|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 19
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Die helse hemelbestorming bars los. Vredesgeeste in die hoogte. Verskriklike wending vir die skares van die duisternis
169 Cypriaan wend sy oë nie van die skouspel af nie, maar Ek gee My dienare `n wenk en hulle begryp wat hulle te doen staan.
[2] Na `n rukkie sê Cypriaan angstig: “Heer, ons sal ons ten slotte tog moet gereedmaak vir die terugtog, want die hel lyk nou asof sy haar baie duisende jare se ou gevangenes wil vrylaat, sodat hulle met verenigde kragte teen U, en saam met U, die hele hemel, in beslag kan neem. Hulle stu nou vermetel op ons af, en wat `n gestalte; werklik, af en toe bespotlik lelik! Kyk hoe swel sommiges op en krimp spoedig daarna weer in tot die grootte van `n kleinerige aap! Ook allerlei wapens begin ek te ontdek: spiese, lanse, swaarde en gewere van allerlei soorte. Dit draai waarlik op `n egte oorlog uit! Maar teen wie dan? Tog seker nie teen ons nie? Sien hulle ons dan, want hulle kom tog reg op ons af?”
[3] Ek sê: “Inderdaad is oorlog wat van die hel uitgaan altyd teen ons gerig! Hulle kan ons nie sien nie; wel vermoed hulle egter dat ons hier is, omdat hulle in die rigting van ons plek, wat eintlik die geestelike middag is, `n soort lig waarneem. Hulle doen vergeefse moeite om na ons toe te kom. Hulle dink wel dat hulle vooruit kom, maar hulle oënskynlike vooruitgang is `n agteruitgang en is hulle steeds verder verwyder van ons. Daarom laat ons hulle ook draf, omdat ons weet hoe ver en waar hulle met hierdie beweging sal kom.
[4] Na `n rukkie sal hulle wel daarvan bewus word, dat hulle, ondanks al hulle moeite, geen tree verder kom nie, en dit sal die sein vir die uitbarsting van hulle innerlike woede wees, waarby hulle mekaar sonder aansien des persoon sal aanval en verskeur soos wilde diere. Let nou maar goed op, in die besonder op hulle bewegings.”
[5] Cypriaan let nou baie goed op alles wat hom voordoen by die bewegings van die helse bende. Miklosch en graaf Bathianyi sê egter eenstemmig: “Heer, bomatige groot is U lankmoedigheid en geduld, dat U hierdie manier van doen met so `n sagmoedige gelatenheid kan aansien! As dit van ons sou afhang, sou ons net `n hartige woordjie met die gespuis wou spreek. Nee, so `n brutaliteit om U te wil afsit, ja, U selfs as dit moontlik sou wees, heeltemal te wil vernietig! Nee, dit is meer as helse kwaadaardigheid! Die gedagte alleen al sou volgens ons `n ewige tugtiging werd wees!”
[6] Ek sê: “My liewe kinders, laat alles agterweë wat ook maar die naam ergernis het! Want sien, want so `n geringe ergernis stam uit die hel en is onverenigbaar met die suiwer natuur van My klein hemelse kinders, wat julle nou ook is. Julle moet julle hoe dan ook, by geen enkele verskyning ook maar in die minste vererg nie, hoe sleg dit ook mag lyk, want die ergernis van die kinders van die hemel speel in die hel se hand en gee haar aanleiding tot die gee van nuwe ergernis, wat hom maar al te maklik en gou om haar heen wil laat gryp. Dink in plaas daarvan in julle hart dat alles so moet gebeur as daar ook ooit in die grot `n sagter lig sal deurdring. Bedink dat die hele hel bestaan uit wesens, wat ten dele deur hulle eie geskiedenis en ten dele, deur die van die grotes op aarde, sulke duiwels geword het en hulle geestelike lewe heeltemal verspeel het. Hulle is nou diep ongelukkig en sal nog ongelukkiger word, maar omdat ons alle mag besit, is dit nou aan ons geleë, om hulle so veel moontlik te help en wel met elke middel waarmee hulp blykbaar nog moontlik is.
