|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 143
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Vermanende oproep aan die kinders van die aarde. Verskille tussen aardse en hemelse lewe. Gelykenis van die afgevalle boomvrugte en van die pottebakker. Die ewige dood
293 Robert en die ander saam met hom sê: “O liewe, heilige Vader, dit is nie onder woorde te bring hoe onbeskryflik gelukkig ons is nie. U lei ons Self en toon ons die eindelose wonderwerke van U almagtige Liefde! U verklaar U werk so begryplik met U heilige mond aan ons, dat ons verwonderd by onsself moet sê: Hoe is dit tog moontlik om dinge te begryp, wat vir miljoene nog ewighede `n onoplosbare raaisel sal bly.
[2] O, onbegryplike domheid van die mens op aarde! Die goud van die hemele, die goud van die lewe ag hulle nie en vertrap dit met die voete! In plaas daarvan voer hulle oorloë en verskeur mekaar, terwille van die slyk van die aarde. Hierheen almal, julle arme sondaars en steekblinde duiwels! Leer hier deemoed en minsaamheid van Hom, wat julle tesame met julle sondige aarde met `n sagte asemtog uit Sy mond tot die suiwerste niks kan laat verwaai.
[3] Maar julle sê: “Wat moet ons doen? Ook al bid en smeek ons, dit word tog nie anders met ons nie! Ons sien niks en hoor niks. Ons smeekbede los op in die lig en ons staar vrugteloos in die oneindigheid en kyk troosteloos en stomverbaas na die ondeurgrondelike werk van God, soos kalwers na `n nuwe staldeur. Daarom bekommer ons onsself maar nog net oor dit wat ons liggaam nodig het. Oor al die ander mag, wie ookal wil, hulle bekommer. Die mens moet iets te ete en te drinke hê en klere en `n woning; dit is noodsaaklik en al die ander is ontbeerlik.”
[4] Ja, wel, ontbeerlik vir julle aardwurms, julle lyk almal soos die ryk jongeling uit die evangelie. Ook hy het die Heer gevra of hy deel mag hê aan die Godsryk. Toe die Heer egter vir hom sê: “Doen afstand van jou aardse goedere, gee dit aan die arm kinders van die wêreld en volg My!”, breek sy hart en hy keer terstond na sy bekoorlike aardse goedere terug. Hy laat God gaan en bekommer hom slegs or sy aardse goedere. Daarna word hy harder as voorheen, wat die Heer duidelik te kenne gegee het, deur op te merk, hoe moeilik dit is vir iemand wat verknog is aan aardse goedere, om die ryk van God binne te gaan.
[5] Hierheen dus, geeste van die aarde! Hierheen in julle harte! Dan sal julle skatte en rykdomme vind in so `n enorme oorvloed, dat hulle in geen ewigheid ooit uitgeput sal raak nie. Hierheen eersugtiges, in die opregte deemoed van julle harte! Hier is `n egte en steeds toenemende allerhoogste verering op sy plek. Wat is al julle waardighede teen `n Woord van Hom, wat deur Sy mag en wysheid die oneindige ruimte gevul het met tallose wonderwerke!
[6] O, bedink tog wat die verskil is tussen ons volmaakte, ewige lewe in voortdurende geselskap van die almagtige Vader en Skepper van alle hemele en wêrelde, en julle verganklike lewe wat van die oggend tot die aand duur. Hoe kan julle hang aan `n lewe wat eerder die naam dood, as lewe verdien? Die aardse lewe is immers reeds vanaf die wieg maar net `n voortdurende sterwe. Die waaragtige, hemelse lewe is egter `n steeds intenser wordende lewe in God, die heilige Vader. En die ware lewe is tog so naby aan julle. Julle kan dit op enige oomblik vir ewig gryp, maar julle is blind en julle liefde vir die aardse verblind die sig van julle harte! Daarom glo julle dat die ryk van die ewige lewe ver van julle verwyder is, terwyl dit tog as te ware vlak voor julle neuse lê. Ook ons is so naby aan julle en tog dink julle dat ons ver weg is. O, hoe blind is julle tog nie!
[7] Die knegte van die Heer op aarde ken ons, sien ons en spreek met ons wanneer hulle maar wil. Hulle hou die oog en oor van hulle hart oop, omdat hulle nie verblind is deur die las van die ryk jongeling uit die evangelie nie. Maar julle, as die Heer jou roep, kom die trane in die oë, waarmee julle die doodse aarde tog so graag aanskou. O, die Heer sou ons duisende van sulke wêrelde skenk, as ons Hom maar wil aanneem. Wie sal daar egter na `n geskilderde stuk goud gryp as hy `n duisendmaal groter, stewige staaf goud vir ewig as eiendom het?
