|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 125
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Robert en Peter bewerk die grapmakers. Hulle gee hulle swakheid toe en verontskuldig hulle. Mens- en Godsgerig. `n Bode van bo
275 Die rooies durf niks onderneem nie, omdat hulle ervaar het dat die twee `n besondere krag besit, wat hulle onweerstaanbaar teruggedring het. Daarom gaan hulle naby mekaar staan en pleeg oorleg wat hulle nou moet doen, om hulle woede ietwat te laat afkoel.
[2] Intussen wend Robert en Peter hulle tot die blou-gryses en sê: “Vriende, soos ons nou verneem het, is julle nader aan die ryk van God as wat julle sou dink. Daar ontbreek nog wel baie aan julle, maar dit kan julle maklik verwerf. En kyk, dit bestaan daaruit dat julle in die vervolg geen plesier meer daarin mag hê om ander aan te hits nie, soos julle met die rooi geeste gedoen het. Kyk, dit is vir `n blinde ellendig genoeg dat hy blind is. Waarom sou iemand dan plesier daarin hê om, ten koste van hulle blindheid, `n niksseggende vermaak aan hulle te verskaf, wat ten slotte aanleiding gee tot allerlei ergernisse, wat verseker nie op die naasteliefde gebaseer is nie. Dus weg met alles wat wyser geeste, soos wat julle is, nie betaam nie!
[3] Kyk, die gevolg van `n dikwels onskuldige grap wat mens hom ten opsigte van `n ietwat swaksinnige veroorloof het, kan dikwels baie bitter wees. Die gefopte merk dit ten slotte, word kwaad en dink dan daaroor na oor hoe hy hom kan wreek. Daarvoor vind hy weldra `n manier en handel dan sonder gewete, want as `n esel eenmaal dol geword het, jaag hy selfs `n tier op die vlug. So iets verbitter dan weer die gemoed van die vroeëre grapmaker, en wat is die gevolg daarvan? Ons hoef dit nie vir julle uiteen te sit nie, want julle is wel self so verstandig dat julle die dikwels verstrekkende gevolge nie oor die hoof kan sien nie. Los dit daarom in die vervolg en wend julle, in plaas daarvan, heeltemal tot die Heer, wat julle baie goed ken; dan sal julle deur Hom in Sy ryk opgeneem word!"
[4] Die blou-gryses dank die twee vir hierdie vriendelike teregwysing. Hulle vra egter tewens wat hulle nou met die rooi geeste moet doen, aangesien hulle hulleself met die wêreldoorlog en met die algehele wêreldgerig tog ietwat te erg dom gehou het.
[5] Beide sê: “Dit was weliswaar al te kras, maar aangesien dit by hierdie oorlogsoekers tog `n sekere morele indruk gemaak het, kan mens dit voorlopig daarby laat. By `n volgende geleentheid is daar wel weer goed te maak. Om hulle nou egter opheldering te verskaf, sou baie skadelike gevolge kon hê. Daar word nou ook in werklikheid `n hewige oorlog op aarde toegelaat en dit sal op verskillende plekke deels moreel, maar ook grotendeels op natuurlike wyse woed. Eweneens sal daar ook `n besondere streng oordeel oor die grotes en die selfsugtige rykes kom. Bowendien sal daar hier en daar groot aardse uitbarstings plaasvind en daarom sal julle skertsende opmerkings vir die gevoel van hierdie geeste bewaarheid word. Maar trek julle nou terug en doen wat ons julle aangeraai het, dan sal julle `n groot voordeel vir julle lewe oes. Julle is nader aan die ryk van God as wat julle dink. Handel volgens die heilige ordening van God, dan sal julle die ryk van al die lewe binnegaan. Ons was ook soos julle nou is, maar die Heer het ons verhef en ons is nou vir ewig by Hom. Volg ons en ook julle sal nie deur Hom verstoot word nie, want waarlik, in Sy huis is baie wonings!”
[6] Die blou-gryses sê: “Ons was steeds eerlike burgers tydens ons aardse lewe en nou, ontdaan van ons liggaam, as geeste. Ons was almal slegs behep met die swakheid om ander graag as dom te wil hou, natuurlik altyd sonder enige bose bedoeling. Vir sover ons weet, het ons grappe ook nooit skadelike gevolge gehad nie. Sou ons ook maar die minste of geringste skade aangerig het, dan het ons dit sekerlik weer goed gemaak. By sommige redelik verwaande mense het ons geestige woordspelings selfs `n goeie morele uitwerking gehad. Heelwat opgeswelde monde het daardeur hulle oormatige eiewaan kwytgeraak, waardeur hulle naderhand baie aangename en vriendelike mense geword het. Ons wou ook nie so `n eenvoudige mens met ons grappe onteer nie. Dit was ons bedoeling om net `n vrolike grap te maak, daarnaas egter ook om talle van die onnosele stommiteite van baie mense versigtig aan die kaak te stel.