[7] Hierdie op hande synde stryd bring hulle moeë skynlewe tot groter aktiwiteit, waardeur hulle teen `n volledige ontbinding behoed word. Deur hierdie mislukte poging word hulle dan weer tot die insig gebring, dat hulle niks teen God kan vermag nie. Dan sal baie van die hordes meer beskeie word en nie meer aan `n soortgelyke toekomstige onderneming deelneem nie. Dit is dan `n egte vooruitgang vir hierdie verlore skape. Voor hulle staan ons dan weer met baie werksame middele ter beskikking om hulle lewensgeeste weer ietwat op te wek, sonder om ons dadelik te vergryp aan hulle vrye wil, wat hulle lewe uitmaak. Dat sulke bome egter nie met een bylhou gekap mag word nie, sal julle hopelik goed insien!”
[8] Miklosch sê: “O ja, Heer en Vader! Nou is alles vir ons weer duidelik en alles wat U, o Heer, bepaal het, is goed. Maar nou ontdek ek, dat op die toppe van die enorme hoë gebergte daar steeds meer liggeeste begin te versamel. Ook op die hoogste top staan, naas die twee eerstes, `n menigte ander, aan ons geheel onbekende, kragtige engele. En daar, kyk net omhoog in die lug! Enorme skares swewe daar in welgeordende rye en hou die oog skerp gerig op elke beweging van die helse horde. Die hele horde blyk hulle te gesien het, aangesien hulle nou opeens hulle grimmige gesigte na bo wend en hulle geskut omhoog begin te rig.”
[9] Cypriaan sê: “Ja, broeder Miklosch, jy het gelyk. Daar naby die bespreekte duiwelsgrot het ek al `n soort vuurpyl sien opstyg, maar dit kom nie eens tot op `n agtste van die hoogte van die berg nie. Nou sien ek ook hoe hele massas teen die swartgrou rotswande omhoog begin klim, maar uiters sleg vooruitgang maak. Van benede af word hulle ontsettend bedreig en hulle lyk ook geen sin te hê om verder na bo te klim nie. Die gebeurtenis begin `n tragiese aanskyn te kry! Nou het `n hele groep vanaf `n heel hoë, steil wand na benede gestort en word dadelik weer aangesê om opnuut na bo te klim. Hulle verset hulle deur te wys op die onmoontlikheid van hulle opdrag, maar die ander begin hulle met gloeiende spiese te bewerk. O, dit is afskuwelik!”
[10] Ek sê: “Let nou almal goed op, want nou begin die eintlike jag! Nou moet Miklosch, wat `n meer onbewoë gees het, maar verder vertel hoe hierdie skouspel verloop en wel sonder al die uitroepe van verwondering! So is dit!”
[11] Miklosch sê: “Heer en Vader, ek arm, sondige wese, ek dank U uit die diepste van my hart dat ek hierdie skitterende en groot opdrag, wat werklik aan elke nog so standvastige waarnemer redelike hoë eise stel, van broeder Cypriaan mag oorneem. Wel moet ek daarnaas ook openlik toegee dat dit daarby nie met my sal beter gaan nie, want die mislukking van die helse inspanning is selfs vir die hel en haar stryders so aangrypend en gruwelik, dat dit selfs die koelbloedigste gemoed nie onberoerd sou kon laat nie. Daarom vra ek U vir dié doel wel `n baie besondere versterking, dat ek nie midde in die vertelling van die gesiene al na die derde sin bly vassteek nie. In U almagtige en heilige Naam sal ek dan probeer om met vertelling aan te gaan.
