|
Die Geestelike Son - Boek 2 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 54
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128. |
|
|
Elfde verdieping. Die vooruitgang van die gees
54 Julle sê en vra nou: Ons kom dus op die eintlike dak van die gebou, wat jy `n groot oop plein genoem het. Dit is alles goed en wel, liewe vriend en broeder, maar bevind ons onsself, hier op die oop plein, nou werklik op die elfde verdieping, oftewel die twaalfde galery? Omdat die dak tog onmoontlik as `n galery of `n verdieping beskou kan word, kan ons die uitsig, wat ons vanaf die welbekende gebergte gehad het, nie verklaar nie, want ons het tog baie duidelik twaalf verdiepings gesien. Was hierdie twaalf verdiepings slegs gesigsbedrog of sit iets anders daaragter? Ons het dit tydens die beklimming van die wonderlike gebou al eens oor hierdie vreemde verhouding gehad, maar toe het jy ons na `n beter geleentheid verwys en gesê: Hoe dit daarmee gesteld is, sal ons op die korrekte plek verneem. Daarom sou ons graag werklik van jou wil hoor of die oop plein miskien die korrekte plek sal wees waar ons die antwoord sal verneem.
2 Liewe vriende en broeders, ek sê vir julle: Klim maar dapper omhoog, dan sal julle bokant in die skitterende buiteruimte vanself goed sien wat julle alles sal ondervind.
3 Dit wat julle soseer ter harte lê, het nie so 'n groot betekenis as wat julle wel dink nie, maar is van die aard, dat dit sondermeer, by die eerste aanblik bokant in die oop lug, vanself duidelik sal word. Ons sal egter in die vrye ruimte baie ander dinge teëkom wat verreweg van groter gewig en `n hoër geestelike belang sal wees as die twaalfde verdieping wat julle nog mis. Gaan dus nou maar vreugdevol en vinnig na bo, sodat ons ons vrye ruimte so vinnig as moontlik kan bereik.
4 Kyk, wanneer `n mens sy treë versnel, bereik `n mens sy doel vinniger as wanneer `n mens dit vertraag. Dit is `n waarheid soos `n koei en het geen wiskundige bewys nodig nie; maar die gees is ook in staat om voorwaarts te tree en wel veel meer as die stoflike liggaam. Maar hoe kan die gees sy treë versnel en hoe vertraag? Kyk, dit is nie so vinnig volkome duidelik te begryp nie; daarom sal dit nodig wees om, voordat ons die boonste oop plein volledig betree, nog enkele woordjies daaraan te besig. Luister daarom na my!
5 Julle weet dat die vooruitgang van die gees nie bestaan uit die sodanige wyser word nie, maar enkel en alleen uit die steeds meer vervul word van liefde vir die Heer, en uit hierdie steeds groter rykdom aan liefde groei al die ander volmaakthede en bekwaamhede van die gees sondermeer op. As dit helder en begryplik is, dan is die vraag; hoe moet die mens die aanleg verkry om so vinnig as moontlik `n oorvloed aan liefde vir die Heer te hê? Want dit is tog bekend dat `n hele spul mense hulle verskriklik baie aan die Heer geleë laat lê. Vra mens hulle egter na hulle geestelike vervolmaking, dan sê hulle:
6 Wat ons geestelike vervolmaking betref, daarvan sal die goeie God goed weet hoe dit daarmee gesteld is. Ons hou ons soveel moontlik aan Sy gebooie, ons neem alle ander reëls in ag, ons hou die daaglikse Sabbatsrus en bid baie tot God, die Heer en vra Hom ook altyd om ons gees so vinnig moontlik te vervolmaak. Maar desondanks merk ons nouliks enige vooruitgang en as ons nie baie goed op onsself let nie, dan kom dit nog bowendien vir ons voor asof ons gees nie slegs geen vooruitgang geboek het nie, maar eerder agteruit gegaan het, sodat daar so menigmaal `n ligte vertwyfeling by ons opkom en dat ons dink dat: Óf ons is gladnie vir so `n geestelike voortgang voorbestem nie, óf die hele bewering oor die vervolmaking van die gees is, altans in die aardse lewe, niks anders as `n vrome fabel nie, of tog op sy minste `n hipotese.
