Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 88

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Beskouinge by die negende gebod

88 Voordat ons egter die verlossende woord spreek, is dit noodsaaklik dat ons vooraf nog enkele opmerkings plaas waarmee ons so menige juridiese veelvrate en hipergeleerde verkondigers van die volkereg die mond sal snoer. Want hulle sou uiteindelik die eiendomsreg van die versamelreg kon aflei, waardeur hulle ons, tenminste vir die skyn, sou kon verslaan. Daarom sal ons onsself nou ook op die punt inklee.

2 Dit is sekerlik nie te ontken, dat almal die versamelreg vóór die gebruiksreg moes gehad het nie. Want alvorens iemand hom nie met sy hande en met sy krag iets uithaal of afhaal of versamel en toeberei nie, kan hy sy gebruiksreg nie laat geld nie. Dit is nou eenmaal so, dat voordat iemand `n appel in sy mond kan steek, hy hom eers van die boom moet pluk of van die grond af moet optel.

3 Die "versamelreg" moet ook voor verskeie goddelike oorkondes kan buig. Oorkonde nommer 1 is die oë; daarmee moet hy kyk waar iets te vinde is. Oorkonde nommer 2 is die voete; daarmee moet hy hom daarheen begewe, waar iets te vind is. Oorkonde nommer 3 is die hande; daarmee moet hy pluk en neem wat daar is. Volgens hierdie oorkonde het die mens dus van die Heer die versamelreg as oorspronklike en onbetwisbare eiendomsreg verkry.

4 Sou `n mens egter nie hier kan sê: Is die versamelde dan nie volkome die eiendom van hulle wat dit, volgens hulle goddelike versamelreg, vir hulle gebruik byeen gesoek het nie? Het `n ander een nou die reg om sy hande uit te steek na, of sy verlange te rig op dit wat sy naaste byeen gesoek het? Kennelik bepaal die een reg tog die ander. Het ek van die Skepper die natuurlike gebruiksreg, wat in die maag en op die vel geskrywe staan, dan moet ek ook die versamelreg hê, omdat ek sonder die versamel­reg, nie aan die gebruiksreg kan voldoen nie.

5 Waartoe dien die versamelreg my, as dit nie die hap wat ek na my mond bring, waarborg nie? Want as iedereen die reg het om die appel, wat ek volgens my versamelreg met my eie hand opgetel het, vir my te ontsê omdat hy miskien te gemaksugtig is om self een op te tel, dan moet ek tog duidelik met my gebruiksreg die hande neerlê en, of ek wil of nie, verhonger.

6 Dit is dus noodsaaklik dat die versamelreg ten minste die eiendomsreg kan vereis oor dit wat `n mens versamel het, anders kan daar geen sprake wees van `n eerlike gebruiksreg nie.

7 Aan die versamelreg is ook die reg van toebereiding en vervaardiging verbonde. Is dit my egter nie toegestaan om op die, deur my toebereide en vervaardigde goed, `n volkome eiendom­sreg te laat geld nie, dan is alle daadkrag tevergeefs en is ek genoodsaak om, ten eerste alle eetbare dinge heimlik rou op te eet, en ten tweede altyd naak rond te loop. Want wanneer ek vir myself `n kledingstuk vervaardig en `n ander, wat te lui vir hierdie besigheid is, dit kragtens sy gebruiksreg van my kan afneem, dan is dit die vraag, hoe dit dan met my eie gebruiksreg lyk.

8 Wanneer ek vir myself in `n kouer streek `n huis bou en daarop, kragtens die reg van versamel en vervaardig, geen eiendomsreg het nie, dan kan die eerste en die beste geselskap my uit die huis sit om daarop in my plek hulle eie gebruiksreg toe te pas.

9 Daaruit blyk dit duidelik dat die natuurlike verwerwingsreg met `n sekere prerogatief eiendomsreg (oergrondreg) vir naywerige mense moet gepaardgaan, omdat welbeskouend, sonder so `n eiendomsreg, die bestaan van `n menslike gemeenskap selfs nie eens denkbaar sou gewees het nie.

10 Maar as die versamelreg en die reg van toebereiding volkome wettig verleen is, dan moet ook `n stuk grond waarop ek gesaai het, net soos `n boom wat ek geplant en veredel het, my prerogatief as eiendom toegeken word.

11 Die volgende vraag is: Wie verleen my die reg by die ontstaan van `n kolonie? Dit is maklik om uit te lê. Die koloniste kies uit hulle midde iemand wat afkerig is van alle hebsug en tewens baie wys is, as hulle aanvoerder. Hulle verleen hom die reg van verdeling en dus ook van toewysing, met die wedersydse, beëdigde beskermingsplig, ter handhawing en nalewing van sy uitspraak. Ten gevolge van hierdie versekering sal `n uiteindelik weerspannige deur die ordeliewende broeders, namens die aanvoerder, tot die orde geroep kan word. Op die middele, die hoe en waarmee, kom dit nie aan nie, want dit kan en moet eers volgens die mate van die verset vasgestel word en vervolgens toegepas word.

