Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 141

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Groot hemelmaaltyd en hemelkonsert in die Vaderhuis. Dawid as dirigent en komponis. Hemelse verblyfplek van ander musici

291 Nadat dit alles gebeur het, begewe die hele stoet, wat van alle kante af kom, hulle na die groot eetsaal. In geen tyd nie staan baie duisende in die saal en nog steeds kom nuwe groepe van nogeens duisende na binne. Robert en die hele aansienlike geselskap, wat vlakby My staan, se oë rek groot wanneer die enorme stroom nog steeds nie wil ophou nie. En Robert vra My baie saggies: “Maar in U almagtige Naam, die saal is reeds heeltemal volgeprop met mense en nog is die einde nie in sig nie! Waar sal hulle almal dan `n plek vind? Ons het die grootste tafel so ryk moontlik gedek, maar wat het hy aan hierdie enorme volksmenigte te bied?”

[2] Ek sê: “Wees maar gerus; jy het tog op aarde ook al gehoor dat daar baie mak skape in `n hok gaan. So sal ook die bewoners van My huis ten slotte voldoende plek vind!” Totaal verbaas sê Robert: “Wat? Is dit almal slegs bewoners van die een huis? Ja, hoeveel woon daar dan wel hier? Dit moet wel miljoene wees! Ag, nog steeds geen einde nie! Maar wat sien ek nou? Die saal word steeds groter en groter of lyk dit maar net so? Nou begin ook die galerye vol te raak! Nou eers is die einde van die stroom deur die geopende deure te siene! O Heer, hoeveel bevind hulle nou in hierdie groot saal?”

[3] Ek sê: “As jy die aantal wil weet: Dit is daar twaalf maal honderdduisend! (1,2 miljoen) Maar dit is nog lank nie almal wat My huis bewoon nie. Meer as tien maal (12 miljoen) soveel is vir belangrike besigheid afwesig en is aktief besig op die verskillende wêrelde en sonne in alle hemele en hulle tallose gemeenskappe. Begryp egter goed: Dit is almal uitsluitlik net bewoners van My huis, wat Ekself bewoon en waar Ek sorg vir My kinders. 

[4] Jy sien egter dat daar in die belangrikste deel van hierdie stad `n enorme massa pragtige huise staan. Elke huis staan vry en het `n skitterende tuin rondom, ryk beplant met allerlei vrugtebome en ander gewasse, wat die heerlikste geur versprei. Die huise is almal heeltemal bewoon; die bewoners is ook My kinders, wat My in My huis besoek wanneer hulle wil. Ek beleef groot vreugde aan hulle en hulle is almal vol van die suiwerste liefde vir My en die broeders, wat in My hoogs eie huis woon.

[5] Verder sien jy na die ooste toe `n groot voorstad, wat nimmer eindig nie. Hierdie voorstad staan eweneens vol geboue van allerlei soorte, soos wat hulle in die mooiste vorms op die hemelliggame te vinde is. Hier sal jy volmaakte geeste uit alle wêrelde van die oneindigheid aantref, wat ook oorgelukkig is, na gelang van die aard van hulle liefde en hulle innerlike volmaaktheid. Tewens is daar egter in elke huis van hierdie groot voorstad ook `n deur en `n brug, deur middel waarvan die salige bewoners respektiewelik kan kyk en gaan na die hemelliggame waarop hulle in hulle vlees gewoon het.

[6] In die hoofstad is die huise egter so ingerig dat elke bewoner deur twaalf deure wat in die vertrek aangebring is, na alle hemelliggame van die hele oneindigheid kan gaan en weer kan terugkom wanneer die bewoner maar wil. Maar sulke deure wat na die hemelliggame voer, is slegs in elke huis aangebring in die vertrekke van die begane grond; nooit in hoër verdiepings nie. Daarom het elke vertrek van `n hoër verdieping ook dan `n ooreenkomstige vertrek op die begane grond. Die wonderbaarlike van so `n inrigting sal jy egter eers later beter leer ken, na gelang jou innerlike hom meer en meer sal ontplooi.

[7] Maar kyk nou net, tydens ons onderhoud het die twaalfmaal honderdduisend aan die groot tafel plaasgeneem en verskillende kleiner tafels is agteraf eweneens gedek en beset, en jy bemerk tog seker geen gedrang nie!”

[8] Robert sê: “Baie wonderbaarlik! Maar die groot tafel het ook `n lengte gekry, as mens met myle sou moet meet. O Heer, beste heilige Vader, ook die kleiner tafels het urelank geword, en die saal het nou `n dusdanige lengte, hoogte en breedte, dat mens beide Londen en Parys maklik daarin sou kon plaas. Werklik, dit is geen saal meer nie; dit is eerder `n hele wêreld!”

[9] Ek sê: “Ja broeder, hier doen ons dit dan ook ietwat groter as op aarde op die Reinerkögel! Wat dink jy?” Robert sê: “O Vader, U is te goed en te genadig! Om `n vonk van dié lig oor te bring na die aarde, sou haar so laat skitter dat die son soos `n donker klomp daarby sou lyk! Maar het die geeste op die twee hoë galerye bokant ons, ook tafels, spyse en drank?” 

