Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Tweërlei mense - skepsele en kinders. Eerste voorwaardes om tot die kindskap van God te kom

16 Ons sal nou probeer om ook hier met hierdie menslike wesens ietwat meer vertroud te raak, om daaragter te kom watter agtergronde hulle het en op watter trap van innerlike geesverwantskap ons met hulle staan. As julle net ietwat beter na die vorme van hierdie mense kyk, dan sal julle baie gou sien dat hierdie menslike vorm `n groot gelykenis met julle vertoon. Hierdie beskouing gee ons duidelik aan dat hulle, wat hulle geestelike vermoëns betref, taamlik baie na aan julle moet lyk, omdat dit in hulle uiterlike vorm al ietwat tot uitdrukking kom.

2 Hoe hulle innerlike, geestelike gesteldheid soos hulle liefde, hulle verlange, asook hulle insig egter by `n nadere beskouing lyk, sal ons uit hulle gesprekke aflei, want waarvan die hart vol is, loop die mond van oor. Die Heer het `n neiging in elke mensehart gelê, waardeur hy nooit heeltemal tevrede is met wat hy het nie, maar voortdurend na iets hoër sal streef. Hierdie neiging het, soos alles, twee kante; een lig- en een skadukant. In die skadukant is die mens blind en die hoëre wat hy verlang, is laer as wat hy het; maar in die ligkant van hierdie neiging verafsku die mens al die gegewe en wil beslis net die allerhoogste, naamlik nie meer en nie minder as die Heer Self hê nie!

3 Sodoende sal ons dan ook weldra hoor dat hierdie mense hier gladnie tevrede is met wat hulle het nie. Na die onbeskryflike prag van hulle woning, van hierdie tuin en van hierdie hele wêreld, waarvoor julle aardse konings duisend jaar oorlog sou voer om dit in besit te kry, kyk hierdie mense met dieselfde oë as waarmee julle op aarde na `n aller eenvoudigste hutjie kyk. Hulle het daardeur `n voortdurende verlange na iets verhewender, grootser en verreweg waardiger. Maar ons sal na hulself luister om te hoor watter neiginge in hulle gees heers.

4 Kyk, daar voor ons is `n eerbiedwaardige grysaard wat nou, net as gevolg van die feit dat die offerhout op die altaar vanself begin brand het, `n toespraak vir die bewoners van die paleis sal hou, want so `n verskynsel word deur die bewoners van hierdie wêreld immers as `n heimlike teken beskou, waaruit hulle aflei dat die Heer hulle wense sal vervul. Luister dus! Hy sê:

5 Julle almal wat hier in my stamhuis woon, is getuie daarvan dat op ons roep `n heilige vlam op die altaar gekom het om die welriekende offer te verteer. Baie wat op hierdie wêreld lewe, slaan geen ag daarop nie en beskou dit slegs as bedrog en sinsbe­gogeling. Ons bewoners van ons huis bly egter trou aan die ou openbaring waarin gesê word dat God, ons Heer, die enige God is, wat hierdie wêreld vir ons ter bewoning gemaak het en ons die vrye wil gegee het om, oftewel geluksalig in die gees vir altyd op hierdie wêreld te bly, oftewel van hierdie wêreld weg te gaan na `n ander, waar Hy ewig tuis is te midde van Sy kinders.

6 Wie van julle dus die groot verlange het om die weg daarheen op te gaan, mag hom nou tot die Heer wend, wat Sy oor na ons toe gekeer het, sodat die Heer hom mag transformeer en op die wêreld mag plaas waar Hyself te midde van Sy kinders tuis is.

7 Julle weet dat die Heer, ons enige God, tweërlei wesens geskape het, wat vry oor hulleself kan beslis. Die eerste soort is ons skepsele, begiftig met `n vrye wil en `n verstandige gemoed, sodat ons tot ons vreugde en groot welvaart selfwerksaam kan wees. Maar die ander, Sy skepsele, het die Heer slegs hierdie wêreld, sowel liggaamlik as geestelik vir goed as woonplek toebedeel.

8 Dit is baie maklik om hierdie aangename bestemming te bereik. Want wie glo dat die Heer die enige God van die hemel is en ook die wêreld wat ons met ons voete betree, en vanuit hierdie gedagte die Heer van die heerlikheid eer deur offers en aanbidding, op die manier soos dit op hierdie hele wêreld vir sover ons haar ken gebruiklik is, die het homself, soos wat julle almal weet, vir hierdie aangename bestemming waardig getoon. Die transformasie sal, soos wat dit aan julle almal bekend is, op `n hoogs aangename en weldadige wyse geskied. En elke bewoner van hierdie wêreld het die volste reg om hom ten seerste daarin te verheug.

9 Wanneer ons egter die tweede soort skepsel beskou, waarvan daar waarskynlik baie minder sal wees, dan merk ons volgens die openbaring, dat hulle nie net skepsele soos ons, maar waaragtige kinders van die Een God is. Hierdie kinders bevind hulle in die gehele volmaaktheid van God se mag en hulle saligheid is gelyk aan die saligheid van God, want hulle het alles wat God het en hulle doen alles wat God doen, en God doen wat hulle doen!

10 Vir hulle is God nie meer die God wat Hy vir ons is nie; `n ewig ontoeganklike, wat nooit deur `n oog van hierdie wêreld aanskou kan word nie, maar vir hulle is Hy `n waaragtige Vader wat altyd onder hulle is, hulle lei en met hulle spreek soos ek met julle, vir hulle sorg, verbou en kook, sodat hulle ewig geen sorg hoef te hê nie. En in hulle volmaaktheid is hulle dan, net soos hulle almagtige Vader, volkome heer oor die hele oneindigheid en hulle verheug hulle oor hulle eindelose magsvolkomenheid, wat hulle vanuit hulle Vader besit!

