Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 47

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die poort gaan oop en die stad Wenen word gesien. Die aard van die verskyningsvorms in die hiernamaals. Robert verbaas hom oor Cado se wysheid

197 Daarop gaan Robert dadelik na die poort toe en wend, sonder om hom erg in te span, `n poging aan. En kyk, die breë en swaar vleuels van die hoë poort gaan sonder enige moeite oop!

[2] Toe die poort oop staan, begin Robert skaterend te lag en sê: “Daar het ons nou die hemel in `n werklik eienaardige gedaante voor ons! Nee, dit is werklik meer as komies! Helena, kom kyk net hier!”

[3] Helena kom en kyk met groot aandag deur die geopende poort en sê: “Ja, dit is Wenen, pens en pootjies! En ons staan hier aan die voet van die Weense berg by die “Spinnerin am Kreuz”! O hemelse soetheid: Wenen en nogeens Wenen! Dit is dus die glorieryke, vierde hemelse vertrek van jou huis? Aha, nou kan ons in Wenen dadelik weer uitkyk na `n betrekking. Nee, dit is wel komies: Verwag die hemel, en in plaas daarvan, beland jy op aarde in Wenen! Wat sê jy daarvan?”

[4] Robert sê: “Ek het dit wel vir jou gesê, toe jy voor Minerva op so `n Lerchenfeldse manier te kere gegaan het, dat ons, in plaas van in God se hemele, nog in Lerchenfeld sou beland. En kyk, my voorspelling het waar geword. Ek moet nou egter ook ons vriend Cado gaan haal, sodat hy ons dierbare stad Wenen kan sien!”

[5] Robert roep vir Cado en sê vir hom: “Wel vriend, hoe geval die hemel van die aardse huis Oostenryk jou? `n Pragtige hemelse Jerusalem, is dit nie! Sien jy die omheinings, die skietgate en die mooi kanonne, mortiere en bomketels? Sien jy die wagters en hulle pragtige blokhuisies? Ag, dit is werklik pragtig: Die hemelse stad in `n staat van beleg!” 

[6] Helena sê: “Vriend Cado, sê my net, of ons vir die sterflinge nie onsself vir `n rukkie sigbaar en daarna weer onsigbaar kan maak nie? Ek sou tog `n bietjie plesier daaraan wou belewe om die vrolike Weners `n bietjie te pla! En sou Robert, ek en jy ook nog in hierdie stad gaan woon, dan sal ons tog sekerlik eers die staat van beleg ophef!” Cado sê: “Maar liefste Helena, dink jy dan werklik dat dit die egte aardse Wenen is? Dit is immers net `n verskyningsvorm en verder niks nie! Robert het tog nou net gepraat oor `n smal poort, waardeur mens die hemelryk moet binnegaan. En kyk, daar staan dit al voor ons. Julle sal, as julle daardeur gaan, nog baie smaller deurgange deurloop waar julle dit baie swaar sal kry, maar ons sal tog daardeur kan kom.” 

[7] Robert sê: “Dit het ek ook gedink, maar hoe, dit is `n ander vraag! Hierdie stad, wat lyk soos Wenen, moet tog minstens `n afbeelding wees van die werklike aardse Wenen, anders sou hulle tog nie soos twee druppels water op mekaar kon lyk nie. Staan my origens nog `n vraag toe: Jy het netnou gesê, dat dié Wenen slegs `n verskyningsvorm is en tog staan dit so duidelik soos onsself voor ons. Is ons dan ten opsigte van mekaar ook suiwer verskynings­vorms, of is ons werklik dit wat ons blyk te wees? Is hierdie poort miskien ook maar net `n verskyningsvorm? Ek weet nog steeds geen raad met die begrip “verskyningsvorm” nie, want na my mening is `n verskyningsvorm niks anders nie as wel `n weergawe van `n werklike bestaande ding of wese, of dit word vir `n oomblik geskape by die verduideliking van `n begrip of vir die beproewing van `n gees. Het sy haar diens verrig, dan tree sy weer terug uit die sfeer van haar bestaan. Dit is my idee oor die begrip verskynings­vorm. Ek moet egter volkome duidelikheid daaroor kry, anders is ek genoodsaak om alles wat ek sedert my boaardse bestaan, hier onder oë gekry het, as `n suiwer verskyningsvorm te beskou.” 

[8] Cado sê: “Jy het `n baie goeie begrip van die verskyningsvorm, dit is net nie heeltemal korrek dat `n verskyningsvorm volkome leeg sou wees nie, omdat dit voorlopig slegs verskyningsvorms is. Kyk, `n verskyningsvorm is in die geestelike wêreld wel slegs `n weerspieëling van `n ding wat in werklikheid voorhande is, of wel `n ontwerp vir `n nuwe skepping, eers net sigbaar vir die Heer, dan egter ook vir elke gees wat volgens sy innerlike met die nuwe verskene idee van die Heer in een of ander liefdesverbinding staan. Dat so `n idee egter, netsoos `n gelykenis, steeds in `n vorm verskyn wat ooreenkom met die sfeer van die beskouer, word deur die wysheid van die Heer bepaal, en wel solank totdat die gees so sterk geword het, dat hy self in die verskyningsvorm die werklike en onverganklike herken.

