`n Mensekind as beeld van die hemelryk en die universum
127 Ons het in die voorgaande verhandeling `n treffende beeld vir elkeen se oog neergesit, waarmee elkeen vanuit die uiterlike verskyningsvorm, sonder enige moeite, tot die innerlike betekenis kan kom. Aangesien die terrein egter baie groot is en die verskyningsvorme daarop talloos is, het die mens nooit teveel aan korrekte beelde om hom in alle situasies van sy aardse bestaan goeie raad te kan verskaf nie. Daarom sal ons na `n ander, op sigself weliswaar baie eenvoudig, maar inhoudelik des te ryker en `n algemener beeld, oorgaan om ons saak toe te lig.
2 Sou daar iets eenvoudiger kan bestaan as `n onskuldige, armsalige mensekind? Hy het twee voete, waarop hy hom kan voortbeweeg, dan `n romp vol ingewande, twee beweegbare arms en daarbo op die hals `n beweegbaar hoof. Aan die hoof sit twee ore, wat altyd ewe ver van mekaar verwyderd bly, terwyl die een altyd dieselfde hoor as die ander. So het hy ook twee oë, wat hulle vaste plek in die hoof het en nie nader aanmekaar gebring kan word nie, hoewel hulle tot beweging in staat is. Met beide hierdie oë kan elke voorwerp apart bekyk word. In die middel tussen die oë sit die neus met twee neusgate. Dit asem die lewenslug in en laat die onsuiwerhede van die hoof afvloei. So het dit ook `n mond, waarvan slegs die onderste gedeelte kan beweeg. Daarin het dit weliswaar onbeweeglike tande, maar `n des te beweegliker tong. Die res van die liggaam bestaan uit die huid, vlees, bloed, senuwees, vesels, are en `n beenstruktuur, waarin beenmurg hom bevind. Kyk, dit is die beeld van ons kind.
3 Maar wie vermoed wat daar alles agter hierdie baie eenvoudige uiterlike vorm skuil? Wie sien `n hele hemel daarin? Wie die hele oneindige universum?
4 Wie soek agter die eenvoudige beeld, die konflik van die hele skepping, in die geestelike, sowel as in die natuurlike sfeer?
5 Sou iemand nou nie wil sê: In die kind is dit nouliks te sien, maar laat ons wag totdat hy `n man word, dan kan in sy denke en handelinge miskien baie gevind word, waaruit mens kan aflei dat die mens ten minste `n wesenlike deel van die skepping is wat in sy geheel daar hoort.
6 Ek sê egter: Dit is nie nodig nie; slegs die kind is voldoende. Sy twee eenvoudige voete getuig van My vaderlike, liefdevolle sorg, wat in die tien eenvoudige gebooie wat aan julle bekend is, weergegee word. Die voete is vanuit hierdie ordening ook ter ondersteuning en vir die stabiliteit van tien tone voorsien.
7 In die natuurlike sfeer stel hulle egter die planetesisteem voor, wat ook die onderste steun van `n sonnestelsel is. Ja, die planetesisteem noop, net soos die voete, deur sy beweging, die groot hoofliggaam van die son tot haar groot hoofbeweging.
8 Uit hierdie baie kort beskrywing kan julle aflei dat, al in die voete van die kind, die hele liefdevolle sorgsaamheid in geestelike sin, net soos die hele wese van die planete, op natuurlik gebied aanwesig is.
9 Op die voete rus die romp as vernaamste werkplek van die lewe. Wie sien hier in die geestelike sfeer nie dadelik die wese van die leweskenkende liefde uit My nie? En wie sien in die romp nie onmiddellik die son, as leweskenkende liggaam van die hele planetesisteem nie?
10 In die romp bevind is die hart as basis van die lewe en die allerduidelikste beeld van die liefde. Hierdie liefde is voortdurend werksaam en voer die voedsel na alle dele van die liggaam.
11 Naby hom het hierdie liefde die maag. Dit is die gasvrye kombuis, waarin die liefde met haar vuur die spyse kook en dit dan, heerlik toeberei, na alle dele van die liggaam stuur.
12 Die longe is dan as`t ware `n tweede maag, `n tweede kombuis, wat aan die spyse wat in die eerste kombuis toeberei word, nog eteriese kos toevoeg, sodat die spyse van die eerste kombuis geaktiveer word en ter ondersteuning van die lewe geskik gemaak word.
