|
Van die Hel tot die Hemel - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 91
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154. |
|
|
`n Gedenkwaardige lewensgeskiedenis, wat ook die offisier interesseer
241 Die offisier bly staan en vra haar haastig en kennelik vol ongeduld of sy dalk net so `n niksseggende versoek het soos die vorige vier.
[2] Die oumens sê: “Beste meneer die offisier, die lewe op aarde was vir my steeds `n saak van groot erns. Ek het in my huishouding alles so georganiseer, dat iedereen wat ook maar in my huis aangestel was, sy lewe aldaar by daardie ordening moes inrig. Die personeel het wel in die begin gemor, maar toe hulle eenmaal daaraan gewoond was, kon hulle dit nêrens so goed uithou as juis by my nie.
[3] Baie mense het my wel as puntenerig beskou, om nie te sê as enigsins dwaas nie, maar dit het geen indruk op my gemaak nie. Ek het naamlik in my jeug `n baie wyse leraar gehad, wat selfs die gawe gehad het om op bepaalde tye in kontak te kom met goeie geeste. Alhoewel ek in die begin erg teruggedeins het vir sulke eng gaste van my leraar, het hy geweet om my stilaan tog werklik entoesiasties te maak vir die bewoners van die suiwer ligsfere. Hy het my hulle skoonheid, lieftalligheid en grasie op so `n aantreklike manier beskryf, dat ek gou alle angs vir geeste verloor het en daar het `n groot verlange in my opgekom om self met die bewoners van God se ligsfere te kan omgaan.
[4] My leraar, `n man van in die veertig, was vir my egter dermate onontbeerlik gewees, dat ek my die lewe sonder hom onmoontlik meer kon voorstel nie, alhoewel ek toe eers veertien jaar oud was. Vir die wêreld het ek weliswaar gladnie gedeug nie, wat my ouers my van dag tot dag meer duidelik begin te maak het, maar dit het my onverskillig gelaat, want elke woord uit die mooi mond van my innig geliefde leraar het my duisendvoudig vergoed vir elke ydele verlies van die wêreld.
[5] Dat alles wat verhewe, waar en edel is, vyandig op die slegte wêreld bejeën word en so gou as moontlik gedood moet word, het ons spoedig ondervind - my heilige leraar en ek. My andersins so goeie ouers begin die ernstige verdenking te koester, as sou daar tussen my en my leraar `n sterk liefde begin te bloei. Hy ontbied heimlik die goeie leraar na sy kamer en lê die saak ernstig aan hom voor, wat ek in `n aangrensende kamer letterlik kon verstaan, terwyl ek angstig alles aangehoor het.
[6] My vader, `n taamlike bars man, sê: “Vriend, u is weliswaar `n besonder vaardige man, goed onderlê in alle kunste en wetenskappe, maar aan een ding blyk dit u te ontbreek: Kennis van die wêreld en van dit wat jy van die mens van `n sekere stand mag verlang. U maak van ons mooi en goeie kind weliswaar `n egte geleerde, maar helaas op `n manier wat allermins deug vir die hoë wêreld waartoe ons behoort. Die meisie hou haar swewerig, met God weet wat se onderwerp besig, en hou ons duisende dinge voor, wat sy vir `n onsterflike wese soos die mens onwaardig vind. Ja, sy lag ons soms uit as ons peaar oor die algemene erkende voordele van die adel. Vriend, as u ons kind sulke idees bybring, kan ons in geen geval meer van u dienste gebruik maak nie.
[7] Bowendien het ons nog agter `n ander geheim gekom, wat vir ons aanvanklik weliswaar onmoontlik gelyk het, omdat u `n man van ruim veertig jaar is en ons dogter `n meisie van nog maar veertien jaar en drie maande, en daarby mooi en bekoorlik soos `n engel; voortdurende observasie het die raaisel egter in `n volkome helder lig geplaas, naamlik dat die arme meisie, wat u die kop op hol gebring het, meer verlief is op u as u op haar. U is uit rype ervaring in staat om u liefde te verberg, maar dit verontskuldig u nie voor ons nie, want u het die kind se kop heeltemal op hol gebring, sodat sy nog maar net na u verlang en die wêreld sonder u vir haar van geen waarde meer is nie.
[8] U sal goed begryp, dat ons die meisie onder hierdie omstandighede nie langer onder u leiding kan laat nie, maar dit aan iemand anders moet toevertrou. Verlaat daarom vandag nog ons huis en ontvang hierby die vergoeding vir die moeite wat aan ons kind bestee is, wat nie aan ons verwagtings beantwoord het nie. Probeer egter ons kind nie meer te benader nie, want so `n brutaliteit sou u duur te staan kom! Hier is u geld, God seën u!”
