Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 96

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Waarom die ware betekenis van die tiende gebod verskuil is

96 Baie wat die voorafgaande gelees het, sal sê: Ons is werklik baie nuuskierig oor die ware, definitiewe betekenis van die gebod, nadat elke betekenis wat ons voorheen aan die gebod gegee het, onweerlegbaar as hoogs onsinnig voorgestel was en in die belaglike getrek was. Ons sou in alle erns wel baie graag wil verneem wie nou eintlik die ‘jy’, die ‘naaste’ en die se ‘vrou’ is. Want uit die gebod is niks met sekerheid af te lei nie. Die ‘jy’ kan wel iedereen wees, maar of daar ook `n vrou daarmee bedoel kan wees, dit is nog `n ope vraag. Die naaste is uiteindelik wel ietwat nader te bepaal, veral wanneer mens die woord in `n ietwat ruimer betekenis opvat, waardeur dan elkeen wat op een of andere manier ons hulp nodig het, ons naaste is. Die vrou gee hier sekerlik die grootste probleem, want mens weet nie of daaronder slegs die getroude vrou, of ook die ongetroude vroulike geslag verstaan moet word nie. Daar word hier weliswaar meer in die enkelvoud as in die meervoud gespreek, maar dit maak die saak volstrek nie duideliker nie. Want wanneer mens in een of ander land op aarde die poligamie (veelwywery) aanvaar, dan sou mens weer met die enkelvoud duidelik `n nuwe probleem hê. Daarom is ons des te nuuskieriger oor die ware betekenis van die gebod, omdat die letterlike betekenis oral volstrek nie steekhoudend is nie.

2 En ek voeg nog hieraan toe: Dit is dus helder en duidelik dat deur die aanvaarding van die suiwer uiterlike, letterlike betekenis, slegs die grootste onsin, maar nooit een of ander gefundeerde waarheid afgelei is nie.

3 Mens sal nou weliswaar sê: Ja, waarom het die Heer die wet dan nie dadelik so gegee, dat die ware betekenis waarin dit gegee is, nie vir elkeen verborge, maar volkome oop lê, sodat mens dan ook weet hoe dit volgens hierdie betekenis in ag geneem moet word.

4 Hierdie teenwerping lyk, oppervlakkig bekyk, `n taamlike verstandige een, maar op die keper beskou, is dit so dom, dat mens hom nouliks iets kan voorstel wat nog dommer is. Sodat die buitengewone dwaasheid van hierdie teenwerping egter vir elkeen onmiddellik in die oog spring, asof mens slegs enkele myle van die son af sou staan en dit skielik met sy oë sou waarneem, of vir die geval waar die mens die bos nie meer deur die bome sou sien nie, sal ek by hierdie geleentheid enkele natuurlike, kort saamgevatte beskouinge gee.

5 Laat ons aanneem dat `n sogenaamde natuurnavorser en botanikus, om sy ondersoek te vergemaklik, op die idee sou kom om te vra; waarom het die skeppende krag van die allerhoogste skeppende wese die bome en plante nie so geskape dat die kern aan die buitekant en die bas aan die binnekant sit nie, sodat mens sonder veel moeite deur `n mikroskoop die opstyging van die sap in die takke en lote die reaksies en ander uitwerkinge daarvan, noukeurig sou kan navors en opteken nie. Dit kan tog immers nie die bedoeling van die Skepper gewees het, om die denkende mens sodanig op aarde te plaas dat hy nooit in die geheim van die wonderbaarlike werke in die natuur sou kon deurdring nie. - Wat sê julle van hierdie vraag? Is dit nie uitermatig dom nie?

6 Laat ons net aanneem dat die Heer Hom deur so 'n uitdaging sou laat ompraat en die bome en die plante binneste-buite-om sou keer; sal daar dan nie onmiddellik weer ander natuurvorsers kom wat sê: Wat het ons aan die bestudering van die uitwendige kern as ons nie tewens die wonderbaarlike vorming van die inwendige bas kan ontdek nie? Wat volg nou hieruit? Die Heer sou Hom ook nou weer moet skik en op `n onbegryplike manier die bas en die kern aan die buitekant van die boom moet aanbring. Laat ons nou net aanneem dat die Heer so iets werklik tot stand sou gebring het en dat die inwendige van die boom nou slegs uit hout sou bestaan. Sal `n volgende natuurvorser dan nie dadelik `n nuwe verlange uiter nie en sê: Deur die bas en die kern elk aan één kant is die hele wonderbaarlike vorming van die hout nou bedek. Sou `n boom dan nie so gemaak kan word dat alles, kern, hout en bas aan die buitekant sou sit of dat dit tenminste so deursigtig as die lug sou wees nie?

