Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Liefde, die groot middel om tot insig te kom

14 Julle het dit gedoen en in julleself aan die Naam gedink wat heilig, heilig, heilig is! En kyk, op die altaar laai reeds `n pragtige vlam op, wat die hout van die lewe verteer het soos voedsel wat die wesens van hierdie wêreld in julle tot lewe bring. 

2 Kyk maar net om julle heen. Kyk omhoog na die buitengewone pragtige galerye van die skitterende gebou en sê vir my wat julle sien. Julle sê: O vriend en broeder, daar sien ons `n hele spul mense van beide geslagte. Hulle is heerlik en wondermooi van vorm en pragtiger gekleed as konings op aarde. Hoe is dit moontlik? Is hulle ook in ons?

3 Geliefde broeders, ek sê vir julle; waar `n hele wêreld is, daar moet tog ook aanwesig wees wat die wêreld dra. Julle sê nou; bestaan daar in die onmeetlike skeppingsruimte wel so 'n pragtige wêreld? Ja seker, liewe vriende en broeders. Julle moet ander hemelliggame nie met julle aarde vergelyk nie, want dit is in vergelyking met vorstelike paleise slegs `n armsalige kamertjie. Julle het by die beskrywing van die natuurlike son en van enkele planete van julle sonnestelsel sekerlik opgemerk met hoeveel meer prag en praal dit as julle aarde ingerig is. Ek sê egter vir julle; dit alles is nog maar suiwer armoede vergeleke by sommige heerlik­hede op die groter hemelliggame in die onmeetlike skeppingsruimte. Selfs hierdie wêreld, wat julle uit julleself opgeroep het en waarop ons nou wandel, is nog lank nie die mooiste nie. 

4 Daar is in die gebied van die sterrebeeld Orion, Leeu en van die sterrebeeld die Groot Hond, sonwêrelde van so 'n groot heerlikheid en so 'n onmeetlike prag, dat julle by die kortste aanblik daarvan al sou vergaan.

5 Julle sou wel graag wou weet wat se wêreld hierdie is, maar hoe kom ons daar agter? Vra julle dit aan `n bewoner van hierdie wêreld, dan sal hy julle hoogstens met `n vreemde naam opskeep, en dit is dan ook al wat julle hieroor sal verneem. Sê ek dit vir julle, dan sal julle ook nie veel wyser daarvan word nie. Julle moet dit egter in julleself vind. Is julle in staat daartoe, dan sal die ken van hierdie wêreld in die geestelike wetenskaplike sfeer vir julle eers van nut wees. 

6 Maar hoe pak ons dit aan? Dit is `n ander vraag! Ons sal dit nogtans probeer. `n Voorbeeld sal ons hier op die weg help. Let dus op! Wanneer julle julle byvoorbeeld op een of ander punt bevind en van daar af een of ander voorwerp bekyk wat nie te ver van julle af is nie, dan kan julle maklik vasstel welke voorwerp julle gesien het, want julle kan julle in die geval, soos julle gewoond is om te sê, oriënteer.

7 Wil julle die voorwerp van naderby bekyk, dan sou julle, óf net `n goeie verkyker nodig hê, óf uiteindelik na die voorwerp toe moet gaan. Dit sou dus die natuurlike weg wees. Wanneer julle egter dadelik al met `n merkwaardige voorwerp te make het, word dit al moeiliker om te bepaal vanaf welke punt die voorwerp duidelik herkenbaar word en die beste bekyk kan word. As julle sulke punte in die verre omtrek van die merkwaardige voorwerp ook werklik in julle omgewing gevind het, dan sal julle tog genoodsaak wees om na al hierdie plekke toe af te gaan, om julle van daar af te oortuig, vanaf welke punte die voorwerp die beste bekyk kan word. As julle dit gedoen het, dan sal julle tog sekerlik tot die gevolgtrekking kom dat die voorwerp homself vernaamlik net vanaf één punt gunstig laat waarneem en herken.

8 Dit is alles duidelik en begryplik, sê julle, maar die wêreld waarop ons onsself nou bevind, kom nie meer vir ons bekend voor nie. Dit sê niks, liewe vriende en broeders, ons is nog nie klaar met ons uiteensetting nie. Alles sal wel vir ons op die korrekte oomblik duidelik word. Let maar op wat ek verder aan die hand van voorbeelde sal bespreek.

9 Wanneer julle op aarde is en die sterrehemel in `n helder nag met behulp van `n goeie sterrekaart bekyk, dan sal dit nie moeilik wees om die een na die ander ster baie gou op sy naam te noem nie. Het julle egter iets daarmee gewen? Ken julle nou die ster? Of sou julle die ster, as julle haar self sou betree, herken omdat julle haar al vanaf die aarde bekyk het? Ek sê vir julle; dit sal ewemin die geval wees as nou. 

10 Ek keer die saak nou om; gestel dat julle julleself op een of ander, vanaf die aarde, nog duidelik sigbare ster bevind, byvoor­beeld op `n son in die sterrebeeld van die sogenaamde Plejades. Sou julle dan, as julle weer terugkom op julle aarde, met sekerheid kan aangee op watter van die ongeveer negentig sterre van die sterrebeeld julle nou presies gewees het? Ek dink dat dit ietwat moeilik sal wees, omdat die sterre gesamentlik, vanaf julle aarde gesien, die sterrebeeld vorm, maar in hulle eintlike opstelling deur onmeetlike ruimtes van mekaar verwyderd is. Wanneer julle julleself dus op een of ander ster bevind, dan sal die ander wat vanaf julle aarde gesien, die sterrebeeld vorm, hom onder baie ander sterregroepe van die sterrehemel bevind, en julle sal in werklikheid verseker nooit kan uitmaak watter sterre vanaf julle aarde gesien, die sterrebeeld Plejades vorm nie. Daarom sal julle dan ook nie kan aangee op watter ster van die sterrebeeld julle was nie.

