|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 81
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Wat is hoerery?
81 Mens sou nou kan sê, omdat daar in die sesde gebod maar net staan: "Jy mag geen onkuisheid pleeg nie", dat die hoerery nie as verbode beskou kan word nie, want in die sesde gebod staan nêrens; “jy mag geen hoerery pleeg nie”. Ek sê egter; wat is hoerery, van watter aard dit ook mag wees, geestelik of vleeslik? Dit is in `n sekere sin `n aanvaarding van die kwaad en wel op die volgende manier; mens stap al filosoferend oor `n uiteindelike sondigheid heen en plaas alle verskynsels daarvan in die gebied van "natuurlike behoeftes". Wanneer iemand in homself die behoefte het om `n verlange te bevredig, dan doen die mens met sy verstandelike en kreatiewe vermoë tog net iets lofwaardig en nuttig, as hy vir alle behoeftes wat sy natuur verlang, middele vind waarmee aan die verlange voldoen kan word. `n Dier moet sy behoeftes weliswaar op `n primitiewe, instinkmatige manier bevredig, omdat hy geen verstand, geen begrip en geen kreatiwteitsgees besit nie, maar die mens verhef hom nou juis bokant die gewone natuurlik dierlike, omdat slegs hy op `n verfynde manier, aan alle eise van sy natuur kan voldoen. Daarom sê die verstand van die kultuurmens:
2 Wie kan dit `n mens kwalik neem, wanneer hy met behulp van sy verstand `n statige woonhuis bou en dan sy voormalige aardhool of hol boomstam verruil vir die huis? Wie kan dit `n mens as sonde aanreken, as hy boomvrugte veredel, uit suur appels en pere soet en smaaklike vrugte kweek? Wie kan dit `n mens as sonde aanreken as hy `n wa bou en die perd tem om baie makliker daarmee op reis te kan gaan as met sy eie swak, pynlike voete? Wie kan vervolgens `n mens kwalik neem, as hy die natuurlike vrugte as voedsel kook en kruie om dit so smaakliker te maak? Of is die dinge op aarde vir iets anders geskape as vir die doelmatige gebruik deur die mens?
3 Hoeveel moois en nuttigs het die mens nie ontdek om sy lewe makliker en plesieriger te maak nie! Is dit verkeerd as hy op `n verstandige manier aan sy Skepper eer betuig? Sonder die menslike verstand sou die aarde immers ongekultiveerd gelyk het soos `n egte woesteny waar alles, soos kruie, rape en brandnetels in chaotiese wanorde deurmekaar sou groei
4 Wanneer iemand egter die mens enersyds onmoontlik kwalik kan neem dat hy die aardbodem op die mees veelsoortige maniere kultiveer, ofskoon dit op sigself absoluut geen ander doel het as om aangenamer en makliker van die aardse dinge te kan geniet nie, dan sal die mens tog andersyds ook `n meer verfynde genot by die voortplantingsdaad, geensins as iets verkeerds aangereken kan word nie, omdat andersins, selfs die mees ontwikkelde mens hom by hierdie daad nie in die minste van die dier sou onderskei nie. Dus ook hierdie neiging van die mens moet op `n meer veredelde en geraffineerde wyse bevredig kan word, en wel om dieselfde rede waarom mens gerieflike huise bou, soepel kleding maak, smaaklike spyse berei en sodanige meer genietinge.
5 Neem die volgende geval: `n Man van stand het vir die bevrediging van sy behoeftes die keuse tussen twee vrouepersone; die een is `n mollige, gewone boeremeisie, die ander is as dogter egter uit `n familie van aansien en goed opgevoed, keurig gekleed, liggaamlik gaaf en welig gevorm, en `n baie aantreklike meisie. Vraag: Wie sal die ontwikkelde man kies? Die antwoord sal nie veel hoofbrekings kos nie; seker nommer 2, want in nommer 1 sal hy `n afkeer hê. So dien die verfyning in die geval ook duidelik sy doel, omdat die mens daarmee te kenne gee die hy `n hoër wese is wat die volle vermoë en die krag in hom het, om al wat onaangenaam en smerig is te suiwer en aangenamer te maak.
