Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 82

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die Heer neem die koster op. Geweldige vlam­mekuur vir sy vervloekers. Einde van die skouspel in die Stefanus katedraal

232 Op daardie oomblik loop Ek na die koster toe, wat My dadelik herken en sê: “My liewe broeder Johan, dit is genoeg so! Aan hulle was alles nou by monde deur jou gesê, maar hulle bly soos wat hulle altyd was. Kom daarom na My toe in My ryk! Hulle moet egter hulle hemel en hulle God maar soek soos dit hulle geval. Dit sal vir hulle baie moeilik wees om ooit na My toe te kom. Wat hulle gedink het om aan jou te doen, daarvan sal hulle self `n rukkie geniet, sodat hulle aan die lyf kan ondervind hoe goed hulle dit met hulle broeders meen.” 

[2] Nou laat Ek My aan hierdie verstokte priesters sien, soos wat hulle My voorgestel het as Heer van hemel en aarde, en sê op `n nadruklik ernstige toon: “Ken julle My nou?!”

[3] Bewend sê hulle almal: “Ja, nou herken ons U eers, verskriklike regter! Wees ons, U dienare, genadig en barmhartig!”

[4] Ek sê egter baie ernstig vir hulle: “Het julle ook gelees: “Wees barmhartig en jy sal barmhartigheid ondervind!” Hoe lyk dit met julle barmhartigheid? Het julle die hongeriges gespys, die dorstiges gelaaf, die naaktes geklee, die gevangenes verlos en die kleinmoediges getroos? Nee, dit het julle nooit gedoen nie! Julle was altyd danig teen My en het My leer met die voete vertrap! Omdat julle so hard en onverbeterlik is, geskied met julle, wat julle uit die grenslose hardheid van julle hart aan hierdie egte broeder van My gegee het!”

[5] Op hierdie oomblik open die vloer van die kerk homself skielik; vlamme slaan omhoog uit die wye kloof en verskeie gedienstige geeste verskyn, wat die verstokte priesters dadelik na die vlammende kloof dryf. Hulle begin daarby jammerlik te huil en smeek die koster Johan om erbarming en voorspraak.

[6] Maar die koster sê: “Julle het steeds van alle mense verlang dat hulle op straf van die ewige verdoemenis sou glo dat slegs julle die sleutels tot die hemelryk en tot die hel besit! Open nou die hemel en sluit die poort van die hel, wat Christus die Heer van die ewigheid vir julle geopen het, sodat Hy julle kan opneem in Sy sagte, egte Rooms-Katolieke skoot! Julle het my tog net enkele minute gelede vir ewig na die hel verdoem; hoe kan ek dan nou vir julle `n voorspreker by God wees? Die Heer handel met julle volgens Sy heilige wil en volgens Sy liefde en geregtigheid! Ek gun julle sekerlik `n beter lot, maar `n beter lot as wat Heer julle gee, kan julle nie van my verwag nie. God alleen is goed; wend julle daarom tot Hom, want slegs Hy kan julle help!”

[7] Die priesters, wat die vlammende kloof reeds digby genader het, kerm nou: “Beste Johan, van God is daar tog vir hulle wat Hy verdoem het, geen erbarming meer te verwag nie; hoe kan ons onsself dan tot Hom wend?” Johan sê: “Julle dwase, as julle van God die Heer geen erbarming verwag nie, waar moet ek dit dan vandaan kry as die klein bietjie wat daar in my is, slegs van God kom?” Die priesters kerm nog meer: “Nee, deur God kan geen erbarming aan die anderkant van die graf oor `n siel uitgegiet word nie! Die liefde van God duur slegs tot by die graf; daarna neem Sy streng geregtigheid die plek van die liefde in!”

[8] Johan sê: “Julle dom dwase! Het God die Heer dan twee harte; `n klein hart, vol van die hoogste liefde en barmhartigheid, en `n groot hart, oorlopend van toorn en `n geregverdigde, onverbiddelike verlange om te straf? Hoe kan God, die mees volmaakte Wese van die wesens, uit een en dieselfde hart `n nooit te vermurwe toorn en tegelykertyd die hoogste sagmoedigheid en liefde laat vloei? Hoe kan God `n gees slegs liefhê solank dit in die sondige vlees gevange is, maar hom naderhand ewig haat vanweë enkele foute waartoe sy vlees, wat dien as vryheidsproef, hom verlei het?

[9] Maar ek sê vir julle: Die Heer en God Jesus Christus van die ewigheid, wat ons hier liggaamlik aanwesig aanskou, is - tydelik en nog meer ewig - die suiwerste liefde en die grootste erbarming! Slegs julle Rooms-Katolieke drie-persone God is gesind soos julle is: By hom bestaan daar, netsoos by julle, geen genade en erbarming nie. Gelukkig vir my en iedereen, dat so `n God nêrens anders woon as slegs in julle boosaardige en hardvogtige harte nie!”

