|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 45
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Minerva en Helena. `n Heilsame ontlading. Cado oor die koningskap as tugroede. Minerva vertrek
195 Haar van Cado afwendend sê Minerva: “Ek sal gaan as ek dit self wil, maar ek laat my dit deur niemand gebied nie, nóg deur God, nóg deur iemand anders wat meen dat hy iets oor my te sê het! Begryp, meneer Cado? Ek is `n eerste majesteit van die hele oneindigheid en alle wesens moet bewe as ek my hoof en my arm ophef. Ek sal nou op `n ander toon met jou praat, want my onoorwinlike krag verleen my die onbetwisbare reg daartoe, en waar is Hy wat my dit sou kon afneem?! Ek alleen is `n heerser! Al die ander is ewig onder my knegskap!”
[2] Helena val haar in die rede: “My liewe vriende en broeders, nou hou ek dit egter nie meer uit nie! Nee, wat die ewigheidsgedrog haar alles inbeeld om te wees, dit is nie vir die hele oneindigheid te vat nie! Nou wil sy selfs meer wees as God, die Heer Self! O jou helse stuk venyn! Maak dat jy wegkom, anders kry jy met my te doen!” Minerva sê: “Swyg, jou Lerchenfeldse miskewer, anders vernietig ek jou!”
[3] Helena, wat letterlik swel van woede, roep daarop luid: “Wat sê jy, brandhout van die onderste hel? Jy, parfumfles van alle vuiligheid in die wêreld! Jou dooie tak aan die boom van die kennis, jou afskuwelike slanggedrog, jy wil my vernietig? Is dit nog nie genoeg dat jy meer wil wees as alle mense en engele van God nie, is dit nie genoeg dat jy meer wil wees as God Self nie, dit is vir die Satan van alle satans nog veels te weinig! Hy of sy, wat steeds een en dieselfde Satan is, wil bowendien ook nog alles vernietig! Natuurlik, wat sou vir so `n almagtige vark wel nie alles moontlik wees nie?”
[4] Die van woede trillende Minerva sê: “Nee, dit is te bar! God, hoe kan U dit toelaat dat U oereerste en mees volmaakte skepsel so afskuwelik deur `n vuil wurm belaster word! Snoer hierdie weersinwekkende wurm se bek, anders moet ek my aan haar vergryp!”
[5] Helena sê vir Robert: “Aha, sy word al `n bietjie hanteerbaarder! Nou roep sy Onse Liewe Heer al aan, maar Hy het niks aan haar nie!” Nou kom Minerva in woede ontsteek op Helena af en sê met `n skril skreeustem: “As jy nog een woord sê, vergryp ek my aan jou, so waar as wat daar `n God leef!”
[6] Helena spring op van woede en gee Minerva so `n goedgeplaaste oorveeg, dat sy neersink, enkele treë van Helena verwyder, en neerval en `n rukkie uitgeput bly lê. Helena, wat verheug is oor haar geslaagde tugtiging, sê na die raak oorveeg: “Daar het jy, verwaande stinkmadam uit die hel, `n klein voorspel! As dit wenslik is, kan die egte spel volg”
[7] Terwyl sy van die grond af opstaan en haar gesig afvee, sê Minerva: “Dit is voldoende om my `n korrekte begrip te vorm van die humaniteit en beminlikheid van die liewe kindertjies van die Heer van die hemel en alle aardes. Dit is ook besonder mooi van jou, Cado, dat jy my hier `n oorveeg laat toedien asof ek op aarde `n wese van die allerlaagste allooi sou wees, terwyl jy my op die sodanige heuwel van suiwer liefde wel kon opgevreet het. Maar dit bly jou aangereken, verstaan jy?!”
[8] Cado sê: “Jy het jou verdiende loon gekry! Waarom het jy nie weggegaan toe ek jou gevra het om te vertrek nie?” Minerva sê: “Het ek dan daarom van God `n volkome vrye wil gekry om hom vir ewig in die nouste dwangbuis van die gehoorsaamheid op te sluit? As die Skepper gewil het dat ek sou gehoorsaam, dan het Hy my tog seker, netsoos vir jou, `n gehoorsame wil gegee? Maar omdat Hy dit seker nie wil nie, is ek nou eenmaal soos ek is... naamlik iemand met `n volkome eie en aan niemand gehoorsamende, mees vrye wil! As God alle wesens met `n volgsame wil begiftig het, wie sou daar dan vir die blinde volkere van die aarde `n regerende keiser, koning of vors kon wees? Want jy sal wel weet dat hulle niemand gehoorsaam is nie, behalwe wanneer hulle goeie raad kry wat in hulle voordeel is!”
