Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Oor die vernaamste sleutel tot die geestelike misteries

49 Wil julle dieper nadink? Wil julle die misterie met julle verstand van naderby belig? Wil julle dit met julle hande beetpak? Ek sê vir julle: Dit is alles vrugteloos. Net so min as wat julle die kontoere van `n wit skildery op `n wit wand met julle stoflike oë kan onderskei en herken, al sou julle jarelank daarna staar, sal julle ook nie in staat wees om met die gebruiklike kyk- en beoordelingsvermoëns, sulke misteries van naderby te ontsluier en daarin deur te dring nie, want dit gaan hier alles gelyk op.

2 Die aanskouing van die voorwerpe van hierdie galery, waar julle nie in staat is om ook maar iets te sien nie, en die begrip van hulle innerlike, diepste wysheid, gaan soos gesê, alles gelyk op. Ek sê egter; met liefde begryp julle alles; in die liefde tot die Heer kan julle alles begryp. Die liefde gee die dinge uit die wysheid nuwe vorm en nuwe kleur, en wat eindeloos veraf in die lig van die wysheid lê, die trek die liefde ter beskouing in `n nou kring saam. Maar daar moet waaragtige, volmaakte liefde wees, want met `n halwe of `n kwart liefde sal mens weinig baat. Dit is ook natuurlik begryplik, ja, daar sou in wese natuurlik niks begrypliker kan wees as dit nie. Ons het `n hele spul voorbeelde; baie is vir julle sigbaar en uit alles kan julle dieselfde leer.

3 Gestel dat iemand met `n vermoë, graag `n huis sou wil bou. Vir die bou van die huis is baie en allerhande materiale nodig. Dit verg baie moeite en werk om die materiaal bymekaar te kry. Daar is baie geduld, opoffering, aandag en nog veel meer nodig, alvorens die huis klaar is.

4 Net met inspirasie en opgewekte gedagtes sal die huis nooit tot stand kom nie. Wanneer hy, wat `n huis wil laat bou, egter `n sterk liefde in sy gemoed vir die huis gewek het, dan sal alle voor­waardes met groot ywer aangepak kan word. En word hierdie voorwaardes steeds nader aan die bouplek gebring, dan word die liefde ook steeds heftiger, trek ten slotte alles op één plek saam en sit deur sy eie lewe, baie mensehande daadwerklik in beweging. Die huis sal daar as `n werk van liefde, spoedig kant en klaar staan en dan sal julle, as julle die pragtige huis sien, sê: Wie sou `n halfjaar gelede, toe die materiaal nog oral verspreid gelê het, kon dink dat daar so 'n pragtige huis so vinnig tot stand sou kom!? Maar nou het die menslike gees dit georden, en die huis staan daar; `n samestelling van die mees verskillende materiale wat almal vir één doel saamgevoeg en verenig het.

5 Maar vra jou self nou net af: Wie was hier nou eintlik die bou­meester? Wie het die materiaal en die bouliede byeengebring? Was dit miskien die geld van die opdraggewer, sy vasberadenheid of sy insig? Ek sê vir julle; nóg die een, nóg die ander, maar slegs die liefde is die magtige fondament vir die bou van die huis. Die liefde van die opdraggewer het die materiaal byeengebring en die bouliede aangetrek. Sonder hierdie liefde sou die opdraggewer nie die geld vir die bouery beskikbaar gestel het nie, nóg die materiaal aangeskaf en die bouliede aangestel het.

6 Noudat die huis op hierdie wyse afgewerk is, kan iedereen die doelmatige vorm daarvan aanskou, terwyl, sonder die standvastige liefde van die opdraggewer, die materiaal in sy oorspronklike toestand, wyd en syd verspreid, soos `n vormlose chaos, sou bly lê het. Ek dink dat die voorbeeld baie voor die liggend is en sekerlik geen verdere uitleg nodig het nie. Laat ons nog `n ander voorbeeld neem. Stel vir jou `n mens voor wat as gevolg van sy beeldende fantasie, baie aanleg het om `n beeldende kunstenaar te word. Hierdie mens het by die aanskou van `n reeds voltooide kunswerk, net soos by die beskouing van die verhewe natuur, wel die ambisie om self so 'n kunstenaar te word, maar dit ontbreek hom nog aan die egte inspirasie om hom daartoe te bring om die praktiese studie vir hierdie kuns te begin.

7 Hoe is dit dan dat hierdie mens, met so 'n geweldige aanleg, nog geen potlood en penseel (kunstenaars kwas) ter hand geneem het om die grondbeginsels en hoofelemente van die kuns ywerig te bestudeer nie?

8 Ek sê vir julle; by hom ontbreek niks anders as die ware liefde vir hierdie kuns nie. As hy van hierdie liefde deurdronge sou wees, sal ons spoedig op die, vir hierdie kuns bestemde vlak, pragtige ontwerpe en vervolgens lieflike meesterwerke van ons aanko­mende kunsskilder kan bekyk.

9 Wie was dan die eintlike inspireerder? Wie verbind die innerlike fantasie met die uiterlike vorme? Wie verbind die ontwerpe met die kleure, deur middel van die penseel (kunstenaars kwas) aan die vooraf witgeskilderde linne? Dink julle dat dit van die goeie leermeesters afhang, of van diegene wat voorbeelde skets?

10 O, ek sê vir julle: Dit alles is van nul en gener waarde; maar slegs die eie groot liefde vir hierdie kuns het `n nuwe groot meester gevorm, wat die vormlose uit die eindeloos ver verstrooide ligsfeer van die wysheid saamtrek en dit in nuwe, mooi vorme uitbeeld wat nou baie goed deur iedereen bekyk kan word.

