Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 54

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Goeie antwoord van iemand uit die skare. Paulus se laaste rede vir die hardnekkiges. Die vrolike Wener en die onbehoue Tiroler. Almal trek verder

204 Iemand uit die geselskap van honderd en dertien sê: “Hierdie rede was belangrik en het menige lewensgeheime vir my openbaar. Dit is asof diegene wat aan die wet hang, ook hang aan die galg van die wetsgees. Sonde, netsoos die straf daarna, is niks anders as kinders van die wet nie. Hoe meer wette daar is, soveel te meer oortredings en strawwe is daar ook. Die wet is vir die aardse mens weliswaar nodig, maar is ook ewe goed steeds `n kwaad en `n vloek in die samelewing.

[2] As die mense was, soos wat waaragtige mense moes gewees het, dan sou hulle sekerlik geen wette nodig gehad het nie en sou hulle hoog bó elke wet gestaan het. Omdat die mense egter dikwels eerder diere van die kwaadaardigste soort is, as mense, moet daar vanselfsprekend ook verwante wette wees, waardeur die wilde hartstogte van die mensdom beteuel moet word. Wat sou `n groot menslike samelewing sonder wetlike orde wees? Daarom moet daar wel wette wees, sodat die een kwaad die ander kan bestry, maar desondanks kan mense hulle tog die beste `n wyse samelewing van mense voorstel, wat geen wette nodig het nie en daardeur ook volkome vry en gelukkig moet wees. Dit alles sien ons baie goed in, sodat ons Paulus maar net gelyk kan gee! 

[3] Hoe kan `n mens, ook al is hy hoe wys, hom egter bo die wet plaas, of dit nou `n natuurlike, `n morele of `n politieke wet is? Hou mens hom aan die wet, dan is mens kennelik `n slaaf van die wet. Plaas mens hom bo die wet, dan word mens voor die gereg gesleep, waar mens die vloek van die wet toebedeel kry. Maak mens egter die wet in `n sekere sin tot tweede lewensnatuur en beleef mens letterlik genoegdoening aan haar, soos `n beul aan die teregstelling van `n arme sondaar, dan het mens daardeur vir homself tot lewende wet geword. En omdat die wet self vir die mens `n vloek is, moet `n mens, wat hom met die wet vereenselwig het, dan ook die hardnekkigste vloek wees. Werklik, hier moet jy wel sê: Heer, wie sal hom ooit van die wet kan bevry?!

[4] Ons is uit suiwer “sal” en “moet” saamgestel. Die moet is egter van die duiwels en die sal is nie baie beter nie. Wat eenmaal moet gebeur volgens die wil van `n almagtige Godheid, is al geoordeel; wat egter, oorgelaat aan die menslike vrye wil, sal geskied, is weliswaar nog nie geoordeel nie, maar bevind hom in voortdurende afwagting van `n oordeel.

[5] Nou dan vra ek jou, vriend: Wat sal ons doen? Hierdie man met die apostelnaam, of vir my part die apostel self, het ons hierdie geskiedenis helder en duidelik uiteengesit. Volg ons hom? Na die hel, wat sekerlik nêrens bestaan nie, sal hy ons nie bring nie en ook nie voor `n regbank nie! Daarom kan ons hom wel buitentoe volg. Daar sal dit dan wel blyk wat hy eintlik van plan is om met ons te doen.”

[6] Die ander sê: “Ja, ja, as ons werklik al in die liewe ewigheid is, sou dit dom van ons wees as ons `n Paulus nie wil volg nie! Geval dit ons nie buite nie, dan kan ons tog altyd weer omkeer, want gedwing word, kan ons buite netso min as hier.”

[7] Paulus, wat hom ondertussen stil gehou het, sê nou weer: “Netso vry as wat julle hier is, sal julle wees in die opvolg van my leer en my goeie raad! Beste broeders in God die Heer, wat verloor julle eintlik as julle hierdie kamer verlaat? Niks anders nie as die ydele wag op enkele wulpse skimbeelde wat julle blinde, verhitte verbeelding julle voorskilder, maar wat in werklikheid vir julle nêrens te vinde is nie. Wat is `n ydele fantasiebeeld vergeleke met die waarheid? Ek wil julle egter, in plaas van die weersinwekkende leegte, die volste waarheid gee! Wat kan julle daarna dan nog daarvan afhou om my te volg na die heilige sfere van lig, waarheid en lewe, wat die liefde is in God, wat die Christus is, die Ewige, die Waaragtige! 

