Die Geestelike Son - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128.

 

Waarom daar op die sentrale sonne byna geen diere is nie. `n Lig op die voorbeeld van die ryk jongeling

27 Ek voel al waarheen julle wil gaan en daarom gaan ons ook daarheen. Kyk net links en regs; wat `n eindelose prag en heerlikheid daar aan alle kante straal in die gebied waar ons nou nog deurheen wandel; paleise en woonhuise van nooit vermoede prag, grootte en majesteit!

2 Julle vra: In die land word mens weliswaar oorweldig deur grandiose (grootse) heerlikhede, maar hoe is dit dat ons daar, behalwe die visse in die grag rondom die berg waarop die paleis staan, geen ander, groter viervoetige diere ontdek nie? Geliefde vriende en broeders, afgesien van die vissies en enkele voëltjies sal julle op hierdie sentrale son glad geen ander dier ontdek nie. Sodanige diere is slegs aanwesig op planetêre sonne en op hulle planete en mane, omdat juis hulle, in `n sekere sin trapsgewyse dalend, geleidelik aan gevorm is uit die uitskeidingsprodukte van sulke sentrale sonne, waardeur, soos wat julle volgens my wete al dikwels ondervind het, in die lewe `n harder stryd om bestaan moet voer om tot die benodigde deeglikheid en reinheid te kom. Julle mag die volgende verhouding in julle opneem:

3 Hoe meer vuur `n wêreld in hom dra, des te minder harde en growwe materie bevat dit wat nie bevorderlik, maar hinderlik is vir die lewe. Hoe minder vuur `n wêreld in haarself dra, des te growwer materiëler is sy ook, en daarom moet die lewe daar `n des te harder stryd voer om `n steeds konstante vryheid en suiwerheid te bereik.

4 Waarom dan? Hoe is dit duidelik te bewys? Dit kan julle op aarde, en wel by die mense self, al baie duidelik sien. Mense wat vol liefde vir die Heer en hulle broeders is, lyk soos wêrelde vol innerlike vuur. Hoe maklik sulke mense tot `n waaragtige, innerlike lewe kom, leer julle uit veelvuldige ervaringe en deur die eie woord van die Heer self, waarin Hy sê: "My juk is sag en My las is lig."

5 Maar mense wat weinig vuur besit, dus meer lou is, het al `n aansienlike hoeveelheid beproewende materiaal nodig om gewek te word en die lewe in hulleself te vind. Dit gaan nie bepaald vinniger met hulle nie, omdat hulle materie nog steeds soos `n ware blusmiddel die vuur van die lewe teenwerk en so die spoedige ontwaking van die gees verhinder.

6 Nou neem ons weer `n ander mens, wat sy liefde tot die Heer betref, baie koud is. Hy lyk wel soos `n planeet; daar is baie stoot- en dryfkrag nodig voordat hy in `n reëlmatige lewensbaan beland en hom dan langsamerhand deur die van buite af op hom inwerkende strale laat verlig en verwarm.

7 Waarom is dit so? Omdat so 'n mens hom eers heeltemal op die grofstoflike wêreldse gebaseer het en van daaruit baie moeilik op die suiwer geestelike kan oorgaan. Daar is ook mense wat heeltemal geen vuur besit nie; dit kan mens vergelyk met reeds lank uitgedoofde vulkane. Hierdie mense het daarom ook glad niks geesteliks meer in hulle oor nie en lyk soos die mane, wat, ten minste aan één kant, ook byna geen atmosferiese lug meer het nie. Hulle keer steeds hulle onherbergsaamste kant na hulle planeet toe en die herbergsaamste altyd van haar af. So is dit ook met soortgelyke mense.

8 Hulle is nie in staat om die hoëre lewe wat die planeet nog omgewe, op te neem nie. Daarom is hulle ook maar op één ding gerig en dit is hulle eie selfsug. As hulle hulleself soms al met hulle weinig herbergsame kant na die lig toe wend, dan verteer hulle dit tog slegs ten behoewe van hulle materiële welsyn, maar nooit vir die oplewe en ontwikkeling van die geestelike lewe nie, wat tot uiting kom in `n liefdevolle wisselwerking tussen die sfere waarin elke geestelike lewe werksaam is. Sulke mense het slegs `n halwe sfeer en dit is gelyk aan hulle eieliefde, omdat hulle altyd afgewend is van die sfeer van hulle naaste. Hulle loop weliswaar met die beter deel van die mensdom saam, maar hou tog steeds behoorlik afstand daarvan om niks van hulle materiële, verganklike rykdom te verloor nie. Ook het hulle in hulle doen en late `n steeds swenkende beweging, waardeur hulle elke geleentheid, waarby hulle op hulle liefdadigheid sou kon aangespreek word, ontwyk.

9 Hoe moeilik sulke mense tot `n innerlike lewe kom, vertel die Heer ook na aanleiding van die voorval met die ryk jongeling, wat ook na die Heer gekom het om hom met Sy lig, sowel aards as geestelik, maar alles bymekaar geneem tog in sterk materiële sin, te verryk.

10 Mens sou hom maklik kan afvra waarom hier nou juis `n ryk jongman en nie liewer een of ander ou gierigaard in die evangelie as voorbeeld geneem of toegelaat word nie. Kyk, alles moet sy veelsydige ooreenstemmende rede hê. So is immers ook elke maan `n jongeling van die wêreld en bowendien kom die wese van die egoïsme in `n jongeling ook altyd lewendiger tot uitdrukking as in `n grysaard. Want onder duisend grysaards tref julle daar nouliks tien aan wat gierig en selfsugtig van aard is. Hulle kan vergelyk word met die planete wat veraf staan. Maar onder duisend jongmanne sal julle daar ook nouliks tien vind wat hom níe deur eiebelang laat lei en saamsleep nie.

