Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Die groot betekenis van hierdie maaltyd, in die besonder vir die aarde. Ons tree uit die sfeer van Markus

8 Aangesien ons onsself nou aan hierdie tafel bevind, sal ons dan ook aan die verhewe skat van hierdie tafel deelneem. Luister egter na die woorde van die Heer voor die maaltyd. Hy sê: My geliefde kindertjies! Toe Ek eens op aarde na My opstanding na julle toe gekom het en julle, omdat julle ietwat hongerig was en nie soveel te ete gehad het nie, het Ek gevra: "Kindertjies, het julle niks te ete nie?" - toe het julle my `n brood en enkele visse getoon. Ek het vir julle die visse en die brood geseën, gaan daarna saam met julle aan tafel en eet saam met julle. Nou vra Ek julle nie meer of julle wel of nie te ete het nie, want uit My onuitputlike skat en voorraad het julle in eindelose oorvloed vir ewig genoeg, maar sou die woord, wat deur My op aarde uitgespreek is, daarom dan geen betekenis meer hier hê nie?  

2 Ek sê vir julle: Hierdie vraag moet hier nog meer as op aarde `n meer volmaakte betekenis hê en Ek kan vanuit My ryk steeds hierdie hoogste gewigtige vraag stel: Kindertjies, het julle niks te ete nie? Daarop sal julle My antwoord:

3 O liefdevolste Vader, ons het hier in U groot huis tog so oneindig baie te ete! Maar Ek sê vir julle: 

4 Hierdie vraag sal nie deur My aan julle gestel word asof dit julle betref nie, maar hierdie vraag sal so gestel word dat dit van My uit via julle sal deurdring tot My kinders op aarde en deur hulle in die oneindigheid sal oorgaan. Die kinders op aarde is nou in dieselfde toestand waarin julle was vlak na My opstanding. Hulle is vol droewige gedagtes en weet nog nie wat daar met die Heer gebeur het nie. Hulle het ook slegs `n karige voeding, wat lyk soos die visse en die brood wat julle gehad het.

5 "Die visse" is die Ou en "die brood" is die Nuwe Testament. Omdat die voedsel by die kinders op aarde ten dele te sout geword het, ten dele beskimmeld en ten dele uitgedroog is, is dit nou vir ons des te meer die hoogste tyd om ons nou meer dikwels tot hierdie kindertjies te wend en hulle te vra: "Kindertjies, het julle niks te ete nie?"

6 Hulle sal ons hulle voorraad toon en ons sal die voedsel vir hulle seën, sodat dit goed en lewend mag ontwikkel soos wat Ek vir julle julle vissies en julle brood geseën het. Ons sal dan met hulle aan die tafel van hulle geloof en hulle liefde plaasneem en saam met hulle eet, dit wil sê, ons sal hulle in gees en waarheid uit hulle swak voorraad die ware weë na die ewige lewe wys.

7 Sien, hier is die maaltyd; die tafel voorsien van `n goeie toebe­reide lam, brood en wyn. "Die lam," `n spys gelyk aan My hart, "die brood," `n spys gelyk aan My liefde en erbarming, "die wyn," `n drank uit die oneindige oorvloed van My wysheid.

8 Julle nuttig dit saam met My en Ek hoef julle nie te vra: Kindertjies, het julle niks te ete nie? Maar wanneer julle dit saam met My nuttig, dink dan aan die arme kindertjies op aarde en vra hulle vanuit My grootste liefde in julle: Kindertjies, broeders en susters, het julle iets te ete? En die kinders sal julle antwoord: O broeders, sien ons in ons groot armoede aan; `n enkele harde brood en enkele te sout geworde vissies is al wat ons het! Maak dat dit vir ons tog enigsins eetbaar is.

9 Wanneer julle so-iets sal verneem, wend julle dan tot hulle en bring hulle die lewende reste van hierdie tafel, dit wil sê, gee hulle `n lewendige insig; help hulle om hulle vertrek te reinig sodat ook Ek by hulle kan binnegaan en hulle dan Self kan vra: Kindertjies, het julle niks te ete nie?

10 En as hulle dan sal sê: O Heer, liefdevolste Vader, kyk, `n enkele brood en enkele vissies het ons, dan sal Ek vir hulle sê: Bring alles wat julle het, maar hier, dan sal Ek dit vir julle seën met My liefde, genade en erbarming, en sal julle dan `n lewende, innerlike geestelike brood gee. Wanneer julle die brood sal eet en van My wyn sal drink, dan sal julle hard geworde brood en julle te sout geworde vis sag en gesuiwer en so tot `n lewende voedsel vir julle word, waarmee julle julle voldoende sal kan versadig vir die ewige lewe.

