Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 75

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Maatreëls van die kerkleiers. Die Heer oor geloofsopwekking. Nederlae as geneesmiddel vir hoogmoed

225 Na `n rukkie hoor ons orrelklanke en wel die melodie van die sogenaamde “Te Deum Laudamus”. - Josef vra My: “Heer, goeie heilige Vader, wat beteken dit? Welke God loof U klaarblyklike teenstanders, want van U kan daar tog nooit sprake wees nie!” 

[2] Ek sê: “My beste broeder, dink jy dan dat hulle hulleself ooit aan een of ander God gesteur het? Die loflied hoort by hulle leë seremonies en het op sigself heeltemal geen waarde nie, behalwe dat dit vir hulle geld inbring. Maar hier dien dit slegs as afskrikwekkende middel om ons, vermeende duiwels, op die vlug te jaag, aangesien hulle van mening is dat die buitengewone dom duiwels hulle dadelik deur oënskynlike vroom dinge laat verjaag. Weliswaar glo die meeste priesters nie in hulle hart daarin nie, maar hulle voer dit tog uit om hulle domheid daarmee nog groter te maak. Dit is nou die rede waarom ons na sulke gewyde klanke dadelik moet weghardloop.”

[3] Josef sê: “Nie sleg nie, maar is daar dan geen moontlikheid om hierdie kêrels `n lelike poets te bak nie, sodat hulle mislik word van angs? Miskien kan so-iets hierdie wesens tot ander gedagtes bring.

[4] Ek sê: “Dit mag om tweërlei belangrike redes nie gebeur nie. Ten eerste om hulle nie in hulle vryheid te steur nie, omdat `n gebonde gees niks meer kan doen om hom te verbeter nie, en op sigself so goed as dood is. Ten tweede kan mens hierdie geeste, wat self tog heeltemal nie in wonders glo nie, nooit deur watter suiwer wonderwerk dan ook, tot een of ander geloof bring nie. Hulle sal die grootste wonders net so aankyk, soos wat die priesters en skrifgeleerdes dit in My tyd op aarde gedoen het. 

[5] Kyk, na My dood het die voorhangsel in die tempel van bo na benede in twee geskeur; die ark van die Verbond het verdwyn en was daarna nie meer gesien nie; son en maan het hulle lig verloor; grafte het oopgegaan en dooies het uit die grafte gekom en My eer verkondig. Baie heidene het hulle op die bors geslaan en gesê: “Hy was waaragtig `n God!” en het daarna vas in My Naam geglo. Maar die priesters en skrifgeleerdes het daarop slegs nog maar harder geword en het My leerlinge en My leer met al hulle energie vervolg. Meer kon mens dan tog nie gedoen het, as om `n Lasarus, wat al vier dae in die graf gelê het om te vergaan, uit die ongewisse liggaamlike dood op te wek en hom fris en gesond aan syne terug te gee nie. Welke uitwerking het hierdie daad egter op die priesters, fariseërs en skrifgeleerdes gehad? Niks anders as dat hulle daarna soveel te meer gaan beraadslaag het hoe hulle My uit die wêreld kon help! Hieraan kan jy sien, hoe weinig `n wonder van watter aard dan ookal sou vermag, wat jy sou uithaal by hierdie wesens, wat nog tien keer erger is as die Joodse priesters te Jerusalem. Goeie, waarheidsgetroue woorde bly nog steeds die beste middel om hulle op `n beter weg te bring, alhoewel van hulle hier, voorlopig nie baie te verwag is nie.

[6] Josef sê: “Ja, dit is waar, met hulle hier is nie veel te doen nie, maar ek is benoud oor wat die kêrels nou gaan doen!” Ek sê: “Kyk maar daar, waar die helse drakemuil staan en gloei! Van daaruit sal, na `n plotselinge verandering van hierdie helse skouspel, die nuwe prosedure begin. Maar jy moet jou nie vererg nie, want as ons onsself werklik daarvoor sou vererg, sou dit juis `n oorwinning vir hulle wees. Dit sal ons hulle egter bespaar, deurdat ons die ergernis op hulleself sal laat terugslaan, wat hulle dan hulle volledige onmag sal laat sien. 