7 Of mens uit tallose baie organe `n saamgestelde boom so deursigtig soos lug of tenminste soos suiwer water kan vorm, dit moet optici en matematici maar uitmaak. Welke vrugte daar origens aan volkome lugtige bome groei, dit sou iemand wat hom in die omgewing van die noord- of suidpool bevind, wel die beste te wete kan kom, want daar vind soms fenomene plaas waarby, as gevolg van die streng koue, soos by julle winters op die vensterrame, daar egter in die vrye lug, kristalagtige ysbome omhoog skiet. Of daar aan hierdie bome ook vye en dadels tevoorskyn kom, is nog nie tot op hede vasgestel nie.

8 Andersyds kan julle volkome daarvan verseker wees dat met betrekking tot die bome, waarby alles, sowel kern, hout en bas aan die buitekant sou sit, dit ewe maklik sou wees om `n vierkantige bal te maak as so 'n boom. Ek meen dat deur hierdie beskouing die dwaasheid van bogenoemde teenwerping al sonhelder voor oë moet staan. Maar om een en ander, soos gewoonlik werklik kristalhelder te maak, sal ons nog enkele beskouinge daaraan toevoeg.

9 Laat ons aanneem dat `n arts, wat baie moet studeer en al `n karvrag aan geleerdheid soos `n poliep opgeslurp het, na `n sorglike siek pasiënt geroep word. Hy sal dan dikwels by so 'n siekbed staan soos `n stel ingespanne osse teen `n steil berg. Die omstanders vra die arts; wat dink u van die sieke, wat skeel hom tog? Sal hy wel geholpe kan word?

10 Na hierdie vraag trek die dokter weliswaar `n geleerde, maar tog baie bedenklike, verleë gesig en sê: Beste mense, dit kan ek nou nog nie beoordeel nie; ek moet die siekte eers met behulp van `n medisyne toets en aan die hand van die reaksies daarop, sal ek dan wel weet waaraan ek toe is. Tree daar egter geen reaksies op nie, dan sal julle self ook wel insien dat mense soos ons, nie binne in die liggaam kan kyk om die plek en die aard van die siekte op te spoor nie.

11 Dan sê iemand nogal lakoniek: Meneer die dokter, ons liewe Heer sou tog beter daaraan gedoen het as Hy die mens sou geskape het soos die skrynwerker `n kas, sodat u die mens kan open en dan kan sien wat daarin is: Of die Skepper sou by die mens die inwendige dele, waar mens nou so moeilik kan bykom, aan die buitekant moes plaas, soos die vingers, ore, oë en neus, sodat mens hierdie dele direk met `n pleister, met salf of met `n omslag te hulp sou kon kom. Die beste sou nog gewees het as Hy die mens so deursigtig soos water sou geskape het, of Hy sou hom gladnie uit sulke lewensgevaarlike dele moes saamgestel het nie, maar hom eintlik meer soos `n klip moes gevorm het.

12 Die dokter kyk nou wel ietwat nadenkend, maar sê tog. Ja, beste vriend, dit sou weliswaar beter gewees het, maar dit is nou eenmaal nie soos wat jy nou net gewens het nie. Dus moet ons onsself wel daarmee tevrede stel, dat ons maar net langs die weg van die ervaringe in staat is om ietwat noukeuriger die inwendige gesondheidstoestand en die siektebeeld van die mens te kan bepaal. Want al sou die mens ook soos `n kas oopgemaak kon word, dan sou dit vir hom nog veel lewensbedreigender gewees het as wat dit nou is, want slegs één ietwat onhandige greep in die inwendige sou hom skielik die lewe kan kos. Al sou mens ook die ingewande deur die opening kan bekyk, dan sou mens nog baie weinig daaraan gehad het. Die ingewande met hulle fyn organismes sou tog afgesluit moes bly, omdat by die ooplê sal al hulle lewenssappe en lewenskragte onmiddellik wegvloei. Wat egter die uitwendige plasing van die inwendige liggaamsdele betref, waarlik beste vriend, dit sou die menslike gestalte `n hoogs onestetiese aansien gee. En as die mens volkome deursigtig sou wees, dan sou mens vir mekaar skrik, want mens sou dan tegelykertyd die huid, die spiere, die bloedvate, die senuwees en ten slotte die beendere sien. Dat so `n aanblik nie erg aantreklik is nie, kan mens hom wel voorstel. 

