Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 41

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Liefde en wysheid, hulle onderlinge verhouding en harmonie

41 Kyk nou en let goed op. Wat ek gesê het, het ek in myself gesê en julle het dit deur my gesê en so sal dit maklik wees om met die krag van die Heer die vrye wysheid in ons op te neem en haar vir ons begryplik te maak. Maar om die geheel baie goed op te neem en te begryp moet julle eers die aantal verdiepings en galerye in aanmerking neem.

2 Ons bevind ons op die sesde verdieping of in die sewende galery, dus in elke opsig meer as halfpad van die gebou. Soos wat die onderste basis en verreweg groter helfte van die gebou ooreenstem met die bors van die mens en dus met alles wat die liefde betref, so staan die tweede boonste helfte vir die hoof van die mens en stem dus ooreen met die verstand en die wysheid daarvan.

3 Hier staan ons dus op die eerste trap van die wysheid, oftewel op die trap waar die suiwer wysheid en die liefde inmekaar gryp. Wanneer julle dit nou ietwat in ag neem, dan sal die ornament van die versierde pilaar, net soos die versierings van alle pilare van hierdie verdieping, hulleself vir julle begin ontvou.

4 Bekyk net die altaar hier; deur sy vorm, kleur en versiering stel dit die tot in die wysheid reikende liefde voor. Die klein pilaar waaraan die geheimsinnige krans bevestig is, stel in `n sekere sin die hals van die mens voor, maar as ooreenstemming van die grootste moontlike deemoed. Wat kom daar egter uit die deemoed voort? Kyk na die daaraan bevestigde krans. Deur hierdie krans word die hoof van die mens voorgestel, maar as ooreenstemmende beeld is dit die lig van die wysheid wat voortkom uit die warmte van die liefde.

5 Die sterretjies waaruit hy saamgestel is, saam met die ook uit sterretjies saamgestelde figure wat die vrye ruimte opvul, verteenwoordig die veelsoortige kennis en die insigte wat natuurlik almal tesame deel uitmaak van die wysheid. Die sterrekrans op die vloer rondom die altaar beteken egter dat die liefde, haar waaragtige deemoed en ook haar wysheid van goddelike oorsprong is en voortkom uit die werksaamheid van die mens volgens die goddelike wil.

6 Deur die sewevoudige sirkel word die goddelike wil aanskoulik gemaak. Die afsonderlike sterretjies waaruit hy saamgestel is, stel die werke voor wat die mens in die goddelike ordening verrig, op grond van sy insig in die goddelike wil. Daaruit volg egter dat niemand God kan liefhê, as hy nie aan God se wil voldoen nie. Wie dus God se wil naleef, deur sy eie wil te verloën, eers vir hom val die liefde tot God ten deel. En so is die werke volgens God se wil die edele saadkorrels waaruit die buitengewone, bo alles saligmakende en vir ewig lewenbringende liefde tot God opgroei!

7 Wanneer iemand dus so `n liefde ten deel geval het, dan het hy met haar ook die wysheid verkry wat gelyk is aan die goddelike wysheid, omdat die liefde waaruit sodanige wysheid voortkom, self goddelik is. Dat die veelsoortige vorme van die tekens in die sirkel die diverse onderlinge verhoudinge van die op die goddelike ordening en wysheid gebaseerde verhewe insigte weergee, hoef nouliks nog vermeld te word.

8 In soverre het ons ons ornament dan ook ontrafel. Maar ons sien nog `n geheel vrye van die plafon afhangende krans, presies gelyk aan dit, wat op die klein pilaar bevestig is. Hierdie horisontaal hangende krans raak presies met sy sentrum die boonste sfeer van ons ring wat op die klein pilaar bevestig is. Wat sal hierdie krans dan wel beteken?

9 Hierdie krans verteenwoordig die goddelike wysheid soos dit voortdurend vanuit die hemele binnestroom en dit wat met haar ooreenstemmende wysheid van elke mens wat volgens die goddelike ordening leef, voortdurend verlewendig en verorden.

10 Dat beide hierdie sirkels mekaar raak, beteken dat die waaragtige goddelike wysheid binnedring in die diepte van die menslike gees, dit word voorgestel deur die middelpunt. Dientengevolge kan hy hemelse en goddelike dinge begryp, ja eg aanskoulik met die Heer omgaan en met Hom van gedagtes wissel soos `n kind met sy vader of soos die een broer met die ander. Kyk, dit alles is nou so kort en begryplik moontlik vertel.