11 So 'n lot is weliswaar baie anders as die van ons; ja, dit is op geen enkele manier meer met die van ons te vergelyk nie! 

12 Maar is ons, skepsele van hierdie wêreld, dan vir ewig uitgesluit van die verkryging van hierdie onuitspreeklike lot? Wat sê die openbaring daaroor wat ons eens in die oertyd van die tye van `n magtige gees vir alle tye van hierdie wêreld ontvang het? 

13 In kort lui dit as volg: Bou `n altaar in julle woning en sorg dat welriekende hout altyd op die altaar dwars oormekaar gelê is. Wanneer iemand die Een God in geloof erken het, die mag sy hart vra of dit wil ontbrand. Dan sal die vlam van sy hart die hout op die altaar aansteek en dit met helder vlamme verteer. In hierdie vlamme sal hy, wie se hart ontbrand het, die groot heilige, maar loodsware voorwaardes lees waaronder hy `n kind van God kan word.

14 Nou sê ek vir julle: Wie van julle, beste huisgenote en kinders, die voorwaardes in die vlamme wil lees, mag hier kom en lees! Stem iemand met die loodsware voorwaardes in, dan mag hy - volgens die openbaring - sy hand op die altaar lê en God, die Almagtige, sal sy gees opneem en hom na die wêreld lei waar Hy woon. Dan sal Hy die gees omvorm tot `n nuwe mens wat, al is dit slegs vir `n kort tydjie, `n sterflike, pynlike liggaam sal moet saamsleep en hom in die liggaam tot by die dood sal moet verdeemoedig. En wanneer hy dan al deur en deur verdeemoedig is, dan sal hy hom nog pynlik moet laat dood om eers dan as `n waaragtige kind van God uit die dood op te staan! 

15 Kyk nou, daar tree `n man vanuit die baie aansienlike menigte na vore wat die volgende voorwaardes uit die vlamme lees: Ontevrede met jou salige lot! Wat wil jy hê? Waarheen wil jy? Jy ken tot op hede geen lyding en nog nooit was jou wese deur pyn aangeraak nie. Die dood is vir jou vreemd en jou nek het nog nooit `n swaar las getrotseer nie. Bly jy op hierdie wêreld volgens die ewige ordening van God, dan kan jy ewig nooit val nie, in die verderf gestort word en ten gronde gaan nie. Wat jou hart maar wens en voel, het jy en sal jy altyd hê.

16 Maar is jy nie daarmee tevrede nie en wil jy daarheen gaan, waar die godskinders voortgebring word, weet dan dat God, die Heer jou deur baie en groot lyding, deur pyne en teenspoed tot die laaste lewensdruppel kragtig sal laat beproef, vóórdat jy deur die dood tot Sy kind omgevorm sal word. Maar wee jou, as jy die beproewing nie goed deurstaan nie. Dan sal jy vir die ydelheid van jou strewe ewig in die vuur van God se toorn moet boet en dit sal met jou nimmer beter gaan nie, maar jou ewige toestand sal steeds erger en smartliker word!

17 Jy sal egter op die wêreld waar die kinders van God voort­gebring word, met volkome blindheid geslaan word en niks van alles wat jy nou hier ervaar ten behoewe van jou verdere leiding, sal in jou bewussyn oorbly nie. Daar sal jy genoodsaak wees om `n baie nuwe, moeilike en sorglike lewe te begin. Daar sal vir jou dus niks anders oorbly as slegs die groot gevaar van die begeerte nie, wat die lewe op die wêreld met hom saambring.

18 Jy sal vurig verlang na alle vergelykbare volmaakte en pragtige dinge, en jy sal duidelik groot bekwaamhede en talente van die gees bespeur; maar in jou sware, met laste belaaide liggaam sal jy dit nie kan verwesenlik nie. Mag jy egter desondanks daar anderkant tog middele vind om dit waarna jou gees, as gevolg van `n nog oorgeblewe neiging om te verlang, op `n wêreldse manier te bewerkstellig, al is dit hoe onvolmaak, dan sal jy daardeur baie sondig voor God. En wil jy geen afstand daarvan doen nie, dan sal `n ewige verdoemenis in die ewige vuur van God se toorn jou lot wees!

19 Hier mag jy dit joune noem wat jy van God gekry het; daar op die verste wêreld sal jy nog geen grassprietjie vir jou mag toe-eien nie. Rykdom en prag is hier deugde, maar daar word dit vir jou as `n dodelike sonde aangereken. Hier mag jy wil en die aardbodem gehoorsaam jou op jou wenke, maar daar moet jy jou voedsel in die sweet van jou aanskyn self pynlik en moeisaam soek en toeberei.

20 Dit is die voorwaardes wat jou te wagte staan en waaraan jy moet voldoen as jy jou tot `n kind van God wil ontwikkel. Dit is nie onmoontlik dat jy by God genade en ontferming sal vind as jy Hom bo alles sal liefhê en die kleinste en geringste wil wees en al die leed en die pyn met groot geduld en in volledige oorgawe aan die wil van God sal verdra nie. Maar dit is veel eerder moontlik dat jy sal val, as wat jy sal opstaan. Daarom, bedink jou goed en lê dan jou hand op die altaar, sodat daar met jou mag gebeur wat jy wil!

21 Kyk, so staan die sake hier. Ons wil ons hiermee egter nog nie tevrede stel nie, maar hierdie gebeurtenis nog ietwat gadeslaan. Vir julle sal daaruit spoedig in julleself `n geweldige lig opgaan en julle sal die waar, waarvandaan en waarheen baie duidelik begin te begryp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205