Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 95

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Voorbeelde van `n verkeerde opvatting van die tiende gebod

95 Hoe die wet lui weet ons; dit verbied `n verlange of `n begeerte. Veronderstel nou net die volgende: `n Man wat verarm is, het `n ryk buurman. Die vrou van hierdie buurman, as naaste van ons arm man, het, volgens wat bekend is, `n medelydende en milddadige hart. Nou kry ons arm man `n sterk verlange na die milddadige buurvrou en vra haar of sy sy honger kan stil. Nou is die vraag, het hy dan nie al gesondig nie? Hy het kennelik `n verlange en begeerte na die vrou van sy buurman geuiter. Maar daar staan: Jy sal geen verlange na die vrou van u naaste hê nie; wie kan dan redelikerwys verklaar dat die billike verlange van die arme geen sonde is nie? Want deur die gebod "geen verlange, geen begeerte nie" moet tog seker elke verlange en elke begeerte verbode wees omdat by die woord "geen" absoluut geen uitsondering aantoonbaar is. Dan moet elke vorm van verlange daarmee verbode wees. 

2 Lyk dit dan nie in hierdie verklaring werklik so asof die Heer hiermee die vroulike geslag van die liefdadigheid wil afhou nie, as gevolg waarvan elke weldaad wat `n huisvrou aan `n arm mens bewys, tog sekerlik beskou kan word as `n sonde wat lynreg teen die goddelike gebod indruis?

3 Is dit wel denkbaar dat daar vanuit die allerhoogste liefde van die Heer so `n onsinnige gebod gegee sou wees? Mens sal nou weliswaar sê: Die gebod beperk hom slegs tot die vleeslike, wellustige verlange. Maar ek sê: Dit is goed, laat ons dit maar daarby laat, `n mens moet my daarby slegs toestaan om enkele opmerkings te maak. Gooi hierdie opmerkings die "daarby laat" omver, dan moet elke teenspreker hom sondermeer daarby neerlê dat hy by die soek na die betekenis van hierdie gebod, `n ander weg moet inslaan. Luister dus na die opmerkings.

4 Die gebod sou dus slegs `n sinlike, vleeslike verlange verbied. Goed sê ek, maar vra tewens; word daar in die gebod `n bepaalde vrou bedoel, of word in die gebod alle vroue bedoel, of word daar bepaalde natuurlike uitsonderinge gemaak?

5 Laat ons aanneem dat die verskeie buurmanne wat teenoor mekaar woon ouer, nie meer so aantreklike vroue het nie. Dan kan ons daarvan verseker wees dat hierdie buurmanne ten opsigte van hulle diverse buurvrouens absoluut geen vleeslike verlange meer het nie. Derhalwe sou slegs die jonger vrouens bedoel wees en ook slegs dan, wanneer hulle mooi en aantreklik is. Seker sal ook ouer en afgeleefde manne dan ook nie meer veel gepla word deur hulle vleeslike, sinlike begeertes met betrekking tot vrouens van hulle bure nie.

6 Daaruit sien ons dat hierdie wet slegs onder bepaalde voorwaardes sinvol is. Dus het die wet leemtes en bygevolg geen algemene geldigheid nie. Want waar die natuur reeds uitsonderinge maak, sodat `n wet nie eens die volle natuurlike geldigheid het nie, hoe kan hy hom dan in die geestelike laat geld? Wie dit nie kan begryp nie, moet maar net `n boom omkap en kyk, of hy dan nog wil groei en vrugte dra.

7 `n Goddelike wet moet tog sekerlik so geformuleer wees, dat haar geluksaligmakende geldigheid vir alle ewighede vasgelê is. Wanneer in die loop van die kort aardse bestaan die wet onder bepaalde omstandighede natuurlikerwys oor die geldende grense heen gedrywe word, dus al sy werking tydens die natuurlike toestand van die mens verloor, wat sal dit dan vir die ewigheid beteken? Is elke wet van God nie op Sy oneindige liefde gebaseer nie? Wat is daar dan vervolgens, as so 'n wet geen geldigheid meer het nie? Is dit iets anders as wanneer mens sou wil beweer dat die goddelike liefde ook onder bepaalde omstandighede haar geldigheid verloor vir die mense?

8 Daarop berus egter ook die treurige geloof van julle heidens-christelike instelling, waarvolgens die liefde van God slegs solank sou duur as wat `n mens op hierdie aarde leef. As hy eenmaal liggaamlik gesterwe het en staan hy slegs daarby as siel en gees, dan tree die onwrikbare, verskriklike streng, straffende toorn van die geregtigheid van God onmiddellik in werking, waarby daar van liefde of barmhartigheid ewig geen sprake meer is nie. 

9 Het die mens deur sy lewenswyse, die hemel verdien, dan kom hy nie as gevolg van die goddelike liefde nie, maar slegs as gevolg van die goddelike geregtigheid in die hemel, natuurlik deur sy eie, vir God nuttige en welgevallige, verdienste. Het die mens nie op die manier geleef nie, dan is die ewige verdoemenis, waaruit geen verlossing meer te verwag is nie, oombliklik `n feit. Met ander woorde wil dit sê dat daar een of ander dwase vader sou wees wat in sy huishouding vir sy kinders `n wet voorgeskryf het wat as volg lui:

10 Ek gee al my kinders vanaf hulle geboorte tot aan hulle sewende lewensjaar volkome vryheid. Gedurende hierdie periode sal hulle almal, sonder onderskeid, van my liefde geniet. Na hulle sewende jaar trek ek my liefde by al my kinders terug en sal hulle vanaf die oomblik oftewel oordeel of gelukkig maak. Hulle wat as onmondige kinders my swaar wette onderhou het, sal hulle voortaan, na hulle sewende jaar, oor my hoogste welgevalle kan verheug, maar hulle wat hulleself in die loop van die sewe jaar nie volledig, volgens my swaar wette tot op die kleinste deeltjie verbeter het nie, sal voortaan vir alle tye uit my vaderhuis gewerp en vervloek word. - Wel, wat sou julle van so 'n gruwelike esel van `n vader sê? Sou dit nie nog verskrikliker wees as die skandaligste tirannie van alle tiranne nie?