[12] Daar stort net `n hele groot rotswand omlaag op `n menigte, waardeur `n groot massa helse stryders, wat gedwing word om na bo te klim, omgedolwe en verpletter word. Agter die ingestorte wand stoom in ligte laaie `n afskuwelik bruisende en sissende lawavloed, wat in haar vinnige opmars heelwat meer begrawe as die ineengestorte wand. Nou sien ek ook weer die reeds redelike mismaakte Cado en sy hoofman. Dit lyk of hulle op die voorgrond beraadslaag oor wat daar verder vir hulle te doen staan en te onderneem, want soos dit lyk voel geen duiwel nog iets daarvoor om vir niks oor die steil rotshelling na bo te klim nie. Die magtigste duiwels spoor die swakkeres nog wel hels energiek aan, maar daar is geen sprake meer van gehoorsaamheid nie, en vlugtend voor die lawastroom lyk iedereen om nou slegs nog maar te gehoorsaam aan sy eie wil. Wat `n afskuwelike geweeklaag, wat `n naamlose leed! Daar kom nou uit verskeie splete van die gebergte gloeiende lawastrome te voorskyn, wat hulle dan soos geweldige watervalle in die diepte stort. Daar, bokant `n hoë rotswand, stort daar dan soos `n Niagarawaterval `n enorme massa gloeiende gesmelte erts onder `n verskriklike gekraak die diepte in. En die bende, groot en klein, vlug voor die op hulle afkomende vuurstrome en huil en vloek verskriklik.
[13] Cado en sy hoofman maak eweneens `n vinnige beweging in ons rigting en beklim `n taamlike hoë heuwel, wat hom links van ons bevind. Cado maak harde verwyte teenoor die hoofman vanweë sy onuitvoerbare, waansinnige plan om die almagtige Godheid te wil oorwin. Nou sien hy die oorwinning voor sy dom krokodiloë! Hy moet nou maar die gate toestop, waaruit die Godheid oor hom en sy gehawende leër so oorvloedig vuur laat stroom en hy sou ook diegene wat begrawe is, maar te voorskyn moet haal. Maar die hoofman maak die opmerking dat dit alles maar `n los alarm is en dat die vuurstroom hom spoedig sal uitput.
[14] Daarop lag Cado honend en sê: “O jou dom duiwel! Daar, kyk net hoe daar bo steeds nuwe, geweldige bronne ontspring en hoe die gloeiende stroom binne enkele oomblikke ook ons heuwel sal omspoel. Jy kan duidelik sien, hoe vinnig na jou idee die toornbronne van die Godheid sal opdroog! Kyk net na die grot waarvan die binneste waarskynlik jou koningsverblyf is: Dit is al vol gloeiende, vloeibare erts en hele skares van jou magtige stryders swem ysingwekkend aan die dampende oppervlakte daarvan. Hulle word waarskynlik deur die vinnige vloedgolf van die vuurstroom na `n eindelose afgrond meegesleur. Dit is vir my `n oorwinning! Jy sal seker baie gou `n nuwe veldtog teen die Godheid onderneem? Og ja, die stroom het inmiddels ook al ons heuwel bereik. Nou is die saak verder te vinnig, anders word ook ons in die swembad van die Godheid opgeneem!” Die hoofman sien nou die groot gevaar in en skreeu: “Die kant uit, na die weste, waarheen enkele van my dapperste krygers vlug, vlug ons ook! Maar vinnig, anders is ons verlore!”
[15] Cado sê: “Wat se moed het jy, as jy so die hasepad kies! O, ek allerdomste duiwel! Die Godheid het twee deur en deur eerlike bodes na my, stommerik, gestuur en ek het hulle versmaad! Nou sien ek my afskuwelike ondergang en geen redder kom meer na my toe nie!” Die hoofman skree: “Vlug, anders is jy verlore, want hierdie stroom is verskriklik en wie daardeur begrawe word, is vir ewig begrawe! Ek vlug nou!” Met hierdie woorde storm die hoofman ylings die heuwel af.
[16] Cado bly egter en skreeu hom agterna: “Vlug maar, Satan! Aan die ewige, almagtige Godheid sal jy ewe min ontkom as ek. Ons beide het die lot sekerlik verdien en daarom sal ons dit ook nie ontkom nie, want die wrekende hand van die Godheid omspan die oneindigheid!”
|
|
|
|
|