[9] So word my engel uit die ouerlike huis weggestuur. Die goddelike man, van wie `n asemtog uit sy mond meer gewig in die skaal van die waarheid gelê het as duisende wêreldse dwase, wat by my hoogadellike ouers soos parasiete in- en uitgegaan het, word aldus die huis uitgejaag. Ek, arme siel, kry toe leraars en meesters, waarin ek `n steeds groter afkeer gekry het, namate ek hulle beter leer ken het!”
[10] Die offisier sê: “Sê my net, liewe vrou, het u leraar hierdie voorval dan sonder meer aanvaar? Vertel dit vir my, want u verhaal begin my te interesseer.”
[11] Die vrou sê: “Agtenswaardige vriend, wat het die edel man dan daarop te sê gehad? Hy het maar al te goed geweet hoe sleg daar oor sulke dinge met aristokrate gepraat kan word. Die enigste wat ek met gebroke hart kon opvang was, dat hy vir al die goeie wat hy in die huis geniet het, wenend bedank het en ten slotte daaraan toegevoeg het: “Geagte ouers van die edel kind, ek het u huis, en God is my getuie, nooit gesoek nie. U het veeleer deur allerlei skitterende beloftes probeer om my vir u te wen. Toe ek in u huis gekom het, bring ek u as eerlike man my opvoedkundige beginsels duidelik onder oë. U was volkome tevrede daarmee en het toe gesê, terwyl u my aan u hart gedruk het: “Vriend, ons is ryk en het besittings; danksy hierdie aanstelling kan u lewenslank in u onderhoud voorsien!”
[12] Ek woon nou drie jaar in u huis en het as mens en leraar volgens my deur `n nie besoedelde gewete so gehandel, dat ek geen duimbreedte van my beginsels afgewyk het nie. En nou word ek op grond van `n hoogs onregverdige beskuldiging uit die huis verban! Maar dit doen niks aan my nie; ek verheug my selfs daaroor, want dit is vir my opnuut `n bewys dat Christus die Heer, in wie ek leef en sterf, my waardig bevind het om een van Sy leerlinge te wees. Hy, die Heer van die oneindigheid, het tog Self die grootste ondank van die mense ontvang, en Hy het hulle vergewe, omdat Hy goed gesien het dat hulle nie geweet het wat hulle doen nie. Waarom sou ek, sondige mens, u vir u handelswyse kwalik neem. Dit is weliswaar nadelig vir my op aarde, maar daar kom ek maklik verby, omdat ek nooit voordele nagejaag of gesoek het nie.
[13] Dat u my die toegang tot u huis ontsê het, gee my wel die meeste pyn, want ek het u dogtertjie opgevoed tot `n ware vriendin van die innerlike lewe in Christus, die Heer, iets wat in die teenswoordige wêreld nog net moeilik te realiseer is. Maar ook dit maak nie saak nie, want wie ook maar iets verloor terwille van die Heer, sal dit te gelegener tyd weer duisendvoudig terugkry.
[14] Hou u die geld maar en doen u daarmee wat u wil! Wat ek u dogter gegee het, met God se genade, is meer werd as `n hele wêreld vol goud. Ook al sou sy alle skatte van hierdie wêreld, wat tog maar ydele hersenskimme is, verloor, dan sal sy met die skat van die gees, wat sy van my gekry het, gelukkiger wees as `n Croesus, wat sy goue paleise bou. O mense, hoe blind en swak is julle tog nie! Daarom verlang julle na die dwaalligte van die nag, wat verblind, maar nie verwarm nie. Vaarwel! Miskien sien ons mekaar weer in die ander wêreld.”
[15] My vader, wat versteur geword het deur hierdie suiwer hemelse woorde van my goddelike leraar, het die geld geneem en wou dit met geweld aan die goeie leraar opdring. Hy het dit egter beslis van die hand gewys en gaan die deur uit om die huis vir goed te verlaat. Dit was die einde van die verhouding met my leraar, wat ek helaas nooit meer gesien het nie.
