Negende saal - negende gebod
87 Ons is al in die negende saal en sien daar weer ons ronde bord, waarop geskrywe staan:
2 "Jy mag niks verlang van dit wat aan u naaste behoort nie, nóg sy huis, nóg sy os, nóg sy esel, nóg sy grond, nóg van alles wat daarop groei."
3 Wanneer ons die gebod bekyk, dan moet ons onsself klaarblyklik in dieselfde oordeel verloor en moet ons dieselfde kritiek deurloop wat ons reeds by die sewende gebod leer ken het. Want ook hier is weer sprake van eiendom, waarby `n mens nie moet verlang na die een of ander nie, van buite af beskou, wat hy regmatig vir homself toegeëien het nie.
4 Wie sou dan nie onmiddellik weer op die volgende vraag terugkom nie: Hoe kon die gebod nou aan die Israelitiese volk in die woestyn gegee word, waar niemand tog `n huis, `n os, `n esel of `n stuk grond met enige saaigoed besit het nie? Die Israelitiese volk sou die eiendom maar net vir hulleself kon verbeel het. Dan kon mens gesê het: As jou naaste homself verbeel om iets dergeliks te besit, dan mag jy jou nie ook verbeel om iets dergeliks, of selfs dit wat jou naaste hom verbeel, as eiendom te besit op die manier asof dit werklik jou eiendom sou wees nie, of soos wat jy dit tenminste graag sou wou besit het.
5 Ek dink dat ons hier nie veel kritiese beoordeling nodig het nie, want mens kan die besondere lugtigheid van so `n gebod al op die eerste oogopslag deursien. `n Gebod moet immers altyd daar wees vir `n sekere waarborg van `n bestendige realiteit, waarvan die verlies vir elkeen baie moet beteken. Wat `n lugkastele argitek egter ten opsigte van `n ander lugkastele argitek verloor as hy daadwerklik wederregtelik die vermetelheid sou hê om dieselfde lugkastele te bou as sy kollega, dan dink ek dat daar, om so `n enorme skade af te weeg, tog sekerlik `n buitengewone fyn, ja byna `n eteriese skimagtige presisie weegskaal nodig sou wees. Ook al sou, volgens die mening van `n bepaalde sekte op aarde, die aartsengel Michael werklik ten oorvloed van sodanige instrumente voorsien wees, dan is ek tog vas daarvan oortuig dat hy nie so `n uiters fyngevoelige weegskaal sou hê nie.
6 Ek het dit egter maar net hier aangegee om daarmee die volkome onbeduidendheid van `n suiwer ingebeelde eiendom so helder moontlik te laat sien. As die dinge so staan, waartoe dan so 'n gebod, wat absoluut geen waarborg vir die eiendom van iemand anders in sy vaandel kan dra nie, aangesien niemand `n bepaalde eiendom besit het waarna mens, volgens die gebod, nie na mag verlang nie?
7 Mens sal egter die volgende hierteen inbring: Die Heer het voorsien dat die mense mettertyd die eiendomsreg onder mekaar sou invoer en het met die oog daarop by hierdie geleentheid al `n gebod vooraf uitgevaardig, waardeur die toekomstige eiendom van die mens gewaarborg moes word, sodat niemand oor en weer die reg sou hê om die eiendom van sy naaste, op watter manier dan ook, vir homself toe te eien nie. Dit sou `n gawe gevolgtrekking wees! Ek dink dat mens die goddelike liefde en wysheid nie ligtelik `n groter ontering sou kon aandoen as deur so `n oordeel nie.
8 Die Heer, wat tog sekerlik alle mense bo alles sal afraai om iets op aarde vir homself toe te eien, die Heer, vir wie elke aardse rykdom `n gruwel is, sou nou `n gebod uitgevaardig het ten behoewe en ter begunstiging van die hebsug, die eieliefde, die woeker en die gierigheid, `n gebod wat ongetwyfeld wedersydse afguns opwek?
