Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 120

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Skares van duistere monnikgeeste. Uiteensetting oor die drie-eenheid

270 Maria, wat haar die naaste aan My bevind, vra My nou wat dit beteken en wie die baie swart wesens is. Maar Ek sê vir haar: “Weet jy dan nie dat daar geskrywe staan: “Waar die aas is, versamel die aasvoëls!” Hulle soek in My nie wat jy gesoek het nie. Hulle weet wel dat Ek hier is en tog is Ek vir hulle nie wat Ek vir jou is nie, maar juis die teenoorgestelde. Ek is vir hulle `n antichris, `n owerste van alle ketterye. Daarom probeer hulle My te omsingel en as dit moontlik sou wees, heeltemal ten gronde te rig. Ek sou vir hulle dus `n smaaklike aas wees vir die boosaardige maag van hulle gramskap en heerssug.

[2] Maar daar is al gesorg vir hulle behuising. Kyk omhoog en jy sal groot, magtige skares ontdek; dit is vredesengele. Hulle sal die swart gebroedsel vang en knel en hulle woede sterk afkoel. O, dit is `n slegte, verstokte bende, wat baie kordaat tot rus gebring moet word. Vir hulle sal daar nog baie eeue moet verstryk, voordat dit onder hulle dak begin te skemer. Wees egter nie bang nie, hulle sal nie in staat wees om nader aan ons te kom nie.”

[3] Maria sê: “O Heer, hulle word daar van minuut tot minuut meer! Die hemel word al heeltemal donker. Van die aardse son is geen spoor meer te vinde nie en nog styg hulle van alle kante as swaar onheilspellende onweerswolke op. Mens kan byna geen gestalte meer onderskei nie. Hoeveel sou hulle wel wees?”

[4] Ek sê: “Dat daar baie bose geeste hier bymekaar is, is waar, maar hulle aantal is nie hoër as ongeveer sewentig duisend nie. Bokant hulle is daar wel meer as `n miljoen vredesgeeste, wat hulle werk met die gespuis binne enkele aardse dae volledig sal kan afhandel. Hulle kan dit weliswaar ook in `n oomblik doen, maar dit mag nie gebeur nie vanweë die goeie orde, waarkragtens geen enkele gees, of hy nou goed of sleg is, gerem mag word in die gebruik van sy vrye wil nie.

[5] Daar is baie onder hierdie geeste wat beter is as die groot massa en wat hulle daardeur min of meer laat saamsleep het. Terwille van hierdie nie erg sleggesinde geeste, wat nog in staat is om enige onderrig aan te neem, moet die gevangeneming van die ware verdorwenes nie op een slag nie, maar geleidelik gebeur. Dit sal daarom wel enkele dae duur en dit is ook sigbaar vir die mens op aarde in die vorm van wolke, sneeu en reën. Die allerslegstes word weliswaar byna op dieselfde oomblik byeen gedrywe, maar met die minder slegtes word behoedsamer omgegaan.

[6] Kyk net daar, na die middag! Drie afgesante kom na ons toe. Dit is drie ou karmeliet-monnike*. Ons sal sien, wat hulle van ons wil hê. Maar let op: Behalwe Ek, Paulus, Johannes en Petrus, wat hier langs My staan, mag niemand `n woord met hulle spreek nie, omdat niemand nog sterk genoeg is om teenoor hulle stand te hou nie. Julle sou beter stand kon hou teenoor Satan, omdat Satan reeds dikwels deur skade en skande wyser geword het, maar hulle nog nooit nie. Hulle sal hulle baie wys voordoen, maar ons sal weet hoe om hulle goed op die korrekte manier aan te pak. Hulle is al baie naby, daarom maak dit saak om nou goed op te let.” *[Kar·me·liet´ (-e) - Lid, monnik van ’n orde in die twaalfde eeu gestig en genoem na die berg Karmel in Palestina.]

[7] Op dieselfde oomblik kom die drie vrypostig voor My staan en vra op spottende toon wie Ek is. Ek gee hulle ten antwoord: “Ek is juis dit, wat julle nie is nie. Maar nou vra Ek julle, wie julle is en wat julle hier so brutaal soek en wil hê.” Die drie sê: “Ons is hier om te ondersoek welke godsdiens jy en al jou gespuis het. Daarom stel ons die vraag of jy glo in `n drie-enige God en in Sy alleen saligmakende, heilige, apostoliese, katolieke kerk onder haar leier, die pous van Rome?”