[9] `n Gees wat hier aangekom het, is in die begin nog baie teer en te swak om hom dadelik met die meeste indringende geestelike werklikhede te kan konfronteer. Hy sal hom redelik daarteen stamp en hom ten slotte daaraan verwonder, soos `n pasgebore kind op aarde, wanneer mens dit in plaas van in sagte windsels op harde hout of op klippe sou lê. Maar nie alles wat `n eers aangekome gees te siene kry, is suiwer verskyningsvorms nie, na gelang die krag van die gees, is dit meestal grotendeels werklikheid!

[10] Hierdie poort hier is `n geestelike werklikheid en ons is dit eweneens ten opsigte van mekaar. Maar die Wenen daar is slegs `n verskyningsvorm, `n weerspieëling van die werklike stad Wenen op aarde, wat julle beide beskouend in julle eie siel dra. Die beeld belas egter nog julle siele en veroorsaak nog af en toe onsuiwerheid in haar, wat hom uiter in `n bepaalde geprikkeldheid, welke hom dan as `n sprekende verskyningsvorm openbaar. So iets kan egter in God se liefdeslig, wat die suiwerste hemel is, nie opgeneem word nie, omdat iets onsuiwer onmoontlik in God se hemele kan binnegaan. Daarom tree daar nou uit julle siele, voor julle die suiwerste hemele van God kan binnegaan, die laaste onsuiwere beeld van die stad "Wenen” na vore, sodat julle dit kan beskou en daarna vir altyd uitban. 

[11] Dit sal julle weliswaar nog ietwat moeite en inspanning kos, maar met die hulp van die Heer, sal ook dit slaag. Wees daarom moedig in die Heer, dan sal alles maklik en volmaak verloop!”

[12] Robert sê: “Maar beste vriend, sê my tog net waar jy jou wysheid vandaan kry, want dit was weer gespreek asof uit die heilige mond van die Heer Self! Ek was tot dusver altyd van mening dat jy saam met ons hierheen gekom het, sodat jy deur my en Helena voorberei sou word op die hemel, en nou gebeur presies die teenoorgestelde: Jy is ons volmaakte meester en ons twee het nouliks die bevattingsvermoë om jou, vir sover nodig, te begryp. Sê my net, is jy werklik dieselfde Cado, wat daar op die heuwel vir Minerva verslaan het met woord en daad, of is jy slegs as Cado vermom en is jy een van die belangrikste aartsengele van God? Want net op dié manier is jou wysheid te begryp; anders sal dit vir my `n raaisel bly. Dus, beste vriend, sê my waaraan jy jou wysheid ontleen!” 

[13] Glimlaggend sê Cado: “As die regte oomblik aangebreek het, sal jy alles verneem. Bekommer jy jou voorlopig nie daaroor nie, want daar wag vir jou baie belangriker dinge. Kyk, die groot geselskap kom al daar aan; gaan staan daarom in die poort!”

[14] Robert sê: “Baie goed, maar jy moet ook saam met my gaan, want jy is tog duisend keer ryper as ek vir God se suiwerste hemel!” Cado sê: “Wel, dit spreek tog vanself dat ek jou nie alleen sal laat gaan nie, ewemin vir Helena, wat ek eweneens redelik liefhet.” Robert sê: “Maar hoe moet ek dan hier die groot geselskap in die poort ontvang? Wat sal ek vir die Heer sê? Hoe moet ek my vir my domheid teenoor Hom verontskuldig, netsoos teenoor die profete, apostels en die baie ander wyses, wat hulle by die werklik allerheiligste geselskap bevind? O vriend, help my `n bietjie uit die nood hiermee!” 

[15] Cado sê: “Maar ek vra jou, wees nie so onnosel nie! Kinderlik mag jy wel wees, maar nie kinderagtig nie, want kinderagtig is slegs die verstand van die kinders, maar kinderlik is hulle gemoed en dit het die allergrootste waarde vir God. Ek sal jou wel heimlik ingee wat jy moet sê... nie baie nie, maar die weinige moet voldoende wees!”

[16] Robert sê: “Ja, maar hoe sal jy my heimlik iets kan ingee? Dan moet jy die ware God wees, of die Heer sou jou die krag daartoe moes verleen het!” Cado sê: Hé, is jy nie `n lastige piekeraar nie! Moet mens dan dadelik alles deurgrond? Die ewigheid is lank, en daar sal sekerlik nog baie daarin begryp word! Let nou op, die apostels kom: Vooraan Petrus, Johannes en Paulus. Met hulle sal jy die eerste te make kry.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205