|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 122
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Moeilike missie van die drie teoloë. Gelykenis van die teleskoop. Reëls vir die missie. Die beste weg
272 Na My woorde verwyder die tweede drietal hulle nou. By hulle groot geselskap aangekom, begin hulle dadelik vasberade en opreg aan hulle gegewe opdrag te werk. Maar oor die algemeen kry hulle `n baie slegte onthaal. Byna almal begin hulle terug te trek en die drie afgesante te verwens.
[2] Slegs baie min sê: “Ja, as ons dit uit Sy eie mond sou verneem het, sou ons ons geloofsoortuiging makliker kon verander het, maar so kom dit alles tog ietwat ketters op ons oor en ons vind dit te gewaag om ons sonder meer by julle aan te sluit. Daar sit weliswaar baie logika in julle uitsprake, dit sien ons baie goed in, maar die geheel is op sigself te min ortodoks en te ondogmaties en kan so nie aan die curie van die pous voorgedra word en nog minder deur hom aanvaar word nie.”
[3] Die drie afgesante sê: “Is ons dan dalk nog op aarde, waar die pous die sigbare hoof van die kerk is en waar hy deur baie blinde dwase, waartoe ook ons destyds behoort het, as sodanig beskou word? Ons lewe nou reeds geruime tyd in die geesteswêreld en ken geen dogma op grond waarvan ons na die liggaamlike dood die pous as die hoof van die Christendom moet beskou nie. Dit is al mooi genoeg dat ons onsself op aarde deur die pous laat oortuig het. Hier is dit gedaan met die pous en ons behoort slegs aan God, die Heer Jesus Christus. Vir Hom sal dit tog wel geoorloof wees om die een en ander vir die geeste te verander en aan die afsonderlike leerstukke `n ander uitleg te gee, omdat gees en materie twee baie verskillende dinge is. Of meen julle dalk werklik dat Christus, die Heer, Hom ook hier in Sy ryk aan die dom verordeninge van `n pous sal onderwerp? Waarlik, met so `n waansinnige opvatting slaan julle die plank tog totaal mis!”
[4] Na hierdie energieke rede begin verskeie hulle goed agter die ore te krap en sê: “By God, julle spreek geen hol klinkende woorde nie! Daar sit iets in, maar wees net geduldig; ons wil eers met ons vroue en vriende oorleg pleeg en sien wat hulle daarop sal sê.” Die drie afgesante sê: “Gaan dan maar weg. As julle meer geleë is aan die raad van julle vrouens en vriende as aan die waarheid van God, dan is julle God ook nie waardig nie en daarom kan julle julle toekomstige heil ook beter by julle vroue en vriende soek, maar van God hoef julle dit nie meer te verwag nie!”
[5] Hulle wat hulle verontskuldig het, sê: “Maar ons vroue, wat ons in die geesteswêreld geneem het, omdat die dom selibaatskap op aarde ons dit belet het, en ons ander vriende is tog ook geroep om die waarheid te verneem en so tot `n lewende geloof te kom. Ons gaan immers nie net na hulle toe om oorleg te pleeg nie, maar veeleer om hulle ook vir die waarheid te wen.”
[6] Die drie afgesante sê: “Dan moet die waarheid eers in julleself wees! As die waarheid egter nog lank nie in julle is nie en julle haar nog nie tot julle eie gemaak het nie, hoe wil julle dan julle slegte vroue en vriende tot die waarheid van God bring? Kyk, elke waarheid lyk soos `n teleskoop wat duisendmaal vergroot. Kyk mens daarmee aan die goeie kant na die sterre, dan sal die sterre groot en helder sigbaar word, en op `n plek waar mens met die blote oog slegs `n enkel sterretjie meen te sien, sal in `n newelvlek miljoene sterre sigbaar word. Kyk mens egter aan die verkeerde kant deur die teleskoop, dan wyk alle sterre in onmeetlike dieptes terug en die oog van die waarnemer sien dan selfs niks meer van die sterre van die eerste grootte nie. Ja, selfs die son, deur die verkeerde kant van die teleskoop bekyk, word `n swak ligpuntjie, sodat haar skynsel nouliks meer te siene is.
[7] As julle egter julle vroue en vriende deur julle eie nog omgekeerde teleskope die hemelse ligte van die waarheid wil laat sien, wat sal hulle dan wel te siene kry? Niemand kan `n waarheid deur julle aanskou nie. Vir julle is dit nog redelik die vraag of die groot lig van die son, wat ooreenkom met die eerste helder begrip van God, inderdaad die son en nie die maan voorstel nie. Hoe is dit dan gesteld met die tallose ander ligte, waarvan julle, deur julle verkeerde manier van kyk, tot nou toe nog geen enkele spoor kon ontdek het nie. Doen maar wat julle wil! Gaan maar! Of julle egter sal terugkom, betwyfel ons ten seerste, want ons weet dat vroue `n groot invloed op julle het.”
[8] Nou begin hulle wat hulle verontskuldig het, nog meer te aarsel en een van hulle sê: “Vriende, hulle praat redelik oortuigend en ek sou hulle met geen woord van repliek kon dien nie. Wat dink julle daarvan as ons hier bly en die drie na ons vroue en vriende laat gaan?” `n Ander sê: “Dan het ons ons vroue vir die laaste keer gesien en gespreek!” Die eerste sê: “Wat maak dit eintlik saak? `n Bietjie minder hel om ons heen kan ons tog vooraf baat. Vir die obsene vermaak wat ons vroue ons bied, kry ons weldra iets anders in die plek daarvan. Ek bly! Wie nog meer?” `n Ander sê: “As jy bly, bly ek ook! Die ander moet maar maak wat hulle wil!”