11 Kyk maar net wat `n jongman alles doen en onderneem, suiwer terwille van sy wêreldse versorging! Die een breek sy bene uit sy lyf om een of ander ryk vrou aan die hoek te kry. `n Ander studeer hom suf om eens, of eintlik so vinnig moontlik `n amptenaar van aansien te word, en `n ander lê hom weer toe op allerlei kruipery om op die manier sy geringe talente ietwat te verbloem. En so sitl die een sowel as die ander sonder uitsondering al die goddelike en geestelike volkome opsy en waai met alle winde saam om sodoende maar een of ander aardse doel te bemagtig.

12 Kyk, om die rede word ons in die evangelie dan ook `n jongman en wel `n ryk jongman voorgestel en ten toneel gebring; `n jongman, omdat hy meestal van allerlei selfsugtige inspirasies besiel is; ryk, omdat `n jongeling nou juis die groot kwaliteite het om tot die ryk van God te kom as hy homself sou wil verloën en in die voetspore van die Heer sou wil tree.

13 Ek dink dat julle aan die hand van die voorbeeld wat deur my aangevoer is, die verhouding volkome kan begryp; dit kom altyd daarop neer; hoe meer vuur en daaruit voortkomende warmte of liefde vir God en alle naaste broeders en susters `n mens het, des te minder materie of des te minder dood en dus des te meer lewe behou `n mens. In die omgekeerde geval volg daaruit; hoe meer materie, des te minder vuur en dus ook des te minder waaragtige lewe is daar voorhande. Om die rede ontbreek daar dan ook op so 'n sentrale son, wat byna uit suiwer vuur bestaan, die materieel dierlike lewe, op enkele onbeduidende klein diertjies na.

14 Noudat ons dit weet, kan ons ons weg ook met `n vryer gemoed vervolg. - Kyk nou net daar voor ons: Ons staan aan die oewer van so 'n ligrivier waaroor ek julle vroeër vertel het en waar ons oorheen moet loop om in `n ander distrik van die land te kom.

15 Julle sê by julleself, terwyl julle met julle geestesoog die eindelose sterk stralende, onafsienbare rivieroppervlak beskou; hoe kan ons met ongeskonde voete en sonder om ons oë te verblind oor hierdie see van songloed heen kom? - Maar ek sê vir julle, soos ek julle al eens vroeër gesê het; vir die gees mag daar nooit enige besorgdheid bestaan nie. Standvastige wil en onwankelbare vertroue moet die ewige rigsnoer van die gees wees. Daarom, julle moet nie dink nie, maar wil en vertrou, dan sal die element ons ooreenkomstig ons wil en vertroue diensbaar moet wees. Wel nou, julle wil en vertrou en die stralende stroom dra ons behoudend en bliksemsnel na `n ander, ver wêreldgebied.

16 Kyk, daar ver in die verte duik bokant die stralende golwe reeds `n vaste oewer op. Tot aan die hemel reikende berge, begroei met groen glansende bosse, is die eerste trofeë van `n uitgestrekte, bewoonbare distriksgebied, wat ons oë baie weldadig en verhewe wondermooi begroet. Sal mens wel steil omhoog oor hierdie berge kan gaan?

17 Wanneer vra `n gees dan vir wie die weë tussen wêrelde selfs oopstaan, na die steilte van `n gebergte op `n wêreld? Daarom sal ons ook wel sonder om hinderlik moeg te word met die minste moeite oor hierdie steilte kom.

18 Ons is by die oewer en dus ook al aan die voet van die berg. Kyk net na die grond, hoe fluweelagtig dit beklee is met baie sagte gras en wat `n hoogste reinheid dit vir ons ten toon stel! Is dit nie `n lus om op so 'n grond onder die groen stralende bome te wandel nie? Ja werklik, dit is op sigself al hemelse heerlikheid!

19 Julle sou wel wil weet of hierdie bome vrugte dra. Hierdie bome dra geen vrugte nie, maar hulle groen uitstraling verbind met die wit strale van die rivier en maak die wit uitstraling daardeur intensiewer, lewendiger en tot in die eindelose verte werksamer. Dit is byna dieselfde as wanneer iemand met die wit lig van sy geloof die daarmee verbonde groen lig van die hoop aanskou en daardeur insien dat die geloof daardeur meer versadig en ook lewendiger word, want `n geloof sonder hoop is `n onverdraaglike lig. Deur die vereniging van hierdie twee ligte het daar tewens `n verwekking van die liefde plaasgevind, want wie glo en hoop, begin ook hulle lief te hê in wie hy glo en op wie hy vertrou.

20 So is ook hier die enorm uitgestrekte, groen stralende bosgebied van die groot gebergte vir ons `n versadiging van die wit rivierlig. En kyk net ietwat rond; daar waar die rivier afwaarts stroom, sal julle beide die ligte in `n rooi lig sien oorgaan, wat ook wil sê: Die gevolg van geloof en vertroue is die liefde wat hom begin te ontwikkel. Iets dergeliks word ook vir julle aangetoon by die beskouing van `n reënboog. Daarom kan hy ook, vanself­sprekend in geestelike sin, `n waaragtige vredesboog genoem word. - Aangesien ons dit nou weet, kan ons onsself welmoedig oor die sagte oplopende bosgrond gaan begewe.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205