6 Aangesien die man, sowel as die vrou, egter dikwels op hierdie gebied `n sterk behoefte voel om hulleself te bevredig, waarby `n mens hom tog nie telkens kan verplig om `n kind te verwek nie, sou dit dan indruis teen die reg om sy verstand te gebruik en middele te bedink waarmee die bevrediging van hierdie drang bereik kan word, hetsy deur die los byslaap met vrouens, deur selfbevrediging of desnoods deur die sogenaamde skending van seuns? Want die mens onderskei hom immers juis van die dier, deurdat hy hierdie mees natuurlike drif langs ander weë kan bevredig, as slegs langs dié waarop hy deur die ruwe natuur aangewese is. Bygevolg is in die besonder die baie goed gekondisioneerde bordele en sodanige instellings meer te regverdig en kan dit die menslike verstand geensins tot oneer, maar tog slegs tot eer strek!?
7 Kyk, wat is daar, natuurlik gesien, alles daarteen in te bring? Dit is waar, die dier kan by die bevrediging van sy geslagsdrif nooit sodanige kultivering en allerlei nuansering tot stand bring nie, maar by die mens is die meesterskap van die menslike verstand sekerlik onmiskenbaar daarin te ontdek. Dit is alles korrek; die dier het oral bepaalde tye daarvoor, daarbuite bly hy gevoelloos vir die bevrediging van hierdie drif.
8 Maar wat is die verfyning? Dit is `n kort vragie, maar die antwoord daarop is groot en gewigtig. Die verfyning het tog seker geen ander grondmotief as die ontsettend ellendige genotsug nie. Maar die genotsug is, soos ons weet, onmiskenbaar `n kind van die eieliefde, wat hand in hand met die heerssug gaan.
9 Dit is waar dat om in `n statige huis te woon lekkerder is as om in `n eenvoudige lamlendige hut te woon. Maar kyk net na die bewoners! Hoe trots en hoogmoedig sien ons die bewoner van `n paleis rondloop en hoe deemoedig buig `n eenvoudige hutbewoner voor so 'n pralende paleisheer!
10 Laat ons net kyk na die bewoners van `n groot stad en daarnaas na die van `n klein boeredorpie. Die bewoners van die groot stad weet van suiwer genotsug geen raad met hulleself nie; hulle wil almal aangenaam lewe, hulle almal vermaak, almal pronk en indien moontlik, `n bietjie heers. Kom `n plattelandsbewoner in die groot stad, dan moet hy, as hy nie grof bejeën wil word nie, ten minste elke skoenpoetser en sodanige liede met "weledele heer" aanspreek.
11 Gaan ons egter die dorp in, dan sal ons nog huisvaders aantref, wat mekaar nie met "weledele heer" of "heer van..." aanspreek nie. Wat is dan die voorkeur; dat die een boer vir die ander sê: "Broeder" of die in die stad `n minder bemiddelde een `n ietsie meer bemiddelde met "weledele heer" of "heer van..." en sodanig aanspreek?
12 Ek dink dat dit nouliks nodig sal wees om nog verder te gaan met die opsomming van sodanige onsinnige uitwasse van verfyning van die menslike verstand, maar dat ons die eindoordeel dadelik kan uitspreek; al sodanige genotsugtige verfynings is, volgens die voorafgaande beskouing, niks anders as afgodery nie, want hulle is offers van die menslike gees aan die uiterlike, dooie materie.
13 As dit egter afgodery is, dan is hulle ook die reinste hoerery en hulle tendens bewys dat dit nie in die sfeer van kuisheid opgeneem kan word nie.
14 Waarom was Babel `n "hoer" genoem? Omdat elke denkbare verfyning daar gangbaar was. Dus beteken "hoerery bedrywe" in die eintlike sin ook, om die onkuisheid met alle lewenskrag te dien. So is `n ryk eggenoot wat slegs vir sy genot `n weelderige, wellustige vrou geneem het, niks anders as `n egte hoereerder nie en die vrou `n egte hoereerster. En presies so word die onkuisheid, ook hier in haar fondament, aan die kinders getoon, naamlik as die reinste self- en genotsug.
15 Dit was noodsaaklik om dié gebod vir julle ietwat grondiger te belig, omdat die mens oor geen ander gebod so lig oor heenstap as oor dié een nie! Ek dink dat julle nou ook hierdie voordrag begryp het en daarom sal ons onsself dan ook dadelik na die sewende saal begewe.
|
|
|
|
|