11 As julle al so-iets by die mense onbeskryflik dwaas, sleg en kwaadaardig sou vind, hoe ontsettend onsinnig moet die mense dan wel wees wat nog veel slegter dinge aan God, wat die allerhoogste liefde en wysheid self is, kan toeskryf en van Hom verwag

12 Wat het die Heer aan die kruis gedoen, as die enigste goddelike Wysheid, toe Hy in `n sekere sin, van buite af gesien, van die ewige Liefde geskei blyk te gewees het? Hy, as die Wysheid en as sodanig die bron van alle geregtigheid, het Hom Self tot die Vader gewend, oftewel tot die ewige Liefde en het Hom nie versoek om in `n sekere sin regmatige wraak toe te pas nie, maar Hy bid tot die Liefde om al hierdie misdadigers, dus ook alle hoëpriesters en fariseërs, hulle daad te vergewe, omdat hulle nie geweet het wat hulle doen nie!

13 Dit doen die goddelike geregtigheid dus hier reeds op homself. Sal die oneindige goddelike liefde dan begin om daar te verdoem, waar die goddelike geregtigheid die nog eindelose barmhartige liefde om ontferming smeek?

14 As mens nie erken dat die Heer werklik ernstig was met Sy bede nie, maar sê dat Hy dit slegs by wyse van voorbeeld sou gedoen het, maak mens dan nie van die Heer `n huigelaar deurdat mens Hom slegs vir die skyn aan die kruis om vergewing laat vra, maar heimlik in Hom tog die onuitroeibare wraak sien waarmee Hy al hierdie boosdoeners in en deur Homself tog vir ewig tot die allerpynlikste, helse vuur verdoem het?

15 O wêreld! O mense! O mees verskriklike onsin wat ooit êrens in die gehele oneindigheid en ewigheid uitgedink kon gewees het! Kan mens hom wel iets skandeliker voorstel, as wanneer mens vir `n valse magsposisie van die hel, ten behoewe van slegs tydelike aardse gewin, die Heer aan die kruis tot leuenaar, skynprediker, verraaier en dus tot algehele wêreldbedrieër maak? Uit wie se mond kan so `n leer en sulke woorde anders kom as uit die mond van die aartsatan?

16 Ek dink dat dit weer voldoende is om julle te laat insien watter gruwele daar kan voortkom uit `n totaal verkeerde interpretasie en uitleg van `n goddelike wet. Dat dit so is by julle op aarde, moet vir julle nou wel voor die hand liggend wees. Maar waarom dit so is en wat die oorsaak is, dit weet julle nie en dit kon julle ook nie weet nie, want die inhoud van hierdie wet het te veel verward geraak, sodat niemand hierdie knoop ooit ten volle sou kon ontwar het nie

17 Daarom het die Heer Hom oor julle ontferm en laat Hy julle in die son, waar dit tog sekerlik lig genoeg is, die ware ontwarring van hierdie knoop verkondig, sodat julle die algemene oorsprong van alle kwaad en duisternis mag insien.

18 Mens sal ewenwel sê: Ja, maar hoe kan dan soveel kwaad ontstaan het deur die verkeerde begrip van die tien Mosaïese gebooie?

19 Ek dink: Omdat die tien gebooie deur God gegee is en selfs die hele oneindige ordening van God in hulleself dra.

20 Wie dus op een of ander punt, op watter manier dan ook, buite die goddelike ordening tree, bly hy op geen punt meer in die goddelike ordening nie, omdat dit gelyk is aan `n reguit weg. Wanneer iemand waar dan ook van hierdie weg afwyk, kan hy dan sê: Ek het slegs `n vierde, `n vyfde, `n sewende of `n tiende van die weg afgewyk? Sekerlik nie, want as hy die weg ook maar ietwat verlaat, het hy al van die hele weg afgewyk. Wil hy nie na die weg terugkeer nie, dan sal mens tog sekerlik kan beweer dat juis die een punt, waar die wandelaar van die weg afwyk, die wandelaar van die hele weg afgebring het.

21 En net so is dit ook met elke afsonderlike onderdeel van die goddelike wet. Daar sal nie maklik iemand te vinde wees wat geweldig teen die hele wet sou gesondig het nie, want dit is byna onmoontlik. Dit is al genoeg as iemand op één punt gesondig het en dan daarin bly volhard. Op hierdie wyse verlaat hy tog die hele wet en as hyself nie wil en die Heer hom nie behulpsaam sou wil wees nie, sou hy nooit op die weg van die wet, of in die goddelike ordening kan terugkom nie. En so kan julle ook verseker wees daarvan dat die meeste kwaad in die wêreld helaas, seker aanvanklik, deur `n eiesinnige en kwaadwillige onbegrip, of eerder nog deur die kwaadwillige verdraaiing van die betekenis van hierdie twee laaste goddelike gebooie veroorsaak was.

22 Ons het nou egter voldoende belaglike en verkeerde interpretasies van die gebod meegedeel en daarom sal ons nou tot die verklaring van die ware betekenis van die gebod oorgaan, waardeur julle alle dwaashede nog onvergelyklik helderder belig sal sien.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205