|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 137
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Die drie keisers ontvang hulle rykswaardigheidstekens. Hulle betekenis. Groot bestemming van die burgers van die hoogste hemel
287 Onmiddellik word vir die keiserlike waardigheidstekens aangedra. Op rooistralende kussings word die drie aangebied, sodat hulle die sal aanneem as teken van verheerliking van dit waartoe hulle op aarde geroep was. Maar ook die keisers weier beslis om in My huis en aan My sy waardigheidstekens te dra, omdat Ek tog die Koning van die konings en as volmaakte Heer van die heerlikhede, nóg kroon, nóg septer en nóg minder swaard en purper dra.
[2] Ek sê egter vir hulle: “My liewe vriende, van `n voortdurende dra van hierdie tekens is immers geen sprake nie; maar julle moet hulle tog aanneem en besit. Daar is redelik uiteenlopende lewensomstandighede en opdragte hier, dikwels die skitterendste besoeke uit die tydlose wêreldgebiede en baie missies na verskillende wêrelde en sonne. Eweneens na die twee onmeetlike laer hemele en veral na hulle tydlose gemeenskappe, asook sendings na die tydlose geestesgebiede van wêrelde in alle soorte en mates. Vir sulke geleenthede moet die aartsengele wat van hier uitgestuur word, van waardigheidstekens voorsien wees en dit dra as duidelike bewys, dat hulle self die magtigste oorwinning oor hulleself behaal het en nou met My heer is oor die hele oneindigheid.
[3] By missies op aarde, waar My kinders opgevoed moet word, is dit uiteraard nie nodig nie. Hulle moet naamlik in die grootste moontlike eenvoud opgevoed word; daarom mag hulle van hieruit nie deur prag en praal uit hulle tog al moeisaam te bewaarde deemoed gewek word nie. Heel anders lê dit by geeste, wat bewoners is van groot middelsonne en reeds te midde van die grootste lig en die hoogste glorie gebore word en in wonings lewe, waarby alles wat julle selfs hier sien, lyk soos `n armoedige hut. Daar moet mens dan ook, as dit nodig is, met die grootste prag en die hoogste glorie optree.
[4] En kyk, by sulke dikwels voorkomende geleenthede, het julle dan sulke waardigheidstekens nodig, waardeur julle die betreffende geeste laat weet, dat julle vorste uit die hoogste hemele en as die ware broeders van die allerhoogste Godsgees is. Onder julle voetstappe moet songebiede bewe en die stem uit julle mond moet klink soos die donder van so `n onweer, wat op die sonwêrelde die vlammende gemoedere van hulle magtige bewoners die diepste respek bly inboesem. Julle sal nou goed begryp waarom sulke tekens hier aan julle oorhandig word.
[5] Die kroon is `n teken dat julle, wat betref julle siel, wat julle gelouterde liggaam is, My kinders is - en wat betref julle gees, wat voortkom uit My hart en My “Ek” in julle is, My broeders is. Die septer gee aan dat julle, omdat julle My “Ek” in julle dra, en vir ewig saam met My gelyke regeerders van die oneindigheid is. Die swaard is egter `n teken van die mag en die gesag wat aan julle deur My vir altyd verleen is. Die purper ten slotte getuig daarvan dat julle uiterlike netsoos julle innerlike suiwer liefde is, en dat julle, netsoos Ek, oral slegs deur die mag van die liefde alles wil reël en beheers. Daarom kan julle hierdie waardigheidstekens nou sonder enige bedenkings aanvaar.”
[6] Rudolf sê: “O Heer en Vader vol goedheid, liefde en erbarming! Ons drie is nou so vol ontsag dat ons U ewig nooit genoeg kan dank nie. Maar die res van my aardse kinders, hoewel opgeneem in hierdie hoogste hemel, is tog buite hierdie stad geplaas en kan onmoontlik netso gelukkig wees soos ons. Sou dit nie moontlik wees dat ook hulle hierheen mag kom en aan ons gelykgestel word nie?”
[7] Ek sê: “My broeder, jou besorgdheid kom ietwat te laat. Kyk maar net agtertoe na die deur waardeur ons binnegekom het en jy sal hulle almal sien, bekleed met dieselfde onderskeidingstekens! Vol verrukking kom hulle My daarvoor dank. Tussen hulle en julle drie bestaan slegs die verskil, dat hulle hierdie tekens ietwat voor julle in hulle majestueuse wonings gekry het. Vandaar dat hulle dit ook reeds dra, terwyl julle dit nog nie aangeneem het nie. Hoe geval dit julle?” Rudolf sê: “O Heer en Vader, ek vind geen woorde om my dank aan U uit te druk nie! Hulle het dus ook dieselfde bestemming as ons?”
[8] Ek sê: “Vanselfsprekend! Alle bewoners van My allerhoogste hemel het dieselfde allerhoogste bestemming. Wel het hulle wat in My naaste omgewing, en wat in My eie huis woon, die meeste te doen, soos ook die lewensenuwee van `n mens, wat die naaste aan die hart lê, voortdurend die mees aktiefste moet wees.”
[9] Rudolf en alle ander dank My nou uit die diepste van hulle hart. Dan roep Ek vir Robert en sê vir hom: “Liewe broeder, gaan saam met die drie broeders, Petrus, Paulus en Johannes, wat die vaste gebruike van die huis reeds ken, en maak `n goeie tafel gereed! Jy begryp goed wat Ek bedoel! Maar neem die grootste, want ons sal redelik baie wees.”
|
|
|
|
|