Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 74

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Magtelose woede van die roomse. Hul onbarmhartigheid, hebsug en bedrieërye. Donderwoorde van die “ketterse keiser”

224 Nou gaan ook die luidkeels uitgelagte, nog voor ons staande j-a-skreeuend agteruit. Almal maak `n diep buiging voor hom en sê: “Allerhoogwaardigste apostoliese nuntius (pouslike gesant) van die heilige vader uit Rome! Hoe kan u nog talm met hierdie ketters? Vervloek hulle en stuur almal sonder genade of erbarming die hel in!”

[2] Die sodanige skreeuer sê met `n aaklig krysende stem: “Dit het ek tog al gedoen, maar die duiwels is ontsettend hardnekkig en wil nie doen wat ek hulle gebied nie en lag my bowendien nog lekker uit ook! Ook vir ons bliksem en donder, netsoos vir ons hel, is hulle nie bang nie, maar hulle bekyk hierdie vreeslike dinge so onverskillig asof dit heeltemal niks besonders is nie! O, dit is harde en onverbeterlike duiwels! ...

[3] Een van ons het hom ook nog weg gevis! O jou arme domkop, nou is jy vir ewig verlore! Ook al verset julle julleself nou nog `n tyd lank, mettertyd sal julle tog sonder genade saam met julle geselle vir ewig die hel moet ingaan! Ja, daarin moet julle almal; daar is geen genade en erbarming meer nie!”

[4] Nou tree keiser Josef na vore en sê: “Luister, redelike eer­waarde here! Sou dit dan nie voldoende wees om ons slegs vir enkele aardsdae in die vagevuur te werp nie? Want kyk, om ons dadelik verdoemend na die hel, waar mens ewig nie meer blyk uit te kom nie, is tog wel ietwat al te hard van u. Betoon daarom genade en erbarming met ons! Bedink tog hoe die helse vuur `n arme duiwel onbeskryflike pyne gaan besorg! Dit gaan met `n arme siel in die vagevuur weliswaar ook nie goed nie, maar van daaruit is daar tog nog hoop op verlossing; uit die hel egter nooit meer nie. Betoon daarom erbarming aan ons en bevry ons van die hel!”

[5] Daarop roep almal: “Geen sprake daarvan nie, julle vervloektes! In die onderste hel met julle, waar die diamant van suiwer hitte smelt. By ons is daar geen erbarming vir duiwels nie. Ons sal julle goed leer wat dit beteken om die heilige Roomse, alleen saligmakende kerk uit te lag! Daarom, daarin met julle almal!” Josef sê: “Maar as ons tienduisend allerkragtigste sogenaamde honderd-dukate misse sou betaal, is daar dan ook geen moont­likheid om van die hel bevry te word nie?” Almal roep: “Dit is veels te min om van die hel bevry te word! As julle tien keer soveel pousmisse laat lees, kan daar miskien nog iets gereël word, want ons weet wat dit beteken om `n duiwel uit die hel te verlos!”

[6] Josef sê: “Wat sou ons dan intussen moet doen, voordat sulke misse gelees kan word, - dalk hier bly?” Almal roep weer: “Dom duiwel, as julle daar bly, hoe kan ons julle dan uit die hel verlos? As julle van die hel verlos wil word, moet julle eers daarin wees! Betaal dus eers die honderdduisend kragtigste pousmisse en gaan dan vinnig die hel in, anders kan julle nie verlos word nie!”

[7] Josef sê: “Maar hoe lank sal dit dan duur voordat die honderd­duisend misse gelees sal wees?” Alle priesters roep: “Van sulke allerheiligste misse kan daar maar drie per jaar, en wel deur die heilige vader self, gelees word. Slegs hy alleen het die reg en die mag daartoe. Reken nou maar self uit, hoe lank dit kan duur! Daar is geen sprake van minder as dertigduisend jaar nie. Die hel is en bly hel en wie eenmaal daarin sit, kom nie weer maklik daaruit nie!”  

[8] Josef sê: “Wel, nou weet ek tenminste duidelik hoe dit met julle gesteld is. Ek sou slegs nog wil weet waarom nou juis die drie pousmisse so `n enorme krag besit? Mens moet tog glo dat, wat die waardigheid en die waarde van `n misoffer betref, die een mis netso goed is soos die ander.” Die vooraf genoemde balkende priester sê nou: “Dit is so: Na die mislees deur die ander gees­telikes, offer hulle slegs die God-Seun op voor Sy hemelse God-Vader, ten behoewe van die arme siele in die vagevuur en boetvaardige sondaars op aarde. By die pousmis tree die hele allerheiligste egter drievuldig op in die wyding! En daarin lê die enorme krag van `n pousmis, waarby slegs die aartsengele as misdienaars mag dien wanneer hulle deur die allersaligste maagd Maria vir hierdie taak uitverkies word! So is dit! Het meneer die keiser my begryp?”