[7] Daarom hoop ons dan ook dat God die Heer, wat in die mensesiel ook `n gevoel van vrolikheid geplant het, nie al te streng met ons sal omgaan nie. Die wyse apostel Paulus het in die Naam van God tog ook gesê dat mens blymoedig met die blymoediges moet wees en moet ween met die wenendes. Was daar dalk eens iemand gewees wat voor ons deur gehuil het, dan het ons geweet om sy trane spoedig op te droog, oftewel deur hom met iets te help, of deur ons steeds opgewekte humeur. Ons vind aan onsself heeltemal niks wat mens met `n goeie gewete kan prys nie, maar ewe min iets wat fundamenteel te veroordeel sou wees.
[8] Ons verwag daarom van God die Regverdige, dan ook geen loon nie, maar tog ook geen ewige verdoemenis nie. Of ons die reg het om so te spreek hier, is natuurlik `n ander saak, maar ondanks die hellepreke van ons priesters, glo ons nog altyd dat God die Heer nie so `n onverbiddelike regter sal wees, as die regters op aarde nie. Hulle oordeel genadeloos volgens die letter van die wet en ken nóg genade nóg medelye. By God sou dit egter na `n volledige herstel van `n sondige siel, tog ietwat genadiger daaraan mag toegaan.”
[9] Robert sê: “Seker, elke oordeel van die Heer is `n weg tot bekering en voltooiing van die gees; slegs die oordeel van mense bring verderf en die dood van die siel teweeg. Volg ons daarom maar na hierdie heuweltop; daar sal julle van die Heer Self hoor hoe seer Sy oordele totaal verskil van die van die mens. Die oordele van die Heer is `n balsem by die genesing van alle wonde wat `n siel ooit toegebring word! Wees daarom onbevrees, want op julle wag `n sagte regter en geen skietlustige troep skutters nie.”
[10] Die blou-gryses sê: “Beste vriende, as dit so is, volg ons julle dadelik onvoorwaardelik, maar ons wil tog ook graag weet wie die twee beeldskone dames is, wat ons met julle saam sien kom het. Hulle praat baie sag met mekaar, maar ons sien dat hulle nog geen woordjie met julle gewissel het nie. Dit kom vir ons ietwat vreemd voor. Miskien is dit wel `n paar hemelse spioene, wat hulle tot taak gestel het om op ons te spioeneer vir die geval daar een of ander onbewaakte woord oor ons lippe sou kom. Dit sou `n uiters onaangename verrassing wees!”
[11] Robert sê: “Wees nie so dwaas om vir beide hierdie wesens angs te hê nie. Dit is ons, ons deur God vir ewig toevertroude vroue en hulle vergesel ons oral op ons weë, wat ons in die Naam van die Heer moet gaan. Van spioenasie kan hier geen sprake wees nie, omdat die Heer tog alwetend, alsiende en alhorend is en ook ons, as Sy bodes, elke gees met wie ons te doene kry, kan deursien Ons weet daardeur baie presies hoe dit met al sy bedoelings, gedagtes, woorde en werke gesteld is, hoewel ons nog lank nie tot die volmaakte geeste behoort nie.
[12] Daaruit kan julle duidelik agterkom dat mens in die ryk van God heeltemal geen verklikkers en geen biegoor nodig het om agter die geheimste gedagtes, wense en dryfvere van geeste te kom nie, ook al is hulle hoe verskillend gesind. As ons sou sien dat julle nie geskik sou wees vir die Godsryk nie, dan sou ons julle ewemin oorreed as die rooi geeste, wat nog groot en bitter lewensbeproewings moet deurstaan, voordat hulle geskik sal wees om in die ryk van God opgeneem te word. Maar omdat ons in julle die bekwaamheid sien, nooi ons julle uit om ons na die Heer te volg, maar ons lê julle egter geen dwang op nie.
[13] Julle kan altyd doen wat julle wil; wil julle met ons saamgaan, dan is dit sonder enige vorm van dwang. Wil julle liewer hier bly, dan staan dit julle ook vry. As julle ons wil volg, moet julle dadelik daartoe besluit, want die tyd begin te dring. Nog hierdie nag moet ons vertrek van hierdie plek; vandaar dat ons nou weinig of heeltemal geen tyd meer het om ons nog langer verniet met julle besig hou nie. Kom daarom dadelik of bly!”
[14] Die blou-gryses sê: “Ons gaan sonder verdere kommentaar met julle saam! Die Heer sal ons genadig en barmhartig wees. Maar daar kom nou net van bo-af `n bode aan; op hom moet ons tog nog wag. Hy het miskien belangrike dinge te meld, want uit sy oë spreek `n sekere erns. Hy nader ons met rasse skrede en sal dadelik by ons wees.” Robert sê: “Ja, op die bode moet ons inderdaad nog wag, want hy sal wel iets baie belangrik vir ons te meld hê!”
[15] Die bode begewe hom nou onder die blou-gryses en sê: “Hou goeie moed, want julle het die weg na die heil gevind! Julle gewade sal ligblou word en julle harte standvastig in die liefde tot God, die Heer en tot julle broeders en susters. Word vry in alles! Doen goed aan iedereen! Niemand is vir julle te gering nie, niemand is te groot nie, want in die Godsryk heers volkome regsgelykheid tussen alle stande en alle nasies. Volg ons daarom sonder angs en draal!
|
|
|
|
|