|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 63
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Paulus se toespraak tot die hardnekkige keiser. Koppige repliek
213 Daarop sê Paulus: “Vriend, sê nou self, wat is `n keiser sonder land, sonder volk en sonder mag? Ek sê jou, niks anders as `n dwaas nie! Het iemand dan ooit deur eie genade keiser geword, of deur God se genade? Wie gee die mens dan mag om te heers en die volk die wil om hom te gehoorsaam? Kyk, dit doen God, die enige ewige Heer van alle mag en krag. As God jou egter tot keiser gemaak het, waarom beroem jy jou dan op jou keiserlike waardigheid, asof jy jouself tot keiser gemaak het!
[2] As dit so maklik sou wees om sonder goddelike krag en mag keiser te word, dan sou daar op aarde `n hele spul keisers gewees het. Dit sou egter vir God die gruwel van alle gruwels wees. Daarom stel Hy oor baie lande slegs een keiser aan en voorsien hom van mag, gesag en hoë aansien, maar slegs vir die tyd wat hy in staat is om te regeer!
[3] Na die dood van sy liggaam hou die keiser vir ewig op om te bestaan, en die mens wat op aarde keiser was, word gelyk aan een van sy geringste onderdane. Hy kan in die ryk van God weer iets word deur ootmoed en deur groot liefde, veral tot God, die Heer en vervolgens tot al sy broeders en susters. Maar om so star vas te hou aan wat mens op aarde was, bring geen lewe nie, maar die werklike dood voort! Daarom sê ek vir jou: Bedink goed wat jy sal doen, want kyk, die poort van die besondere genade en erbarming van die Heer staan nie altyd oop nie, soos dit op aarde ook nie altyd dag of somer is nie. Hier kan niemand vooraf sê: “Kyk, nou kom die voorjaar spoedig en dan die genadesomer nie”, want dit lê verborge in die Heer. As Hy wil, dan is dit daar. Hy alleen sluit en open soos en wanneer Hy wil.
[4] Nou staan die poort vir julle almal oop. Gryp en benut daarom hierdie moontlikheid, voordat dit weer gesluit word! Dink jy dan dat die Heer dag in en dag uit liggaamlik uit Sy allerhoogste hemele afdaal na die aarde en Sy skepsele onderrig, genees en begenadig en hulle tot Sy kinders maak? O sien, dit doen die Heer nie en Hy alleen weet waarom Hy so-iets wel of nie doen nie. Hy is weliswaar steeds die liefde en erbarming Self, maar Sy besondere genade gee Hy nie altyd dieselfde vorm en nie aan iedereen op dieselfde wyse nie!
[5] Kyk, eens was ek die grootste en mees verwoede vervolger, en tog het Hy my die grootste genade bewys en my versterk tot wêreldapostel terwyl Hy Sy ander apostels merendeels slegs vir die Jode aangestel het. En ander, selfs baie beter en edeler mense, het Hy, deur Sy besondere genade, nie waardig gekeur nie. Van die wyses weerhou Hy hom, maar aan die onmondige kinders openbaar Hy Sy ryk en Sy besondere genade!
[6] Daaruit blyk weer, dat die Heer volgens Sy innerlike wysheid doen wat Hy wil. Wie hulle die veiligste waan, is dikwels deur duisend gevare omring, maar die vreesagtige beskerm die Heer dikwels dermate, dat ook niks hom sou oorkom as die hele aarde aan stukke geskeur sou word nie. So doen die Heer wat Hy wil en het nooit die raad van `n mens nodig nie. Daarom is dit dan ook `n onvergeeflike dwaasheid om nie die genadegawes uit Sy eie hand aan te neem as Hy dit iemand vrywillig aanreik nie.
[7] Laat die keiser van jou nou maar vaar en neem daarvoor in die plek die genade van die Heer aan, dan sal jy lewe, anders sterf jy egter in selfbedrog!”
[8] Die hardekop sê: “Jy spreek wel verstandig soos `n predikant, maar wat `n onderskeid is daar tog nie tussen `n predikant en `n keiser nie! Bring die Heer Self hier voor my; ek sal Hom genadig aanhoor en vir Hom, as uitsondering, `n langer onderhoud verleen!”
[9] Paulus sê: “Ag, dit oortref werklik alles wat mens van jou genade kan verwag! Jy wil selfs die Heer `n onderhoud verleen as ek Hom na jou toe sou bring. O jou kranksinnige dwaas! Nee vriend, dit gaan ietwat te ver! Ek, Paulus, sidder by hierdie gedagte dat jy jou kan uitspreek en so-iets verlang? Dit kan onmoontlik jou werk wees, maar alleen die van Satan. Vermaan jouself en sien af van jou afskuwelike dwaasheid! Ek smeek jou, word `n mens ten opsigte van God!”
[10] Die hardekop sê: “`n Vors spreek op sy gebruiklike manier en `n apostel op syne. Ek verstaan egter onder onderhoud nie so-iets hemeltergend soos jy nie en is van mening dat dit onmoontlik so erg verkeerd kan wees as ek die Heer na my toe ontbied. Op aarde vra mens tog ook vir `n geestelike, sodat hy dan kom met Christus die Heer, as mens self as sieke nie na hom toe kan gaan nie. Maak daarom nie soveel drukte asof hemel en aarde daardeur sou vergaan nie!
[11] Bedink daarby dat tussen `n keiser en `n gewone mens tog steeds `n hemelsbreë verskil bestaan. Onder invloed van die sfeer waarin iemand leef, ontwikkel hy tydens die lewe ook sy eintlike natuur. Wanneer ek hier dus voor jou spreek, ooreenkomstig my hoë sielsnatuur, kan dit tog nie so verkeerd wees as wanneer `n gewone mens hom sou verstout om so te spreek nie!
[12] Ek was `n keiser, dit kan geen God my afneem, solank Hy my die lewensherinnering laat behou nie. Daarom bly ek in my herinnering ewig keiser, ook voor God. Dat ek hier verder niks meer te beveel het nie, weet ek lankal net so goed soos jy, beste druktemaker! Ek het daarom verder ook niks meer van jou nodig nie. Ek sal my verder self goed red. Probeer dus om heeltemal niks op my te dring nie, dan sal ek die goeie en die ware vanself aanneem en daarvolgens handel. Verder bly ek soos ek is, goed of sleg, dit is om`t ewe. Begryp, druktemaker?”
[13] Paulus sê: “O ja, baie goed. Ek wil egter nog baie eenvoudig daaraan toevoeg: Solank jou “ek” jou nog oorwegend tot `n regter maak, sal die ewige Ek van die Heer geen intrek neem in jou hart nie! Wat die uiterlike lewensomstandighede betref het jy gelyk in alles wat jy teenoor my te berde gebring het, maar die innerlike lewensomstandighede is van geheel ander aard. Omdat dit vir jou totaal vreemd is, moet jy eers hierdie vir jou laat opdring, anders kry jy in die geesteswêreld, waarvan jy nou al byna tweehonderd aardjare `n bewoner is, nooit `n goeie plekkie nie. As ek jou in opdrag van die Heer die volle waarheid openbaar, waarom behandel jy my dan asof ek jou vyand is?”
[14] Die hardnekkige sê: “Ek behandel jou nie as vyand nie, maar jy geval my nie. Daarom wil ek iemand anders aanhoor, sodat ek presies kan weet wat my te doen staan.”
|
|
|
|
|