|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 35
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
Minerva wil haar regverdig. Cado se weerlegging. Ontmaskering van haar verdorwenheid. Sahariël maak aanstaltes om weg te gaan
185 Miklosch meld verder: “Minerva sê: Swyg, jou dom esel! Hoe kan jy begryp wat my te doen staan? Dink jy dalk dat die goddelike ordening slegs sorg vir die positiewe polariteit van wesens en dinge? Moet die negatiewe polariteit dan nie in dieselfde mate ontwikkel wees nie? Is die lewe nie `n voortdurende stryd tussen beide polariteite nie? Jou dom esel, neem `n boom sy wortels af en vra hom dan hoe lank hy nog vrugte sal dra. Kap die diere se pote af en kyk hoe hulle dan vooruit moet kom! As die bloed deur `n sogenaamde goeie of positiewe krag na die hart teruggestuur word en daarna deur `n sogenaamde slegte krag, wat ek as negatief aandui, weer uit die hart gedryf moet word om die fisieke lewe te laat voortduur, sê my dan, welke krag is dan te verkies, die aantrekkende of die afstotende? Sien jy, growwe lummel, wat jy in jou domheid alles deurmekaar klets? Dit is vanselfsprekend dat die negatiewe krag aan die positiewe ondergeskik moet bly omdat hulle daaruit voortgekom het; die suiwer water moet die troebel suiwer en nie omgekeerd nie! Dit is ook alles God se ordening. As Rome nie so duister was soos die nag nie, sou die mensdom nie na lig vra nie. Derhalwe is ook ek soos ek is, uit God, en sal ook verder so bly, soos jy beslis vir ewig `n esel sal bly!”
[2] Cado sê lakoniek: “Ja, ja, as die laaste benaming op jou toegepas word, dan sou dit wel eens waar kon wees! O jou domheidsprinses uit alle vaste sterre! Wil jy my iets vertel oor `n positiewe en `n negatiewe krag en oor hulle wedersydse noodsaaklikheid! Sê my net, jou skoonste eselin, is God `n hele of slegs `n halwe krag en mag sonder jou? Is jy onontbeerlik sodat Hy bestaan? Of sou Hy miskien ook sonder jou kan bestaan, soos wat Hy al ewighede sonder jou bestaan het? O jou totaal sinnelose wese, jy wil my die noodsaak van die boosheid aanpraat, omdat iets goeds onmoontlik daarsonder sou kon bestaan. Jou mees verblinde vrouepersoon, waarop is die suiwerste liefde, goedheid en mag van God dan gebaseer? Moet die Godheid, wat tog sekerlik in elke opsig die volmaakste Wese is, dalk ook eers sleg wees om vervolgens goed te kan wees? O, alle hemele lag tog oor so `n wysheid! Mense sê van die fabelagtige Minerva, dat sy uit die kop van Jupiter voortgekom het, maar dié Minerva sal jy verseker nie wees nie. Jou gewaad glans weliswaar soos `n son, maar wat baat dit dan om in dié jurk `n oerdom wese te huisves! Het ons hemelse vriend Sahariël jou nie oorduidelik aangetoon hoe die saak hom enkel en alleen in jou voordeel kan ontwikkel nie? Waarom volg jy dan nie sy raad op nie? O jou aanvoerster van alle boosheid, ek ken jou nou deur en deur! Ontkom sal jy my nooit as te nimmer nie, en terugkruip in jou ou drakehuid sal ook nooit meer deug nie; daarvoor het die stralegewaad al gesorg. Maar wat gaan jy nou doen?”
[3] Minerva sê: “Swyg, jou dom esel! Ek het `n afkeer daarin om met jou te praat! Let op: Nou sal ek jou net goed laat sien wat ek kan doen! My regimente, in die besonder die onder die Roomse hiërargie, het ek nog en ek sal hulle hulle spel laat speel! Inkwisisie, galge, skavotte en brandstapels sal weer ontstaan en honderd keer erger huis gaan hou, en die heersers sal hulle onderdane met gloeiende gesels slaan en hulle by die duisende tegelyk laat wurg! Daaruit sal jy spoedig agterkom wat ek ook sonder die drakehuid kan teweegbring.”
[4] Cado sê: “Maar daarop sê ek: Tot hier en geen haarbreedte verder nie! Nou het jy self, in jou domheid, jou mensvriendelike planne aan ons verraai. Bravo, dit het jy goed gedoen! Meer hoef ek nie te sê nie; dan sal ons goed weet wat ons te doen staan.”
[5] Daarop sê Robert: “Die geheime voorsorgmaatreëls is reeds getref. Hierdie keer sal Satan self sy totale ondergang bewerkstellig. Sy loon sal vreeslik wees!”
[6] Sahariël sê: “Beste vriende, wen julle nie op oor hierdie onverbeterlike nie! Haar vernaamste mag is haar ontneem en haar skynmag sal haar weinig help. Hierdie ou slang sal nog wel menigeen byt en vergiftig, maar dan sal die Heer Self na die sterflinge toe kom en `n einde maak aan haar praktyke. Sy moet maar doen wat sy wil; hoe erger sy dit sal maak, hoe gouer sal sy klaar wees met haar bose werke. Maar nou genoeg oor die werk in en met die hel! Ons sal ons nou op die terugweg na die Heer en ons broeders begewe. Hierdie Minerva moet egter, geheel verlate, hier maar doen wat sy wil. Rig jou op, broeder Cado, want jy het genade gevind voor God, omdat jy die bose in jou verander het in die goeie en die ware. Jy sal nou met ons saamgaan na die Heer en Hy sal jou groot mag gee om oor die hel te waak. Hierdie Minerva sal egter aan jou onderworpe bly, omdat jy haar oorwin het met die wapen van die goddelike geregtigheid. Maak jou dus klaar om saam in ons midde te loop na die Heer!”
[7] Minerva sê: “So! My, die pêrel van die oneindigheid, wil julle nou verlaat en dan die ware wegjaag soos `n skroplap van die dansvloer! O, dit is lieflik en loflik van julle. Eers het julle dit met suiwer verlokkinge so ver gebring, dat ek toegegee het en na julle toe gekom het, en nou wil julle my in die steek laat, omdat julle van mening is dat ek onverbeterlik sou wees. Maar dit is nie so nie. Ek is miskien soos geen tweede wese vir verbetering vatbaar nie, maar slegs hy wat my die nodige geduld en die nodige liefde bewys, sal oor my triomfeer. Ek het arm geword en oral spreek mense met die diepste veragting oor my; moet ek dan nie vol wantroue wees teenoor elke wese wat my benader nie? Steeds word aan my beloftes gemaak, sodat ek sou terugkeer tot God! As ek egter naby kom, verlaat die aanvanklike steeds dapper optredene bekeerders my en laat my aan my lot oor. Maar doen maar wat julle wil, ek sal ook goed weet wat my te doen staan. Cado! As jy wil bly, bly dan en ek sal jou volg, maar met hierdie twee gaan ek nie saam nie!”
|
|
|
|
|