|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 105
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Praktiese onderrig in die naasteliefde vir die leerlinge in die hiernamaals
105 Julle weet dat iets nêrens tot stand kom met slegs teoretiese kennis en geloof nie. Wat baat dit iemand, as hy sy kop met `n duisend korrekte teorieë volgestop het? Wat baat dit iemand, as hy alles wat in die boek des lewens geskrywe staan, as absoluut waar beskou? Daaraan het mens net soveel as wanneer mens hom letterlik die gehele musiekteorie sy eie sou gemaak het en dan sou dink dat die mens, as mens hierdie teorie in praktyk sou bring, werklik die voortreflikste komposisies tot stand sou kon bring, of op sy minste `n prominente virtuoos op een of ander instrument sou kon wees. Vraag; sal mens met al hierdie grondige teoretiese kennis, maar sonder enige praktiese vaardigheid, in staat wees om een of ander waardevolle stuk te komponeer? Of sal mens selfs die eenvoudigste maat van `n komposisie somaar kan sing of op `n musiekinstrument kan speel? Sekerlik nie, want sonder praktiese oefening het mens niks aan alle teorieë nie.
2 Dit is dieselfde as wanneer daar `n dwase vader sou wees, wat weliswaar sy kind goed sou versorg en sy verstand ontwikkel, maar steeds sy voete aanmekaar gebonde sou hou. Vraag; sal die kind kan loop as hy ander sien loop en as hy alle maniere van loop en alle voetbewegings van `n Spaanse dansleraar teoreties sou leer ken het? Die eerste stap wat hy waag, sal al so onseker uitval dat die slegs teoreties opgeleide kind dadelik op die grond sal lê.
3 Hiermee is meer as duidelik aangetoon dat sonder die praktyk die kennis net nêrens heen dien nie! Dit is soos `n brandende kroonkandelaar in `n leë saal, wie se lig slegs vir homself brand, maar niemand tot voordeel strek nie. Daarom is die daadwerklike uitoefening van dit wat mens geleer het en wat mens weet, onweerlegbaar die hoofsaak. Aangesien dit in die ryk van die suiwerste geeste altyd vernaamlik op die doen aankom, en die handelinge volgens die naasteliefde die vernaamste beginsel van al die geestelike werke is, word juis die gebod van die naasteliefde dan hier ook meer daadwerklik as teoreties geleer.
4 Maar hoe? Hierdie, soos julle sien, reeds volwasse leerlinge word by allerlei geleenthede deur die meer volmaakte geeste saamgeneem en moet veral by die nuutkommers vanaf die aarde die ware naaste, die wat minder naaste en dan ook die res leer onderskei. Hulle moet begryp, hoe hulle hulleself ten opsigte van die naastes, die wat minder naaste en die res behoort te gedra.
5 Soos bekend, is die gevoel van medelye op jeugdige leeftyd groter as op die kragtige, manlike leeftyd. Daardeur gebeur dit ook dat hierdie leerlinge elkeen wat hulle teëkom met diep medelye en groot barmhartigheid opneem.
6 Hulle sou elkeen dadelik die hemel wil binneskuif, omdat hulle nog nie uit ervaring geleer het dat die hemel slegs vir die waaragtige naastes `n besondere saligheid is, maar vir die minder naastes en die res `n groot, selfs allergrootste kwelling is. By hierdie geleenthede leer hulle dus eers volkome insien dat die eintlike naasteliefde hieruit bestaan, dat mens elke wese sy vryheid moet laat en mens hom dit moet gee waarna sy hart uitgaan.
7 Wanneer mens vir iemand iets anders wil doen as dit wat sy liefde verlang, bewys mens hom geen liefdesdiens nie. As iemand sy buurman vir `n jas vra en die buurman gee hom in plaas daarvan `n brood, sal die vraer dan daarmee tevrede wees? Sekerlik nie, want hy het slegs `n jas, maar geen brood gevra nie.
8 Wanneer iemand by `n familie kom en om die hand van `n dogter vra, sal hy dan tevrede wees en as mens hom, in plaas van `n bruid, `n mandjie vol sout gee? As iemand vir sake na `n in die noorde geleë plek sou wil reis, maar `n vriend neem hom in sy rytuig saam na die suide, sal die sakeman dan daarmee geholpe wees?
9 Daarom moet die geeste, voordat hulle hulle naasteliefde in praktyk wil bring, eers die geaardheid van die liefde van die geeste wat na hulle toe gelei word, deurgrond. Presies ooreenkomend met die geaardheid van hierdie liefde, moet daar dan ook gehandel word.
10 Wie in die hel wil wees, moet daarheen gelei word, want so is sy liefde, wat waarsonder daar vir hom geen lewe is nie. En wie in die hemel wil kom, moet die nodige leiding kry, waarmee hy dan op die korrekte weg gelouter en volkome bekwaam in die hemel kan kom en daar dan as `n waaragtige geheiligde burger kan bestaan.