[9] Cado sê: “O ja, dit weet ek! Daarom spreek die Heer deur die mond van Samuel tot die kinders van Israel: “Aan alle sonde wat die volk al voor My oë begaan het, voeg hulle nou ook nog die grootste toe, naamlik dat hulle netsoos die heidene, `n koning van My verlang Ja hulle sal een hê, sodat hy hulle sal tugtig en in gevangenskap lei!” Kyk, so lui die getuienis van God oor konings. Kan jy daaruit agterkom dat regente uit die wil van God voortgekom het? Ek sê vir jou, die regente van alle tye, ook die beste, het uitsluitlik voortgekom uit die wil van die volkere van die aarde. Sou `n volk tot insig kom, sodat hulle God in alle waarheid tot ewige Regent bo hulle sou plaas, dan sou God so `n volk onmiddellik van hierdie tugroede bevry en hulle Self lei deur Sy engele in menslike gedaantes! Wanneer die volkere egter slegs tot God smeek om die behoud van sulke tugroedes, dan moet hulle hulle ook alle slae laat welgeval, wat hulle genadeloos deur hulle toegebring word.
[10] Alle vorste, of hulle nou goed of sleg is, kom nie voort uit God se wil nie, maar uit die hoogmoed van die mens, wat die groot en magtige wil is deur die prag en praal van hulle koning. Omdat die dom volkere liewer `n mens bo hulle geplaas het as God, die Heer van alle ewige heerlikhede, verleen God aan hierdie persoon ook die gebiedende gesag, waarmee hy sy ondergeskiktes heeltemal volgens sy wil kan tugtig, as hulle sy wette nie in ag neem nie. Die gesag kom dan ook van bo en die koning moet dit uitoefen omdat hy van bo daartoe veroordeel is. Dink nie, dat `n koning kan wil wat hy self wil nie, maar `n koning moet dit wil waartoe God se toorn hom verplig. Al hoef `n koning ook aan geen mens te gehoorsaam nie, hy moet God tog bewustelik of onbewustelik gehoorsaam. Maar wanneer hy liefde hanteer in plaas van die reg, sal God Sy toorn in die gesagdraende koning ook versag en in liefde verander. Begryp jy dit?
[11] As jy my begryp, word dan sagmoedig en beoefen die liefde, dan sal God jou aansien en jou hart sagmoediger maak. So sal `n sagmoedige hart jou vir altyd vrywaar van elke mishandeling. Gaan nou en word aldus so, dan sal jy rus hê en geag word! Netsoos ware vryheid, word ware agting slegs ryp vanuit die liefde, maar wie agting wil afdwing, het dit slegs vir die skyn, en ten dele uit vrees. En hierdie agting is `n vloek en wel dieselfde vloek, wat sedert jou ontstaan jou deel geword het. Begryp dit en verander jouself!”
[12] Minerva sê: “Ja, ja, ek gaan en sal daarna strewe om my waar moontlik te verander!” Nou keer sy die drietal die rug toe, gaan vandaar weg en verdwyn spoedig uit die gesigsveld van Helena en Robert, maar nie uit die van Cado nie.
[13] Wanneer Helena niks meer van Minerva sien nie, sê sy: “Alle lof alleen aan God, die Heer, wat my te midde van julle die moed gegee het om hierdie eerste vyandin van alle lewe in dapperheid te oortref. Ek dink dat sy ons van nou af aan wel met rus sal laat.” Cado sê: “Ons wel, maar op aarde sal sy nog baie onheil stig. Daarna sal sy meer en meer in haarself keer deur geweldige tugtiging en vernedering! Nou is dit egter die vraag wat ons nou gaan doen, want kyk, die poort het nog nie oopgegaan nie”
|
|
|
|
|