9 Ek glo dat dit nie meer nodig sal wees om nog meer woorde hieraan te bestee nie, want die onsinnigheid van so `n uitleg is vir elkeen so duidelik, dat dit onnodig is om nog lank en breed daarop in te gaan.
10 Om die saak egter ook vir die mees blinde mens duidelik te maak, vra ek aan elke hooggeleerde juris: Waarop is die eintlike oorspronklike eiendomsreg gebaseer? Wie het dan aan die eerste mense die eiendomsreg oor iets verleen? Stel jou voor dat daar `n dosyn emigrante na `n nog onbewoonde streek op aarde gaan. Hulle het hierdie streek ontdek en vestig hulle daar. Volgens watter oorkonde van eiendomsreg kan hulle so `n land dan as eiendom bemagtig en hulle daar as regmatige besitters vestig?
11 Ek weet al wat `n mens nou sal sê: Wie die eerste kom, die het eerste grondregte. Goed sê ek, maar wie van die twaalf emigrante het meer of minder reg op die ontdekte land? Mens sal sê: Streng geneem het die inisiatiefnemer vir die emigrasie, of hy die land uiteindelik eerste vanaf die dek van `n skip sien lê het, meer reg. Goed, maar wat het die inisiatiefnemer voor op die ander? As hulle nie saam met hom gegaan het nie, dan sou hy seker ook tuis gebly het. Wat het hy, wat die land eerste gesien het, voor op die ander? Het hy dalk skerper oë as die ander? Moet die ander dan benadeel word, slegs vanweë die voordeel dat hy goed kon sien? Dié beoordeling sou tog ietwat onbillik wees. Bygevolg moet al twaalf tog sekerlik dieselfde eiendomsreg oor die ontdekte land hê.
12 Maar wat sal hulle moet doen om vir elkeen van hulle dieselfde eiendomsreg op die land te realiseer? Hulle sal dit in twaalf gelyke stukke moet verdeel. Maar wie kan nie sien dat daar reeds by die eerste poging van hierdie verdeling, twiste sal ontstaan nie? Want A sal sekerlik vir B sê: Waarom moet juis ek die stuk land in besit neem, wat, volgens my beoordeling, duidelik slegter is as die van jou? En B sal om dieselfde rede antwoord; ek sien nie in waarom ek my stuk land met die van jou moet ruil nie. So kan ons ons twaalf koloniste wel tien jaar lank hulle land laat verdeel, en tog sal ons dit nie belewe dat die verdeling vir almal volkome na wense sal wees nie.
13 Maar as hierdie twaalf met mekaar ooreenkom om die land tot gemeengoed te maak, kan daar dan vir die twaalf één gebod ter beskerming van die eiendom uitgevaardig word? Kan die een iets van die ander wegneem, as die hele land aan almal behoort en daarvan dus ook die produkte, waarvan elkeen volgens behoefte mag neem, sonder om aan `n ander rekenskap daarvan af te lê?
14 In die eerste geval sien mens dat die skep van die eiendomsreg eintlik oorspronklik ondenkbaar was. Om in te sien dat dit werklik so is, hoef julle maar net na die koloniste van bepaalde streke van julle eie land te kyk, byvoorbeeld na die sogenaamde kloosterhere, wat in `n sekere sin die eerste bewoners van `n streek was. Sou hulle die verdeling onder mekaar gemaak en goed bevind het, dan sou hulle sekerlik nie tot `n gemeenskaplike besit gekom het nie.
15 Kortliks, ons kan doen wat ons wil, ons kan nêrens `n oorspronklike eiendomsreg vind nie. En as iemand dan tog met sy grondregte daar aankom, dan vra ek myself af of mens `n nakomeling, sodra hy die wêreldse toneel betree het, oftewel terstond moet gedood word of moet hy langsaam verhonger word. Of moet mens hom die land uitsit, of hom na die barmhartigheid van die grondbesitters verwys, hom daarnaas egter, ter beskerming van hulle, dadelik die nuutste gebod oplê?
