|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 12
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Die egte bou - ontwikkeling van dit wat in julle is
12 Kyk nou, die wêreld is onder ons voete; laat ons probeer om `n bietjie daarop rond te loop. Julle verwonder julle nou regtig oor hierdie wêreld wat julle so goed dra en julle sien pragtige landerye en baie beboste berge. Rondom sien julle oral pragtige velde, akkers en tuine met allerlei verskillende woonhuise. Julle sê: Maar so iets het ons tog nie gedink nie.
2 Maar ek sê vir julle: Streng gesproke is dit ook nie nodig nie, want as julle met die krag in julle, die teenkrag aangetrek het, wat eintlik die basis van die krag in julle is, dan gee die aangetrekte teenkrag tog sondermeer dit wat sy in haar het. Want julle krag stem in al haar dele met haar teenkrag ooreen.
3 Deur die werking van die teenkrag, wat julle in julleself aangetrek het, word die dele van die krag in julle egter ontwikkel en so is die daad van hierdie skynbare skepping uit julle niks anders as `n ontplooiing van dit wat in julle is nie.
4 Julle kan daarom ook nie volgens eie geloof `n wêreld skep nie, maar dit slegs tevoorskyn roep, wat van oorsprong in julle aanwesig is. Alle dele van so 'n wêreld hoef ook nie deur julle gedink te word nie. As die wêreld gedink is en julle liefde is volkome ontwikkel, dan kan dit hom onmoontlik anders voorstel as wat dit oorspronklik deur die Heer opgebou is.
5 Julle is derhalwe nie werklik skeppers van hierdie wêreld nie, want `n skepsel kan nooit die skeppingsreg verkry nie, maar wel die vermoë om die geskapene, wat onbegrens in julle voorhande is, uit julleself op te roep op die wyse wat nou aan julle duidelik gemaak is; dit lê in die vermoë van elke volmaakte gees. Onvolmaakte geeste het weliswaar ook `n soortgelyke vermoë in hulle, maar omdat hulle geen standvastigheid het nie, kan hulle nie dit wat in hulle aanwesig is, oproep nie. `n Onvolmaakte gees is `n wisselvallige gees; hy is `n weerhaan en `n rietstingel wat heen en weer deur die wind beweeg word. Hy is tewens `n dwase boumeester wat sy huis op los grond bou. Daarom kan `n onvolmaakte gees ook niks anders as kortstondige beelde tevoorskyn roep, wat lyk soos die vlugtige beelde soos wat jy dit sien wanneer jy snags jou oë sluit. Dan sien julle `n chaotiese harwar en te midde van hierdie harwar allerlei versteekte beelde wat hulle weer vlugtig ontwikkel en ewe vlugtig vergaan.
6 Maar so is dit nie by `n volmaakte gees, wat vas in sy sentrum staan nie. Wat hy tevoorskyn roep, roep hy volgens die ordening van die Heer op; hy roep nie iets ongeskape, dus `n los fantasie nie, maar `n oergeskape ding op.
7 Kyk, so staan die sake, maar ons bevind ons nou op hierdie wêreld wat julle uit julleself tevoorskyn geroep het en ons sal nou ietwat daarop rondloop en hom bekyk.
8 Daar voor ons lê `n groot tuin met `n pragtige gebou in die middel; daarheen sal ons gaan; volg my dus.
9 Kyk, daar is die tuinhekkie al. Soos ek sien, is julle wel baie pragliewende boumeesters, want die tuinmuur bestaan uit suiwer edelstene en die poort uit suiwer goud. Kyk net daar; die tuinpaaie is almal bestrooi met sand wat met goud en silwer vermeng is en die vrugteboorde van die tuin is baie sierlik omgewe deur klein goue omheinings, waarvan die hekke sonder uitsondering met pragtige, veelsoortige edelstene beset is. Nee, werklik, dit noem ek tog verkwistend gebou! Selfs die in mooi rye geplaaste vrugtebome is deur silwer hekke omgewe, terwyl in die middel van elke boord `n klein fontein aangebring is, waaruit die water in die mees veelsoortige vorme omhoog spuit. Omdat die paaie so pragtig aangelê is, moet ons tog maar ietwat verder die tuin in wandel.
10 Die paaie is, soos ek merk, selfs net soos ligbanke van onder opgevul. Ja, mens sien `n steeds groter verkwisting in julle boukuns. Ons het nou al `n groot ent in die tuin afgelê, maar die hoofgebou blyk nog baie ver op die agtergrond te staan.
11 Maar hier vooraan ontdek ek nou net `n uitgestrekte pilaar galery. Die pilare bestaan uit suiwer geslypte diamante, die pragtige boë bokant die pilare uit suiwer robyne, die gedeelte wat bokant langs die boë loop uit blinkende goud, die galery uit die suiwerste deursigtige goud en die boë van die galery uit die fynste wit goud. Dit noem ek nog eens prag! En onder die gang wat gelykvloers tussen die pilare lê, sien ek so iets soos `n kanaal waar die mooiste brûe oorheen loop. Kyk net daar; aan die oorkant van die kanaal lê `n besonder groot, oop plein. Die bodem van die plein is `n vlakte wat uit die fynste deursigtige goud bestaan. Daar, al naby die pragtige gebou sien ek tot aan die hemel reikende pilare van wit gesteentes en op die top van elke pilaar wapper `n groot driekleurige wit, rooi, groen vlag.