11 Maar dit is ook nie voldoende om geeste na een en dieselfde hemel te bring nie, want die hemel moet baie noukeurig ooreenstem met die liefde van `n gees. In elke ander hemel sal die hemelburger homself nie tuis voel nie; hy sal daarin vergaan soos `n vis op droë grond.
12 Want die geaardheid van die liefde van elke mens is sy eie karakteristieke lewenselement. Vind hy dit nie, dan is dit spoedig met sy lewe gedaan. Daarom moet die naasteliefde in die ryk van die suiwer geeste ook uiters noukeurig en goed gelouter en gevorm word, voordat hierdie geeste eg in staat is om die nuutkommers, net soos diegene wat hulle reeds langer in die geestesryk bevind, werklik besielend en verlewendigend in die goddelike ordening op te neem.
13 Die ontwikkeling van hierdie naasteliefde en haar loutering bestaan dus uit die deurvorsing en herkenning van die geaardheid van die liefde in die geeste, om daarmee dan ook die weë van die goddelike ordening te herken en te begryp langs watter weë en op watter manier hierdie geeste gelei moet word.
14 Geen enkele gees mag ook maar enige geweld aangedoen word nie. Sy vrye wil, gepaard met sy insig, bepaal die weg, en die liefde van die gees bepaal die wyse waarop hy op die weg begelei moet word.
15 Wanneer geeste op die plek kom waarna hulle liefde uitgaan en daar boosaardig optree, dan eers word dit tyd, maar slegs volgens die aard van hulle boosheid, om straffend op te tree.
16 Wel nou, in alles wat die naasteliefde betref, word ons leerlinge baie nougeset praktykgerig onderrig. Het hulle `n sekere vaardigheid daarin verkry, dan word die onderrig afgesluit met die inwyding. Daarna word hulle op `n noukeurig vasgestelde, periode wat aan die omstandighede aangepas is, aan die mense wat op aarde lewe, as beskermgeeste toegewys, veral om hulle die geleentheid te gee om te kan oefen in die ware geduld van die Heer. Julle sal nouliks kan glo hoe moeilik dit vir so 'n hemelse opgeleide gees is, om met die halsstarrige mense van hierdie aarde so uiters toegeeflik om te gaan, dat hulle nooit merk dat hulle deur so 'n beskermgees op al hulle weë begelei en volgens hulle eieliefde gelei word nie.
17 Waarlik, dit is geen kleinigheid wanneer mens met alle mag en krag toegerus is en dan as beginner geen vuur van die hemel mag afroep nie, maar in die bewussyn van die eie mag en krag voortdurend moet toesien hoe die mens wat aan hom toevertrou is, hom in allerlei kwaad van die wêreld begewe en die Heer steeds meer vergeet.
18 `n Kindermeisie het met `n engelagtige, ondeunde kind werklik `n hemel vergeleke met die opgawe van `n beskermgees wat aan die begin van sy missie staan. Hoeveel trane moet hulle vergiet, want hulle hele invloedsmag enkel en alleen bestaan uit `n uiters sagte fluistering in die gewete, of by buitengewone geleenthede, hoogstens uit die voorkoming van bepaalde ongelukke, wat vir die sterfling op aarde deur die hel bewerkstellig word. In alle orige gevalle mag hulle nie ingryp nie.
19 Maar stel julle julleself nou net die dikwels bitter lot van `n sogenaamde huisleraar of hofmeester voor, as hy van die ruwe vlegsels kinders kry om op te voed. Is dit dan nie beter om `n houthakker te wees nie? Sekerlik, want die hout laat hom omkap en splyt volgens die wil van die houtkapper, maar `n onbehoue kind spot met die wil van sy meester. Tog is hierdie toestand nouliks `n flou afspieëling vergeleke by die van `n beskermgees, wie se beskermling `n vrek, dief, rower, moordenaar, speler, hoer of egbreker is. Want die beskermgees moet hulle gruweldade steeds lydsaam aansien, en hy mag, ondanks al sy mag, tog absoluut nie ingryp nie. En as daar al by sommige geleenthede `n ingryping geoorloof is, dan moet dit tog so verstandig uitgevoer word, dat die beskermling daardeur nie in die geringste in die vryheidsfeer van sy wil gehinder word nie, maar dat hoogstens die daadwerklike uitvoering van die wil beïnvloed word.
20 Kyk, dit is dus die tweede praktiese taak waarin ons gewyde leerlinge hulle in die naasteliefde, maar veral in die geduld van die Heer moet oefen. Wat daar verder met hulle gebeur, na hierdie geduldsoefening, sal die vervolg laat sien.
|
|
|
|
|