|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 115
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Oor natuurgeeste en die sterre elemente van mensesiele. Hoe daar uit God ook onsuiwer wesens kan ontwikkel. Besoek van die sewentien ou prelate (kerkvorste) van die Ryn
265 Robert sê: “Heer, dit begryp ek, maar U sê ook iets oor natuurgeeste wat soos water wegvloei. Wie of wat is hierdie geeste eintlik?”
[2] Ek sê: “Dit is geestelike oerlewensvonke of afsonderlike idees van My hart. As hulle deur klein oordele terdeë voorberei is en deur allerlei aktiwiteite in My liefde uitgegis is, word hulle ook in materiële, plantaardige en dierlike vorms gehul. Aan die einde van hulle kringloop word hulle, voorsien van die nodige intelligensie, siele van mense, sodat My eie liefdegees dan `n wese in hulle kan word, wat vir ewig met sulke siele verbonde is.
[3] Jou siel is ook so-iets, net nie van hierdie nie, maar van `n ander aarde. Iets wat met die vlees van jou liggaam saamhang, het wel van hierdie aarde bygekom, maar oor die geheel geneem behoort jy tot die siele van die aardewêreld wat Uranus heet.
[4] Alle siele op hierdie aarde het wel iets van alle sterre in hulle. Oorheersend bly egter slegs dit wat hulle uit die natuur van die aardewêreld het, waarop hulle dan eers tot volledige mensesiele gevorm word. Begryp jy nou hoe dit met die natuurgeeste gesteld is.
[5] Robert sê: “Ja, my God en Vader, dit is nou vir my duidelik. Ek begryp nog net nie altyd hoe uit U, wat tog in alles die mees volmaakte wese is, ook onsuiwer en onvolmaakte wesens kan voortkom nie, want daar kan tog nêrens iets bestaan wat nie uit U voortgekom het nie?” Ek sê: “Vriend, dit het Ek al by `n vorige geleentheid duidelik uitgelê. Roep dit weer vir jou voor die gees en dit sal alles vir jou duidelik wees.”
[6] Robert sê: “Og ja, dit is ook waar, dit was toe U ons die verskil uitgelê het tussen U gedagtes en U idees. Ja, ja, nou weet ek dit al: Elke gedagte op sigself as hooflyn vir `n idee is suiwer, maar omdat mens uit die hooflyn (wat op sigself geneem altyd suiwer bly) ook onsuiwer beelde kan vorm, is sulke beelde of idees daardeur reeds onsuiwerder as die oer- of basisgedagte, omdat hulle ook iets onsuiwer kan voorstel. Dit is by die hooflyn self natuurlik onmoontlik. `n Suiwer lyn bly `n lyn, maar dit geld nie vir `n figuur, wat deur `n kombinasie van lyne ontstaan nie.
[7] Maar Heer, dit is vandag al Maandag en behalwe die gebeurtenis met biskop Sebastiaan het ons nog nie iets ander gesien of gehoor nie. Wat dink U dan daarvan dat ons net `n kort besoek bring aan `n ander plek?”
[8] Ek sê: “Jy is wel ywerig, maar vandag sal sewentien prelate (kerkvorste) van die klooster te Ryn ons besoek; met hulle het ons iets te reël. Eers môre sal ons vir enkele ure `n ander plek besoek. Maar nou hou ons onsself almal rustig, want die prelate is al op pad na ons toe.”
[9] Biskop Waldstein sê: “As hulle nie uit `n te vroeë tydperk afkomstig is nie, ken ek miskien nog wel iemand van hulle.” Ek sê: “Nie waarskynlik nie, want hulle behoort almal tot die eerste periode vanaf die ontstaan van die klooster. Hulle, wat tot jou tydperk behoort, is nog lank nie ryp om daar te kan kom waar ons onsself bevind nie. Maar nou kom hulle baie ernstig gestem aan; daarom wil ook ons hulle in alle erns ontvang en hulle toon dat ook ons die goeie reg het om ons op hierdie heuweltop op te hou.