11 Kyk, dit is alweer so 'n duidelike voorbeeld wat geen verdere uitleg nodig het nie. Tog sal ons nog een voorbeeld aanhaal wat vir julle as`t ware baie maklik te begryp is.

12 Laat ons net na die veelseggende toonkuns oorstap. Julle sal onder die mense sekerlik baie vriende van hierdie kuns vind, wat dit almal terdeë geniet, wanneer hulle `n pragtige komposisie van `n ware kunstenaar te hore kry. Maar is hulle daarom self kunstenaars? Ek dink, dat julle baie goed in staat sal wees om te beoordeel dat daar onder die genietende toehoorders slegs weiniges te vinde sal wees wat hierdie naam ook maar ietwat waardig is.

13 Ja, maar waarom is al hierdie opgetoë toehoorders dan self nie ook kunstenaars nie, maar slegs liefhebbers van hierdie kuns? Waarom is dit slegs die begaafde op die podium voor hulle, wat met sy aan die hemel ontleende klanke, die gemoed van die toehoorders so besonder bly stem en aan hulle siele `n ander, hoër, volmaakter lewe verkondig?

14 Sou mens dan nie kan sê: Wat vir die een mens moontlik is, dit sou dan tog ook vir die ander moontlik moet wees. Elke mens sou ooreenkomstig sy aard en talente, wanneer sy gees, wat `n afstammeling van die goddelike volmaaktheid is, volledig gewek is, tog sekerlik ook iets besonders kan presteer? Sou dit wel aanneemlik wees as mens daarop sou sê: Ja, dit hang van die leraars af. Sou hy die of daardie leraar gehad het, dan sou hy ook self `n gedugte meester geword het; maar, "ex trunco non fit Mercurius" soos julle gewoond is om te sê, oftewel so kan `n onbekwame leraar natuurlik ook nooit in staat wees om iemand op sy vakgebied tot meester op te lei nie. Dit is waar dat wie self niks kan doen nie, ook nie in staat sal wees om `n ander veel te leer nie.

15 As ons egter net kyk hoeveel leerlinge so menige ware meester-kunstenaar dikwels in opleiding het en dan daarenteen sien hoe bitter weinig ook maar ietwat opmerklike kunstenaars daar uit die skool van so 'n meester-kunstenaar voortkom, dan moet ons by hierdie beskouing tot die volgende slotsom kom:

16 Omdat daar uit die allerbeste kunsakademie so weinig kunstenaars voortkom, sou die ware oorsaak waardeur die leerling eintlik `n egte kunstenaar word, tog veel eerder êrens anders gesoek moet word as by die leraar, wat goed vir sy taak opge­wasse is en bowendien `n volleerde kunstenaar is. Het die leerlinge miskien te min talent, is hulle nie vlytig genoeg nie, of word hulle deur allerlei ander omstandighede gehinder om hulleself voldoende op die kuns toe te lê?

17 Aha, ek sien al wat iemand wil sê: Hierdie leraar het slegs `n hekel om geen uitstaande genie onder die baie leerlinge te hê nie. En daarop sê ek baie onomwonde; hierdie leraar het op enkele uitsonderings na, suiwer genies onder sy leerlinge gehad en tog het daar uit hierdie genies, nie een iets geword nie, want hy het nie een onder sy leerlinge gehad, wat met `n innige, sterk liefde vir die kuns besield was nie. Daarom word ook net hy `n waaragtige artieste, wie se hart voortdurend deur sy sterk liefde vir die kuns in vuur en vlam staan.

18 Wek liefde, dit wil sê waaragtige, lewendige liefde op in die hart van jou leerling en jy kan daarvan verseker wees dat deur die vuur vir hierdie kuns, al die vereiste organe hom in die kortste moontlike tyd so wonderbaarlik sal ontwikkel dat elke toehoorder hom hoogstens daaroor sal verbaas en sal moet sê: Ja, daar sien mens al die ware groot kunstenaar in sy volmaaktheid. 

19 Kyk, so is die liefde ook hier eintlik die werklike leraar; sy ontwikkel `n gevoelsintensiteit by die toonkunstenaar waarvan `n ander mens hom absoluut geen voorstelling kan maak nie; sy maak ook die hele verdere organisme binne `n kort tydjie so onderworpe aan hierdie hoër gevoelens, dat alle sogenaamde tegniese probleme met `n wonderbaarlike sekerheid daardeur oorwin kan word.

20 Soos die liefde hier egter die werklike alles in alles is, so is sy dan ook veral bo alles verhewe in die groot kuns van die lewe! Met die liefde kan julle deurdring in dieptes, waarvoor selfs menige gees huiwer, maar sonder liefde of met ietwat te min liefde sal niemand ooit as `n volmaakte kunstenaar die daglig van die gees betree nie. Daarom het ek ook al in die begin gesê; wil julle hierdie dinge van hoë wysheid dieper aanskou, dan moet julle die liefde in alle erns ter hande neem; maar dit mag geen halwe- of `n kwartliefde wees nie; dit moet `n volkome liefde wees.

21 Omvat daarom ons aller liefdevolste Heer en Vader in Jesus Christus dus regtig stewig in julle harte, en dan sal julle julleself baie spoedig daarvan kan oortuig wat die liefde vir God alles vermag.

22 Werklik, ek sê nie teveel nie; as julle liefde in oorvloed sou hê, dan sou julle ook `n sterk en lewendige geloof hê en deur so 'n liefde en so `n geloofslig sou julle die sterre van die uitspansel kan pluk! Word daarom wakker, dan sal ons op hierdie tiende galery nog wonderbaarlike dinge aanskou!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205