[9] Die drie afgesante sê: “So is dit goed! Om niemand enige dwang op te lê op die gebied van die geloof nie. Om die korrekte weg en ook die gevare van die verkeerde weg te laat sien. Om egter oor niemand meer bekommerd te wees nie, en maar liewer self op die korrekte pad te bly! Dit is beter om self op die weë van lig en lewe te wandel as om duisende die korrekte weg op te dring, maar self daarby in plasse en moerasse rond te spartel. Wie iets swaar wil optel, moet eers vaste grond onder sy voete hê, anders sak hy weg met sy las. As hy egter vaste grond gevind het, dan mag hy hom slegs aan `n las waag waarvoor sy kragte toereikend is, anders sal hy onder haar beswyk. Wie `n blinde wil lei, moet kan sien, anders sal beide weldra in `n kuil val. Wat mens wil gee, moet mens eers self hê, anders word die gee `n los kletsgepraat en `n leuen. As julle twee dus bly, doen julle goed daaraan, maar julle moet die ander nie oorreed nie.”
[10] Die twee bly nou. Die ander daarenteen gaan weg na hulle vroue en vriende, maar daar kry hulle `n baie slegte onthaal. In die eerste plek word hulle vanweë hulle lang wegbly streng tot verantwoording geroep en beskimp. Vervolgens word hulle so met behendige teenargumente bewerk, dat hulle alles wat hulle van die drie gehoor het, spoedig self begin te betwyfel en te bespot. Sodoende word hulle tweede toestand erger as die eerste.
[11] Twee het die drie egter tot hulle leerlinge gemaak, en die vyf pleeg nou oorleg hoe hulle dit moet aanlê om gunstig op die groot massa in te werk. Die een meen dat wonders wel die beste uitwerking sou hê. `n Tweede meen dat daar `n hoë mate van bekwaamheid vereis word om dit op `n grootse wyse te kan verrig. Bowendien sou daar ook `n nougesette eerlikheid en `n goddelike goeie wil voor nodig wees om die volk van die laer geesteswêreld nie slegs te wil wen deur die sand in die oë te strooi nie, maar slegs deur hulle te onderrig.
[12] Die tweede gaan verder: “Dit is nou die regte ding, wat net vir die Godheid, maar nie vir `n geskape gees moontlik is nie, aangesien elke gees, volgens die welslae van `n buitengewone taak, homself as `n klein godjie begin te beskou en daarin lê die eerste kiem van hoogmoed en verderf. Daardeur ontstaan dan, in plaas van seën, suiwer `n oordeel vir hom wat dit volbring het, en ook vir diegene wat hulle insigte en strewe deur `n wonderwerk moes verander.
[13] Ten slotte is daar vir die geskape gees nog meer nadele verbonde aan elke wonderwerk wat nie deur God Self verrig is nie. Dit bestaan uit `n onversadigbare sensasiesug na buitengewone verskynsels en die begeerte om ook self wonders te kan verrig. Dit is reeds `n prikkel tot verderflike hoogmoed en daarom alles sleg. Vriende, so dink ek daaroor. Dit staan julle egter vry om die saak ook anders uit te lê.”
[14] `n Derde sê: “Broeder, ons deel jou insig daaroor volkome, maar die vraag is nou: Hoe kan ons daarvoor sorg dat al die miljoene mense onder die indruk raak van die suiwer leer van God en haar korrekte toepassing? Waarmee kan ons hulle in beweging kry sodat hulle ons woorde sal glo en ons daarna volg?”
[15] `n Vierde sê: “Ek is van mening dat ons gewoon in woord en daad by die suiwer waarheid moet bly. Wie hulle daarvolgens wil rig, sal goed daaraan doen, maar met diegene wat die woord nie aanneem nie, het ons verder niks meer te maak nie. Die Heer van die ewigheid moet dan maar met hom doen wat Sy almagtige wil goed vind.
[16] Die vyfde sê: “Ons loon word egter afgemeet volgens die resultaat van ons inspanning. Is dit gering, dan sal ook ons loon geen millimeter groter uitval nie!” Die vierde sê: “Hé, wat kan die loon my skeel! Ek wil die goeie terwille van die goeie doen en nooit terwille van `n beloning nie! Het dit een of ander beloning tot gevolg, dan sal ek haar dankbaar aanneem, maar dit sal my nooit dien as beweegrede tot `n edele handeling nie.”
[17] Die ander vier sê nou: “Dit is baie edel gespreek. Van nou af aan wil ons dan ook almal so handel.” Die vyfde sê: “Maar onthou goed, sonder om onsself iets daarby te wil inbeeld!”
[18] Die ander vier sê: “Ons doen wat goed en korrek is, omdat God dit Self so wil. Al die ander gaan ons niks aan nie!”
[19] Na hierdie uitlating kom daar so `n dertig nader wat wil hoor welke goeie dienste hierdie vyf dan wel belangeloos aan hulle vriende wil bewys.
|
|
|
|
|