[10] Ek sê: “Ja seker! My huis het, soos jy buite sou opgemerk het, drie verdiepings. Vanaf elke verdieping kan mens via die gelykvloerse lopende galery met hierdie eetsaal, wat die hoogte van die drie verdiepings is, bereik. Dit is egter nie die enigste saal in die huis nie. Daar is nog baie wat almal vir verskillende doeleindes ingerig is. Jy sal hulle almal geleidelik leer ken. Laat ons nou egter probeer om ook `n goeie plek aan die groot tafel te kry!” 

[11] Robert sê: “Heer, êrens sou `n rustige tafeltjie vir my beter wees. Want daar aan die groot tafel is tog nêrens meer `n goeie plekkie te vinde nie.” Ek sê: “Jy het ook nog gelyk! Daar staan duidelik nog `n vry, taamlik rojale tafel oop. Maak dit maar gereed, en ons almal, wat van die aarde hierheen gekom het, sal aan haar plaasneem. Vanaf hierdie tafel kan ons alle gaste ook goed oorsien en kan ons ook die beste deur hulle opgemerk word.” 

[12] Robert en sy helper maak die tafel dadelik gereed, en Ek, die vorste en nog enkele ander benewens Robert, sy helper Peter en beide die vroue, gaan aan tafel en eet en drink van alles wat op die tafel is. Na die ete verhef die baie gaste hulle en hef vir my `n magtige lofsang aan, wat Robert besonder goed geval.

[13] Nadat die lieflike lied met `n oorvloed aan teer liefdeswoorde beëindig is, begin vanaf die galerye `n egte hemelkonsert te klink. Die opening bestaan uit `n pragtige kantate* met begeleiding van baie suiwer gestemde harpe met `n klank wat egter so helder en matig is, dat dit deur geen instrument op aarde in suiwerheid geëwenaar kan word nie. Dit is nog die beste te vergelyk met die klank van `n eolusharp wanneer `n suiwer en gelykmatige wind die harmoniese punte op die suiwergestemde snare laat klink. *(liries-epiese musiekkomposisie met arias en kore)

[14] Robert weet van suiwer geluksaligheid geen raad nie en die twee vroue ween van ontroering. Met `n vol gemoed sê Helena: “O God, o God, wat se aangrypende musiek is dit nie; mens sou heeltemal kan wegsmelt daarby! Elke toon dring verruklik deur tot in die hart. Robert, dit klink wel heelwat anders as die mooiste opera in die teater en oneindig beter as Turkse musiek!”

[15] Glimlaggend sê Robert: “Kom nou! Hoe kan mens nou na hierdie pragtige simfonie nog aan aardse, en dan nog wel aan Turkse musiek dink!” Helena sê: “Jy het gelyk! Dit is nou eenmaal my manier van doen: wanneer ek iets baie besonders goed en eg wil laat uitkom, stel ek altyd vir die grap iets baie banaal daarteenoor, en ek dink dat so-iets nie verkeerd is nie!” Robert sê: “Ja, jy het wel gelyk, maar stil nou, want by hierdie musiek moet mens egter net ore wees!”

[16] Saggies vra keiser Josef My: “O Heer en Vader, deur wie is hierdie kantate gekomponeer?” Ek sê: “Sien jy nie die dirigent daar op `n verhoging nie?” Josef sê: “O ja, liewe Vader, maar hoe hy heet en wie hy op aarde was, weet ek nie.” Ek sê: “Dit is Dawid, wat eens koning was van Israel. Hy is hier `n eerste dirigent en tewens die mees voortreflikste skepper van sulke musiekstukke, waaraan Ek steeds die grootste genoegdoening beleef.”

[17] Josef sê: “Ja, dit noem ek nogeens `n komposisie! In sy totaliteit klink dit dan soos `n grootse simfonie vir koor en orkes. Elke afsonderlike toon klink al soos `n volledige, sag uitgevoerde sonate. As ek ooit op aarde iets sou gehoor het wat ook maar naastenby so sou klink, dan sou dit die harmoniese klanke van die sogenaamde mondharmonika met die fynste silwer plaatjies wees. Ook dit besit in wese slegs `n bepaalde grondtoon, maar daarbinne ontwikkel dit as liefdesgeeste in die teerste vibrasies alle moontlike melodieë en modulasies. So kom dit ook hier vir my voor. Die grondtone vorm harmonies die hoof kantate, maar elke afsonderlike grondtoon word verlewendig deur wondermooie sonates.

[18] Ek sou egter graag nog iets van U wil verneem: Waar bevind die musici hulle, wat voor en tydens my tyd op aarde op die gebied van die musiek werklik die mooiste gepresteer het, soos byvoorbeeld Handel, Bach, Gluck, Mozart, Haydn en nog enkele ander wie se name minder bekend is?” Ek sê: “As jy per geleentheid in die eerste en tweede hemel kom, waar jy eweneens die mees fantastiese prag sal aantref, sal jy die geeste daar vind. Maar let nou op! Daar kom nou `n ander gedeelte van die konsert.” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205