11 Dus, My liewe kinders, broeders en vriende, is hierdie vraag wat deur My aan julle gestel is, ook hier van die allergrootste belang en van die allerdiepste betekenis!

12 Eet en drink dus nou saam met My en dink daarby vol liefde aan hulle wat nog diep in hulle vlees woon en My ryk, My genade, My liefde en barmhartigheid nie kan aanskou nie!

13 Kyk, nou verdeel die Heer die lam net soos die brood en deel dit aan alle aanwesiges uit. Nou is dit verdeel: Ons het ons porsie voor ons. Laat ons die heilige Gewer van sulke goeie gawes dank en dan die heilige maal van die ewige lewe met vreugde en groot salige liefde in ons hart geniet!

14 Kyk, almal neem nou van die aangereikte spyse en nuttig dit in groot, vreugdevolle ontroering gedagtig aan die allerliefdevolste heilige Gewer. Dus neem ook ons daarvan en doen soos die ander doen.

15 Ons eet nou van die heilige maaltyd van die lewe. Hoe voortreflik, hoe smaaklik, hoe versterkend en verlewendigend is dit nie! By elke sluk is dit asof ons blikke in die oneindige dieptes van die goddelike genade verwyd en die vlam van die ewige liefde steeds feller in ons harte begin te brand. Deur die nuttiging van die vlees openbaar wonderbare nuwe grootse gedagtes van God in ons. Tydens die nuttiging van die brood word hierdie grootse gedagtes tot `n eindelose groot, nuwe werklikheid en by die drink van die wyn stroom `n nuwe wonderbaarlike, heerlike lewe die nuwe skepping binne. Ons sien deur die nuttiging van die hele maaltyd `n volmaaktheid ontstaan wat `n groot, `n verhewenheid, `n heerlikheid en heiligheid uit die Heer besit, waarvoor selfs ons allergrootste hemelse gedagtes en gevoelens aangenaam salig huiwer en voor die Heer as`t ware in die niet versink.

16 Wat sê julle, my liewe vriende en broeders van hierdie maaltyd? Julle is, soos Ek merk, sprakeloos vanweë die te groot openbaring wat julle saam met My by hierdie maaltyd ontvang.

17 Maar Ek sê vir julle; by sulke geleenthede gaan dit met niemand van ons ook maar een haar beter nie, want nooit is die Heer grootser en ondeurgrondelik wonderbaarliker as juis op die oomblikke waarop Hy hom die meeste tot Sy kinders neerbuig nie!

18 Hy het weliswaar voortdurend al Sy kinders ewe innig lief, maar Hy laat hulle die groot krag van Sy liefde nie steeds ten volle voel nie. Op sulke tye laat Hy dit egter toe. Daardeur is Sy kinders dan ook van so 'n oorvalle saligheid deurdronge, dat hulle deur die innigste liefde tot die Heer gegryp word, maar in hulle hart tewens die grootste deemoed vir Hom voel.

19 Nou is, soos julle sien, die maaltyd ook al ten einde en die Heer wend hom tot die prior en sê vir hom: Wel My geliefde seun, hoe het My maaltyd vir jou gesmaak?

20 Die prior sê, ten diepste geroer: O Heer, allerbeste, liefdevolste, heiligste Vader, U maaltyd het nie net oorheerlik vir my gesmaak nie, maar daardeur is ek van `n nuwe lewe vervul. Nou is alles vir my duidelik. Ek sien nou my bestemming; en die oneindige wonderbaarlike weë, waarlangs U U kinders na die lewe lei, en is dit vir my onthul. 

21 Ek weet nou wat ek te doen het en my grootste saligheid sien ek as `n duidelik uitgestippelde weg voor my; hoe ek moet gaan en moet werk. My arbeidsveld, wat U my, onwaardige dienaar, allergenadig toebedeel het, is weliswaar eindeloos groot, maar ek sien ook hoe U slegs alles in alles is en hoe maklik die grootste dinge saam met U volbring kan word!

22 Daarom is ek nou dan ook oorgelukkig en bly dat U my so `n arbeidsveld toebedeel het en ek verheug my eindeloos vir die oomblik wat dit U sal behaag om my in U ryk die eerste diens te laat verrig! 