7 Wel nou, beste broeders en vriende, dit is gewoonlik by die mense op aarde die mees gangbare antwoord op die vraag oor die aarselende vooruitgang van die gees.
8 Sou daar dan geen moontlikheid wees om so `n voortgang te bespoedig nie? Sou daar dan geen Corneliusse meer bestaan, oor wie God se Gees gekom het, nog vóór hy deur Petrus gedoop was? Kyk, dit is `n heel ander vraag en die antwoord daarop is verseker van die grootste praktiese belang. Maar hoe sal ons so 'n besonder belangrike vraag, so kan beantwoord, dat elkeen dan ook tevrede sal wees met die helder insig wat hy daardeur verkry het? Dit sal vir ons nie so moeilik wees nie, want as daar voldoende aanskoulike voorbeelde vir `n saak is, hoef mens haar slegs op hierdie manier evangelisties te beskou, en die antwoord sal vanself volg. Daarom sal ons onsself nie langer met inleidinge ophou nie, maar dadelik die eerste en beste voorbeeld ter hand neem.
9 Laat ons eens aanneem dat daar in een of ander hoofstad duisende is wat byvoorbeeld musiek beoefen. Onder hierdie duisende is daar tenminste enkele honderde wat werklik musikaal begaafd is; maar hoeveel van al hierdie leerlinge sal daaruit as waaragtige musici en virtuose (meesters) na vore tree? Miskien één, maar miskien ook selfs geen enkele een nie; en mens kan `n stad uiteindelik gelukwens as daar uit tien jaargange één of hoogstens twee voortkom wat homself tereg "kunstenaar" of "virtuoos" mag noem. Is dit nie `n ware smaad vir die mensdom nie? Want elkeen kan tog sê: Ek het immers ook `n onsterflike gees, `n ewebeeld van God in my! Hoe is dit egter met sulke ewebeelde van die allerhoogste volmaaktheid gesteld, as daar maar enkeles van hulle is wat weet om hulle nouliks bokant die middelmatiges uit te werk? Die grootste aantal bly al sondermeer onder die vriespunt steek, alhoewel hulle ook ewebeelde van God is. Waarom dit so gaan, sal ons nou dadelik in die studeerkamers van ons musiekstudente sien.
10 Kyk, daar lê `n straatjie met so 'n honderd huise; daar woon ten minste duisend jongmense wat musiek bestudeer. Laat ons by nommer 1 binnegaan. Kyk, daar lê die leerling nog heerlik en slaap en dan is `n aardige stuk van sy instrument nog verwyder; sal hy wel `n kunstenaar word? Ek dink dat die mens nie die kuns met slaap sal leer nie! Ons gaan huis nommer 2 binne. Kyk, die leerling daar verklee hom juis om uit die mooi dag iets te haal en `n uitstappie na die platteland te maak, iets waarvan hy baie hou. Sal hy wel `n kunstenaar word? Ek dink dat die mens op straat, in die veld, of in die bos, nie die kuns sal kan leer nie. Ons gaan huis nommer 3 binne. Kyk, daar sit tog werklik `n leerling met sy instrument en oefen sy opgawe huiwerend. Sal hy miskien `n kunstenaar word? Ek dink dat `n huiwerende ywer vir die kuns te gering is.
11 Maar laat ons weer na die volgende huis gaan. Kyk, daar tref ons glad geen leerling aan nie en die slordig deurmekaar lêende musiekboeke, wat verder baie versorg daaruit sien, gee ons voldoende bewys van die ywer van ons leerling. Sal daar miskien uit hierdie een `n kunstenaar groei? Ek dink, dat die hele instrument eerder in goud sal verander as dat hierdie leerling `n kunstenaar sal word. Laat ons die volgende huis binnegaan; miskien vind ons daar so 'n aankomende kunstenaarsheld. Luister, daar sit sowaar iemand en oefen; maar kyk net goed na hom, sy oë staan vol trane, want hy word net deur sy vader, wat baie geld vir sy seun uitgegee het, met `n pak slae tot studeer aangepor. Sal hierdie leerling `n kunstenaar word? Julle sê al: ‘ex trunco non fit Mercurius’, wat soveel wil sê as: As die liefde vir die kuns met geweld ingeslaan moet word, dan sal daar nie veel kunstenaarskap tevoorskyn kom nie. Moet ons nog meer huise binnegaan om soortgelyke kunsbroeders te besoek? Ek dink dat dit nie nodig sal wees nie.
