Elfde saal - elfde gebod. Die liefde tot God
98 Ons is reeds in hierdie saal en sien in die middel daarvan ook `n ronde bord aan `n groot, wit glansende pilaar. Dit glans soos die son en in die middel staan in robynrooi stralende skrif geskrywe:
2 "Jy sal God u Heer bo alles liefhê met u hele hart en met al u lewenskragte wat deur God verleen is ".
3 Naas die inhoudryke, pragtige sonbord sien ons tewens, meer as in die ander sale ook, `n groot aantal opgroeiende kinders wat, soos julle kan sien, nou eers na die bord kyk, dan weer met hulle leraar praat en vervolgens in hulleself gekeer, met hulle hande kruiselings op die bors daarby staan soos standbeelde. Die hele aanblik sê reeds dat dit hier om iets buitengewoon belangriks gaan.
4 Menigeen sou hom miskien kan afvra en sê: Dit was natuurlik te verwagte, maar op die keper beskou wil die op die sonbord geskrywe gebod tog niks anders in wese sê as dit wat alle vorige gebooie alreeds tesame gesê het. Waarom moet juis die bord dan hier so glans, terwyl alle vorige tien borde slegs eenvoudig wit was en soos gebruiklik met `n donker substansie beskrywe was? Hierdie opmerking is nie heeltemal sonder innerlike betekenis nie, maar desondanks verloor dit hier haar waarde, soos alle ander leringe en beweringe na slegs één woord uit die mond van die Heer sondermeer hulle glans moet verloor.
5 Dit is presies soos dit deur die groot natuur op aarde dag in en dag uit byna as vanselfsprekend aangetoon word. Laat ons onsself net voorstel hoeveel duisende en nogeens duisendmaal duisend kleiner en soms ook groter en sterker ligte daar elke nag vanuit die hoë hemel na die duister aarde straal. Selfs die maan is dikwels die hele nag aktief. By die pragtige lig steek die mense op aarde byna ewe veel kunsligte gedurende die nag aan.
6 By hierdie oorvloed aan lig sou mens dink dat dit nie uit te hou sou wees gedurende die nag op aarde met al die lig nie, maar die ervaring het ons altyd nog geleer dat na die ondergaan van die son, ondanks die feit dat daar steeds meer ligte aan die hemel verskyn, dit op aarde steeds donkerder word, namate die son verder agter die horison verdwyn.
7 Wie kan sê dat hierdie ligte nie pragtig is nie? Ja, `n middelmatige vereerder van God se wondere moet by die aanblik van die nagtelike sterrehemel met die hande op sy bors sê: O Heer, ek is nie waardig om in U heiligdom, in hierdie oneindige tempel van U almag te wandel nie! Ja waarlik, mens kan elke nag met die volste reg uitroep: O Heer, wie U werke aanskou, ondervind `n trotse vreugde daarby.
8 Waarom dan `n trotse? Omdat elke mens vir hom werklik voldoende rede het om uit `n gevoel van suiwer vreugde en saligheid behoorlik trots te wees omdat Hy, wat sulke wonderwerke skep, sy Vader is!! - Iedereen het dus redelikerwyse die heilige reg om hom te verheug wanneer hy snags min of meer in homself gekeer die groot wonderwerke van sy almagtige Vader aanskou. En waarlik, die vlam van `n lamp of die van `n kaggel is nie minder `n wonderwerk van die almagtige Vader as die skitterende stralende lig van die tallose sterre aan die hemel nie!
9 En kyk nou, al hierdie so bewonderenswaardige, wonderbaarlike prag lyk soos die Woord van die Ou Testament in al sy fasette.
10 Ons sien aan hierdie ou, maar nog steeds nagtelike hemel, `n nouliks te tel aantal groter en kleiner ligte. Hulle straal heerlik en wie hulle aanskou, word te alle tye met `n diep, heilige eerbied vervul. Waarom? Omdat sy gees iets groots vermoed agter hierdie ligte. Maar hulle staan nog te ver van hom af. Hy kan kyk en reik en tas, maar die klein ligte met hulle groot inhoud wil nie naby sy ondersoekende gees kom nie.
11 Wie is egter hierdie hemelligte in die ou hemel van die gees?
12 Kyk, dit is al julle bekende, van God se gees vervulde patriarge, vaders, profete, leraars en leiers van die volk. Maar op aarde is daar tog ook `n hele spul kunsmatige ligte; wie is hierdie dan in die Ou Testament? Dit is die agtenswaardige mense wat getrou geleef het volgens die woord wat uit die mond van die mense wat met God se gees vervul was, gekom het, en wat deur hulle lewenswandel hulle bure verlig en verkwik het.