23 Slegs één ding, o Heer en allerheiligste, liefdevolste Vader, is nog nie vir my heeltemal duidelik nie, en dit is die bewoning van die huis, ook met betrekking tot die staf bediendes wat U my reeds buite die stad in U ryk aangewys het. Mag ek ook hier in U huis woon, of kry ek `n ander woning toegewys en sal die salige dienende geeste ook woon in die huis waarin ek in hierdie stad sal woon? 

24 Die Heer sê: My geliefde seun; sien, hierdie hele stad is in diepste wese My groot woonhuis. Nietemin is tog juis die gedeelte waarin ons onsself hier bevind in `n sekere sin My hoofresidensie en hier is Ek volkome Heer van die huise.

25 Baie geeste woon in die afsonderlike huise van hierdie stad en hierdie huise is vir ewig geheel en al hulle eiendom. Baie huise in hierdie, dit sê Ek jou, eindelose groot stad is reeds bewoon, maar ook staan daar nog eindeloos baie leeg, sodat Ek jou dan ook baie maklik `n huis in eiendom sou kan gee. Maar, dit wil Ek nou juis nie, want Ek wil jou, saam met jou vrou en broeder hier in My hoofresidensie behou. Almal wat die maaltyd aan hierdie tafel genuttig het, is bewoners van My residensie, en daarom is hulle vanuit My die vernaamste fondamente van My hemele en die hoofbestuurders van My skeppinge. Bly ook jy daarom vir ewig hier by My! Wat die bediendes betref, hulle woon nie in die stad nie, maar hulle wonings is in die eindelose wye omgewing van hierdie stad; jy het hulle egter almal in jouself. As jy wil, roep dan in jouself, en hulle sal daar wees! 

26 Wanneer Ek jou na een of ander wêreld sal stuur, roep dan die geeste van juis die betrokke wêreld by jou, en dan sal jy in die sfeer van hierdie geeste hulle wêreld en die behoeftes van die wêreld aanskou. Het jy dit gesien, roep dan in jou hart die mag van My liefde op en werk dan na gelang van die behoefte van die betrokke wêreld.

27 Ek sou jou ook alle sfere in één oogopslag aanskoulik kan maak, maar jy sou daardeur van `n groot deel van die saligheid beroof word. Daarom moet jy - met die oog op jou eie, grootste moontlike saligheid - `n wêreld eers in al haar van My uitgaande oorvloed aan wondere en diepte aanskou as jy op een of ander wêreld vanuit My liefde sal moet werk. Kyk, hier pal naas hierdie saal is `n groot woning; hierin sal jy jou vaste plek aantref, en jy sal daar woon met al My kinders, broeders en vriende as bure. Jy sou ook wel graag wil weet waar My woonvertrekke in die huis dan eintlik is? 

28 Ek sê vir jou; Ek het hier in die huis geen spesiale eie woonvertrekke wat Ek as direkte Heer sou wil bewoon nie, maar Ek woon steeds by julle; dan by die een, dan weer by die ander. En hierdie saal is ons raadsaal; van daaruit begin ons werksaamhede altyd. So sal daar ook juis nou verskeie - as gevolg van My eerste tafelrede - na die aarde afdaal om My vraag daar aan die kinders te stel. Jy sal egter eers na `n volgende maaltyd `n baie belangrike opdrag ontvang.  

29 As jy jou egter ondertussen dalk net met My kinders uit die Ou Testament wil besighou, begewe jou dan na omlaag na die begane grond; daar sal jy hulle almal aantref. Nou seën Ek jou net soos almal hier aanwesig en deur hulle die gehele oneindigheid en beëindig hiermee die maaltyd.

30 Sien, nou staan iedereen van die tafel af op en almal dank en loof die Heer; en die Heer gaan na hulle toe en omarm elk en iedereen en seën elkeen nogeens afsonderlik. Almal gaan nou ook na hulle nuwe bestemming en die Heer lei ons prior, sy vrou en die arm broeder na die bestemde woning wat vir hulle bestem is en sê vir die arm broeder: Sien, jy het nog geen vrou nie, maar daar is al een op aarde vir jou bestem. As sy hier sal aankom, sal jy met haar in die huwelik tree. Wees ondertussen egter `n troue broeder vir al jou broeders, waardeur jy dan ook `n geliefde broeder van al jou broeders is.

31 Nou is die groot installasie `n feit. Julle het baie wonderbaar­likhede tydens hierdie rondleiding saam bekyk. Tot hiertoe moes ek julle lei; nou sal iemand anders julle egter verder lei. Daarom mag julle nou weer uit my sfeer tree. Julle het nou daarbuite getree en kyk, daar wag die Heer al op julle op die ingenome plek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205