[10] Daarop dryf die gedienstige geeste die priesters weer ietwat nader na die steeds feller vlammende ravyn, en Ek laat dit toe dat die teenstribbelende en kermende priesters die geweldige hitte van die vlamme begin te voel. Toe roep hulle: “Jesus, Maria en Josef! Liewe heiliges en martelare van God, kom ons te hulp! Help ons arme duiwels! Hoe verskriklik hittig is die vuur van die hel tog en ons moet nou ewig daarin brand? O Jesus, Maria en Josef! O Christus Jesus! Ontferm U oor ons! O moeder van God, bid vir ons!”

[11] Dan gee Ek die geeste `n wenk om die priesters nie verder te dryf nie. Nou tree Petrus na vore en sê vir die priesters: “Kyk my aan! Ek is die egte Petrus in lewende lywe, die rots van die geloof, welke die Heer van die hemel en van alle wêrelde daartoe uitverkies het. Julle en julle pous noem hulle my opvolgers. Hoe sou ek ooit `n regtersamp op julle kon oorgedra het, wat ek self nooit van die Heer gekry het nie! Die Heer het ons tog almal die oordele verbied, op straf van `n oordeel oor onsself, omdat Hy uitdruklik sê: “Oordeel nie, sodat jy later nie self geoordeel sal word nie!” As die Heer ons dit Self so leer, waarom sou Hy ons dan tot regters oor ons broeders gemaak het? As ons egter nooit as te nimmer die regtersamp uitgeoefen het nie, hoe sou ons dit dan op julle kon oorgedra het! As julle my opvolgers wil wees, hoe kon julle dan meer van my geërf het as wat ek julle kon nalaat?

[12] As die Heer Self egter sê, dat Hy nie gekom het om die wêreld te oordeel nie, maar om almal wat deur die geloof in Hom salig wil word, salig te maak, waar het julle dan die reg vandaan gekry om julle swak broeders te veroordeel en vir ewig na die hel te verdoem? Kyk, dit het julle julleself aangematig uit heerssug en grenslose geldsug. Die Heer doen nou ook met julle wat julle wederregtelik met julle arme broeders gedoen het, want met die maat waarmee julle gemeet het, word ook julle op julle beurt gemeet.”

[13] Vreeslik bewend sê die voormalige hoofpriester: “O heilige apostel Petrus, rots van God, bid jy tog tot die Heer vir ons arme sondaars, dat ons liewer nie in die hel nie, maar vir `n miljoen jaar in die vagevuur gewerp word. Ons sien nou almal in dat ons gruwelik gesondig het en voel die diepste berou oor ons aardse verblindheid. Ons weet trouens ook nou eers dat ons werklik liggaamlik gesterf het. As ons dit vooraf ingesien het, dan sou ons, die hele tyd dat ons in hierdie wêreld was, beslis die grootste berou getoon en die strengste boete gedoen het, maar ons het immers niks geweet nie, en bly daarom ook tot nou toe die ou verstokte sondaars. Nou sien jy tog dat ons almal hier vervul is van die diepste berou. Wees vir ons daarom tog `n bietjie gematigder en barmhartiger; ons sal alles doen wat die Heer maar van ons verlang, as Hy ons maar die hel wil bespaar.”  

[14] Daarop sê Petrus: “Dit moes wel daarvan kom, dat julle `n brandende berou sou voel, want juis die in die ewigheid steeds hewiger brandende berou behoort tog volgens julle dogmas tot die hellepyne. Dit dien hulle nou reeds voor die poort van die hel aan en sal julle nooit as te nimmer meer verlaat nie. So `n berou uit angs vir die straf, het egter vir ons geen waarde nie. Die enigste geldige berou moet voortkom uit liefde tot God, maar nie uit vrees vir die hel nie.

[15] So is dit ook met die boete gesteld: Vir ons het slegs die vrywillige boete, wat voortkom uit `n lewende geloof en uit ware liefde tot God en tot alle mense, waarde. Die wat afgedwing word uit vrees vir die hel, is totaal vrugteloos, al sou dit erger wees as alle pyne van die hel, wat julle, as God die Heer dit wil, spoedig te verduur sal kry.”

[16] Deur hierdie weinig troosvolle woorde van Petrus word die oënskynlike kandidate vir die hel so bang, dat hulle almal neerval en slegs steunend die woorde: “O Jesus, Maria en Josef! Ge-na-de, ge-na-de!” kon uitbring.

[17] Terwyl hulle dan verdoof op die grond lê, laat Ek die verskyningsvorm van die vlammende kloof verdwyn en in die plek daarvan `n groot beker wyn, benewens sewe van die allerbeste brode neersit. Daarby is `n skriftelike opdrag om hulle almal, sonder onderskeid, daarmee te verkwik en daarna hierdie kerk vir alle tye te verlaat, omdat haar aardse grootheid slegs daartoe dien om die hoogmoed van die priesters wat in haar diensdoen, steeds meer te vergroot. Wanneer hulle egter buite sal wees, sal daar iemand na hulle toe kom, wat hulle sal aangee wat hulle moet doen om aan die straf van die hel te ontkom.

[18] Nadat alles gereël is, verwyder ons onsself van hierdie van angs halfdood neerlêende groep priesters en gaan na buite, ook die koster Johan, wat een van My liefde en wysheid vervulde broeders is.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205