|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 92
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Vervolg van Mathilde se lewensgeskiedenis. Onthullings van die treurigste soort
242 Mathilde sê by haarself: “Dit is heeltemal die woorde van my hemelse leraar: “By God is alle dinge moontlik!”; dit was sy voorstel. Vervolgens die heerlike sin: “God bo alles liefhê is volmaakte wysheid en dus die hoogste saligheid!”; dit is wederom heeltemal van my leraar! Hy lyk ook taamlik baie soos hy, hy kom my net ietwat te jonk voor. So moes hy gelyk het toe hy ongeveer twintig jaar oud was. Ek wed alles dat dit hy is. Stil nou maar, my arme hart, jy mag hom dit nie laat merk nie! Volg sy goddelike les maar op, dan sal jy sekerlik die goue vrug oes! O God, dit kan net hy wees! Slegs in sy suiwer hart kon sulke lesse opkom en vinnig uitryp tot die geseënde daad!”
[2] Die offisier, wat hierdie woorde ook in homself hoor, sê vir homself: “O, wat `n pragtige gees in hierdie tog so vreeslike siel! As ek maar net kon agterkom waarom dit so is. Hoe kan so `n pragtige gees sy siel tog so verwaarloos het? Mens sou tog dink dat `n suiwer hart vol liefde, waarheid, verdraagsaamheid en deemoed al voldoende was vir die volledige voltooiing van die siel. Maar dit is hier oënskynlik gladnie die geval nie. Eienaardig! Daar moes naderhand iets met haar gebeur het, anders kan ek hierdie toestand onmoontlik verklaar. As ek tog daaraan terugdink, hoe die wese as meisie op aarde tog so `n gevulde en weelderige liggaam gehad het! En hier, o God, is sy `n toonbeeld van die grootste ellende en die grootste gebrek. Skamele vodde bedek haar skeletagtige uiterlike en verberg haar skaamdele amper. My God, wees die arme wese tog genadig en barmhartig!”
[3] Na hierdie woorde wend die offisier hom weer vriendelik tot Mathilde en sê: “Luister net, liewe vriendin, wil jy my nie vertroulik vertel hoe dit eintlik gebeur het dat jy jou siel tog so kommerwekkend geraak het? Ek herinner my dat ek jou in die bloei van jou aardse lewe hier in Wenen êrens gesien het. Toe was jy `n toonbeeld van vroulike volheid en weelde, en nou...! As jy nie te veel verneder voel daaroor nie, vertel my dan waarom jou siel, ondanks die besit van so `n pragtige gees, tog so verskrompel is!”
[4] Mathilde sê: “Edele vriend, u blyk baie medelye met my te hê. Ek het beslis geen rede meer om my hier in hierdie geesteswêreld, waar van die dakke verkondig word hoe iemand op aarde in die vlees geleef het, in een of ander opsig beter voor te doen as wat ek is nie. Dit is waar dat my gees daar een was en is, wat werklik nie tot die slegste behoort het nie, maar aan hierdie gees was helaas `n te weelderige vleesmassa gegee, wat namate dit ontwikkel het, ook steeds sinliker geword het! My stand het my nie veroorloof om my liggaam op die natuurlike manier te bevredig nie, waarop meisies van ligte sedes dit wel doen nie. Ek het, ten dele deur die verderflike omgang met meisies van my stand, en ten dele deur my redelik sinlik geworde natuur, `n manier gevind om my kunsmatig te bevredig. Dit het my egter sodanig geskaad, dat ek in `n kort tydjie die sogenaamde bleeksug gekry het. Die een dokter na die ander word gekry en gekonsulteer. Dit reën resepte en medisyne, waardeur my natuur nog opgewondener word as wat dit alreeds was, sodat ek myself steeds meer dikwels kunsmatig moes bevredig om nie wanhopig te raak nie.