12 Wie sien nie oombliklik die onderdanigheid en die eerste monargistiese grondlegging van `n staat hierin nie; maar wie sien tegelykertyd ook nie in dat, sodra die versamelreg, die reg van verwerwing en die reg van toebereiding sistematies met `n prerogatief eiendomsreg verbonde is, niemand met betrekking tot die toegekende eiendom in sy reg van versameling, verwerwing en vervaardiging, beperkinge opgelê kan word nie. Inteendeel, daaraan moet, in die eerste plek, baie geleë wees aan die leidende aanvoerder, om by die persone wat onder sy leiding staan, die ywer tot versameling en vervaardiging op hulle in eiendom gegewe besittings soveel moontlik aan te spoor. En hoe meer iemand besittings verwerf deur vlytig te arbei, des te aangenamer word die situasie waarin sy gebruiksreg onbeperk gewaarborg is.

13 As die eiendomsreg as waarborg egter eenmaal vir die versamelreg, vir die reg van verwerwing en vir die gebruiksreg noodsaaklikerwys vasgelê is, dan is die beskermreg vanself­sprekend daaraan verbonde, want sonder dié reg is niemand bevoeg om hom besitter te noem van die eiendom wat deur die aanvoerder aan hom toegewys is nie.

14 Dit beskermreg vereis egter allereers die noukeurige opmeet van die eiendom. Is die grense eenmaal goed vasgelê, dan eers kan elke eienaar gebruik maak van die beskermreg, oftewel die reg ter verdediging van sy eiendom.

15 Dit beskermreg is egter onuitvoerbaar sonder gevolmagtigde bewakers. Daar moet dus verdedigers opgestel word, wat die onbeperkte reg het om die grense van elk en iedere eiendom veilig te stel. Daarom moet hulle die uitvoerende reg hê, dus `n straf- of tugtigingsreg. Maar wie moet hierdie bewakers lei? Sekerlik niemand anders nie as die aanvoerder wat die hele kolonie lei.

16 Hier begin dus al onvermydelik die ontstaan van die militarisme en ook stel ons tewens die onbegrensde mag van die aanvoerder vas, wat nou deur middel van sy manskappe kan beweeg en sy gebooie kan bekragtig.

17 Het ons dit sover gebring, wie kan dan nog opstaan en sê dat die teenwoordige staatsreëlings nie op die goddelike reg gebaseer is nie? Ja, vir `n kritikus is alles om`t ewe, hy kan nog net nie die opperste eiendomsreg van `n monarg begryp nie. Maar ek sê: As mens so die voorgaande bewys het, wat verreweg die moeilikste was, dan laat die opperste eiendomsreg van `n monarg hom daarnaas al slapende bewys. Ons sal sien.

18 Wanneer, deur die wysheid van die leidende aanvoerder, elke besit nou regmatig is en bewakers die aanvoerder, ter bewaking van die besittings van die koloniste, altyd ter syde staan, het die aanvoerder dan nie die tweevoudige reg om vir die, danksy sy wysheid, tevrede koloniste te sê: Ek is in julle midde, ek het deur my wysheid vir julle gesorg, en julle het my tot leidinggewende aanvoerder gemaak, omdat julle juis vir my as die mins hebsugtige man onder julle gesien het.

19 Ek het die land derhalwe eerlik onder julle verdeel en beskerm julle nou met behulp van die bewakers wat onder my wyse leiding staan. Maar by die verdeling het ek, as gevolg van my gebrek aan hebsug, myself heeltemal vergeet. Aangesien julle tog sekerlik baie op my verdere wyse leiding wil staatmaak, sal julle tog ook goed begryp dat ek nie van die lug kan lewe nie. Daarom vra ek julle: Wat mag ek dan vir my lewensonderhoud verwag? Tyd om te versamel het ek nie, want ek moet my tyd gebruik om steeds daaroor na te dink hoe julle besittings voortdurend beskerm kan word.

20 Julle sal dus insien dat `n troue arbeider ook sy loon werd is. Daarom verorden ek dat julle met mekaar ooreenkom om vir my, uit julle eie beveiligde voorraad, in my lewensonderhoud voorsien. Ek kan daarop met des te meer reg daarop aanspraak maak, omdat die instandhouding van elk en iedere een se eiendomsreg uitsluitlik van my onderhoud afhang. Naas my onderhoud is egter ook nog `n ander onderhoud noodsaaklik, naamlik die van die manskappe wat vir die veiligheid van julle eiendomme sal sorg, want ook hulle het geen tyd om te werk nie, omdat hulle julle grense vir die goeie orde moet bewaak.

21 Julle eie voorspoed en welsyn moet tog sekerlik julle oë open vir die feit dat ons, ek en die bewakers, in teenstelling tot julle, geen inkomste het nie en dat elkeen van julle daarom homself bereid moet verklaar om `n bepaalde belasting vir sy eie beswil aan my te betaal.

22 Hierdie duidelik gestelde vordering lyk vir alle koloniste volkome korrek en billik en hulle skik hulle in die voldoening daarvan. Op hierdie wyse het die leidinggewende aanvoerder reeds sy eerste natuurlike, hoewel geen hoof-, maar tog `n mede-eiendomsreg by alle koloniste beding.