11 Julle vra nou weer: Geliefde vriend en broeder, waarvandaan gaan kry die mense van hierdie sentrale son dan so 'n wysheid, waarin werklik die hele geestelike lewenswese van elke mens wat op ons aarde lewe, letterlik en kristalhelder omskrywe word? Wanneer mense op ons aarde op grond van geestelike ooreen­stemming iets soortgelyks tot stand sou bring, sou dit begryplik wees omdat, soos jy as ooggetuie weet, die Heer en Skepper van alle hemele en wêrelde Self op hierdie aarde liggaamlik geleef, gewandel en onderrig het. Dat mens egter op die hemelliggaam, wat sekerlik onuitspreeklik ver van ons aarde verwyderd is, `n wysheid aantref wat volkome gelyk is aan die goddelike aardse wysheid, is werklik baie merkwaardig. Hoe is dit moontlik?

12 My liewe vriende en broeders, julle vraag sou in `n kring van hemelse geeste `n groot gelag veroorsaak. Waar gaan haal die vingers en ledemate van julle liggaam hulle voeding vandaan? Julle voedsel gaan tog nie regstreeks julle ledemate binne nie; voete het tog geen mond of slukderm om die voeding wat vir hulle verskaf word, op te neem nie? Ook die hande en vingers het dit nie en so het julle liggaam nog `n hele spul groot en klein dele wat julle nie almal apart hoef te voed nie.

13 Die mens het slegs één mond en één maag. Wat dit opneem, word goed voorberei aan alle ander dele deurgegee. So het hy ook nie in elke liggaamsdeel `n hart nie, maar hy het slegs één in sy bors en sy het haar are en bloedvate wat deur die hele liggaam versprei is en stuur daardeur haar lewe na alle vesels van die hele liggaam en wel oral volgens `n vir die lewe goedberekende, doelmatige opnamevermoë.

14 Julle het gehoor dat die hele groot skepping van God, natuurlik sowel as geestelik `n volledige mens voorstel. Hierdie mens het derhalwe in sy eindelose groot geheel sekerlik ook maar één maag en één hart. Julle ken die groot Kosgewer en ken ook die kos waarmee die groot Kosgewer Sy groot mens voed; die kos staan bekend as 'die brood van die lewe', oftewel is dit die liefde van God!

15 Wanneer julle egter in alle dele van julle liggaam presies dieselfde kos vind, wat julle via die maag opneem, en oral dieselfde bloed, wat vanuit die hart na al julle liggaamsdele stroom, dan is dit tog ook geen wonder dat julle in die deel van die groot wêreldmens dieselfde goddelike liefde en wysheid sal vind, wat julle op julle aarde gevind het, nog steeds vind en altyd kan vind.

16 So`n sentrale son is in `n sekere sin `n hoofsenuwee van die groot wêreldmens, en die kleiner sonne en planete is gelyk aan die kleiner senuwees, die vesels en die drade. Die hoofsenuwee word tog sekerlik deur dieselfde sap gevoed, waarmee die kleiner senuwee, vesels en drade gevoed en onderhou word. Waar één Heer, één Skepper en een en dieselfde God is, daar kan in Sy onmeetlike skepping ook slegs één goddelike liefde, één goddelike wysheid en één goddelike ordening bestaan! Tensy julle nog aan een of ander tweede God en Skepper sou glo, veronderstel dat julle gemoed en julle verstand tot so `n dwaasheid in staat sou wees; dan sou dit wel geregverdig wees om `n ander blik op die ordening van die dinge te hê en sou mens uiteindelik `n vraag soos die van julle kan stel. Maar in die gegewe omstandighede, waarby dit slegs volkome oor één God gaan, bly dit by één voedsel, één wysheid en één ordening. - Aangesien ons dit alles nou tog verseker duidelik insien, sal ons onsself dan ook weer dadelik na `n hoër verdieping begewe en wel na die sewende verdieping of agtste galery. Ook al sien hierdie wenteltrap nogal lugtig daaruit, trek julle maar niks daarvan aan nie, want hy sal ons nog die beste dra. Laat ons daarom gaan! 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205