[8] Julle is nou al geruime tyd hier sonder `n stoflike liggaam, in `n sfeer van ingebeelde verwagting, maar welke resultate het dit julle opgelewer? Geen enkele nie, behalwe dat daar so nou en dan, vir enkele oomblikke, `n wasige beeld van `n vroulike wese aan julle verskyn het, wat daarna weer in die niet verdwyn het. Dit is die enigste saligmakende waarop julle kan buig; nie eens op `n slegte wyn en `n hap brood nie. Om kort te wees, julle het nog nêrens van iets geniet nie! Tog wou julle aanvanklik niks hoor oor die verlaat van hierdie leë plek, wat vir niks en niemand voor goed is nie. 

[9] Gelukkig vir julle, dat julle nou die besluit geneem het om my te volg, want nou eers sal julle daar kom, waar die oerwaarheid en die oerwerklikheid van elke wese en bestaan sy tehuis het. In die wêreld is alles leuens en bedrog. Julle besit, wetenskap, kunste en skatte, selfs julle lewe... dit was niks anders as leuens en bedrog nie! Sou die materiële wêreld iets beters gewees het, dan sou dit bestendig moes gewees het, soos die waarheid self vir ewig bestendig bly! Maar wat bly in die wêreld bestendig? Ek sê vir julle: Nie eers God se Woord nie, want ook dit word deur die leuen van die wêreld vertroebel en dan verdraai tot alles wat dom, verkeerd en sleg is. Daarom is dit versluier vir die mens gegee, sodat die heilige inhoud daarvan, nie verontreinig kan word nie. Die wêreld is niks anders nie as `n veroordeelde leuen vir `n bepaalde proeftyd. As dit vir die mens ophou, begin eers die Godsryk van die ewige waarheid! Maak nou dus ook in julleself `n einde aan die wêreld, sodat die Godsryk hom dan in julle kan manifesteer! Volg julle almal dus nou vir my!”  

[10] lemand, wat van nature `n gevoel vir humor het, sê: “Adieu dan, jou stil huis; ek is bly dat ek verhuis! O liefste gebou, hoe dikwels het ons in jou honger, dors en geldgebrek gely! Hoe dikwels was ons van ontroering tot trane toe beweeg binne jou vier mure, waarvan die beskeie vensters met hulle redelike klein vuil ruitjies die lig maar baie skaars laat binneval het. Vriende, dat ons na die verlies van hierdie huis, maar net enorm daarop kan vooruitgaan, sal vir elkeen van julle hopelik duidelik wees!

[11] Die grappigste van die hele geval bly egter, dat ons al almal ons aardse liggame afgelê het en maar net siele is met velle, hare en boude. Maar ook as siele moet ons honger en baie dors voel, ons besit egter weinig om dit te stil! Daar kom dit miskien vandaan dat mens op aarde dikwels sê: Dit is `n arme, hongerige en dorstige siel! Ja, ja, daar gaan tog niks bo `n ellendige lewe in Wenen nie! Laat ons bly wees dat ons nie meer op aarde lewe nie! O Wenen, waarop het jou onsin uitgedraai?

[12] Kyk, kyk, tydens my gepraat het ons almal op straat beland! Hoe was dit nou moontlik? Ek kan my nie herinner dat ek ook maar `n voet versit het nie!”

[13] Sy buurman, nogal `n lomp kêrel, sê: “Hoe kan jy so dom wees? Sien jy dan nie dat dit gewoon towery is nie, God bewaar ons!” Die humoris sê: “As `n Tiroler* nou maar net nooit sy mond oopmaak nie! As `n Tiroler begin te praat, bewe die hele aarde van domheid!” Die Tiroler sê: “Hou op om my te beskimp, anders gee ek jou een daar op jou gesig, dat die rooi sop daarvan afdrup!” *(Iemand wat van die Alpegebied in Oostenryk en Noordoos-Italië kom)

[14] Die humoris sê: “O jou dom Tiroolse kêrel! Sien jy dan nie dat ons nou geeste is nie, wat slegs nog `n wil en verstand, maar geen liggaam meer het nie? Petrus, berg jou swaard, hier is dit niks meer werd nie! Wie met die swaard omgaan, sal deur die swaard omkom! Dit staan geskrywe in die Heilige Skrif; het jy dit ooit gelees?” Die Tiroler sê: “Hoe kon ek dit lees; ek het tog nooit skoolgegaan nie. Maar ek weet goed, dat ek van die Heilige Skrif meer weet as jy!”

