Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 102

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Hoe mens God bo alles moet liefhê

102 Om egter deur en deur te ervaar en te begryp hoe mens God bo die wet uit moet liefhê, moet mens weet dat die wet op sigself niks anders is as `n saai weg na die eintlike liefde van God nie.

2 Wie God in sy hart begin liefhê, het die weg reeds afgelê; maar wie God slegs deur die onderhouding van die wet liefhet, is met sy liefde nog steeds `n reisiger op die weg waar geen vrugte groei en waar rowers en diewe die wandelaar dikwels inwag.

3 Maar wie God suiwer liefhet, die het Hom al bo alles lief! Want om God bo alles lief te hê, beteken tog: Om God bo alle wette uit lief te hê. Wie buite op die weg is, moet voortdurend tree vir tree verder gaan om so op die moeisaamste wyse die vooropgestelde doel te bereik, maar wie God dadelik liefhet, die slaan die hele weg, dus die hele wet oor en op die manier het hy God bo alles lief.

4 Mens sou nou miskien kan sê: Dit klink vreemd, want volgens ons begrip beteken, "Om God bo alles lief te hê": Om God meer lief te hê as alles in die wêreld. Goed, sê ek, maar vra dadelik daarby; volgens watter maatstawwe moet `n mens egter so 'n liefde meet? Die teenwerper het die maatstawwe, wat geld vir die hoogste moontlike liefde van die mense op aarde, duidelik genoeg in `n ry gesit en laat sien dat die mens op hierdie wyse glad geen maatstaf vir die “bo alles liefhê van God” kan aanlê nie.

5 Maar ek sê: Word daar nie duidelik deur die gegewe wet aange­toon hóé die mens homself, met sy begeerte met betrekking tot wêreldse dinge, moet gedra nie? In dié wet word alle dinge dus uitgebeeld en daarnaas word die regte beperking vir die liefde van die mens gegee, waarvolgens elke mens homself ten opsigte van wêreldse dinge moet gedra. 

6 Wanneer iemand nou God bo die wet liefhet, dan het hy Hom sekerlik ook bo alle wêreldse dinge lief, omdat, soos gesê, juis deur die wet aangegee word hoe mens die wêreldse dinge moet gebruik en hoe `n mens homself ten opsigte daarvan, volgens die goddelike ordening moet gedra. Met `n kort aanvulling, aan die hand van `n vergelykbare situasie, sal die hele saak sonhelder word.

7 Die Heer het vir die ryk jongeling gesê: "Verkoop alles, verdeel dit onder die armes en volg My!" Wat wil dit sê? Met ander woorde, niks anders nie as; as jy, jongman, die wet nageleef het, verhef jou dan nou daarbo uit, gee alle wette en al haar dinge aan die wêreld terug en bly jy by My, dan het jy die lewe! 

8 Wie sal nou nie begryp wat dit beteken om God bo die wet uit lief te hê nie?

9 Verder het die Heer aan sy leerlinge gesê; "As julle nie word soos hierdie kindjie nie, dan sal julle die ryk van God nie binnegaan nie". Wat wil dit sê? Niks anders nie as:

10 As julle nie na My toe kom soos dié kindjie nie en daarby op niks of niemand let nie, nóg op die wet, nóg op die wêreldse aangeleenthede, en My soos dié kind met alle liefde omhels nie, dan sal julle die ryk van God nie binnegaan nie. Waarom nie? Wel, omdat die Heer Self weer gesê het: "Ek is die weg, die waarheid en die lewe!" Wie so tot My, as synde volkome één met die Vader, wil kom, die moet deur My, die stal oftewel die ryk van God, binnegaan.

11 Solank iemand dus nie die Heer Self omhels nie, kan hy nie by Hom kom nie, al sou hy rotsvas duisend wette standvastig in ag geneem het. Want wie nog op die weg is, is nog nie by die Heer nie; maar wie by die Heer is, wat sou hy nog met die weg te make het?

12 Maar hier onder julle is dwase en wel baie honderdduisende wat die weg veel hoër aanslaan as die Heer. En as hulle al by die Heer was, dan draai hulle weer om en verwyder hulle van Hom af, om maar weer op die ellendige weg te wees! Sulke mense belewe meer vreugde aan knegskap, slawerny en aan `n harde juk as aan die Heer, wat elke mens vry maak. Sy juk is besonder sag en Sy las is lig. Sag is die juk, sodat dit op die lewensweg nie mag druk op die skouers van die liefde vir die Heer nie, en baie lig die las, wat die enigste wet van die liefde is! Laat ons nog `n voorbeeld bekyk.

13 Die wetsgetroue fariseër prys homself op die weg, maar die tollenaar vind die hele weg besonder moeilik, want hy was nooit in staat om die doel daarvan te oorsien nie. Hy verdeemoedig hom voor die Heer in sy hart, hy erken sy swakte en onvermoë om die weg presies te volg. In plaas daarvan sluit hy God die Heer in sy hart in en maak so `n reuse sprong oor die hele moeilike weg en bereik daarmee sy doel!

14 Vir wie is dit nou nie duidelik voor die hand liggend, wat "om die Heer bo alles lief te hê" beteken nie? Dus gaan ons verder. Martha is op die weg, Maria by die doel! Hieroor hoef mens nouliks nog iets te sê nie, want dit is hier kristalhelder wat "om die Heer bo alles lief te hê" beteken.

15 Maar wil ons ten oorvloede die saak nog duideliker hê, laat ons dan nog eens na die skouspel kyk waarin die Heer driemaal aan Petrus gevra het of hy Hom liefhet. Waarom het Hy hom dan driemaal gevra? Die Heer weet tog al dat Petrus Hom liefhet en Hy weet ook dat Petrus al drie dieselfde vrae vanuit dieselfde hart en vanuit dieselfde mond gelykluidend sou beantwoord. Dit weet die Heer. Dit is dan ook nie die rede dat Hy hierdie vraag aan Petrus gestel het nie, maar sodat Petrus sou erken dat hy vry is en die Heer bo alle wette uit liefhet. En daarom beteken die eerste vraag: "Petrus, het jy My lief?" - Petrus het jy My op die weg gevind? Dit bevestig Petrus en die Heer sê: "Laat My skape wei", dit wil sê: Leer ook jou broeders om My so te vind! - Die tweede vraag: "Petrus, het jy My lief?" beteken: Petrus, is jy by My, staan jy by die deur? Petrus bevestig dit en die Heer sê: “Laat dan My skape wei!" oftewel; bring dus ook jou broeders saam, sodat hulle by My mag wees by die deur na die lewe! - En vir die derde keer vra die Heer aan Petrus: "Het jy My lief?" Dit wil soveel sê as: Petrus, staan jy bo elke wet? Is jy in My soos wat Ek in jou is? Angstig bevestig Petrus dit en die Heer sê nogmaals: "Laat My skape dan wei en volg My!" Dit wil soveel sê as; bring dan ook jou broeders, sodat hulle in My mag wees en in My ordening en in My liefde mag woon soos jy.

16 Want om die Heer te volg, wil sê: Woon in die liefde van die Heer. Ek dink dat dit oorbodig is om nog meer oor "God bo alles lief te hê" te sê. En omdat ons dit nou weet en die lig van alle lig leer ken het, sal ons onsself dadelik na die twaalfde en laaste saal begewe.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205