[9] Josef sê: “Nog nie heeltemal nie. Daarom sou ek ook nog wil weet waarom `n pous nie meer as drie misse mag lees, waarby hy eintlik nie self die mis lees nie, maar slegs aan `n kardinaal of `n tot kardinaal verhewe aartsbiskop assistensie verleen vir die lees van die mis.” Die nuntius (pouslike gesant) sê: “Wat se vervloekte ketterse vraag is dit! Knoop dit goed in u ore, meneer die keiser: Die pous kan nie meer as drie misse lees nie, omdat die heiligste drievuldigheid daardeur vir alle tye op aarde in die alleen saligmakende kerk lewend voorgestel word. Dat die pous egter die heilige drievuldigheidsmis nie self lees nie, maar dit daarby pontifiseer en assisteer, kom omdat hy die plekbekleër van Jesus, die Christus op aarde is, wat iedereen dien, maar homself nie mag laat bedien nie. Nou sal u dit tog goed kan begryp?”

[10] Josef sê: “Ja, nou is dit vir my duidelik en weet ek presies wat ek van die pousdom moet dink!” Die nuntius (gesant) sê: “Wel, wat dink u dan van die pous?” Josef sê: “Niks anders nie as dat hy die volmaakte Antichris is en dat julle almal sy trouste helpers is, want as julle ware Christene was, sou julle Christus, die Heer, wat hier langs my staan, verseker dadelik herken het. Maar omdat julle volslae anti-christene is, verdoem julle ons saam met Christus die hel in, terwyl julle julleself reeds lankal daarin met huid en haar bevind.

[11] O, julle ellendige skurke! Julle Christus, wat julle eer en begeer, heet goud en silwer, maar van die ware Christus, wat vir alle mense bloeiend aan die kruis Sy goddelike arms uitgestrek het, al Sy vyande vergewe en die ewige Vader in Homself om vergewing vir hulle gevra het, het julle `n afkeer gekry. En wel dusdanig, dat julle, wat julleself brutaalweg Sy dienare noem, en elkeen wat Hom en nie julle aanhang nie, sonder kwytskelding vermoor het en ten slotte ook nog na die onderste hel verdoem! O julle slang- en addergebroedsel, welke duiwel het julle wel verwek? Waarlik, as die Heer nie so eindeloos baie geduld, sagmoedigheid en liefde gehad het nie, welke hel sou dan gruwelik genoeg wees om julle op te neem!

[12] Ek wil en mag nie oor julle oordeel nie; mag die Heer julle behandel volgens julle skandalige verdienste! Sou ek oor julle moet regspreek, werklik, ek sê dit hier, hardop voor die aangesig van God: Ek sou julle `n tugtiging oplê wat die hele oneindigheid sou verbaas! O Heer, by U almagtige Naam, U ken my, ek het altyd alle geduld en begrip vir die swakhede van die aan my ondergeskikte broeders gehandhaaf, maar ek huiwer oor die gebroedsel uit die hel en al my geduld en begrip is ten einde!

[13] Reeds op aarde, waar hierdie verskeurende weerwolwe hulle soos skape vermom het en slegs in die geheim hulle skandalige praktyke bedryf het, het ek hulle leer ken in `n hoedanigheid, wat volkome ooreenkom met die onderste hel. Op aarde was daar na `n teregwysing tog by menige priester nog iets menslik te vind en mens het dan ook geduld gehad met hom, maar hier toon die gebroedsel hom in sy ware gedaante en is afskuwelik om te aanskou en aan te hoor. Heer, U wil geskied, my geduld is op!”

[14] Ek sê: “Broeder, wees rustig en vererg jou nie, want kyk, alles moet so geskied, anders sou Daniël en Jesaja immers leuenaars gewees het. Hulle het oor hulle geprofeteer en hulle profesieë moet vervul word! Mettertyd sal jy insien, waarom dit alles so moes geskied en geskied het, maar let nou verder op, want daar sal weldra `n ander skouspel afspeel, waarvan jy baie sal leer! Jy mag jou voortaan nie vererg nie.”

[15] Na die bogenoemde energieke toespraak van Josef het alle priesters hulle in hulle hoeke teruggetrek om oorleg te pleeg welke wraakaksie hulle teen ons kan onderneem vir die onreg wat ons hulle aangedoen het en hoe hulle ons daadwerklik in hulle veronderstelde hel kan instop.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205