[5] Twee keer het ek op die punt gestaan om my lewe te neem. Al op my sewentiende jaar het my liggaam so `n graad van sinlikheid bereik, dat ek, gedrewe deur `n onbeskryflike wellus, my liggaam wel met `n mes wou bewerk het. As ek nie op advies van `n verstandige dokter nog dieselfde jaar getroud was nie, sou mense my sekerlik die jaar daarna as `n verminkte lyk gevind het.
[6] Dit is merkwaardig! My gees het daarby steeds helder en vol van die beste voornemens gebly, maar was helaas nie sterk genoeg om weerstand te bied teen die storms van die liggaam nie. Ek het dikwels soos `n kind gehuil oor my onnatuurlikheid, maar dit het alles niks gehelp nie; ek moes `n man gehad het, anders sou daar geen rus in my liggaam kom nie. Gelukkig kry ek `n redelike sinlike man gehad. Hy het weliswaar my liggaam genees, deurdat hy my die eerste jaar reeds swanger gemaak het en die laaste oorgeblewe vrug uit my ontaarde liggaam gehaal, maar het `n kort tydjie daarna gesterf.
[7] Ek het daarna weliswaar ietwat soberder geword en begin ook weer baie goed te lyk, maar in my siel het ek tog voortdurend `n onbehaaglike, sieklike gevoel gehad, wat homself geuiter het in `n sekere weersin, ten opsigte van al die mooi, goeie en ware. Ek het baie uitgegaan na teaters en konserte, die somers van die een badplek na die ander gereis en in die winter `n kring van geesryke dames en here om my heen versamel. Alles tevergeefs; die verterende koors in my siel kon nooit verdryf word nie.
[8] Slegs die gedagte aan my vroeëre leraar kon my siel in `n beter stemming bring, maar helaas, slegs kortstondig. My gees was wel dieselfde, vol goeie wil, maar my siel was ontsettend swak. Ek kon ondanks my goeie wil nie meer herstel nie, nie op aarde en nog minder hier in die geesteswêreld nie.
[9] Nou weet u alles en sal u maklik kan begryp waardeur ek tot hierdie ellendige gestalte gekom het. As my leraar by my kon gebly het, dan sou ek nou sekerlik anders gewees het. Waarskynlik het God, die Heer besluit om `n engel in `n huis vol hoogmoed ten gronde te laat gaan. Daarom het Hy die huis sy beskermengel ontneem. Die huis van die grotes het daarna verval tot allerlei kwaad en ek, hulle enigste dogter, saam met hulle. Ek is weliswaar nou so ellendig hier as wat maar moontlik is, maar waar my ouers hulle bevind en hoe dit met hulle en my eggenoot gaan, dit sal slegs ons Vader in die hemel weet. Ek wens hulle almal beslis `n beter lot toe as die van my, maar waarskynlik sal dit met hulle nouliks beter gaan as met my. As hulle maar nie geheel en al verlore is nie!”
[10] Die offisier sê: “My beste vriendin, dan was die omstandighede vir jou tog wel sleg gewees! Wanhoop egter nie, maar gaan nou dadelik saam met my na die Heer. Hy is hier, om almal wat Sy Naam aanroep, en hulle tot Hom wend, te help. Volg my sonder vrees of beskeidenheid, want slegs by Hom is alle dinge moontlik!”
[11] Die offisier haas hom nou met Mathilde na My toe en sê; “Heer, allerheiligste, beste Vader, ek hoef U sekerlik nie te vertel wat die wese skeel nie, want U, aan wie alle dinge al van die ewigheid bekend is, weet dit die allerbeste. Ek kan daarom niks anders doen as om U met `n hart vol medelye te vra om hierdie arme vrou genadig en barmhartig te wil wees nie! U heilige Vaderwil geskied!”