[8] Daal met ons aan die hand van ons almagtige Vader af in die diepte van die skepping, en kyk met die oë van die hart na die onverskrokke brug, gebou van die een wêreld na die ander, van die een hemel na die ander en van die een hart na die ander. Dan sal julle, hoewel nog geheel in die sterflike vlees, saam met ons `n diep geluk en saligheid voel en daardeur julle siele tot lewe bring. O Heer, waarom mag ons dan tog so salig wees, terwyl miljoene broeders blind en doof is?”
[9] Ek sê: “Vriend en broeder, elke waaragtige lewe hou in, dat dit onmoontlik anders kan wees as uitermatig geluksalig. `n Lewe wat egter deur die dood na die skavot gelei word, soos `n arme sondaar deur `n beulskneg, kan slegs volledig geblinddoek nog enige lus belewe. Sou mens hom egter die oogklappe afhaal, dan sou hy terugdeins as hy insien, waar sy begeleier hom heen bring. Daarom is dit enersyds beter dat die aardse mens blind en doof is, want so kan hulle nog die beperkte, van dood tot dood glydende lewe met enige skynrus geniet.
[10] Ek sê julle: Vir baie miljoene, sal op hulle skynlewe, ewiglik geen verdere lewe meer volg nie, want net so goed as wat daar `n ewige lewe is, is daar ook `n ewige dood. Daar is op aarde bome waaraan heerlike vrugte in `n kort tydjie ryp word en waaraan geen blomme tevergeefs gebloei het nie. Daarenteen is daar ook bome wat wel ryklik bloei en waaraan daar baie vrugte sit; maar as sulke bome tog arm aan sap is en hulle onsmaaklike vrugte lank aan hulle takke moet hou, voordat hulle die gewenste rypheid verkry het, dan val deur gebrek aan voeding en deur `n te langdurige rypingsproses, driekwart daarvan van die boom af, voordat hulle die gewenste rypheid kon bereik. Ek sê vir julle: Vir die weer tot lewe bring van sulke onryp afgevalle vrugte is weinig heilsame kruidgewasse. As `n deel van sulke vrugte so vlak voor die ryping van die boom val, kan mens hulle versamel en enige tyd laat lê; hulle sal dan daardeur tenminste nog ietwat ryp word. Maar vir vrugte wat kort na die bloei, weens gebrek aan voeding van die takke val, is daar geen geneesmiddel meer nie.
[11] Ek wil egter nie daarmee sê dat kinders wat spoedig na hulle geboorte sterwe, nie die ewige lewe kan verkry nie, want met die aardse geboorte en rypheid het hierdie gelykenis niks te make nie. Hier gaan dit om siele, wat reeds op aarde in My genadelig buitengewoon mooi gebloei het en die sap van die lewe gretig in die begin opgesuig het. Toe die noodsaaklike tyd van beproewing ewenwel daarna kom, hou hulle hardnekkig hulle voedingsorgane gesluit en weier steeds om die werklik wrangsmakende sout van die lewe op te suig. Die gevolg daarvan was baie spoedig die volledige afskeiding van hulle voedende takke, waarop hulle op geen enkele manier meer tot lewe te bring is nie en die dood volg. Daarom laat ons sulke vrugte hulle kort lewetjie doof en blind geniet; vir hulle volledige nietigheid sal dit altyd nog lank genoeg duur.”
[12] Robert sê: “Maar so waar as wat dit ook mag wees, dit kom my tog ongeveer voor soos `n wet by die Chinese en die Japanners, waarvolgens geen ouerpaar meer as ses tot sewe kinders mag voortbring nie. Alle kinders wat bo die wetlik bepaalde aantal gebore word, moet almal verdrink word of op `n ander manier om die lewe gebring word.”
[13] Ek sê: “Vriend, dit begryp jy nog nie! Kyk, `n pottebakker vorm `n pot uit leem op sy draaiskyf. Maar die pot, reeds vir meer as die helfte gevorm, misluk hom deur toevallige omstandighede. Wat doen die pottebakker dan? Hy slaan die halfklaar pot inmekaar, neem die klei van die skyf en vermeng dit met ander, vars klei. Hy lê die klei dan weer op die draaiskyf en begin daaruit `n ander, minder lastige pot te vorm, wat hom ook goed geluk. So gaan die materiaal weliswaar nie verlore nie, maar die unieke individualiteit van die aanvanklike werk is vir ewig verlore. Om kort te wees, die eerste “ek” is totaal verniel en dit is in die mees eintlike sin die ewige dood, wat deur geen liefde en herinnering aan die oerbestaan weer tot lewe gebring kan word nie. Omdat dit nooit meer kan gebeur nie, kan ook ewig aan geen uiteindelike voltooiing meer gedink word nie. Aan die behoud van die oer-individualiteit is onuitspreeklik baie geleë, omdat die kindskap van God nooit sonder haar bereik kan word nie. Want `n tweede verwekking word ewig geen eerste verwekking meer nie.”
|
|
|
|
|