[7] Daar is niks waarmee mens `n trotse gees tot deemoed kan bring, soos wanneer mens van al sy planne nie een daarvan laat slaag nie. Dit sal ons nou ook met hulle en met alle trotses op aarde doen! Jy sal sien, dat dit die allerbeste kuur vir hulle sal wees. Daarom, beste vriend en broeder, veral geen ergernis oor hulle nie!”

[8] Josef sê: “Ek sien nou duidelik in dat U alleen op alle punte gelyk het, maar wat die “nie-vererg” betref, dit is `n moeilike opgawe! As U, o Heer en Vader, iemand se hart nie heeltemal vul met U sagmoedigheid nie, kan hy doen wat hy wil, maar hy sal hom tog vererg as hy hierdie wesens sulke skanddade sien bedryf. Op aarde het ek tog honderde kere meegemaak dat hulle my met hulle versoek- en beswaarskrifte uit die mees selfsugtige motiewe dermate lastig geval het, dat ek hulle wel almal wou doodgeskiet het. As ek so-iets ontdek, het ek my tog weer groen en geel vererg! Hier in hierdie wêreld kom dit egter nog baie ergerliker tot uitdrukking, omdat mens dadelik maar al te duidelik insien, wat se uiters laaghartige bedoeling hierdie slegte geeste met al hulle handelinge het.

[9] Hulle doen hulle vroom voor, om die vertroue van hulle betalende skape te wek. Hulle loop blootsvoets rond om hulle skape te laat glo dat hulle deemoedig is. Hulle bid in die openbaar met vroom gesigte om die geldbeursies van hulle gelowiges los te maak. Hulle maak enorme diep buigings en tydens hulle misse buig hulle hulle hoofde byna tot op die grond om te laat sien van welke grenslose eerbied hulle voor Godstafel deurdronge is. Self glo hulle egter niks, maar hulle doen dit net om soveel te meer die mens daartoe oor te haal om vir die misse te betaal, want die blinde skape meen dat `n mis wat met so `n sigbare godsvrug gelees word, goed moet wees vir elke onheil op aarde.

[10] O Heer, daar is by hierdie spookkaste massas sulke dinge, waarvoor mens homself bomatig moet vererg! "Wat kan mens daaraan doen? Niks anders as om dit `n tydjie te aanskou en as dit ten slotte te bar word, daarop los te slaan soos `n maniak. Dit is reg dat ons onsself nie moet vererg om hulle nie die kans op `n oorwinning te gee nie, maar as ek maar net een sien, dan draai my maag al om! Heer en Vader, as U my nie baie goed gaan help nie, kan ek vir niks instaan nie.

[11] Aha, nou het die hel verdwyn en ons staan nou skielik midde in die Stefanus katedraal, wat daar nog net so uitsien as tydens my lewe. Nou kom die kerkdienare in hulle rooi mantels, steek alle kerse aan en maak die hoofaltaar gereed. Ten slotte sal hulle ons nog met `n gewyde diens probeer wegbrand. Die gedoente word tog eg potsierlik! Vriend Migatzi, wat dink jy nou daarvan?”

[12] Migatzi sê: “Hoe sou dit vir my anders kan voorkom as oer dom? Maar ek kan my absoluut nie daaraan vererg nie, maar net vreeslik daaroor lag, want geen mens kan hom nog vererg, as hierdie uiters bekrompe Roomse domore hulle ook as geeste nie laat verbeter nie. Laat ons dit alles toevertrou aan ons liewe, goeie Heer en Vader en laat ons vol goeie moed wees! Hierdie wesens sal ons ongestoord laat doen wat hulle wil. Dit sal sekerlik die beste kuur vir hulle wees, want ons twee sal niks aan hulle kan verander nie.”  

[13] Josef sê: “Daarin het jy volkome gelyk, want vir hulle is doop en salwing totaal vergeefs en daarom is daar nouliks iets te verbeter. Maar dit word ligter in my gemoed as ek my van my ergernis bevry deur hulle hier in die teenwoordigheid van die Heer aan hulle belangrikste misstappe te herinner. Ook vir hulle sal uitkom wat die Heer op aarde aan sulke slegte skepsels belowe het: “Vanaf die dakke sal luid verkondig word wat julle in die geheim aan kwaad gedoen het!” Hulle hou nou `n spookagtige hoogmis. Totdat hulle daarmee klaar is, kan ek my nog van `n hele spul ergernisse ontdoen.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205