou verlange alvorens jy nie bereid sal wees om jou oerslegte en onbetroubare neiginge volledig te verander nie. Laat daarom in die vervolg alle aan my gestelde eise agterweë. Ek is boser as jy, alhoewel jou oerboosheid die oneindigheid van die strengste oordeel sou kon vervul. Omdat die pogings van alle engele om jou terug te wen, egter deur jou onbuigsame koppigheid misluk het, moet `n duiwel van die duiwels jou weer daarheen bring, vanwaar jy uitgegaan het. Maar hierdie duiwel is geen duiwel van jou soort nie, maar van `n baie ander soort. Sy mag het hy van bo, maar sy wese behoort aan die hel. Jy alleen is sy loon, wat hy egter sal versmaad as dit hom nie vry, maar gedwonge ten deel val. Daarom, volg my!”
|
|
|
|
|