13 Ek dink dat deur hierdie beskouing die dwaasheid van bostaande teenwerping nog duideliker in die oog spring.

14 Nou is daar nog iemand wat sê: dit is by natuurlike, materiële dinge weliswaar absurd om te dink dat hulle innerlike ook tewens hulle uiterlike sou wees, maar die woord op sigself is immers geen boom, dier of mens nie, maar iets geesteliks, want dit het niks materieel in homself nie. Waarom sou dit dan net soos `n boom of `n mens nog een of ander onbegryplike, innerlike betekenis hê? Of hoe sou dit moontlik wees as mens die tog al buitengewone eenvoud en vlakheid van die woord aanskou?

15 Goed, sê ek, laat ons die woord vader neem. Wat beteken dit? Is die woord reeds die vader self of word met die woord `n egte wesenlike vader bedoel en is die woord slegs `n uiterlike tiperende aanduiding daarvan? Mens sal sê: Hier is die woord kennelik nie die vader self nie, maar slegs `n uiterlike aanduiding daarvan. Goed, sê ek, maar ek vra tewens: Wat moet mens dan alles onder die woord verstaan, sodat mens die woord as `n uiterlike, korrekte tiperende kenmerk kan herken? Antwoord; die woord moet `n man voorstel wat die korrekte leeftyd het, getroud is, saam met sy vrou kinders hê en hulle dan werklik vaderlik na liggaam en gees versorg.

16 Wie kan hier ook maar ietwat betwis dat hierdie taamlike verstrekkende en baie wesenlike betekenis in die eenvoudige woord "vader" beslote moet lê, waarsonder die woord glad geen woord sou gewees het nie?

17 Wanneer in die uiterlike sin elke eenvoudige woord egter `n meer innerlike verklaring en ontleding moet toelaat, hoeveel groter moet nie die innerlike, geestelike betekenis van elke uiterlike woord dan wees nie, omdat alles wat met uiterlike woorde aangedui word, tog self iets innerlik moet hê, dus iets wat geestelik, kragtig en werksaam is. `n Vader het tog ook `n siel en `n gees. Sal die woord die begrip "vader" wel korrek weergee as dit die aanwesigheid van siel en gees uitsluit? Sekerlik nie, want `n wesenlike vader bestaan uit liggaam, siel en gees, dus uit iets uiterlik, iets innerlik en iets allerinnerliks. Wanneer `n wesenlike vader dus van nature so gekondisioneer is, moet dit dan nie ook, soos in `n spieël, in die woord waarmee die wesenlike vader as vader aangedui word, ook volmaak uitgebeeld beslote lê nie?

18 Ek dink dat die noodsaaklike, innerlike betekenis van die woord nie duideliker en helderder uitgelê kan word nie. Daaruit word dan ook duidelik dat die Heer, wanneer Hy Sy wil op aarde openbaar, Hy dit vir sintuiglik waarnemende mense volgens Sy ewige goddelike orde nie anders kan meedeel as juis maar net deur uiterlike, visuele beelde waarin dan klaarblyklik `n innerlike en `n allerinnerlikste betekenis beslote lê. Daarmee word dan die hele mens, innerlik sowel as uiterlik, volgens die goddelike liefde versorg.

19 Omdat ons nou kristalhelder uiteengesit het waarom so `n ordening noodsaaklik en korrek is, sal dit nou ook baie maklik wees om die innerlike, ware betekenis van ons wet byna vanself te vind en soos dit deur my beskrywe was, kan mens haar tenminste onomstootlik as die enige ware en algemeen geldende erken. En daarom gaan ons dadelik tot so 'n beskrywing oor.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205