[16] Soos wat al vooraf gesê is, was my latere lerare werklik so dom, verwaand en bowendien hoogs ongeinteresseerd, dat dit werklik `n skande was. Hul optrede was so gevoelloos soos `n masjien en ek was vir hulle slegs `n middel om goeie geld te verdien. Die lering van hulle was dan ook treurig, tot groot ergernis van my blinde ouers. Maar hoe ouer ek geword het, soveel inniger het ek daarna gestreef om alle grondbeginsels, wat my eerste leraar en meester my op `n werklik hemelse wyse bygebring het, in myself te verwesenlik.
[17] Later het ek gehoor dat my goddelike leraar tot offisier na die generale staf en later tot kaptein in die leër gevorder het. Of hy nog geleef het, kon ek nie meer te wete kom nie. Ekself moes jammer genoeg al op my agtiende jaar trou en het op my vyf-en-twintigste jaar al weduwee geword. O, het ek toe my leraar maar kon vind, hoe gelukkig sou ek dan nie gewees het nie! Maar God, die Heer het dit nie toegelaat nie. Ek het daarna ongetroud gebly en het `n dogter gehad, wat so ongeveer in alles, my ewebeeld was. Enkele jare gelede het ek hierdie ewige wêreld betree en laat hier oral navraag doen, of my leraar moontlikergewys ook al hier was. Helaas kon ek tot nou toe nog niks oor hom te wete gekom het nie. Hy heet Peter; `n ander naam kon ek nooit van hom te wete kom nie, ook nie my ouers nie; dit was die enigste eienaardigheid wat hierdie leraar besit het. Hier in die geesteswêreld sou ek tog graag iets oor hom wou verneem. U is so `n wyse man, kan u my miskien inlig oor hom? O, kon ek hierdie edele gees tog nog maar net weer ontmoet!”
[18] Die offisier wend hom nou `n bietjie af en sê by homself: “Sou dit dan tog moontlik wees? Sou die armsalige vroutjie die heerlike Mathilde van die aarde wees? Die byna hemelse dogter van `n bekrompe aartsaristokraat, hier in so `n miserabele toestand! O God, beste Vader wat het hierdie engel dan gesondig, waardeur sy hier so armsalig moes aankom? Die stem en haar manier van doen is nog te herken, maar die gedaante! O jy arme Mathilde, mag die Heer jou genadig en barmhartig wees! Waarskynlik sal haar huwelik, wat sekerlik ongunstig vir haar was, haar sover gebring het. Ergernis, wrewel oor aristokratiese domhede, `n onsagsinnige behandeling, ontrou en ruheid van haar eggenoot sal wel tot so `n vermaering van haar anders so mooi siel bygedra het. Wel, vir God is alle dinge moontlik! Sy hoort nou tog ook by die wat deur die Heer geroepe is; Hy sal haar wel weer in orde bring!
[19] As “hemelse huwelike” hier gesluit word, sal ek die Heer vra om haar tot vrou te mag hê, ook al sou haar gestalte glad niks verander nie, want haar gees is nog ewe vervul van verhewe idees van indertyd, toe sy my leerling was. O, dit was `n heerlike tyd! Toentertyd het ek kontak gehad met geeste uit die hemele, ja ek het gesprekke met engele gevoer. Toe was sy ook `n engel. O, hoe was die heerlike strale en terugstrale van lig nie uit die hemele nie! O heilige oomblikke van die aardse bestaan! God se hemele moet wel van onuitspreeklike skoonheid wees, maar ook die aarde is mooi vir hom, wat God in sy hart erken en Hom werklik uit al sy kragte liefhet. O Mathilde, wat was jy op aarde: `n Son onder die lieflike wesens van jou geslag! En wat is jy nou? `n Erbarmlike skadu van `n dor distelstruik in die skemering van die laaste kwartier van die maan! O Heer! Wesens, wat na `n eeu uit die graf opstaan, kan tog onmoontlik ellendiger daar uitsien nie.”
[20] Na hierdie woorde wend die offisier hom weer tot Mathilde en sê hardop: “Ek het oor jou versoek nagedink en het werklik op die bespreekte man se spoor gekom. Ons sal hom sekerlik vind, jy moet net die nodige geduld beoefen en alles wat ook maar enigsins na hartstog lyk, uit jouself ban. Alle liefde moet jy egter op die Heer rig en Peter laat vir wat hy is. Dan sal die Heer daarvoor sorg dat jy gelukkig word, want by God is alle dinge moontlik! Eens het jy God gevrees en dit was goed, want vrees vir God is die eerste tree na die wysheid. Nou moet jy egter God bo alles liefhê en dit sal jou vir ewig die hoogste saligheid en `n hemelse skoonheid gee!”
|
|
|
|
|