[12] Ek sê: “Vrou, wat wil jy dan hê moet Ek vir jou doen? Spreek!” Mathilde sê: “Heer, almagtige, ewige God, Skepper van alle kreature en heiligste Vader van alle mense en engele! U sien hier voor U `n groot, heimlike sondares en U sal wel die beste weet, welke duiwels my vlees en eweneens my siel so lelik toegetakel het. Ek was dit nie, want my wil was volgens my suiwer insig steeds daarteen en ek het iedereen teen die groot kwaad van selfbevrediging gewaarsku. Tog was juis ek voorbestem vir die vreeslike kwaad! Ek, volgens die gees, die grootste vyand daarvan, moes die draak van die vlees regstreeks ten offer val!
[13] O Heer, dit was baie hard! Wie het dan so `n verderflike angel in my vlees geplant? Ekself sekerlik nie! Ek was tog slegs die ellendige slagoffer van hierdie angel! Ek was soos deur gloeiende kole gedrywe, en dikwels as ek my juis ernstig voorgeneem het om die kwaad, terwille van U heilige Naam, nie meer te begaan nie, ontwaak die begeerte nog heftiger en val ek erger as daarvoor aan hierdie drang ten prooi. Na so `n sataniese, stom bevrediging, het vrywel steeds die berou gekom en het elke opwelling van hoop op beterskap in my tot niet gemaak. O Heer, o heilige Vader, waarom moes juis ek so ongelukkig word?
[14] Ek verkeer tog tot byna aan my sestiende jaar in so `n suiwer staat van onskuld, soos miskien maar by weiniges die geval was. Waarom moes ek my leraar, my ware beskermgees, verloor? Waarom moes Satan my dan daarna, in plaas van die engel, geeste uit die hel as leraar gee? O God, die barmhartige, waarom moes ek dan tydelik en miskien wel vir ewig so ongelukkig word?
[15] Ek sê: “Ja, My liewe dogter, hoe dit met jou gaan en gegaan het, weet Ek lankal, en ook die hoe en waarom! Ek vra jou dus nie daarna nie, maar slegs wat jy wil dat Ek vir jou sal doen! En kyk, op hierdie vraag het jy My nog geen antwoord gegee nie. Dus My beste, sê dit eers, daarna sal daar nog tyd genoeg wees om oor die gebeurtenisse in jou aardse lewe duidelikheid te verkry!” Mathilde sê: “O Heer, heiligste Vader, U sien tog die beste waaraan dit my ontbreek! As dit U wil is, help my dan daar, waar ek tekortskiet, want vir U alleen is alle dinge moontlik!”
[16] Ek sê: “Maar glo jy wel dat juis Ek die eintlike ware, ewige God, Skepper en Vader is? Want kyk, Ek is tog maar `n mens soos jy wat jy hier kan sien! Hoe kan `n mens dan gelyk wees aan God, of is God dan ook maar `n mens?”
[17] Mathilde sê: “U is Christus, genaamd Jesus, die Heiland van die mens en elke woord uit U mond het lewe in hulle. En aan wie U, U Woord gee, die het van U ook die ewige lewe ontvang, want U woorde is nie soos die woorde van `n mens nie. As U woorde egter aan iedereen, wat dit ter harte neem, die ewige lewe gee, waarom sou U dan nie die Een wees wat alle engele, sonne en wêrelde as hulle ware, ewige heilige Vader, God, Skepper en Regter aanbid nie? Want hulle het hulle bestaan tog maar net te danke aan U almagtige Woord.
[18] Toe U, o Heer en Vader, vanuit U onbeperkte mag, wysheid en liefde, op aarde die weg van die vlees gegaan het, sê U tog ook net as mens: “Wie My sien, sien ook die Vader, want Ek en die Vader is een!” As U, o Heer Jesus, destyds in U aardse liggaam een was met die Vader, waarom sou U dit dan nie nou wees nie? U alleen is dit: My hart sê vir my dat U die ewige liefde is! Neem my dus genadig op in U liefde, o heilige Vader!”
|
|
|
|
|