12 Maar kyk, heeltemal aan die einde van die straat staan `n baie onooglike krotjie, waarin `n armlike familie gehuisves is. Daar sal ons binnegaan en sien hoe die kuns daar beoefen word, omdat `n kind van hierdie armlike vader ook musiek bestudeer. Wel nou, hierdie knaap het vandag al minstens agt uur gestudeer; maar saans wil die vader hom om gesondheidsredes saamneem vir `n klein wandeling. Kyk nou net na die jongman, hoe hy sy instrument aan die hart druk en dit liefkoos, asof dit sy beste lewensgesel was. Slegs met baie moeite en oorredingskrag van die vader, kan ons kunsbroeder hom met trane in die oë van sy liefling losmaak, terwyl hy sê: My dierbaarste kleinood, ek kom gou, ja baie gou weer na jou toe terug! Ek vra nou; sal hy `n kunstenaar word? Luister maar net na die tone wat hy al na `n kort tydjie geleer het om aan sy instrument te ontlok en julle sal sê: Ag, dit is wonderbare tone! Mens sou sê dat hulle van boaardse ruimtes kom. Ja, ja, my liewe vriende en broeders, hierdie jongman sal sekerlik `n groot kunstenaar word, want hy het wel die korrekte leermeester in homself en sy leer hom, om alles aan die kuns op te offer en nêrens `n groter vreugde te vind as juis in sy musiekstudie nie.
13 Alle voriges was ook wel leerlinge in die kuns, maar hulle het geen liefde vir haar nie en sal dit daarom sonder hierdie meester (die liefde) ook nooit sover bring nie. Maar waarom het hulle geen liefde nie? Omdat die wêreldse gedoe vir hulle beter was as die selfverloëning en die volledige oorgawe aan die liefde vir die kuns. Om die rede egter sal hulle ook net die vrugte van hulle wêreldse gedoe pluk, maar nooit die van die skitterende kuns nie.
14 Wel nou, die voorbeeld gee ons voldoende opheldering oor die basis wat aan die bespoediging van die geestelike vooruitgang ten grondslag lê.
15 Sou mens wel die innerlike volmaaktheid kan bereik op wandelinge, in teaters, in die gesellige vriendekring of by ander wat se wêreldse sake dit dan ook is? O nee, uit al die wêreldse gedoe groei geen Corneliusse op nie, soos die Heer Self ook baie duidelik aangetoon het met `n gelykenis waarin Hy verskeie vriende vir `n gastemaal uitgenooi het, maar die vriende allerlei verontskuldiginge aanvoer waarom hulle geen gevolg aan die uitnodiging kon gee nie. Die een was druk besig met `n stel osse; `n ander met huweliksaangeleenthede; `n derde met die aankoop van `n stuk grond en sodoende kon niemand kom nie. Kyk, dit is wêreldse beslommernisse wat die vooruitgang van die gees verseker nie bespoedig nie. Hierdie mense is weliswaar baie respektabele vriende van die Heer, anders sou Hy hulle nie laat uitnooi het nie; slegs die tyd ontbreek hulle om te kom.
16 Die Heer spreek egter tot die ryk jongeling: "Gee alles weg en volg My, dan sal jy `n skat in die hemel vir jouself berei", of met ander woorde: Dan sal die volmaaktheid van die gees jou ten deel val!
17 Wie hierdie roep nie opvolg soos my broeders, die apostels nie, wat soos julle weet, die Heer na die eerste oproep gevolg het, hulle moet hulle dan ook laat welgeval wat die Heer presies so met hulle sal doen as met die geroepenes wat met die Heer oorleg probeer pleeg het. Daaruit kan ons die volgende in `n baie kort reël saamvat:
18 Hoe meer wêreldse gedoe, des te minder geestelike vooruitgang; hoe minder wêreldse gedoe, des te vinniger die voortgang van die gees. Sonder enige wêreldse gedoe kan `n Cornelius egter uit elke mens groei. Meer het julle nie nodig nie: Open daarom die poortjie en klim na die ligte, vrye ruimte!
|
|
|
|
|