13 So het ons hierdie pragtige, nagtelike skouspel voor ons. Wel word soms, deur nagtelike plaaslike storms die strale van die hemel hier en daar deur verbytrekkende wolke kortstondig bedek. Maar dieselfde storm, wat eers `n ligonvriendelike wolk voor die pragvolle sterrehemel skuif, juis hierdie storm dryf die wolk langs die horison weg, waarna die uitspansel skoner word as wat dit voorheen was. Alles en elkeen word angstig deur so 'n kortstondige storm en verlang weer na die rustige, pragtige, deur baie duisende ligte verligte nag. Maar `n natuurkundige sê: Sulke storms is niks anders nie as die gewone voorbodes van die naderende dag; daarom hoef mens nie angstig te wees nie.
14 So is dit ook werklik. Want waar groot kragte in beweging gesit word, kan mens dit tog met reg opsom en sê: Hier kan `n nog groter, ja die allergrootste oerkrag nie ver weg wees nie, want klein stormpies is niks anders as systrominge van `n groot orkaan, wat nie meer so ver weg is nie. Dus het ons natuurkundige wel gelyk en ons verkwik ons nog steeds aan die heerlike prag van die wonderbaarlike nag.
15 Ons dwaal soos verliefdes rond onder die baie vensters van die groot, pragtige huis en kyk met `n hart vol fantasie en verlange omhoog na die deur `n naglampie swak verligte ligopeninge van die huis, waaragter ons die voorwerp van ons liefde vermoed.
16 Baie vermoedens, duisend waardevolle gedagtes skiet soos vallende sterre langs ons liefdeshemel, maar geeneen van die vlugtige, kortstondige liggies wil die dors van ons liefde voldoende lafenis gee nie.
17 So gaan dit ook met die mens in die ou nagtelike sterrehemel van sy gees. Maar wat gebeur daar? Deur die opgaan van die son begin die horison rooi te kleur. Ligter en ligter word dit aan die horison waar die son opkom. Nog één blik na die voorheen so pragtige hemel, en wat sien mens? - Mens sien die een na die ander ster verdwyn.
18 Die son, die heerlike son kom met haar oerewige daglig op en daar is aan die hemel geen sterretjie meer te sien nie, want die son het met haar lig elke atoompie van die hemel ligter gemaak soos wat die tallose sterre tesame dit nie tydens die nag kon bewerkstellig het.
19 Vir die wagtende verliefde, wat die hele nag tevergeefs rondgedool het, gaan slegs één venster van die huis, wat vir hom so besonder belangrik is, oop. En vanuit die een venster begroet die vurig verlangde voorwerp van sy hart hom en sê met `n welwillende blik meer vir hom, as sy tallose fantasieë en gedagtes voorheen tydens die nag.
20 So sien ons in die groot natuur daagliks `n skouspel wat volkome met ons geestelike ooreenstem.
21 Die maan, net soos Moses, sien ons met afnemende en verblekende lig agter die avondlike gebergte ondergaan wanneer die magtige son in die môre bokant die horison opkom. Alles wat voorheen tydens die nag nog in `n geheimsinnige duister gehul was, staan nou helder verlig voor almal se oë!
22 Dit alles is die werk van die son. En aan die geestelike hemel is alles die werk van die een Heer, die een Jesus; Hy alleen is die enige God van hemel en alle wêrelde!
23 Wat Hy Self is soos die goddelike son van alle sonne, dit is ook elke afsonderlike woord uit Sy mond, ten opsigte van alle tallose woorde uit die monde van geïnspireerde patriarge, vaders en profete. Tallose vermaninge, wette en voorskrifte vind ons in die verloop van die Ou Testament. Dit is sterre en ook kunsmatige liggies van die nag. Maar dan kom die Heer, spreek slegs één woord - en die woord weeg op teen die hele Ou Testament.
24 En sien, om juis hierdie rede verskyn dan ook die eerste woord hier in hierdie elfde saal soos `n selfstandige stralende son, waarvan die lig weliswaar tallose sterre goed verlig, maar dat dit daarenteen self ewig nooit nodig het om hom van die weerskyn van die sterre te bedien nie. Want dit is immers die oerlig waaruit al die tallose sterre hulle deel van die lig geneem het.
25 So sal dit ook hier in hierdie verskyningsvorm seker begryplik wees waarom die vorige tien borde slegs wit, dus matglansend opgestel is, terwyl ons hier die oerewige sonlig uitgebeeld sien, wat geen voorafgaande of nagtelike lig nodig het nie, maar reeds al die lig in homself het.
26 Wie dit ook maar ietwat ter harte neem, sal volkome insien waarom die Heer gesê het: "By die gebod van die liefde is Moses en al die profete inbegrepe". Hiermee is seker net so veel gesê, as wanneer mens op natuurlike gebied sou kan sê: Oordag sien mens die sterre nie meer nie en het mens hulle lig ook nie meer nodig nie, omdat al hulle lig eindeloos deur die lig van die son oortref word. - Hoe die volle waarheid egter daarmee kristalhelder aangetoon sal word, sal julle by die vervolg sien.