[15] Die humoris sê: “Nou, word maar nie so massief soos die berge van jou land nie! Kyk liewer eens daarheen, waar ons Paulus vriendelik spreek met `n liewe, eenvoudige man wat hom baie verheug die hand druk! En kyk dan verder na regs: `n Meisie soos wat daar geen tweede bestaan nie! Nou, dit is egter een uit `n duisend!" Nou, laat ons ietwat nader daarheen gaan? My hemel, dit is vir my beter as die Oostenrykse staatskuld! Wat dink jy, pokkerige Tiroler?” Die Tiroler sê: “Jy is nog steeds `n dom stommerik! Sien jy dan nie, dat so-iets nie vir ons weggelê is nie? Laat ons maar bly waar ons is, dit is baie beter vir ons.”  

[16] Die humoris sê: “Sien jy!, jy het net geen liefde nie, anders sou jy wel daarheen gaan! Ja, ja, die moed ontbreek jou nogal! Maar ek sal gaan en sal my dank aan die goeie Paulus betuig, omdat hy ons, vir ons eie welsyn, na buite gebring het! Ons is weliswaar nog steeds in ons geliefde Wenen, maar dan tenminste wel in een van die besigste strate, waar dit steeds baie lewendig gaan, en dit is al `n enorme voordeel.” Die Tiroler sê: “Sien jy wat se minlike vent is jy? Dink jy dalk dat ek jou nie ken nie? Jy staar jou blind teen die vroutjie, daarom wil jy daarheen gaan, maar verseker nie om vir Paulus te bedank nie! Maak nou maar dat jy wegkom, anders sal jy gou sien of Tirolers liefhet of nie! Verstaan jy?”  

[17] Die humoris sê vir `n ander buurman: “Vriend, het jy sin om saam met my te gaan om Paulus daarvoor te bedank, dat hy ons uit hierdie gevangenis bevry het? Want met hierdie stoere Tiroler kan jy niks doen nie. Dus, as jy niks daarteen het nie, kom dan saam!” Die aangesprokene sê: “Ek gaan ook nie, want jy het my ook beledig, omdat ek ook `n Tiroler is, hoewel ietwat meer ontwikkeld as die ander een. Julle Weners is niks anders as gewone stinkendes nie, en dit is vir `n eerlike man geen eer om julle in die familie te hê nie!”

[18] Die humoris sê: “O ja, o ja, nou het ek iets begin! Tussen twee vure van die swaarste kaliber! Nou word dit tog hoog tyd vir my om te maak dat ek wegkom, anders breek daar nog `n egte Tiroler onweer bo my kop los!”

[19] Hierop verlaat die humoris sy hooggebergte geselskap, begewe hom vinnig na Paulus en sê: “Seer gewaardeerde vriend, jy het ons almal `n groot weldaad bewys, maar dit het nog by niemand opgekom om jou hier buite daarvoor te bedank dat jy ons deur die waarheid van jou rede uit ons ware gevangenis bevry het nie. Ek was daarom dan die eerste om so vry te voel om jou, as ons redelik gewaardeerde vriend, hiermee my diepste en warmste dank aan te bied!”

[20] Met `n glimlaggie sê Paulus: “Aardig van jou, jy moes egter hier ook net die belangrikste rede aangegee het. Kyk, die growwe Tiroler het gelyk gehad toe hy vir jou gesê het: “Nie teen Paulus nie, maar teen die vroutjie, staar jy jou blind!” Sê dus in die vervolg slegs wat waar is, want hier by ons is dit vir geen enkele siel moontlik om hom anders voor te doen as wat sy is nie! Gaan nou egter ook na die vroutjie toe en gee haar `n kompliment! Maar vergeet nie dat sy al die vrou is van `n man, en wel van hom wat langs haar staan!”