23 Tussen mede-eiendomsreg en hoof-eiendomsreg bestaan egter so 'n klein kloof, dat selfs die kleinste kind daaroorheen die ander by die hand kan gryp. Die aanvoerder hoef nou maar net te sê: Beste koloniste, dit kon julle nie ontgaan het nie dat daar nog `n ander kolonie teenoor ons gevestig is. Om ons egter teen hulle te kan beskerm, moet julle my in elke opsig die onbeperkte reg verleen om in geval van nood as julle aanvoerder, en in `n sekere sin as hoofeienaar van julle eiendomme te kan optree, sodat ek in so `n situasie die buitegrense volgens my wyse insigte kan versterk. Ek moet die reg hê om in julle almal se naam en vir julle almal se welsyn met `n vreemde volk, in die geval dat hulle magtiger sou wees as ons, doelmatig te onderhandel.

24 Verder moet julle as koloniste wat my leiding nodig het, om hierdie begryplike redes ook insien dat daar vir my, as julle hoof, in julle midde `n vaste woonplek gebou moet word, waar ek myself, veral vir julle behoud, kan beskerm en staande hou. Tog is dit vir my veiligheid en julle welsyn nie voldoende om net `n woonhuis vir my te bou nie, maar daaromheen moet `n aantal ander huise gebou word, waar die manskappe, wat onder my leiding staan ter beskerming en verdediging, uitsluitlik kan woon. Dit beteken met andere woorde: Julle moet in julle midde `n sterk woonstede (residensie) vir my bou, waarin ek volkome veilig is, teen aanvalle van vreemdes, sowel teen moontlike aanvalle van julleself.

25 Ons sien hier oorduidelik hoe `n monarg hom noodsaaklikerwys tot hoofeieaar van `n land bestempel. Maar dit is nie genoeg nie. Ons sal nog ander redes hoor en wel uit die mond van die oprigter self, want hy sê verder:

26 Beste koloniste, die onomstootlike noodsaak om in julle midde `n sterk kasteel vir my te bou het ek duidelik vir julle uiteengesit. Dus ken julle die eerste rede. Maar luister verder na my: Die land is wyd uitgestrek; dit is onmoontlik dat ek oral self aanwesig kan wees. Daarom wil ek julle aan `n proef onderwerp en die meer wyses onder julle as my ampsdraers en plaasvervangers oor die land verdeel. Aan hierdie plaasvervangers is elkeen dan dieselfde gehoorsaamheid verskuldig vir sy eie welsyn, as aan myself.

27 Sou een of ander, onder my wyse leiding staande onderdaan, egter deur `n gekose ampsdraer van my, `n vermeende onreg aangedoen word, dan het elkeen in so 'n geval die reg om sy klagte by my in te dien. Hy kan dan daarvan verseker wees dat hy, na gelang van die omstandighede, volkome reg sal wedervaar. Daarenteen moet julle vir my, vir julle eie welsyn en om alle onenigheid te voorkom, die mees troue en gewetensvolle versekering gee, dat julle julleself sonder verdere teenspraak gewilliglik volgens my eindoordeel sal voeg. Gebeur dit nie, dan moet ek, vir die welsyn van almal, ook van die onbetwisbare reg wat deur julle almal aan my verleen is, gebruik maak, om `n persoon wat teen my eindoordeel rebelleer, deur tugtiging te dwing om hom aan my wil te onderwerp. As dit alles so georden is en gehandhaaf word, dan eers sal julle waarlik `n gelukkige volk wees!

28 Ons sien hier `n tweede stap, wat van al die voorafgaande afgelei is; nommer een na alleenheerskappy en nommer twee na die hoofeiendomsreg oor die besit van die hele land. En so het ons die eerste, volkome in die natuurlike gang van sake beslote lêende basis, op hierdie manier onweerlegbaar aangetoon. Hierdie basis kan die natuurlike, van die menslike samelewing afgeleide, noodsaaklike basis genoem word. Maar nou sal iemand sê: Dit is op sigself alles ewe vanselfsprekend en juis van die vanselfsprekendheid dat die mens oë nodig het om te sien en ore om te hoor. Kyk ons na hierdie nog egte ruwe koloniste, dan sien ons dat hulle werklik baie ywerig is en hulle leier trou gehoorsaam.

29 Maar juis deur hierdie gehoorsaamheid begin die koloniste hulle leidsman mettertyd meer en meer te vrees. En vanuit hierdie vrees vra hulle hulleself onderling af; hoe is dit tog dat, van ons almal hier, slegs hierdie man so buitengewoon verstandig is en dat ons almal ten opsigte van hom as egte sukkelaars beskou moet word? Hierdie vraag, hoe gering en onbeduidend dit in die begin ookal lyk, is van uitsonderlike belang en in haar beantwoording word die onskendbare staat van die alleenheerskappy en die hoofeien­domsreg van die monarg eers beseël. Dit klink vreemd, sal menigeen by voorbaat sê, maar wees nog bietjie geduldig, en dan sal ons die saak dadelik in `n ander lig beskou!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205