16 Ek dink dat `n mens hier sou kan vra, om watter rede so 'n nakomeling dadelik by sy eerste optrede, waaraan hy geen skuld het nie, ten opsigte van die grondregbesitters tot sondebok gemaak moes word, terwyl die eerstes in die osig, geen sonde teenoor mekaar kon begaan het nie? Welke juris kan die regsgeldigheid van so `n gedrag vir my bewys? Ek dink dat die mens slegs met `n Satan as advokaat so-iets sou kan bewys, want vir elke maar ietwat regverdig en redelik denkende mens is `n soortgelyke geregtelike bewys iets onmoontliks.
17 Ek sien dit al, mens sal sê: By die eerste kolonisasie van `n land kon geen wedersydse eiendomsreg weliswaar tussen die koloniste bestaan het nie, veral wanneer hulle onderling eensgesind vir gesamentlike besit gekies het. Maar tussen kolonisasies, waaruit die eerste staatsvorme ontstaan het, tree die eiendomsreg tog sekerlik in werking, sodra hulle mekaar se bestaansreg erken het.
18 Goed, sê ek, as dit die geval is, dan moet elke kolonie `n oorspronklike eiendomsreg kan aantoon. Maar hoe kan hulle dit doen, as hulle slegs die reg van vruggebruik van die Heer, maar nie die eiendomsreg gekry het nie?
19 Die gebruiksreg het sy oorkonde in die maag en op die vel. As mens bedink dat elke mens, hetsy inheems, hetsy vreemdeling, in sy maag en op sy vel tog dieselfde goddelike, volwaardige gebruiksreg oorkonde het, soos wat die inheemse mens dit het, met hulle saambring, waaraan word die eiendomsreg dan ontleen? As mens sê: Die eiendomsreg is oorspronklik gefundeer op die gebruiksreg, dan hef hierdie stelling tog sekerlik elke afsonderlike besit op, omdat elkeen dieselfde gebruiksreg het. Keer mens egter die saak om en sê: Die eiendomsreg verskaf iemand eers die gebruiksreg, dan kan mens niks anders daarteen inbring nie as die ou gesegde: "Potiori jus" dit wat met ander woorde soveel wil sê as: Slaan soveel besitters van die gebruiksreg dood, dat jy jou vir jouself, met die krag van jou vuis, `n strook land volledig kan toe-eien.
20 Sou enkele vreemde gebruiksreg besitters uiteindelik tog nog op die idee kom om die deur jou bevegte besit, volgens hulle goddelike gebruiksreg te betwis, slaan hulle dan maar almal dood, of nog beter, maak skatpligtige onderdane van hulle, sodat hulle op jou eiendom in die sweet van hulle aanskyn vir jou kan werk en jy hulle dan, volgens jou bevinding, hulle gebruiksreg kan toestaan.
21 Wie kan, van goddelike kant gesien, die oorlog regverdig? Wat is oorlog? Niks anders nie as `n allerwreedste gewelddaad om die mense van hulle gebruiksreg te ontneem, om in die plek daarvan, die eiendomsreg met geweld in te voer, dit wil sê die goddelike reg uit te roei en in die plek daarvan, `n helse reg in te voer.
22 Wie kan derhalwe `n wet van God verwag wat die oorspronklike, in elke wese duidelik vasgelegde goddelike gebruiksreg sou ophef, en in plek daarvan, met goddelike mag en outoriteit, `n helse eiedomswet regsgeldig sou maak? Ek dink dat die onsinnigheid van hierdie bewering selfs vir `n steekblinde nog helder en duidelik, en met die klompe aan te voel is.
23 Daaruit volg dan dat hierdie wet sekerlik `n ander betekenis moet hê as wat die mense daaraan gegee het, waarby hulle slegs die besit veilig stel. As goddelike wet moet dit vanuit die diepte van die goddelike ordening immers ook in alle hemele geldig wees. Maar waar in die hemel besit iemand huise, osse, esels of akkers? In die hemel is maar net vruggebruikers, slegs die Heer het eiendomsreg. Daarom sal ons onsself dan ook met die korrekte betekenis van hierdie wet besig hou.