[21] Die humoris sê: “Beste vriend, ek dank jou vir hierdie les, dit is volkome waar. Maar dat ek hierdie sjarmante dame nou dadelik `n kompliment moet gee, terwyl sy met haar eggenoot in gesprek is, sou tog ietwat ongepas wees! Hoe meer ek haar egter bekyk, soveel bekender kom haar gesig vir my voor, netsoos syne. Hy vertoon `n buitengewone gelykenis met die berugte... hm, juis nou skiet die naam my nie te binne nie! Om kort te wees, hy lyk soos `n vooraanstaande demokraat wat ek enkele jare gelede dikwels in Wenen gesien het.”

[22] Paulus sê: “Dit is voorlopig onbelangrik. Ons het nou baie belangriker dinge te doen as om oor `n paar name te sit en baklei. Ek sal jou nou egter ander raad gee. Volg dit op en dit sal jou nie skaad nie! Val nou voor my hoogste en allerbeste vriend op jou knieë en sê: “O Heer, wees my arme sondaar genadig en barmhartig! Neem my as `n redelik verlore skaap op in U groot genade en laat my die uitstroming van U liefde en erbarming geniet!” Sê dit egter met alle warmte van jou hart, dan sal jy heil daardeur ondervind!”

[23] Die humoris sê: “Vriend, jy verlang baie van my! Bedink net hoe al my bekendes my vir `n groot sukkelaar sal aansien! As iemand my dan sal vra: “Wie is hy dan, voor wie jy, as voor die allerheiligste altaarsakrament na die konsekrasie, op jou knieë geval het asof hy Onse Liewe Heer was?” Wat moet ek dan as antwoord gee?” Paulus sê: “Niks anders nie as: “Doen jy ook dieselfde, dit sal vir jou beter wees as om so ydel te vra, want Hy, voor wie ek neerval, is Jesus, die Christus, die Heer oor alle hemele en wêrelde!” 

[24] Nou val ons humoris op die grond en sê luid laggend: “Nee, dit is te veel van die goeie! Jy is, oftewel so nou en dan `n dwaas, of jy het plesier daarin om ons almal daarvoor te hou en jou te vermaak met ons swakheid! Dit is voldoende dat ons jou onder die naam van die ou, beroemde apostel vereer het, omdat jy vir ons, deur jou les, werklik `n ware apostel was. Dat jou vriend egter, wat daar nou eenvoudiger uitsien as jy, sonder meer Christus, die Heer sou wees en die twee ander hoogs waarskynlik ook `n paar apostels en die dame miskien wel die allersaligste maagd met die heilige Josef, dit gaan alle perke te bowe!

[25] Vriend, ek sê jou nou in alle erns: “Kom nie na ons toe met dergelike grappe nie, want dit sal jou verdraaid sleg laat uitkom! Want weet goed, my anders hooggewaardeerde vriend, wat ek, hoewel ek geen fariseër is van Rooms-Katolieke snit nie, tog `n ware vereerder is van Christus en sy onbetwisbare goddelikheid volledig bely. Om hierdie rede is Hy vir my baie hoogs verhewe en te heilig as wat ek Hom hier, in die gewone straatvuilheid van Wenen, na benede sou wil trek! Glo my: Hoewel ek in menige opsig, veral op die gebied van die skone geslag, geen monnik, geen Plato en geen Sokrates is nie, is ek nietemin `n groot vriend, vereerder en aanbidder van Christus. Daarom versoek ek jou wel om met hierdie Naam van alle name ietwat behoedsamer om te gaan!”

[26] Die sewe, wat hulle eerste by Paulus aangesluit het, sê nou ook: “Ja, Pepi het gelyk! Vir Christus, die Heer moet mens meer ontsag hê, en dit is nie mooi van ons andersins agtenswaardige vriend dat hy die Godseun wil verneder tot `n baie gewone mens nie!” Paulus sê: “Wees maar rustig, dit sal spoedig wel blyk of ek gelyk het of nie. Laat ons nou verder gaan, want hier is ons al heeltemal klaar. Die Heer gaan op die weg en dus gaan ons ook!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205