13 Hoe pragtig toon die beeld van hierdie twee kombuise, waar die aktiewe hart hom midde-in bevind, hoe die geestelike in die natuurlike ingryp om dit te vergeestelik, en as sodanig na `n hoëre bestemming te lei. En dit alles geskied deur die steeds aktiewe bemiddeling van die hart, die mees getroue beeld van die liefde!
14 Wie kan hier My eie, werkende liefde misken, waarmee Ek enersyds ook steeds die verlorene opneem, wat in die groot kombuis van die natuurlike skepping opkook en dit dan lewend maak deur die asemtog van My genade en ontferming uit die tweede groot kombuis, wat die hemel is en wat ooreenkom met die longe in die mens.
15 Elke asemtog kan aan elke mens vertel hoe Ek juis vanuit die hemel voortdurend op die lewe inwerk, sodat dit kan bestaan, en dat Ek juis deur die instroming steeds daarna streef om die dood in lewe te verander.
16 Wie nou maar ietwat helder kan dink, sal deur die wonderbaarlike, ooreenstemmende beeld sekerlik nie sonder lig bly nie. Maar laat ons verder gaan.
17 Aan elke sy van die liggaam is daar `n hand. Hierdie twee hande stel in geestelik opsig, die daadwerklike liefde voor wat hom in die wye ruimtes oral vry kan beweeg en voortdurend werk en skep.
18 Deur hierdie hande word dus ook My vry werkende, ongebonde mag uitgebeeld, wat egter tog nie buite die bepaalde ewige oerordening werk nie, want ook elke hand het as uitlopers die vingers, waarvan die aantal ooreenkom met die van die tone aan die voete. Die uitlopers aan die voete is aan dieselfde, geoordeelde ordening gebonde, terwyl die uitlopers aan die hande die vrye werksaamheid in hierdie ordening beteken.
19 So sou byvoorbeeld, `n mens wat nie in die gees wedergebore is nie, vergelyk kan word met die gebonde ordening van die voete en `n mens wat in die gees wedergebore is, met die vrye ordening van die hande.
20 Wie nou weer kan dink, sal die ooreenstemmende waarheid vind; veral as hy ook nog die natuurlike son aanskou, wat ook met die uitsending van haar strale duidelik haar vrye werkende hande aanskoulik uitbeeld.
21 Nou het ons nog die hoof, `n vaste deel op die romp, wat op sigself, in afgeronde vorm, `n volledige mens in sy geestelike sfeer voorstel. Die ore is die voete waarmee hy gaan. Die oë is die arms waarmee hy ver om hom heen kan gryp. Die neus is die long, die mond is die maag, waarin die tong, te vergelyk met die hart, is, en dit help om die materiële, sowel as die geestelike spyse te verwerk; deur die materiële onder die malende tande te skuif en dit daarna af te sluk. Dit is haar materiële aangeleentheid. Maar die tong gee ook aan die stem `n verstaanbare, geartikuleerde klank en dit is hy wat die innerlike gedagtes in verstandige woorde omsit.
22 Die inwendige van die hoof stel die gesamentlike ooreenstemmende ingewande van die mens voor, oftewel sy verfynde en vergeestelikte lewe.
23 En so laat die mens in sy hele omvang, in sy baie eenvoudige, sigbare vorm, hom in sy drie trappe sien; met sy voete die gebonde natuur, met sy romp sy geestelike sfeer, wat nog met verskillende dinge te make en te stry het, en met die hoof sy hemelse sfeer, waarin die mens op sigself weliswaar vas en onveranderlik aanwesig is, maar waardeur die sfeer van sy aktiwiteite juis des te verder reik, soos by die natuurlike mens die bestanddele van die hoof reeds eindeloos verder reik as die bestanddele van die romp.
24 Kyk, dit is nou `n baie eenvoudige, maar duidelike beeld. In die uiterlike verskyningsvorm van die beeld lê die hele hemel, die hele geesteswêreld, wat ondergeskik is aan die hemel en ook, tot in alle detail, die hele natuurlike wêreld, wat weer ondergeskik is aan die hemel en die geesteswêreld, beslote.
25 Ek dink, as julle die beeld, veral in die eenvoud van `n onskuldige kind, beskou, sal julle in hierdie verskyningsvorm al die ander met groot gemak vind en oral met eweveel gemak in staat wees om tot die fundamentele te kom. - nou het ons dan ook beelde genoeg en daar bly vir ons verder niks anders meer oor as om enkele "nabeskouings" aan dié werk toe te voeg nie; daarin staan hoe dit gelees moet word, sodat dit vrugte afwerp en daarna ook toegepas kan word.