11 Julle sê: Dit is weer korrek, maar ons bevind ons nog steeds op `n vreemde wêreld. Ek sê vir julle: Ook dit is korrek, maar ek voeg nog daaraan toe dat julle hierdie wêreld nie kan leer ken op die manier van kyk, wat vir julle gangbaar is en dit beoordeel nie. Hoe sal ons dit dan ontknoop? Want hier help nóg die observasie, nóg wiskunde, nóg sterrekaart, nóg die allerbeste matematiese teleskope.

12 Dit is waar: Maar nietemin bestaan daar `n baie eenvoudige middel om so 'n wêreld met die minste moeite te leer ken. Ek sal julle gaandeweg, met die voorbeeld waarmee ek begin het, `n paar duwweltjies gee, en dan sal julle daardeur baie vinnig vanself, soos julle gewoonlik sê, die spyker op die kop slaan. Nou sal ek julle die eerste duwweltjie gee; let dus op!

13 Weet julle waar julle kinders vandaan kom? Ken julle die plek waar hulle gees en siel hulleself oorspronklik bevind het, voordat hulle uit julle vrouens gebore was? Julle sê: Dit weet ons absoluut nie. Ek vra julle egter weer en gee julle daardeur opnuut `n duwweltjie. Hoe sien julle dan dat die gebore kinders julle kinders is en hoe sien die kinders dat julle hulle ouers is? Hierdie vraag sou julle nogal `n duidelike wenk moet gee. Is dit nie die liefde, wat julle die kinders skenk nie? Word hulle nie in liefde ontvang nie? Kyk, as die kind ter wêreld kom, omgewe die moeder en die vader hom dadelik met groot liefde en dit is reeds die eerste doop. Ook al het die kind nog geen naam nie, tog het sy `n onuitwisbare, gloeiende teken in die harte van die ouers gegriffel. Die teken is niks anders as die liefde nie. Deur hierdie liefde word die wedersydse herkenning en die onderlinge band steeds sterker, dit ontplooi hom steeds meer en word ten slotte so intiem, sterk en magtig dat julle julle kind oral onmiddellik sal herken en die kind sal ook baie verseker in staat wees om die ouers te herken, veral wanneer hy ietwat in probleme beland.

14 Kyk, in julle kinders het julle so, langs die weg van die liefde, duursaam en verreweg `n heerliker wêreld leer ken as hierdie wat ons nou betree, en julle ken haar tog regtig goed en sal die kenmerke daarvan nie maklik vergeet en in julle harte laat vervaag nie.  

15 Hoe geval die duwweltjie julle? Kan julle nog nie die spyker op die kop slaan nie? Ek sien, dat julle nog nie heeltemal met hierdie hou wil slaag nie. Ons sal dus nog een duwweltjie probeer: Julle gaan na `n onbekende streek in Amerika en wel na `n stad. Alles is vir julle heeltemal vreemd en julle kan kyk soveel as wat julle wil en luister soveel julle wil, maar geen bekende straal behalwe die van die son, maan en sterre sal in julle oë val en geen bekende geluid sal julle ore tref nie. Julle sal julle so vreemd voel, dat julle julleself byna nie meer ken nie.

16 Maar as julle dan in die strate rondwandel, kom `n man julle skielik tegemoet wat julle van ganser harte vriendelik aankyk. Hierdie blik maak dat hierdie straat vir julle al ietwat vriendeliker voorkom en daarom sal julle hierdie straat die beste vir julle bly herinner.

17 Hierdie man kom egter na julle toe, spreek julle in julle moedertaal aan en hierdie, nog baie vreemde straat begin julle al taamlik eie te word. Dan neem die man julle in alle liefde op en julle gaan saam met hom na sy huis. Daardeur vind julle hierdie vreemde stad skielik so gesellig, dat julle begin om haar in julle hart in te sluit.

18 Die man bring julle bowendien nog na verskeie huise, waar julle baie liefdevol en vriendelik ontvang word, en dan voel julle al tuis in die vreemde stad. Bowendien leer julle in `n kort tydjie nog die taal van die land en julle voel julle al inheems. Die landstreke van hierdie vreemde wêreld, oftewel vreemde wêrelddeel, sal `n baie vertrouende indruk maak, sodat julle julleself as`t ware heeltemal in die land sal tuis voel. Sou julle dit uiteindelik tydelik verlaat en weer daarheen terugkom, dan sal julle dit verseker onmiddellik herken.

19 Wat is nou die karakteristieke, welke kenmerk het die land, waaraan julle dit so vinnig herken? Vra dit aan die liefde en die blye gevoel in julle hart, en sy sal julle oombliklik die rede aangee waarop julle herkenning van die land berus. Op hierdie wyse sal julle haar nou ook, na `n kort voortsetting van ons beskouinge op hierdie wêreld, sonder enige moeite selfs so leer ken, dat dit vir julle onmoontlik word om te sê: Ons ken haar nie! Ek sê vir julle; soos die liefde alles in alles is, so kom ook alles voort uit die liefde!

20 Waaraan is `n vrug eintlik te herken? Julle sê: Aan haar vorm, kleur en smaak; maar waaruit het sy vorm, kleur en smaak voortgekom? Dit is produkte van die liefde. Julle herken die muskaatdruif aan die smaak; waarom? Omdat die smaak met `n bepaalde deel van julle liefde ooreenstem. Daarom wil ons dan ook hier bekyk welke deel van ons liefde met hierdie wêreld ooreenkom. En as ons dit sonder veel moeite gevind het, dan het ons ook al alles gevind. Die hoe, waar en vanwaar sal dan vanself duidelik word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205