[10] Hierdie heuwel het eens aan die klooster behoort en was aan die suidwestelike kant met klein wingerde bebou, terwyl die noordelike en oostelike kant bebos gebly het met die oog op die jag van diere. In later tye is daar baie verander en het die klooster menige besittings kwytgeraak Hierdie sewentien prelate is egter, volgens hulle idee, nog altyd in die volledige besit van alles wat eens aan die klooster behoort het. Hulle was baie trots op hierdie heuwel en het nie graag gesien dat hy deur leke besoek was nie, en dit met die oog op die beskerming van die wild. Nou dink hulle dat ons vermomde stropers is en daarom wil hulle ons van hierdie bergweiding verjaag. Let nou op, die jag sal dadelik begin.”
[11] Robert sê: “Heer, sou Helena miskien nie teen hierdie helde ingespan kan word, vanweë haar welbekende skerp Weense tong nie? Sy sou hierdie van wild besete domkoppe net goed die waarheid in die gesig kon slinger.” Ek sê: “Dit sou hier nie raadsaam wees nie, want hierdie sewentien verstaan die Weens nie en is enorme selote. (fanatici) hulle stam uit die tyd van die sogenaamde heilige inkwisisie. (vervolgingstydperk) Mens sou hulle baie kwaad maak as mens die in hulle gemoed sluimerende ywer, waardeur soveel troue siele op weersinwekkende wyse gemartel was, sou opwek. Maar wat kan mens daarteen doen? Hierdie priesters was werklik so dom, dat hulle geglo het dat aan God `n welgevallige diens bewys word deur sulke afskuwelike handelinge. Hoe onverbiddeliker so `n geestelike was, soveel heiliger vind hy homself en hy word ook deur alle ander duisterlinge as sodanig beskou. Sê julle daarom maar glad niks in die aanwesigheid van hierdie sewentien nie. Hou julle maar geheel afsydig, asof julle gladnie let op wat Ek met hulle sal bespreek nie. Maar nou rustig. Hulle staan voor ons en meet ons met egte inkwisisie-inspekteurs blikke.”
[12] Na hierdie woorde tree `n titulair prelaat (beskerm heilige- of kerkvors) na vore. Hierdie aartsroomse neem My met `n minagtende blik oor sy linkerskouer van kop tot tone op en sê: “Wie gee julle toestemming om hierdie heilige hoogte te betree en my wild, wat eweneens heilig is, omdat dit vir die ywerige dienare van God bestem is, sku te maak? Spreek, anders staan julle gevangenisstraf, dood en verdoemenis te wagte.
[13] Ek sê: “Die Heer van die wêreld het die reg om Hom op te hou waar dit Hom behaag en hoef die wêreldlike, skynbare eienaars nooit genadig om toestemming te vra nie. Daarom het Hy hom nou dan ook die reg verskaf om hier plaas te neem, en wel omdat hierdie heuwel, vergeleke met al die ander in die omgewing van hierdie stad, die minste deur skandelike dade van slegte mense ontheilig was. Ek is Christus, die Heer, en het gekom om die slegte wêreld te oordeel en My troue volgelinge My genade, vergewing van hulle sonde en die ewige lewe te skenk. Wie My erken, aanneem en hom nie vir My vererg nie, sal nie ten gronde gaan nie, maar wie hom vir My vererg en nie glo dat Ek die eerste en die laaste is nie, die begin en die einde, die Alfa en die Omega, die sal verlore gaan. Nou weet jy alles wat jy moet weet. Wat gaan jy nou doen?”
[14] Die prelaat sê: “Gee ons `n teken en ons sal jou woorde glo.” Ek sê: “Daar is baie tekens voor julle oë; aanskou hulle en hulle sal julle lig verskaf, want julle is nie bepaald sleg nie, maar daarenteen baie blind en dom. Weet julle wel dat julle almal reeds lankal gesterf het?” Die prelaat sê: “Hoe, wat, wie het gesterf? Hoe, waar en wanneer? Leef ek nou dalk nie? Is ek dood? Wie kan dit dan vir my bewys? Dus allereers tekens en bewyse, anders word julle as skurke en stropers gevange geneem!”
[15] Ek sê: “Nie so warm gebak nie, beste mens, anders kan julle My wel net so in vuur en vlam sit, dat dit vir julle wel ietwat te warm sou kon word! Omdat julle egter so vreeslik bang is vir julle wild, wat maar nog net in julle verbeelding bestaan, sal ons, saam met almal, hierdie heuwel vir `n rukkie verlaat en ons na die berg Schöckel begewe. Daar sal julle oë vir enkele oomblikke geopen word, sodat julle kan sien of julle nog wel here is van die klooster van Rein, en of dat dit nie al lankal deur `n nuwe prelaat bestuur word nie.”