[8] Ek sê: “Wat is dit, die drie-enige God?” Die drie sê: “As jy dit nie weet nie, staan dit sleg met jou daarvoor. Weet jy dan nie dat God uit drie persone bestaan nie, naamlik uit die Vader, die Seun en die uit hulle twee voortkomende Heilige Gees nie?” Ek sê: “Ek weet goed dat julle dit glo. Ek en My hele geselskap dink juis baie anders daaroor. Ons is van mening, en so is dit ook, dat God slegs één persoon is, wat egter in Homself, by wyse van spreuke, uit drie Gode bestaan.” Die drie roep: “Ketter, ketter, ketter!”

[9] Ek sê: “Waarom sou dit dan kettery wees? Die mens self, geskape na die ewebeeld van God, is tog ook so `n drie-eenheid in een en dieselfde persoon. Het hy nie `n liggaam, wat sy uiterlike gestalte bepaal, `n siel, wat hierdie gestalte en sy organisme tot lewe bring en ten slotte in die siel `n goddelike gees, wat aan die siel die verstand, die wil en al haar krag verleen nie? Sou julle dit nie as `n staaltjie van dwaasheid beskou as daar drie mense sou kom wat by hoog en by laag sou beweer dat hulle al drie slegs een mens is? En dit terwyl elkeen van hulle met sy talente ooreenstemmende, spesifieke dinge sou verrig, waarvan die tweede en die derde geen besondere kennis en ook nie die kapasiteit sou besit om hierdie dinge uit te voer nie. As julle so `n bewering van drie bekrompe mense egter in hoë mate dom moet vind, hoe kan julle dan die oneindig wyse Godheid met so `n belaglike dwaasheid opsaal? Sou selfs die dierewêreld julle nie uitlag as julle die Godheid - vooropgestel dat julle aan Hom glo - met julle woorde en leringe van waansin sou verdink nie?

[10] Hoe is dit egter wanneer julle leer: “God is die hoogste wysheid self,” maar dat julle ondertussen, `n beeld van Hom teenoor julle leerlinge skilder, wat een is van die grootste onsin en julle op hierdie manier van die Godheid `n onding maak, waarvan elke weldenkende mens wel `n afkeer moet kry?

[11] Maar wat is julle dan, vra Ek, as julle julle geloofsgenote so `n beeld van die Godheid voorspieël? Kyk, uitgereken, daardeur is julle self die ergste godloënaars, want wie met vuur en met swaard `n God verkondig wat op die wyse nooit kan bestaan nie, en miljoene met geweld daarvan weerhou om God op die korrekte wyse te leer ken, is geen dienaar in die wingerd van God nie. Hy is slegs `n laaghartige kneg van Satan, wat hom help om die groen gewas te bederwe en stoppelvelde en woestyne gereed te maak, waarop niks anders as dorings en distels groei nie.  

[12] Wie van julle het God ooit gesien en met Hom gepraat? Wie van julle kan met `n suiwer gewete sê dat hy deur God onderrig is? Ja, julle het wel God se Woord gelees, maar het dit verdraai en daarvan gemaak wat julle maar wil, sodat dit dan julle onversadigbare geldbeursies opvul... en dit is nou julle nag! Judas het die Heer slegs eenmaal verraai, omdat hy hom deur Satan laat oorweldig het, waarna hy besit van sy liggaam geneem het en hom doodgemaak het. Nou vra Ek julle: Is Judas nie `n groot heilige vergeleke met julle nie, wat God dag in en dag uit ten opsigte van heel die wêreld, wel honderd keer verraai het? Julle almal het Judas, wat My slegs eenmaal verraai het en spoedig daarna die diepste berou gevoel het, in die hel geplaas. Waar moet Ek julle, miljoenvoudige verraaiers van God, dan laat? Julle noem My `n ketter; wat is julle dan, miljoenvoudige godslasteraars en godloënaars? Wat wil julle hier hê?”

[13] Na hierdie toespraak staan die drie afgesante totaal versteen en niemand weet hoe om vir die ander `n verstaanbare woord uit te bring nie. Hulle bekyk My van top tot tone en weet nie wat hulle van My moet dink nie, want My Woorde voel vir hulle soos gloeiende pyle en hulle erken die diep wysheid daarin.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205