12 Werklik, hoe beter mens julle bouwerk bekyk, des te grootser, gedugter en verhewender word dit. Die eintlike woonhuis op die agtergrond het `n voorgewel wat byna een myl breed is en dit bestaan uit drie verdiepings. Op die oog af het elke verdieping `n afmeting van so 'n seshonderd-ses-en-sestig el; dit is het getal van die mens. Die vensters is hoog en breed. Die toegangspoort is enorm hoog en breed en is vervaardig uit die suiwerste goud. En uit die vensters, waarvan die voorgewel ook 666 tel, straal uit die onderste ry `n wit, uit die middelste `n groen en uit die boonste ry `n rooi lig. Die dak van die enorme gebou vorm één enkele kolossale piramide. Slegs die bewoners ontbreek in hierdie hele tuin en in die gebou. Waar het julle hulle dan gelaat toe julle die heerlike gebou opgetrek het?
13 Julle sê nou; liewe vriend en broeder, jy is weliswaar `n groot liefling van die Heer, maar dit lyk asof jy ons nou tog `n bietjie aan die neus lei. Want van so 'n onmeetlike ryk prag het ons nog nooit eers gedroom nie, laat staan dat ons die boumeesters van so 'n oneindige mooi, ryk en skitterende werk sou wees. As ons so iets gebou sou hê, dan moes ons tog ook daarby gewees het. Maar daarvan kan ons onsself, selfs in die verste verte, ook maar niks herinner nie. Met betrekking tot die bewoners, wat uiteindelik die onbeskryflike mooi paleis sou bewoon, het ons dan ook `n groot probleem.
14 My liewe vriende en broeders, hieroor dink julle nie korrek nie. Julle het die werk weliswaar nie gebou nie, ewemin as hierdie hele wêreld, maar julle het die pragtige woonhuis saam met hierdie wêreld vanuit julleself tevoorskyn geroep en dit wil tog ook baie sê. Julle sê tog ook dikwels onder mekaar: Dit of dat was vir my opbouend. Wat wil julle daarmee sê? Ek sê vir julle, niks anders nie as: Die een en ander het vanuit my diepste wese `n krag opgewek wat my op die een of ander manier laat oplewe. Die oplewing ontwikkel hom in my tot `n verhewe geestelike vorm en deur hierdie vorm sien ek in die Heer oral die allergrootste liefde en wysheid Self! Deur die insig ontbrand my hart en daarin aanbid ek God in gees en waarheid.
15 Dit is dan die egte opbou. En kyk nou, hier het ons immers `n vorm van die opbou voor ons. In julleself het julle julleself opgebou; die opbouing het uitgegroei tot `n vorm en julle sien in hierdie vorm die oneindige mag en krag van die goddelike liefde en wysheid en dit is iets soos `n hoogste verwondering, wat die liefde altyd voorafgaan. Waarom dan? Wie van julle het ooit op `n vrou verlief geraak vóórdat hy haar gesien en bewonder het?
16 Kyk, hier is dit ook die geval. Wie sou God nou kan liefhê as hy Hom nie vooraf sou ken nie? Die ken gaan dus noodgedwonge die liefde vooraf! Maar hoe kan die mens God ken?
17 As die mens God se woord hoor en Sy werke aanskou, word die gedagte aan God daardeur in die mens opgeroep. As die gedagte eenmaal opgeroep is, dan moet die mens dit ook nie meer loslaat nie, maar haar steeds stewiger vashou. Die steeds stewiger vashou is die geloof. Wanneer die mens nou deur die vaste geloof, dus deur die steeds meer fiksering (stip staar na) van die godsgedagte in homself, God self tot `n lewendige gevoel gemaak het, dan betree hy met sy voete God se wêreld in homself. Hy aanskou in hierdie wêreld die een wonder na die ander.
18 Die aanskou is die groeiende herkenning van God. Maar hierdie wonderbaarlike wêreld is nog sonder wesens; die pragtige gebou het nog geen bewoners nie. Maar kyk, daar in die middel van die gebou wat nou voor ons staan, is `n offeraltaar opgerig en op die offeraltaar is `n hele spul vars hout gelê. Ons sal dit aansteek en dan sal dit dadelik duidelik word of hierdie wêreld onbewoond is. Maar waarmee sal ons die hout aansteek?
19 Ek sê vir julle; die baie merkwaardige aansteker lê ook in julle hart; sy heet liefde! Sy sal ons na die altaar dra en julle sal julle dan weldra daarvan oortuig dat nie slegs die suiwer gedagtes van God, maar ook lewende wesens in die mens woon. Waarvoor sou dit ook nut hê wanneer iemand sou sê: Kyk hier na my broeders, kyk daar na my susters, wanneer hy hulle egter nie sou liefhê nie? Het hy hulle egter lief, dan tog seker nie buite nie, maar in sy hart! Sodoende bevind hulle hulleself dan ook nie êrens buite hom nie, maar in die liefde van sy hart. Daarom steek ons nou die hout aan, sodat die gebou bewoners kan kry.
|
|
|
|
|