[16] Die prelaat sê: “Wat?! Moet ons onsself na die hoogste berg van Stiermarken begewe, wat vanweë sy hoogte en sy baie hekse en bose geeste nog nooit deur die voet van `n sterfling betree is nie?” Ek sê: “Juis daar moet julle heengaan om genees te word van drie belangrike domhede wat julle gesigsvermoë beperk: Ten eerste van die denkbeeld dat julle nog op aarde lewe, en ten tweede dat die Schöckel by verre nie die hoogste berg van die land is nie en dat daar nóg hekse, nóg bose geeste hulle huisves. Daarna sal julle eers insien dat ook hierdie heuwel volstrek nie meer julle eiendom is nie en dat hier geen rooi wild meer leef nie en mens daarom ook geen stroper meer hier kan wees nie.”
[17] Die prelaat sê: “Maar hoe moet ons daar bo kom, op so `n angsaanjaende hoogte? Daarvoor sal ons wel verskeie dae nodig hê.” Ek sê: “O nee, dit sal ons nie! As bewys dat ook julle nou geen liggaamlike, maar geestelike mense is, sal ons hierdie afstand in `n oogwenk aflê. Ek sê slegs: Laat dit so wees! En kyk, ons is ookal daar. Wel, hoe geval dit julle hier?”
[18] Totaal oorbluf sê die prelaat: “Aha, dit is kragtig! Ja, hoe het ons dan so skielik hier gekom? As die bliksem ons nie van die Reinerheuwel hiernatoe verplaas het nie. Ja, nou begin daar al `n lig vir my op te gaan. Ons sewentien het inderdaad al baie jare gelede ons aardse liggame afgelê. En dit het nie eerder by ons opgekom nie! Ons moes dit tog kon afgelei het uit die feit dat die klooster nooit meer as een prelaat tegelyk kon gehad het nie, terwyl ons inmiddels al met so sewentien sit. Dit is tog merkwaardig dat mens so dom en blind kan wees. Nou merk ek ook, dat daar nog baie hoër berge is as hierdie Schöckel en dat daar van hekse en bose geeste geen spoor te merk is nie. Ja, ons moet hierdie wonderbaarlike gids nou maar van harte dank! Ook al is Hy miskien nie Christus, die Heer Self nie, tog sal Hy wel `n redelike magtige gees wees, wat deur God na ons toe gestuur is.” Nou val almal voor My op hulle aangesig en loof God se krag in My.
[19] Robert vra egter: “Heer, wat het ek dan eintlik met hulle in gemeen?” Ek sê: “Hulle is, netsoos jy, afkomstig van Uranus en is daarom baie hardnekkig; om die rede moet jy hulle ook opneem in jou huis. Begryp jy nou die betekenis van hierdie verskyning?”
[20] Robert sê: “Ja, Heer en Vader, nou begryp ek dit inderdaad. Is die geeste, met wie ons vooraf op die bergweiding daar benede was, miskien ook my oorspronklike landgenote?” Ek sê: “Nee, dit bepaald nie, maar hulle is in die liefde net so geaard soos jy en behoort daarom ook by jou geselskap. Want Ek sê jou: Jy is van nou af aan `n steunpilaar van `n nuwe vereniging. Dit is die loon, wat almal wat op aarde uit eerlike en goeie beweegredes in My wingerd gewerk het, ten deel val.”
[21] Heel deemoedig merk beide die biskoppe op: “Heer, ons het tog ook in U wingerd gewerk; kan ons dan nie ook nie een of ander amp hier kry nie?” Ek sê: “Julle was weliswaar ook arbeiders, maar die wêreld het julle al `n goeie loon gegee. Hy het egter sonder wêreldlike loon gewerk. Vir sy moeite was hy deur die wêreld met die dood betaal en dit maak `n groot verskil tussen julle en hom. Hy is `n martelaar; is julle dit ook? Hy het ten offer geval vir sy liefde vir sy broeders; het julle ook?”
|
|
|
|
|